Inflasie en die staat

Inflasie en Die Staat

(Dr. Joseph T. Salerno)

Daar word deur die vyande van die vryemark gesê dat geld die hoeksteen van boosheid is. Die standpunt is heeltemal foutief omrede geld een van die hoof pilare van die beskawing is. Dit is egter waar dat vervalste of fiat-geld, die oorsaak van ʼn groot hoeveelheid ekonomiese en morele boosheid is. Natuurlik sou ek nie nodig gehad het om dit te verduidelik as die fenomeen van inflasie korrek verstaan word nie. Die korrekte en ou definisie wat die klasieke en Oostenrykse ekonome verstaan, is dat inflasie ʼn toename in die volume van geld deur die staat is, en nie deur die vryemark nie. ʼn Toename in goud is ʼn natuurlike mark fenomeen en dit was ook nooit nodig om dit te sien as inflasioneel nie. Die druk van fiat-geld deur die staat was egter gesien as inflasioneel en as inherent immoreel.

Die moderne siening daarvan is dat inflasie bloot ʼn styging in die pryse van produkte is, en die prysstygings kan die gevolg van enigiets wees: swak weer en die prys van kos gaan op; bose OPEC olie sjeiks en die prys van petrol styg; dit kan veroorsaak word deur geldgierige sake manne of geldgierige arbeids unies. Die staat, of so dink mense, word dan die rol toegedig om ons van hierdie inflasie te red. As mens egter eers verstaan dat inflasie bloot die druk van geld of vervalsing van geld uit niks uit is nie, dan besef jy geen staatsbeheerde reserwebank beveg inflasie nie, hulle is die hoof oorsaak daarvan. Hierdie punt was duidelik verstaan deur twee groot ekonome, Henry Hazlitt en Ludwig Von Mises. Beide het sterk gevoel dat ʼn behoorlike definisie daaraan gegee moet word.

Hazlitt skryf, “Die woord inflasie het oorspronklik slegs geïmpliseer dat die kwantiteit geld kunsmatig vermeerder, geïnflasioneer of oorverleng is. Dit is nie bloot irrelevante kleinlikheid om daarop aan te dring dat die woord slegs in sy oorspronklike betekenis gebruik word nie. Om dit te gebruik om bloot ʼn verhoging in die pryse van produkte aan te dui, is om aandag te deflekteer vanaf die werklike oorsaak van inflasie.” naamlik ʼn staatsbeheerde sentrale bank, die sogenaamde inflasie vegter.

Mises het gesê, “ Die Term inflasie is histories altyd en oral gebruik as ʼn vermeerdering in geld, veral bank note in sirkulasie, asook die bank se deposito’s onderhewe aan tjeks. Maar vandag noem mense die fenomeen waartydens die pryse van produkte styg inflasie, terwyl dit in werklikheid onafwendbare nagevolge van inflasie is. Dit het tot gevolg dat daar geen term of naam oorgebly het om die vermeerdering in geld mee te beskryf nie.”

Tog het ʼn nuwe term wel te voorskyn gekom, veral na die Tweede Wêreldoorlog, en dis ʼn baie onskuldige of sagte woord nl. “Money-Management”, oftewel geld-bestuur, asook monetêre beleid. Dus word die nagevolg van inflasie, nl. prysstygings nou inflasie genoem terwyl die oorsaak daarvan, nl. inflasie, nou beteken die “stryd” teen inflasie. Inflasie is essensieel ʼn vervalsings skema, dis niks meer of minder as ʼn swendelary nie.

