Geboorte van die moderne staat

Moderne staat

(Prof D. Livingston)

Die eerste probleem wat gekonfronteer moet word is dat meeste dinge wat van die nasiestaat gesê word, nie waar is nie. Die meeste nasiestate bied hulle self aan as republieke en demokrasieë of selfs demokratiese-republieke, maar hulle is nie een van die bogenoemde nie. Nog minder is meeste nasiestate nasies(volke). Brittanje is byvoorbeeld ʼn staat oor vier erkenbare nasies. Ook is baie state nie werklik state nie, Saoedi-Arabië is byvoorbeeld nader aan ʼn familie olie besigheid as ʼn staat.

Baie mense identifiseer regering met staat. Daar word dalk korrek gesê dat die mensdom nie sonder regering kan lewe nie, dan interpreteer ons dit dat mense nie sonder die staat kan lewe nie. Maar daar is in werklikheid geen ooreenkoms tussen regering en staat nie. In die algemeen voor veronderstel die terme regering en politieke orde – ʼn toestand van outoriteit en subordinasie. Die gesin word byvoorbeeld as die primêre politieke eenheid gesien omrede dit die verhouding van outoriteit en subordinasie bevat. Enige erkende sosiale outoriteit kan ʼn vorm van regering wees. Dwarsdeur die menslike geskiedenis, tot en met ongeveer 360 jaar gelede, is mense geregeer deur baie dinge wat nie moderne state was nie, bv. stam hoofde, religieuse leiers, prinsipaliteite, sterk families, federasies van sterk families, munisipaliteite, aristokratiese republieke ens. Deur dit alles is wette gemaak, kinders opgevoed, oorlog en vrede gemaak, belasting gehef, finansies georganiseer en omgesien na interne sekuriteit, sonder enigiets wat ʼn moderne staat genoem kan word.

Wat ons misleidend noem “die nasiestaat”, is eintlik iets heel anders en om dit te verstaan moet ons eerste kyk na die filosoof Thomas Hobbes wat tydens die aanvang van die moderne staat geskryf het. Sy beroemde boek “Leviátan” is in 1651 tydens die aanvang van die monargistiese tydperk gepubliseer. Karl Marx was straks reg toe hy gesê het Hobbes is die vader van ons almal.

Hobbes se teorie van die staat, wat hy noem “soewereine mag”, kan kortliks as volg beskryf word: hy beskou die mensdom as in ʼn natuurlike toestand sonder enige wette of moraliteit wat slegs in selfbelang optree. Elke persoon in so ʼn toestand sal onseker wees en vrees vir ʼn gewelddadige dood. Die oplossing is vir elke persoon om met elke ander te “kontrakteur” om hul natuurlike reg op te gee om te kan doen wat hulle wil en sodoende word ʼn soewereine mag toestemming gegee om oor hulle te regeer. Die kontrak word gesluit tussen die mense, en nie tussen die soewereine en die mense nie. Wat hulle verkry is die einde van die oorlog van almal teen almal (Bellum omnium contra omnes) en ʼn vreedsame vryheidsbestaan in daardie ruimtes waarin die soewereine se wette stil is, en sy wette is absoluut want die mense het onbeperkte outoriteit oorgedra vir die doel van vrede. Hier dink mens onmiddellik aan Jefferson wat gesê het, “As jy jou vryheid vir sekuriteit opgee, eindig jy op sonder een van die twee”.

Hobbes sê verder die soewereine is onverdeelbaar, onfeilbaar en onweerstaanbaar. Hy het geen morele of wettige verantwoordelikheid aan die mense nie, want sy wil is die wet. Daar is twee belangrike eienskappe van Hobbes se teorie wat belangrik is vir die doel om die moderne staat te verstaan. Eerstens dat die staat massief is in skaal. Hy plaas geen limiet op die grote nie. Hy noem dit “Leviátan”, dit kan uitsit maar nie krimp nie. Tweedens dat die staat ʼn “kunsmatige man” is. Beide hierdie standpunte weerspreek klasieke sowel as Middeleeuse filosofie wat staaf dat politieke orde klein moet wees en nie kunsmatig nie, maar “deur mans van meriete”. Aristotle sê, “Tot die grote van state is daar ʼn limiet soos met alle dinge – plante, diere, implemente, want geen van hulle behou hul natuurlike krag as hulle te groot of te klein is nie.” En weer later “as burgers van ʼn staat posisies op grond van meriete wil toeken,  moet hulle mekaar se karakter verstaan.” Dit beteken menslike skaal.

