Rentekoerse en die staat

Laat in 2008 bevind Amerika homself in ʼn finansiële krisis, twee van die grootste finansiële maatskappye in die sekondêre verband mark staan op die punt van bankrotskap. Dit is ʼn krisis wat dreig om ʼn hele rits finansiële instellings mee te sleep, dis dié krisis bo alles, wat Obama die presidentskap op ʼn skinkbord sou gee. Die volgende is uittreksels en verduidelikings aangaande hierdie krisis aangebied deur Dr. Woods by die Universiteit van Colorado in April 2009.

Rentekoerse

(Dr. Thomas E. Woods, Jr)

Om ʼn lang storie kort te maak aangaande die twee finansiële instellings nl. Freddie Mac en Fannie Mae : Fannie begin in die laat 1930’s as ʼn regerings inisiatief en ʼn paar dekades later word dit grootliks geprivatiseer. Freddie daarteenoor begin in 1970 merendeels as ʼn privaat inisiatief, en beide is in die sekondêre verbandmark sodat wanneer jy ʼn verband by die bank uitneem om ʼn huis te koop, kan die bank kies om die toekomstige inkomste stroom met die gepaardgaande risiko’s, aan hierdie organisasies te verkoop. Maar as Freddie en Fannie heeltemal private instellings was, was hulle baie eienaardige voorbeelde daarvan. Hulle het belasting en regulerings voordele geniet wat ander privaat finansiële instellings nie sou kon kry nie en ʼn verskeidenheid spesiale regerings voordele en dis afgesien van die direkte kredietlyn vanaf die Amerikaanse tesourie wat ook nog beskikbaar was. Almal het geweet as daar ooit iets verkeerd gaan sal die sentrale regering hulle ʼn finansiële reddingslyn gee, en soos dit gaan met dinge wat almal weet, was almal reg.

Daar is dus in so ʼn scenario ʼn kunsmatige vlak van risiko as gevolg van staatsinmenging, m.a.w. hou die winste maar moet nie bekommerd wees oor verliese nie. Daar is dus twee hoof besware wat die algemene konserwatiewe kritici dan op grond hiervan sou maak. Eerstens dat hierdie tipe semi staatsinstellings meer kapitaal in die huis verbandmark laat invloei het as wat in ʼn werklike vryemark sou plaasvind.

Tweedens praat baie mense van die gemeenskap herinvestering-program, dit stem vanaf wetgewing uit die dae van Jimmy Carter maar wat werklik eers tande gekry het in die middel 1990’s onder Bill Clinton, hierdie wetgewing het finansiële instelling verplig om verbande toe te staan aan mense in minder gegoede buurtes, en as die bank dit nie doen volgens ʼn persentasie wat deur die staat bepaal word nie, word die aanname gemaak dat jy skuldig is aan diskriminasie en dit word moeilik om in die hof te bewys dat jy nie skuldig is aan diskriminasie nie. Wat gaan jy doen, jou ma laat getuig, dat die resultate net so uitgewerk het op grond van risiko beheer? Die banke het dus begin om regstellende aksie lenings uit te gee. Dit is nie ʼn kontroversiële stelling om te maak nie, staatsburokrate wat die program ondersteun het, het dit presies so genoem. ʼn Hofsaak teen net een bank vir diskriminasie het byvoorbeeld daarop neergekom dat hulle boete was met 2.1 miljard dollars. 

Alhoewel hierdie faktore beslis bygedra het, is daar ʼn derde faktor wat nog meer aandag moet kry, en dit is een wat kritici weer te min aandag aan gee. Hierdie faktor is die Amerikaanse federale bank stelsel. Vroeg in 2009 gee die goewerneur van die federale bank, Alan Greenspan, ʼn toespraak waarin hy iets sê in die trant van, “lyk my daar is ʼn fout in die vryemark stelsel wat ek nie raak gesien het nie.” Ek sal later na die stelling terugkeer.