Verbeel jouself daar is nou ʼn geldvervalsings skema in my buurt en met daardie note koop hulle sekere goedere en dienste, sê maar wyn en motors. Aan die een kant is daar begunstigdes, die voertuig industrie maak nou meer geld en stel meer verkoopspersoneel aan, die wyn handelaars plaas groter bestellings by die produsente, die nuwe geld bevoordeel sekondêr al die industrieë waarby die voertuig en wyn industrieë onderskeidelik hulle aankope doen. Maar intussen begin ek en jy, wat nie in daardie industrieë is nie, stelselmatig meer betaal vir ʼn verskeidenheid produkte oor die hele spektrum, terwyl ons reële inkomste onveranderd bly en effektief verminder is. Geld word so stelselmatig gekanaliseer vanaf die produsente van ware welvaart na hierdie groepe waar hulle eerste die vervalste geld spandeer en na hulself natuurlik.

Daar is geen verskil tussen die ekonomiese effek van hierdie geldvervalsers en wat gedoen word in die naam van monetêre beleid nie. Die Federale Reserwebank met sy snoesige verhouding met die staat en sekere ander groot “Wallstreet” finansiële instellings doen presies dit. Nou spandeer hulle die geld eers op sê byvoorbeeld militêre staatskontrakte, landbou subsidies en staal proteksionisme. Hoe dit ook al sy, die geld begin dan deursyfer na ander industrieë toe. Uiteindelik is daar sê twaalf maande later ʼn groter aanvraag na MBA gegradueerde kandidate a.g.v. uitbreiding in die finansiële industrie, en eers agtien maande verder in die pad af kan ek hopelik begin protesteer as ʼn ekonomie professor vir ʼn hoër salaris. Intussentyd moes almal maar meer betaal vir produkte en ons welvaart is letterlik gesteel omrede mense se werklike inkomste verminder het.

Inflasie is dus geldvervalsing en dit is baie duidelik as mens gaan kyk na die oorsprong van inflasie. Die konings het beheer gekry oor die produksie van munte om kwansuis te verseker dat dit betroubaar is, maar het onmiddellik monopolie pryse begin vra vir hierdie diens en enigiemand anders wat probeer munte vervaardig is dan gearresteer of wetlik vervolg. Die inkomste stroom was nie genoeg vir die konings nie, hulle het begin om die munte te knip of skaaf en dit met basis metale soos koper te meng en as addisionele munte uitgereik, wat veroorsaak het dat pryse styg. Die konings het ook begin om die ou munte wat verweer geraak het deur sirkulasie terug te hou, hulle ligter gemaak en weer uit te gee, en dit is as inflasie beskou omrede dit pryse laat styg het. Maar weereens is dit blote bedrog.

Die ander oorsprong van inflasie was in die bankwese. In die 1600’s in Engeland het mense hul goud by die goudsmid gedeponeer en het soveel vertroue in die goudsmid begin toon dat hulle die kwitansies begin gebruik het om mee handel te dryf. Basies was dit ʼn titel akte tot goud en het bekend geword as banknote. Mettertyd het van die “banke” agter gekom dat goud vir lang periodes by hulle bly en baie min daagliks afgehaal word. Hulle het begin om weer van hierdie goud uit te leen teen rente op bedrog lenings. Wanneer so ʼn goudsmid uitgevang is, het hy vinnig bankrot gespeel soos mense gehaas het om hul goud af te haal, maar van hulle het spesiale vergunnings of alleenregte vanaf die konings of staat geniet. Hulle het net weer addisionele note gedruk wat basies ʼn titel akte tot niks is nie en dit het weer veroorsaak dat pryse van kommoditeite nog verder styg. Maar weereens is dit blote bedrog en dit is waar die term inflasie ontstaan het.

Nader aan die moderne era het alle inflasie, oftewel die druk van fiat geld, stygings veroorsaak in die effektiewe pryse van kommoditeite. Alle goedere maar veral kapitaal goedere, omrede die oorproduksie van fiat geld lei tot ʼn kunsmatige verlaging in rentekoerse wat op sy beurt ʼn aansporing is vir die aanskaffing van kapitaal goedere. Hierdie kunsmatige kook in die ekonomie veroorsaak dat daar te veel kapitale goedere aangevra word, wat die pryse opstoot en die vraag en aanbod kurwe totaal uit balans uit gooi. Die aankopers is hoofsaaklik besighede en wanneer die nuwe geld by die arbeiders uit kom storm hulle natuurlik om verbruikers goedere te bekom. Die gevolg hiervan was en is resessies waarin die mark probeer herstel, borrelprojekte wat sink en besighede wat bankrot speel en selfs bank stormlope van mense wat hul geld probeer onttrek.