Athene, met ʼn populasie van 50,000, het binne drie generasies kultuur van so ʼn hoë standaard geskep dat ons nog steeds baie daarvan as ʼn gids gebruik. Florence, met ʼn populasie van 40,000, was ʼn leidende sentrum van die Renaissance. Vandag se monster stede soos Mexiko metro-stad met ʼn populasie van 21,000,000, is nie uitsluitlik ʼn gevolg van die industriële revolusie nie maar eweneens van die sentrale staat.

Louis XIV het dalk verklaar, “L’état, c’est moi”, maar in werklikheid was die staat in die hande van magtige ministers soos Richelieu en Mazarin eerder as die monarg. Dit is hierdie “Leviátan” waaroor mense in die 18 de eeu bitterlik gepraat het as hulle verwys het na monargie. Ook wanneer die Amerikaanse stigterslede in die konstitusionele debatte mekaar daarvan beskuldig dat hulle die land aftrek na monargie, bedoel hulle nie dat daar ʼn koning sal wees nie, maar die sentralisasie van mag.

Die Franse rewolusie het bo alles bewys hoe ver die sentrale staat verwyder geraak het van die algemene samelewing, wat alle tradisionele vorms van die samelewing weg gevee het. Nie net die monargie nie, maar ook provinsiale regerings, jurisdiksies, die kerk en selfs die kalender en geografie. Alles behalwe een ding, die staatsadministrasie. Bowenal was dit die staatsmeganismes wat die eliminering gedoen het. Dit was nie meer in die naam van ʼn monarg gedoen nie, maar mense wat hulself republikeine genoem het. Hierdie republikeine het nie die staat afgebreek nie, maar dit duisendvoudig laat toeneem. Nie net het hulle die onsterflikheid van Hobbes se “kunsmatige man” bewys nie, maar dit ook getransformeer om dit die morele legitimiteit te gee wat dit vandag nog het.

Langdurige monargiese oorheersing oor die samelewing het van mense onderdane gemaak. Die Franse revolusionêres het verklaar dat die samelewing eerder die staat moet beheer, dus burgers wees eerder as onderdane. Almal in die territoriale gebied bekend as Frankryk moes bymekaarkom as ʼn Franse nasie, eerder as ʼn enkele wil van die monarg, moes dit eerder die enkele wil van die Franse nasie wees. Hobbes se kunsmatige man word nou verander vanaf die enkele wil van die persoon (koning) na die persoon van die nasie.

Frankryk is as republiek verklaar, een en onverdeelbaar. Die nasie persoon was nie net ʼn logiese absurditeit nie, maar ook ʼn langtermyn morele vergryp. Frankryk was in 1789 ʼn territoriale gebied met 80 provinsies, elk met sy eie wette, kultuur, geskiedenis, instellings, nasionale en etniese identiteite wat gekoppel was aan spesifieke lokalismes, dorpe en provinsies. ʼn Sensus wat in 1871 gedoen is onder skoolkinders, 80 jaar na die rewolusie in Frankryk, het getoon dat twee derdes van skoliere hul nasie geïdentifiseer het, nie as Frankryk nie, maar as Brittany, Normandies, Toskaans, of Baskies. Minder as 13% van alle kinders kon die taal praat wat die staat aangewys het as Frans en nog minder het dit gereeld gepraat. Met die verloop van tyd is al hierdie etniese groepe vernietig in die naam van die staat.

In die konstitusionele vergadering op 7 September 1789, verklaar Emmanuel Sieyès, “ Frankryk moet nie ʼn federasie van klein nasies wees nie, elk met sy eie regering nie. Sy is nie ʼn versameling van state nie, maar ʼn enkele eenheid, bestaande uit parte. Hierdie parte moet nie afsonderlike outonomiese parte wees van ʼn federasie nie, maar parte van ʼn enkele eenheid. Die verskil is ʼn groot een, alles is verlore as ons ingee aan die munisipaliteite, die distrikte en provinsies as ʼn klomp klein republieke wat bymekaarkom net vir die doel van selfverdediging”.