In 1974 wen F. A. Hayek die Nobelprys vir ekonomie. Hayek was ʼn genie, nie net was hy ʼn briljante ekonoom nie maar hy kon skryf oor geskiedenis en filosofie om mense wat spesialiseer in daardie velde te beïndruk en hy wen dit omdat hy bewys waarom resessies plaasvind. Almal doen een oomblik finansieel goed, die volgende oomblik doen almal sleg, en hy is nie tevrede met die gewone, “dis maar hoe die vryemark ekonomie werk” antwoord nie. Hy soek werklike redes en nie sielkundige redes nie, nie dat daar geen sielkundige redes bestaan nie, maar werklike redes wat hulpbronne en struktuur betrek. Dit begin met ʼn vraag : Waarom is dit dat wanneer ʼn resessie plaasvind sien ons ʼn massiewe groepering van swak ekonomiese handeling? Skielik maak almal verliese op verskillende vlakke en sektore van die ekonomie en hy wil weet waarom dit alles in ʼn groepering plaasvind, veral as mens in ag neem dat die vryemark ʼn natuurlike inherente meganisme is om swak ekonomiese besluitnemers uit te skakel. M.a.w. as jy verliese maak gaan jy jou deure moet sluit en as jy aanhou gaan jy bankrot speel en jou oorblywende kapitaal sal oorgedra word aan mense wat beter ekonomiese besluitneming maak.

Dis natuurlik nie almal wat verliese maak in sulke omstandighede nie, maar ʼn noemenswaardige hoeveelheid beweeg in ʼn negatiewe rigting en in ʼn groepering. Alle private handelaars is elke dag in ʼn verkiesing en die verbruiker stem met hul geld, so die mark self het hulle verkies as handelaars wat verbruikers behoeftes goed vooruit kan skat. So waarom sal hulle almal skielik gelyktydig swak vooruitskattings maak? Hayek wil die vraag beantwoord, en hy gee ʼn antwoord wat die vryemark heeltemal van alle blaam vrystel. Dat daar iets anders is wat dit veroorsaak as bloot net private akteurs in vrywillige handel, dat daar ʼn ander akteur op die toneel is wat diskoördinasie in die mark veroorsaak, en dis die sentrale bank.

Hayek se teorie werk as volg : Rentekoerse kan afkom op twee maniere, die eerste en gesonde manier is mense kan meer geld spaar. Dis maklik om te verstaan waarom dit na laer rentekoerse sal lei, as ek en jy meer geld spaar, het die banke meer geld om uit te leen en die prys van lenings kom dan op natuurlike vraag en aanbod wyse af.

Hier is dan ʼn sentrale punt wat verstaan moet word, rentekoerse verrig twee kardinale koördinerings funksies in die ekonomie en beide het te doen met die koördinering van produksie oor tyd. Die eerste funksie is dat rentekoerse aandui of verbruikers huidiglik wil verbruik, en of hulle verbruik tydelik uitstel. Hulle hou nie noodwendig op om te verbruik nie, maar verbruik nie alles nie, met ander woorde hulle spaar geld. Dit het tot gevolg dat produseerders investeer in langtermyn produksie of produk ontwikkeling wanneer rentekoerse laag is, eenvoudiglik omdat dit goedkoper is. Op ʼn 10 jaar projek as voorbeeld, maak die verlaging in die rentekoerse ʼn groot verskil in die winsgewendheid of lewensvatbaarheid van die projek en hoe langer die termyn van ʼn projek is, hoe meer rentekoers sensitief is dit. Die tweede funksie is dat die geld wat deur die verbruiker gespaar is, d.w.s. uitgestel is vir verbruik in die toekoms, as die kapitaal dien om daardie langtermyn projekte te finansier en deur te sien tot voltooiing. Die tyds-koördinerings-funksie is dus duidelik. Presies wanneer verbruikers hul verbuik van goedere uitstel na die toekoms, investeer produsente vir verbruik in die toekoms.

Die tweede manier wat rentekoerse kan afkom is wanneer ʼn sentrale bank wat deur die staat gestig is, die rentekoerse kunsmatig afdwing. Vir die doeleindes van hierdie stuk gaan ons nie in op ope mark operasies nie, al wat verstaan moet word is dat die sentrale bank die mag het om rentekoerse kunsmatig op of af aan te pas. Veronderstel die sentrale bank besluit om voorspoed te skep deur rentekoerse af te dwing. Hier het ons dan in die kort termyn dieselfde gevolge, nl. laer rentekoerse en besighede wat begin om in langtermyn projekte te investeer, en jy het skyn voorspoed. Omrede rentekoerse wat afkom a.g.v. vrywillige besparing van geld tot ware welvaart/voorspoed skepping lei terwyl welvaart wat geskep word deur kunsmatige lae rentekoerse wat deur ʼn sentrale bank bepaal word, lei onwillekeurig tot kook & sink (boom & bust).