Om hierdie illusie van welvaart aan die gang te hou, het banke die staat genader vir die daarstel van ʼn reserwebank, en dis waar die idee van “geldbestuur” vandaan kom. Veral gedurende die laat 19de eeu in Amerika bou die druk hiervoor op, maar na die Reserwebank geskep is, het die reserwe bank wat oorspronklik slegs veronderstel was om ʼn uitlener in die laaste instansie te wees, “lender of last resort”, ʼn monopolie geword wat sy eie geld druk. Alhoewel daar darem nog ʼn goudstandaard was, was die reserwebank nou die hoof uitlener. Die reserwebank het vinnig begin om self die geld te inflasioneer, resessies volg altyd hierop en ʼn situasie het ontstaan waar al die banke besef het dat hulle bankrot gaan speel. Tussen 1931 en 1933 het die helfte van alle Amerikaanse banke bankrot gespeel. Baie mense se spaargeld wat oor ʼn leeftyd opgebou is, het in die niet verdwyn, alles a.g.v. geldbestuur.

Dit is op hierdie tydstip wat Amerika van die goudstandaard afgesien het, en dit beteken bloot dat jy vir eienaars van goud-kwitansies sê, “jy kan met die kwitansie handel dryf maar jy kan dit nie terug inruil vir jou goud nie”. Vanaf 1933 tot 1976 was Amerikaners nie eens toegelaat om goud te besit nie. Dit kom neer op die nasionalisering van alle goud (van burgers) deur die staat en is niks minder as diefstal op ʼn massa skaal nie. In 1946 het die wêreld tydelik teruggekeer na ʼn goudstandaard, maar die reserwebanke sou net Amerikaanse dollars vir goud uitruil en slegs aan sekere oorsese finansiële instellings. Die stelsel was bekend as die Bretton Woods stelsel(1946-1971). Daar was egter probleme hiermee en weereens is dit swendelary. Die Britse regering het byvoorbeeld in 1946 plegtig belowe dat die Britse pond altyd vir $4.03 sal verhandel en dat die publiek hul ponde vir dollars sal kan ruil en die dollars weer vir goud. Maar die staat het soos altyd gesorg vir inflasie en daar was nie genoeg Amerikaanse dollars in die Britse staatskas om die beloftes te eerbiedig nie en hulle het eenvoudig gevou op hul beloftes.

Op twaalf geleenthede het die Britse kanselier van die “Exchequer” die volgende gesê: op Januarie 26ste 1948: “Geen alterasie vanaf die waarde van die goudstandaard word oorweeg na die devaluasie van die Frank nie.” Op die 4de Maart 1948: “Gerapporteerde planne in die media om die pond te herevalueer is totale nonsens.” Op 7 Mei, 1948: “Die regering het geen planne om ʼn program te loods vir die herevaluering van die pond nie.” Ens, ens. ʼn Opsetlike verbloeming van die waarheid, en finaal op September die 6de 1948: “Ek staan by my opmerking in die Laerhuis dat die pond sterling nie gedevalueer sal word nie.” Presies dertien dae na hierdie laaste standpunt het hy die pond gedevalueer.

Soos Henry Hazlitt op grond hiervan uitgewys het, is dit die essensie van monetêre bestuur. In 1971 het Amerika presies dieselfde gedoen na herhaalde beloftes aan die wêreld dat die dollar vir goud veruil sal kan word teen ʼn vaste koers van $35 per ons. President Nixon het die goud venster-tydperk gesluit. Dit is die sagte bewoording wat gebruik is, maar dit beteken dat hy teruggegaan het op ʼn belofte en dat ons geld vandag op absoluut niks gebaseer is nie. So Inflasie is inherent immoreel en sedert 1971 kan die Amerikaanse Federale Reserwebank geld “Ad libitum” skep en inflasioneer op eie wil, en doen dit dan ook.