ʼn Nagevolg van die sentralisasie van mag in Frankryk en Napoleon se imperialisme, was dat ander Europese state nog vinniger mag gesentraliseer en die ryk mosaïek van Europese bestaan wat Europa vir so lank gekenmerk het, tot stof gereduseer het. Hierop het Alexis de Tocqueville verklaar, “ Die ou lokale outoriteite verdwyn sonder herlewing of vervanging, en oral neem die sentrale regering die rigting van bestaan oor. Die hele Duitsland, selfs die hele Europa, verteenwoordig in die opsig dieselde prentjie. Oral los mense die liberale vryheid van die Middeleeue agter, Nie om in ʼn meer moderne vorm daarvan in te tree nie, maar vir die despotisme van die antieke tyd, aangesien hierdie sentralisasie niks anders as die verkrampte administratiewe stelsel van die Romeinse ryk is nie”.

Die monarg het die staat geskep vir die uitsluitlike doel om groot territoriale gebiede te kan besit, m.a.w. belas. Met die verdwyning van talle monargistiese regerings het die vraag na die rede tot die bestaan van die staat ʼn dringende saak geword. Met die val van monargie, waarom moet daar enigsins ʼn staat wees? Almal het geweet dit was ʼn kunsmatige skepping en deur die staat ʼn sosiale karakter te gee, d.w.s. “die wil van die mense”, die “publieke belang” en die staat as ʼn nasie voor te hou, was uiteindelik as antwoord aanvaar om dit morele legitimiteit te gee. Iets wat Hobbes nie eens sou voorgee nie.

Dit was ʼn absurditeit en om dit te bereik was geweld, dwang en onderdrukking die gereedskap. Na die unifikasie van Italië het iemand op die vraag van identiteit gereageer. Italië is ʼn geografiese uitdrukking, en die meeste state vandag is niks minder as geografiese uitdrukkings nie.

ʼn Absurditeit kan egter magtig wees en soos alle absurditeite is dit ʼn verwronge waarheid. Dit kan gesien word in die werke van Rousseau wat allerweë as die filosoof van die nasiestaat beskou word. Rousseau se “Sosiale kontrak vervat iets van die sosiale natuur van die mens. Daar is iets soos ʼn “algemene wil” wat spontaan ontstaan wanneer mense bymekaar kom om politieke ordes te skep.

Rousseau – “Grote en nasies en groot omvang van state, dit is die hoof oorsaak van menslike tragedie bo alles van die ontelbare rampe wat beskaafde mense vernietig en ondermyn. Bykans alle klein state, monargieë en republieke floreer vir die rede dat hulle klein is.” Rousseau se filosofie is geskryf vir ʼn klein staat en dit is onprakties om dit op ʼn grondgebied so groot soos Frankryk te wil toepas, wat nog te sê van in ʼn plek soos China. In China is Rousseau, interessant genoeg die enigste Westerse filosoof, afgesien van marxistiese filosowe wat vereer word.

Rousseau homself wyk soms ietwat af, en dit is tipies van state om ʼn term te gebruik wat vir iets kleins bedoel is, en dit te probeer toepas op ʼn skaal waarop dit nie van toepassing is nie. Sosialisme, fascisme – wat beteken om saam te bind, nasionalisme en selfs multikulturalisme en kommunisme (wat in die kernwoord kommune beteken -gemeenskaplik), alles goeie terme wat uitreik na ʼn diep menslike behoefte om te behoort. Mense het gemeenskappe nodig. Ons sien dan hierin ʼn tipiese eienskap van die sentrale staat, om volke en gemeenskappe te vernietig en homself dan aan te bied as die antwoord op die probleem. Juis in die vorm van ʼn ideologie wat uitreik na die behoefte aan die juiste gemeenskappe wat hy vernietig het. Die Monargiste was in werklikheid die eerstes om demokrasie te gebruik om die mag van die staatsadministrasie te vergroot.

Sentralisasie is nie noodwendig sleg vir mense in die geheel nie. Dit benadeel nie die massa samelewing nie, wye massa samelewing soek vorms van sentralisasie of eerder georganiseerde politieke orde vir die doel van sekuriteit en vreedsame welvaartskepping deur handel. Sentralisasie benadeel kleiner politieke eenhede, etnisiteite en onafhanklike sosiale ordes wie se gedeeltelike onafhanklikheid nie deur die staat geduld word nie. Hobbes het hierdie onafhanklike politieke ordes “Wurms in die statebond” genoem. Gevolglik sal die moderne staat altyd devolusie van mag of sesessie teenstaan. Maar dit mag homself voorhou as ʼn vriend van die mense. Onafhanklike sosiale ordes kan ook mense onderdruk en die staat kan dan in hul belang teen hierdie ordes optree. Dis egter belangrik om te verstaan dat onafhanklike sosiale ordes bitter min dieselfde kan bereik as wanneer die staat mense onderdruk. Die sentralestaat sal slegs optree indien dit in sy magsbelang is om dit te doen.