Die rede is dat daar ingemeng word in beide ons koördineringsfunksies van rentekoerse. Terwyl die verbruiker byvoorbeeld sy inkomste huidiglik verbruik, of dalk selfs meer as sy huidige inkomste (m.a.w. die verbruiker maak addisionele skuld en kan dan nog minder in die toekoms verbruik), word besighede mislei om te dink dat dit nou die tyd is om te belê in langtermyn produk ontwikkeling. Dis eenvoudig ʼn tyds-mistasting in die mark, dit kan nie volhou word nie en dit gaan ʼn “sink” wees.

Net omdat die goewerneur van ʼn reserwebank besluit om rentekoerse af te skaal na 1%, stel geen gespaarde hulpbronne vry in die ekonomie nie. In die eerste voorbeeld het mense werklik geld gespaar deur hulself van verbruik te weerhou en dit is vrygestel in die ekonomie, hulle het nie in die tweede voorbeeld nie. Die gevolg hiervan is dat al daardie langtermyn projekte geld gaan probeer trek vanaf dieselfde onveranderde poel hulpbronne. Dit stoot die koste van hul projekte op omdat almal nou kompeteer vir die selfde poel onveranderde hulpbronne met die gevolg dat hulle nog meer geld sal moet leen en rentekoerse outomaties weer opgaan, tensy die reserwebank dit verder afdwing.

ʼn Wonderlike voorbeeld, is die een van die meester bouer wat deur die Oostenrykse ekonoom Ludwig Von Mises gebruik is. Dink aan die ekonomie as ʼn meester bouer wat ʼn huis bou, maar valslik glo dat hy 20% meer stene het as wat hy werklik het en neem vir die argument aan hy kan nie nog stene koop nie. Nou watter foutiewe besluitneming kan hy moontlik maak? Hy sal dalk ʼn groter huis probeer bou as wat hy andersins sou, of selfs in ʼn ander styl as wat hy andersins sou. Is dit vir hom beter om sy fout agter te kom vroeg in die bouproses terwyl hy die fondasie lê of wanneer hy die laaste steen neerlê?

Hoe gouer hy natuurlik sy fout agter kom en besef sy vooruitskatting was verkeerd, hoe beter kan hy aanpas. As hy dit agterkom wanneer hy die laaste steen lê, is al daardie hulpbronne vermors. Die samelewing is daardie hoeveelheid hulpbronne armer as gevolg daarvan. As hy sy fout agterkom terwyl hy die derde ry stene lê, sal hy omgekrap wees, maar ten minste is dit bestuurbaar.

Die rede waarom hierdie voorbeeld so goed werk is omdat ons dit kan vergelyk met die ekonomie in die geheel. Wanneer die sentrale bank rentekoerse kunsmatig verlaag, begin beleggers op investerings tendense wat nes met die huis in die meester bouer voorbeeld nie almal voltooi kan word met die bestaande hulpbronne nie. Wanneer ons dan hoor dat die sentrale reserwebank sê die antwoord op kunsmatige lae rentekoerse is nog laer rentekoerse, ons kort rentekoerse af na nul persent, en om by te voeg, daar is kommentators wat nou sê nul persent is te hoog en ek wens dit was ʼn grap. M.a.w. meer van wat die probleem geskep het sal die probleem oplos. Vir ons voorbeeld is dit dieselfde as om te sê die antwoord op die meester bouer se dilemma is om hom dronk te maak sodat hy nie agter kom dat daar te min stene is nie. Jy kan hom dalk lank dronk hou en jy kan skyn welvaart skep, maar dit maak nie die onvolhoubaarheid daarvan minder nie. Net so min help dit nie om die ekonomie toe te gooi in monetêre papier note nie. Die strukturele probleme wat die oorspronklike staatsinmenging veroorsaak het, word sodoende nie opgelos nie en hoe groter die skyn welvaart in die ekonomie, hoe groter die resessie.