Nou wil ek vertel van die Duitse hiperinflasie wat die resultaat was van die aanhoudende druk van fiat geld, en veral die sosiale impak daarvan op moraliteit. Die omvang daarvan was enorm. In Januarie 1921 kon jy ʼn Duitse koerant koop vir 30c of 3/10des van ʼn Duitse Mark, teen die begin van Oktober 1921 het dit 2000 Mark gekos, teen die einde van Oktober 1921 het dit 1,000,000 Mark gekos vir dieselfde koerant en teen die helfte van November 1921, 70,000,000 Mark. Die Duitse staat het elke drukmasjien in die land gebruik, in totaal 2000 vervalsings masjiene wat onophoudelik druk om by die verhoogde pryse by te hou en sodoende het die pryse net nog verder gestyg.

Inflasie en die staat

Die mense se spaargeld sowel as hul pensioene is oornag vernietig, as iemand ʼn gemaklike voor-oorlogse pension van 200 Mark per maand ontvang het kon hulle teen 1920 nie eens ʼn enkele maaltyd daarmee koop nie. In een geval as voorbeeld het ʼn man wat ʼn klien fortuin gespaar het, ʼn spaarrekening van 68,000 Mark gehad voor die hiperinflasie en daarna ontvang hy ʼn brief vanaf die bank dat hulle nie meer bereid is om sy belegging te administreer nie omdat die kapitale som uit verhouding is met bankkoste. Daarom het die bank besluit om sy kapitaal aan hom terug te besorg, maar omdat hulle nie sulke klein banknote het nie stuur hulle ʼn 1,000,000 bank noot. Die staat het op daardie stadium opgehou om nuwe banknote te druk en bloot 1 miljoen of 1 biljoen bo-oor bestaande note gedruk. Maar die posseël op die brief vanaf die bank was 5 miljoen Mark, so die man se fortuin kon nie eens meer ʼn posseël bekostig nie.

Arbeiders wou nie meer een maal per week betaal word nie en het eers aangedring om drie maal per week betaal te word en toe elke dag. Hulle het met hul vrouens afgespreek om die geld te kom haal en dit dan so gou as moontlik te spandeer voor die pryse styg. Onderwysers en professors wie maandeliks betaal was, het hul werk bedank om eerder taxi bestuurders en kelners te word om meer gereeld geld te kry. Wanneer vrouens inkopies gedoen het, het hulle wasgoedmandjies vol kontant gevat, hulle moes dit noodgedwonge buite los omdat daar nie plek vir almal se wasgoedmandjies in die winkels was nie en skelms het soms opgesluip, die banknote uitgegooi en met die leë wasgoedmandjies weggehardloop.

Die effek van al hierdie fantastiese gebeure is dat daar ʼn hele nuwe ryk klas geskep is, en dit is die vriende van staatsswendelaars wie die nuwe geld eerste gekry het voordat pryse styg. Hulle het dit op allerhande groot borrel projekte spandeer. Die middelklas en arbeiders se kapitaal is totaal uitgewis en mense het nie meer geld gespaar of vir hul finansiële toekoms beplan nie. Produksie het ook gedaal omrede mense nie meer tot die einde van die dag hard gewerk het nie, hulle het soveel as moontlik rondgehardloop om winskopies te probeer vind. Mense het nie meer opgekyk na hardwerkende mense wat geld spaar of innoverend is nie, maar na swendelaars, bedrieërs en diewe. Seksuele moraliteit het ook verval, jong dames het nie meer gespaar vir hul bruidskat nie en het eerder saam met hul kêrels weggeloop. In daardie tyd het ʼn bruidskat ʼn belangrike rol vervul in die middel sowel as arbeidersklas. Daar is ook gru verhale van ouers wat hul jong kinders as prostitute in die tyd uitgehuur het. Daar is ʼn direkte skakel tussen inflasie en moraliteit omrede dit ʼn sosiale rewolusie verteenwoordig. Dit vernietig nie net die middelklas en produktiewe rykes nie, maar deur geld self te vernietig en mense se vermoë om vir die toekoms te beplan aan bande te lê, los jy hulle met geen keuse as om te gryp na onmiddellike vervulling van hul behoeftes nie.