In die naam van demokrasie kon sentrale state mag bekom en ruimtes vul wat ondenkbaar was onder monargiste. Die staat sou leer om verbande uit te neem op toekomstige inkomste, om permanente skuld monetêr te maak. Dit sou in tyd beheer kry oor alle vorme van geld en selfs verder gaan deur geld te herdefinieer deur papier uit te reik in sy eie naam. Hobbes se soewereine, in teenstelling, kon skaars die landsgrense definieer en het van ʼn aksyns belasting geleef. Dis te betwyfel of hy die omvang van die moderne staat eens sou kon verbeel.

Die staat het altyd en sal altyd, poog om burgers so ver as moontlik te ontwapen. Die staat sou vir die eerste keer ʼn interne polisiemag skep en ʼn reeks tronke bou vir teenstanders. Dit sou die tradisionele gelowe marginaliseer en sy funksies oorvat soos onderwys. Meeste filosowe sou hiernaas probeer om in elke gedagtegang hierdie sentralisasie te regverdig. Hagel (Karel Marx se gunsteling filosoof) sou die staat noem: “Daardie ware God op aarde” en hy het elke woord daarvan bedoel. Asook “die finale vorm van menslike politieke assosiasie”. Die filosoof Kojève het tot dieselfde slotsom gekom en verklaar dat morele en politieke filosofie tot ʼn einde gekom het, en die laaste ding wat vir ʼn filosoof oorbly is om ʼn pos in die staatsburokrasie te aanvaar, wat hy gevolglik ook gedoen het.

In prinsiep was geen area van die samelewing bestand teen staatsinmenging nie. Grondwette, groepsregte en individuele regte is selfs vandag nog alles net papierwerk waarvan die finale interpretasie die staat se reg is. David Hume het korrek verklaar dat outoriteit gesetel is in opinie, nie in dwang nie. Individuele regte is onbetwisbaar die hoogste vorm van vryheid, maar nie individue of politieke ordes het werklik die mag om die staat teen te staan nie. Dis waarom mense fisiese gemeenskappe nodig het, omrede sterk fisiese gemeenskappe die morele karakter kweek wat nodig is om die staat teen te staan. Politieke ordes wat wel ʼn staat ontsetel, neem willens of onwetend die karaktereienskappe van Leviátan aan.

Daar word korrek gesê dat totalitarisme ingeweef is in elke moderne staat, dis net die graad daarvan wat verskil. Dit kan die beste uitgebeeld word deur die staat se vermoë om die samelewing uit te buit vir die doel van oorlog. Die veldslag van Rocroi in 1643 wat Frankryk die dominante mag in Europa gemaak het, het omtrent 48,000 soldate behels. ʼn Paar dekades later in 1709 word die grootste veldslag in Europa by Malplaquet beslis met 200,000 soldate. Alhoewel hulle absoluut genoem was, was selfs die koning beperk in die hulpbronne wat hulle staatsadministrasies kon vergader vanaf die siviele samelewing. Daar was geen inkomstebelasting nie, hulle kon ook nie mense militêr oproep nie.

Maar dit het verander toe die staat homself kon aanbied as die wil van die nasie. Die Franse republiek was die eerste om die bevolking wetlik militêr op te roep, 25 Augustus 1792. Die ordinansie getiteld “levée en masse”, het alle mans, vroue en kinders opgeroep, nie dat almal baklei het nie, maar kinders is gebruik om lood uit te grou en allerlei dinge op te tel. Die staat het egter nie die infrastruktuur gehad om dit te implementeer nie, maar die Nasionale Konstitusionele Vergadering het soveel daarvan gehou dat hulle gevra het dat dit twee keer aan hulle voorgelees word. Behalwe vir mans tussen 18 en 25 wat nie getroud was nie, is die res nie gemobiliseer nie. Baie van hierdie jong mans is in kettings weggesleep.