Dit wat ek hierbo beskryf het, staan ook bekend as die Oostenrykse teorie van die besigheidsiklus. Let wel dat ons sopas beleef het presies wat hierbo verduidelik is, in stede daarvan om die meester bouer te laat agterkom dat hy te min stene het, gee ons hom brandewyn dat hy nie agter kom nie. Na die Dotcom “kook” is dit presies wat Alan Greenspan, die goewerneur van die reserwebank, gedoen het. Teen 2001 het die reserwebank rentekoerse afgedwing om ekonomiese groei te stimuleer. Hy besluit eenvoudig, “Ek is moeg vir hierdie resessie stories, tyd vir n boom baby, tyd vir n boom“, en al wat hy kan doen as goewerneur van die reserwebank is om rentekoerse te verlaag. As jy net ʼn hamer het, lyk elke probleem mos soos ʼn spyker. Die resessie wat die Dotcom sink gevolg het, was die eerste Amerikaanse een op skrif waarin huispryse nie afgeneem het nie. Dis insiggewend omrede dit beteken dat eiendomme of baie ver onderwaardeer was, of dat daar staatsinmenging was. Die ekonomie word nie toegelaat om sy medisyne te vat nie en dis presies om en by hierdie tyd dat die mite ontstaan het dat huispryse nooit afgaan nie. Blykbaar kan alles tydens ʼn resessie vou, behalwe huispryse.

Wanneer Mises die voorbeeld van die meester bouer gee, werk dit nie net vir produsente wat investeer met hulpbronne wat die ekonomie nie het nie, maar ook vir verbruikers tydens ʼn kunsmatige kook. Terwyl die huispryse deur die dak spring, het almal gedink hulle is ryker as wat hulle werklik is en het hulle gehandel volgens daardie miskonsepsie. Hulle koop byvoorbeeld ʼn $10 koppie koffie in stede van ʼn $4 een, of 2 roomyse in plaas van een, en dit geld vir vakansies, motors, alles. Op ʼn mikro vlak handel verbruikers volgens wat hulle, hul eie netto welvaart skat. Deur rentekoerse dus te manipuleer, word verbruikers ook op onvolhoubare peile van verbruik geplaas.

Daar word soms gesê dat op ʼn gegewe tyd daar ʼn sielkundige aanhang tot ʼn spesifieke bate klas is wat die prys daarvan opstoot. Dit kan nie heeltemal verwerp word nie, maar sielkunde alleen kan nie ʼn borrel veroorsaak en volhou nie. Veronderstel daar was nie ʼn federale reserwebank nie, wat sou gebeur het is die prys van die bate klas, huise in ons vb., sou dan opgaan. Maar dan sal kapitaal daarvoor begin skaars raak. Die banke sou baie hoër rente begin vra en dit sou die einde daarvan wees.

Die ekonomie het ook gedurende hierdie tyd geopereer onder wat bekend was as die “Greenspan put”, wat Greenspan nooit openlik in woorde gesit het nie, maar wat groot mark operateurs verstaan het as is ʼn vloer waaronder die sentrale bank nie bate pryse van groot instellings sal laat val nie. Dit is net goeie aansporings vir swak besluitneming. Die ekonoom Antony Mueller skryf, “ Sedert Alan Greenspan die pos van Goewerneur aanvaar het in die laat 1980’s, het finansiële markte in die VSA gehandel volgens ʼn kwasi offisiële reël dat die sentrale bank sy groot vennote sal beskerm teen die risiko van bankrotskap. Gevolglik het die redenasie ontstaan dat wanneer jy suksesvol is, maak jy winste, as jy onsuksesvol is, sal die staat jou in elk geval red.” Die “Financial Times” koerant beskryf die “Greenspan put” as “Wanneer markte ontrafel kan jy staatmaak op Alan Greenspan en die sentralebank om tot jou redding te kom”. Tydens die Dotcom sink het dieselde koerant die volgende geskryf, “Greenspan laat ʼn vernietigende tendens in die ekonomie vry na oormatige riskante beleggings ondersteun deur die hoop dat die sentralebank sal help as dinge verkeerd gaan.”