Of ons daarvan hou of nie, bly ons in ʼn wêreld waar mans en vroue nie fisies of geestelik kan floreer sonder eiendom nie, en met eiendom bedoel ek nie bloot welvaart nie maar die waardes en pryse wat ons aan verskillende items en gedrag in die samelewing gee i.t.v menslike begeertes en benodighede. In die moderne wêreld van handel en massa produksie is dit onmoontlik om die waarde van dinge te bepaal as ons nie die monetêre waarde kan skat nie. Selfs gedrag en persoonlikheidseienskappe soos etos, behulpsaamheid en vriendelikheid. Ons vereenselwig hierdie eienskappe willens of selfs onwetend met sukses terwyl ons swak gedrag, bakleierigheid en dronkaards met armoede vereenselwig. In ʼn ware sin is eiendom, of die waarde wat ʼn man geskat word, ʼn definisie van sy persoonlikheid self. ʼn Mens is nie regtig ʼn dokter, elektrisiën of loodgieter as jou onderneming of arbeid nie ʼn monetêre waarde het nie. Hier is wat ʼn bekende Duitse geskiedkundige en sosioloog, Konrad Haiden, wat self die Duitse hiperinflasie deurgemaak het, skryf: 

“ Die Duitse volk was van die eerstes om die agteruitgang van daardie materiële waardes as die hoogste van waardes te beleef, wat ʼn hele eeu geneem het om te skep. Die Duitse volk het eerstehands die dood beleef van onbeperkte private eiendom wat so ʼn rojale trots in die moderne beskawing geskep het. As die konsep van geld self sy waarde verloor, wat kan dan enige waarde hê? Daar was altyd arm mense en baie was gewoond aan min, maar die idee dat mens selfs met geld, niks het nie, dit was werklik die verskrikking van onwerklikheid, so afgryslik as enigiets wat Wagner kon verbeel. ʼn Siniese onsekerheid het in mense ingekruip, niemand het geweet wat hulle werklik besit nie en party mans het gewonder wat hulle werklik is. Mense het hulself aan welvaart geweeg, deur geld was hy iemand of het gehoop om iemand te word, mense word gebore en sterf, het gekom en het gegaan maar sy waarde en geld was altyd daar. Nou het die staat daardie pilaar vernietig en die oorwinnaar en erfgenaam van geld geword, die staat was nou alles. Die mens het neergekyk op homself en gesien dat hy niks is nie.”

ʼn Jong magsugtige en uitgeslape politikus, genaamd Adolf Hitler, het inflasie verstaan as ʼn massiewe bedrogspul. Hy het gelyktydig die Duitse volk gespot en hulle materiële verbetering en spirituele redding belowe in die staat. Hy het die staat gesien as die erfgenaam van geld, of die erfgenaam van wat geld was. Hier is sy eie woorde in 1923: 

“Ons het sopas ʼn groot gimnastiek byeenkoms in Munich gehad, 300,000 deelnemers van reg oor die land, dit moes baie geld vir ons stad beteken het, sou jy dink. Daar was ʼn ou vrou wat poskaarte verkoop het, sy was bly omdat sy so baie kon verkoop tydens die byeenkoms en buite haarself omdat haar inkomste so ver bo haar verwagtinge was, maar nou sit sy voor haar winkeltjie en huil haar oë uit. Want met die miserabele papiergeld wat sy as vergoeding aanvaar het, kan sy nie eens ʼn 100 poskaarte koop nie. Haar besigheid en lewe is geruïneer, sy kan gaan bedel. Dieselfde wanhoop gaan almal verswelg, ons staar ʼn rewolusie in die gesig.”