Die grote van weermagte het nie veel verander sedert Louis die 14de nie. Louis die 16de het ongeveer 200,000 soldate gehad, Frederich die Grote ʼn bietjie minder, in 1795/6 het die Franse nasie-persoon ʼn weermag van 800,000 opgeroep. Teen die tyd wat Napoleon gestuit is, het die Franse ʼn weermag van drie miljoen gehad. Oorlog het ook meer wreed begin word. In die Middeleeue moes soldate betaal word, so konings moes takties en spaarsamig werk. Napoleon het aggressiewe taktieke gebruik, mense is letterlik as skulde gebruik wetende dat nog ʼn konskripsie eenvoudiglik bestel kan word.

Daar is ʼn tendens om altyd te wil sê verwoesting van oorlog is normaal, of om die verwoestende gevolge voor die deur van tegnologiese ontwikkeling te plaas. Die rede hiervoor is omdat dit impliseer dat mens niks daaraan kan doen nie. Die skuldige is duidelik, dis nie tegnologie of etnisiteit of ras of selfs ideologiese verskille nie. Die skuldige is die aggressie van die sentrale staat. In die begin van die 1700’s kon jy heeldag na iemand skiet en hom moontlik nooit raakskiet nie, aan die einde van die 1700’s kon jy nog steeds heeldag na iemand skiet en hom heel moontlik nie raakskiet nie. Wat verander het is die natuur van politieke outoriteit. Die kunsmatige man kon doen wat gewone mense nie kon doen nie, Leviatan kon hulpbronne plunder wat onafhanklike sosiale outoriteite afgesny het vir konings.

Hierdie dinge is nie gedoen in die naam van ʼn egoïstiese koning nie, maar in die naam van die nasie en sy ideale van die “regte van mense” en “liberale vryheid”. So vryheid self word gebruik as regverdiging. Napoleon het gesê hy is die stem van die nasie en menige staatleiers het hierdie tipe redenasie gevolg. Napoleon sê, “Die rewolusie is gesluit, sy prinsiepe gevestig in my persoon, die regering en wese is ʼn verteenwoordiger van die soewereine volk, daar kan geen opposisie tot die soewereine wees nie.”

In ʼn poging om Napoleon se mag teen te staan het die ander Europese state die slegste eienskappe van die nasiestaat nagevolg en probeer om alle menslike hulpbronne te sentraliseer. Teen 1873 het alle Europese state verpligte militêre konskripsie ingestel, teen 1914 eers het alle state inkomstebelasting gevra. Toe hierdie Leviátans bots in 1914, het hulle geen idee gehad hoeveel mag hulle vergader het of watter oorlog hulle ontketen het nie. Daar was feeste regoor Europa, hulle het in die oorlog ingegaan asof dit ʼn Saterdagmiddag rugby wedstryd was.

Die Eerste Wêreldoorlog het ongeveer 10 miljoen lewens op die slagveld geëis. Dit was meer as die gekombineerde slagoffers van al die slagvelde van al die oorloë van die 200 jaar voor dit en net soveel is moontlik dood aan oorlog verwante siektes. Die Tweede Wêreldoorlog het gesorg vir ongeveer 40 tot 60 miljoen dooie mense, siviel en militêr. Maar dit is nie die ergste nie, R.J Rummle in sy boek “Death by government” argumenteer dat vier maal soveel mense vermoor is deur state wat sentralistiese ideologieë najaag as in al die oorloë regoor die wêreld vanaf 1900 tot 1994. Dit is 169 miljoen mense wat vermoor is deur die staat slegs in die 20ste eeu alleen. Die grootste bedreiging vir menslike lewe is mag wat gesentreer is in dit wat Hobbes genoem het Leviátan.

Die ekonoom Frederich Hayek het ten aanskoue van die monster state van sy eie tyd tot die gevolgtrekking gekom dat vryheid die beste verseker kan word in veelvuldige klein state. Hierin het hy teruggekeer na die wysheid van Aristotle, “daar is ʼn limiet tot die grote van state”. Maar vandag kan klein state nie ontstaan of ontwikkel sonder die vernietiging van leviátan of die ontstaan van ʼn nuwe internasionale aanvaarding van die morele reg tot sesessie nie. Hobbes se idee dat soewereine mag een en onverdeelbaar is, was voorheen ʼn eienskap wat slegs aan God behoort het en in ʼn oomblik van waansin het die moderne mens ʼn hemelse eienskap geneem en dit aan die staat gegee in ʼn fatale poging om hemel op aarde te skep.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.