Wat het Alan Greenspan gesê van ʼn fout in die vryemark stelsel, ʼn stryd om risiko te bepaal? Die federale reserwebank self het dan die probleme veroorsaak, want hulle produseer papiergeld gebaseer op absoluut niks. Dit is waar dat daar immers resessies plaasgevind het voor daar ʼn federale reserwebank was, maar as ʼn mens mooi na die geskiedenis gaan kyk, is daar by elk van hierdie gebeurtenisse staatsinmenging. ʼn Nasionale bank of semi-private banke wat dinge doen waarmee hulle nooit in die ware vryemark mee sou wegkom nie.

In die oorlog van 1812 sukkel die staat om lenings te kry en nuwe banke begin geld uitleen aan die staat en individue wat hulle nie eens het nie. Toe die borrel bars, gee die staat hulle twee jaar om likied te word. Wie sal nie mal beleggings maak as jy nie jou skuldeisers hoef terug te betaal nie?

Ek haal uit die notas aan van ʼn skrywer tydens die mark-paniek van 1837, en let daarop dat ʼn mark-paniek plaasvind in 1819,1837,1857,1873,1893 en 1907 en daarna niks. Die staat het die ekonomie paniek-vry gemaak deur nie meer die woord paniek te gebruik nie, want depressie klink seker sagter as paniek. Nou is dit resessie, so moet nie bly word as die woord in die toekoms nie meer opduik nie, en die staat ʼn ander term vind nie. William Leggett ʼn NY redakteur in 1837 en let op hoe sy eerste persoon observasies nie net ooreenstem met Oostenrykse teorie van die besigheidsiklus nie, maar ook met wat so pas in Amerika afgespeel het.

“Elke persoon wat die gebeure vir die laaste drie jaar nugter waargeneem het, moes die omstandighede wat nou bestaan kon sien kom. Die banke het met alle mag daarna gestreef, elk het die ander nagevolg om hul papiergeld in sirkulasie in te forseer en die land daarmee te oorspoel. Hy sal sien dat hulle elke toorkuns en versoeking gebruik het om mense uit te lok om hul finansiële hulp(lenings) te aanvaar en sodoende ʼn dors na onverantwoordelike spekulasie skep. Dit het spekulasie gestimuleer totdat dit na ʼn histeriese koors toegeneem het en mans in die epidemiese uur gehardloop het vir wilde avonture. Hulle het kanale gegrou waar geen handelaars dit benodig nie, hulle het paaie gebou waar geen reisiger dit benodig nie, en stede waar niemand bly nie”

ʼn Mens dink direk hier aan die bouontwikkelings in Las Vegas wat met die resessie bankrot gespeel het, mini-stede met geen inwoners, dis natuurlik ʼn borrel projek. Baie mense dink dat wanneer die sentrale bank papiergeld in die ekonomie ingooi (deur die bankestelsel) om rentekoerse te verlaag, dit ekonomiese welvaart skepping stimuleer. Wat dit wel veroorsaak is ʼn verwronge pad wat kapitaal dan volg. Wanneer ʼn mal projek soos ʼn Las Vegas mini-stad probeer om kapitaal te bekom, sal die vryemark self bepaal dat daar nie hulpbronne of verbruikers daarvoor is nie. Maar as kapitaal kunsmatig goedkoop is kompeteer mal borrel projekte met volhoubare projekte vir die selfde hulpbronne. Sulke maltrap projekte kanaliseer kapitaal weg van normale projekte wat aan werklike menslike behoeftes moet voorsien.

Leggett skryf 1837 verder:

“wat ook al die gevolge moet wees van so ʼn skielike en hewige inflasie van die geldeenheid, besighede gestimuleer tot die mees ongesondste aktiwiteite, ʼn massiewe hoeveelheid oorproduksie van die meganiese kunste. ʼn Massiewe hoeveelheid spekulasie in eiendom van elke soort en naam teen fiktiewe waardes, en uiteindelik ʼn groot en aaklige ineenstorting wanneer die verraderlike en onvolhoubare basis verkrummel onder die ongelooflike raamwerk van krediet, en grond toe val en duisende in die bouval begrawe wat uitspattig geraak het in hul vals welvaart elevasie. Deesdae gaan mans bed toe dinkende hulle is ryk en word wakker sonder die bietjie wat hul eintlik gehad het. Hulle het vals hoop dat die banke wat hulle in die spekulasie aangehelp het, hulle nou ook sal kan help, maar nou moet hulle leer dat die banke hulle nie sal help as hulle kon nie en ook nie sou as hulle wou nie. Hulle was vinnig om krediet uit te deel toe dit oorbodig was, maar nou dat dit krities is om projekte deur te sien wat hulle nie andersins sou onderneem het nie, kan geen verdere hulpbronne voorsien word nie.”