In nog ʼn toespraak maak hy die volgende opmerkings:

“Die regering gaan gemaksugtig voort om hierdie waardelose afval papiergeld te druk, want as hulle ophou sal dit die einde van die regering wees. As die fiat geld drukkers ophou, en dit is ʼn voorvereiste vir die stabilisering van die Mark, sal die bedrogspul meteens op die lappe wees. Die werkers sal besef dat hulle slegs ʼn derde verdien van wat hulle voorheen verdien het en 2/3des van sy arbeid gaan vir die vyand. Glo my, ons ellende sal vermeerder, die bedrieër sal oorleef. maar die eerlike sakeman wat nie spekuleer nie sal vernietig word. Eers die klien outjie onder maar uiteindelik die ryk man bo ook, die swendelaar sal egter bo bly. Hoekom? Omdat die staat self die grootste swendelaar geword het, ʼn rower-staat. Binnekort sal julle van hongersnood sterf tensy julle my blindelings volg. Burgers wat in biljoene reken sal sterf van die honger want boere sal weier om hul graan en botter vir waardelose biljoene te ruil waarmee hy net sowel sy toiletmuur kan versier, of dit by sy bemestingshoop gooi en moenie kla, hoe wreed van die boer nie, want wie van julle sal verniet sy arbeid weggee?”

Hitler het duidelik inflasie verstaan, hy maak ook die korrekte afleiding omtrent meerderheidsregering en inflasie, maar begaan natuurlik die fout om nog steeds die staat as redder voor te hou, in homself verpersoonlik natuurlik. Die kreet van alle diktators is: Gister was hel, more sal hemel wees, laat die oorgang aan my oor.

Hy gaan aan: “Die geld wat julle die boer aanbied is nie meer ʼn noot, wat gedane werk verteenwoordig nie, dit is ʼn noot van ʼn swendelaars-regering en dit beteken hongersnood. As die verskrikte volk besef hulle kan verhonger op biljoene, dan moet hulle tot hierdie gevolgtrekking kom, ons sal nie verder onderhorig bly tot ʼn staat wat op die swendelary idee van meerderheidsregering gebou is nie. Ons soek diktatorskap. Die Duitse volk is kinders, want net ʼn kinderagtige volk sal miljoen gemerkte note aanvaar. Ware krag is die kwaliteit van net ʼn paar mans, anders sal ons nie die woord held hê nie. Die massas bestaan uit gemiddelde mans, demokrate. Lafhartige mans kies die mees lafhartiges as hul leiers sodat hulle nie dapperheid hoef te wys nie en hulle kies die domste van die domste sodat elkeen kan voel hy is ʼn bietjie beter as die leier. Volke onderworpe aan die wil van die meerderheid is op die pad na vernietiging.”

Hy praat verder hoe lafhartig die Duitse volk geword het omdat hulle die demokratiese gif gesluk het en sê ook, “Nasies wat hul karakter en eer verloor het verdien geen geluk of goeie lewe nie. Die Duitse volk loop dieselfde pad as die antieke volke, ʼn volk wat stadig verrot.”

Om die toekoms van menslike vryheid en moraliteit self te red is dit dus nodig om terug te keer na ʼn goudstandaard. Daar lê geen hoop in die Fuhrer-prinsiep of die staat nie, maar in ʼn ware vryemark waar gemeenskapsbanke en privaat banke vrylik met mekaar kompeteer met hul eie goud reserwes op hul eie terme sodat deflasie, rentekoerse, produksie en dies meer die ware toedrag van ekonomiese sake kan reflekteer. Deur die staat toe te laat om geld te definieer, gee ons dus ons moraliteit op vir die staat om dit ook namens ons te definieer.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.