Regdeur die geskiedenis van panieke in die VSA kan waargeneem word dat mense opmerk dat uitleenstandaarde afplat voor die paniek self. Ons federale bank en die staat kom aanhoudend met niks minder as bedrogplanne vorendag om ʼn kortpad na ekonomiese welvaart te vind wat nie spaar, produksie of entrepeneurskap insluit nie. Dink aan die logika daarvan as die federale bank die geldvoorraad kunsmatig verhoog deur die bank stelsel. Die banke het nou meer om uit te leen en gegewe die aansporings wat dit opsigself skep, gaan die banke die maksimum hoeveelheid uitleen wat hulle kan.

Dink aan ʼn Sokker afrigter wat twee minute voor ʼn spel hoor hulle het die reëls verander en hy mag twee ekstra spelers kies. Natuurlik kies hy hulle uit ʼn poel spelers wat hy oorspronklik verwerp het. Dieselfde geld vir lenings. Daar moet na die grondliggende probleme gekyk word, nie na simptome nie, daar is eenvoudig te veel ekonome wat dink sambrele veroorsaak reën. Daar is iets inherent verkeerd met kunsmatige geld, veral as ʼn reserwe bank twee triljoen dollars op ʼn Saterdagmiddag kan druk en dan nie nodig het om enigeen te sê waarheen dit gaan nie.

Wanneer daar ʼn sink is, vra die skuldiges self vir ʼn reddingspaket vanaf die papiergeld produsent, en hulle kry gewoonlik wat hulle wil hê. Is hierdie dan so duidelik die ideale stelsel, dat alle ander opsies, soos ʼn terugkeer na die goud standaard direk van die hand gewys kan word? Al wat die publiek hoor is dat hulle meer staatsregulasies nodig het, dit is niks minder as intellektuele luiheid nie. Daar is sistematiese institusionele faktore wat tot hierdie ongelukkige uitkomste lei. Meer regulasies is heeltemal puntloos solank as wat jy ʼn monopolistiese papiergeld produsent het. Die reguleerders kan elke gaaitjie probeer stop, maar daai geld gaan, soos water ʼn pad vind.

Wanneer dit by regulasies kom, kan jy dit skep dat hierdie spesifieke tipe probleem nie weer gebeur nie. Maar dis soos ʼn lughawe wat na die skoen-bommer net kaalvoet mense laat vlieg. Sekerlik sal jy nie weer ʼn skoen-bommer hê nie, maar dit maak niemand veilig nie. Net so kan jy regulasies skep dat Enron nie weer gebeur nie, of dit of dat nie weer gebeur nie, maar die grondliggende probleem is nie opgelos nie. Intussentyd het hierdie gebeure verskriklike nagevolge. Wat huisverbande aanbetref, dis een van die mees gereguleerde industrieë wat daar is en daar was reguleerders wat daarna gekyk het, die federalebank se reguleerders. Ben Bernanke het laat in 2006 verklaar dat die hulle die VSA se verbandmark bestudeer het en dat dit in ʼn beter toestand was as ooit.

Daar kan nie op staatsreguleerders vertrou word nie omrede hulle of vir die staat of vir die federalebank werk en geen van hulle gaan die staat enigiets anders vertel as wat hulle duidelik wil hoor nie. Mens hoor soms iets positiefs uit die politieke opposisie banke, maar die opposisie het geen geloofwaardigheid as dit by fiskale beleid kom nie. Soos die senator wat gesê het as hulle aan bewind was sou hulle die $800 triljoen reddingspaket beter aangewend het.

Die resessie in ʼn makro sin, is die vryemark wat poog om in weerwil van elke poging deur die staat om in te gryp, om die ekonomie te herstel volgens vraag en aanbod. Die skade word gedoen tydens die kook fase. Tydens die resessie sê die ekonomie “Goed, ons het investerings lyne wat geen sin maak nie, watter van hierdie lyne is rasioneel en volhoubaar en watter van hierdie lyne is net ʼn borrel lyn wat net winsgewend kan bly solank die fiat geld spinners note druk.”

Dit is sleg vir ware welvaartskepping dat volhoubare projekte met borrel projekte kompeteer vir hulpbronne. Die publiek moet wil hê dat daardie besighede bankrot speel en hulle nie opprop met reddings pakkette nie. As die koffiewinkel wat $10 koffie verkoop bankrot speel, dan is daar ʼn rede daarvoor. Die ekonomie probeer bates herwaardeer deur ware pryse aan goedere en kapitaal te gee en hulpbronne te kanaliseer na volhoubare projekte. Hierdie firmas moet bloot gesny word want hulle suig net meer hulpbronne op van waar dit nodig is. Die staat moet ook nie inmeng met pryse en lone nie, hierdie dinge moet fluktueer om ware pryse te bepaal. Die produksie van fiat note vir reddingspakkette is soos iemand wat Redbull drink en dink hy gaan vir ewig wakker bly. Die ineenstorting kom nog steeds, dis net uitgestel.

Wanneer daar wanbalanse in die ekonomie is, en die regering leen geld, is dit geld waarvan die skuldlas uiteindelik op die belasting betaler val en dit beteken nog minder geld wat beskikbaar is vir die privaat sektor. Die vryemark probeer hierdie wanbalanse regstel. Ongelukkig dink Keynsiaanse ekonome in totale wat glad nie help nie, soos dat die ekonomie X beleggings en Y verbruik kort. Die totale is onbehulpsaam, dit gaan nie oor hoeveel beleggings jy nodig het nie, maar watter tipe beleggings jy nodig het. Kapitaal bestaan in stadia, eers ver weg van die verbruiker en dan al hoe nader, by die myn, produsent, groothandelaar, kleinhandelaar ensovoorts. Hoofstroom ekonome sien net een letter, K=Kapitaal, met die gevolg dat van hulle nie eens die probleem kan insien wat ek beskryf nie. 

Die kapitaal struktuur is dan heeltemal versteur, want die kunsmatige lae rentekoerse maak die hoër stadia van produksie kunsmatig meer winsgewend. Wat dan nodig is, is vir die mark om aan alles weer korrekte pryse toe te ken. In stede van ʼn $10 koppie koffie aanbied, ʼn $3 koppie koffie aanbied, in plaas van twee roomyse koop, een roomys koop. Hierdie prys en gedragsaanpassings geld vir verbruikers en produsente in elke sektor op ʼn mikroskopiese vlak, en elke liewe ding wat die reserwebank doen meng met daardie prosesse in.

Laastens was daar in 1920/1921 ʼn depressie wat niemand onthou nie. Die eerste jaar daarvan was erger as die groot depressie van 1929, so wat het hulle gedoen om daar uit te kom, ʼn reddingspakket? Nee, nie net was daar geen reddingspakket nie, in teendeel die staat het sy begroting drasties gesny en geensins met die vryemark ingemeng nie. Wat elke handboek vandag vir jou sal sê nie die antwoord is nie, omdat dit met totale vraag en produksie gaan inmeng, in die helfte van 1921 is die resessie toe verby, die ekonomie het herstel en was baie gesond.

Vandag sit ons in ʼn posisie waar selfs binne ʼn demokrasie dit ʼn eenvoudige draaideur van politieke partye is wat mekaar beskuldig en probeer uitoorlê maar in hul optrede geensins verskil nie. Daar was ekonome wat hierdie krisis voorspel het, lui hul fone onophoudelik? Nee, die staat sal net na advies luister wat inpas met wat hulle duidelik wil glo. Daar is ʼn alternatiewe denkskool, een wat al sedert die Tweede Wêreldoorlog onderdruk word, en dit is die Oostenrykse denkskool. Hulle het geskiedenis aan hul kant, deurdagte teorieë en konsepte van regte en ekonomie en as daar vir ʼn verandering na hulle geluister word, kan dit ware verandering teweegbring.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.