Die Humanitariër met die atoombom

 Humanitariër met atoombom

(Dr. Ralph Raico)

In 1943 was daar ʼn boek gepubliseer getiteld “The God of the machine”, geskryf deur Isabel Paterson. Sy was een van die leiers van wat bekend geword het as die Amerikaanse “old right”. Dit was ʼn groep denkers wat bymekaar gekom het om die “new-deal”, kollektivisme en Roosevelt se oorlogspraatjies teen te staan. Die bekendste hoofstuk in die boek is “the Humanitarian with a Guillotine”.

In haar tesis bewys sy dat die meeste mensgemaakte tragedies in die wêreld die gevolg is van mense wat dink hulle is gemotiveerd deur die beste van intensies en nie ooglopende slegte mense nie. Ook dat die meeste skade aangerig word deur mense wat dink dat hulle die hoogste van ideale het. Hierdie humanitariërs voel dus heeltemal geregverdig om hardhandig die mag van die staat te benut om hul rein adellike ideale te verwesenlik. Sy wys byvoorbeeld uit dat die keiser Nero dalk ʼn paar Christene vermoor het om sy persoonlike sadisme te bevredig, maar dat keisers soos Diocletian en Marcus Aurelius baie, baie meer Christene vermoor het en hulle word allerweë beskou as die goeie keisers. Dat hulle gedink het hulle doen die wêreld ʼn guns, vir die sogenaamde publieke belang toe hulle Christene uitgemoor het.

Die mans van die inkwisisie het gedink hulle doen God se werk en bevorder geloof en moraliteit en red mense se siele toe hulle Protestante, Jode en ketters uitgemoor het. Daarom het hulle net voortgegaan, daar was geen limiete nie. Sy het geargumenteer dat politieke ideologieë later die plek van geloof ingeneem het en die moderne mens se plaasvervanger vir geloof geword het. Niemand was ooit meer selfloos en ingestel op gelykheid, publieke belang en ander goeie hoë reine dinge as ʼn man met die naam Maximilien Robespierre nie – die leier van die Jakobyne in die Franse rewolusie en die implementeerder van die “reign of terror”. In Rusland was Lenin en die ander Bolsjewistiese leiers gemotiveerd deur dinge wat steeds vandag as rein ideale beskou word nl. ʼn inherente haat vir alle menslike ongelykhede, die wins motief en die passie om alle klas verskille uit te wis. Daarom het hulle die grootste massa moordenaars van die 20ste eeu geword. Isabel Paterson se uitgangspunt was dat die humanitariër in teorie, die terroris in praktyk is.

My tema hier is dus die humanitariër met die atoombom, en ek gaan kortliks probeer bewys dat ook in oorlog die humanitariër in teorie, die terroris in aksie is. Almal ken Generaal William Sherman se stelling “oorlog is hel”, en hy het sy beste gepoog om dit ʼn realiteit te maak vir die inwoners van die Amerikaanse Suide in die Oorlog tussen die State.

As ons kyk na die geskiedenis van oorloë in die Westerse wêreld, sien ons dat daar verskeie fases was. Daar was op ʼn stadium ʼn ewolusie na iets wat amper as ʼn bietjie beter beskryf kan word. In die laat 16de en in die 17de eeu was oorloë in Europa beslis wreed. Dit was die tyd van die groot religieuse oorloë, toe state geloof probeer aanneem het en veroorsaak het dat katolieke en protestante mekaar probeer uitwis in die naam van die prins van vrede. Dit het gelei tot die Dertigjarige oorlog wat Sentraal-Europa totaal verwoes gelaat het en meer as ʼn derde van die totale Duitse bevolking uitgewis het. Maar na die oorlog het mense gereageer, die ongekende wreedheid daarvan het selfs mense in regerings laat wonder of daar nie tot die voordeel van almal sekere beperkings geplaas kan word op beoefening van oorlog nie.

Die doel sou nie wees om oorloë te verban nie, dit het hulle as utopies beskou, maar eerder om dit te reguleer en sekere aksies buite aanvaarde gedrag te plaas. Die doel sou nie wees om jou vyand te elimineer nie, maar om vernuftig oorlog te voer, jou hulpbronne wys te gebruik en as een kant sien hulle kan nie wen nie, om dan ʼn gematigde, regverdige vrede te sluit. Juriste en filosowe het begin om ʼn stelsel van reëls saam te stel, gebaseer op die konsepte van St. Thomas Aquinas en ander skolastiese filosowe, van die teorie van die “regverdige oorlog”. Hierdie ewolusie na ( ʼn ten minste) minder barbaarse oorlogvoering het ʼn groot terugslag ontvang in die Franse rewolusie. Hulle was geïnspireer deur die eerste ideologie wat geloof vervang het, nl. gelykheid, demokrasie, menseregte en al die ander sogenaamde “goeie” dinge. Volgens die revolusionêres was hul vyande nie bloot soldate wat vir hul eie land baklei het nie, maar “die slawe van tiranne”.

Dit wat die nuwe kreet sou produseer was bewys in die Vendée, ʼn gedeelte in die weste van Frankryk. In die Vendée het die bevolking, “snaaks genoeg”, hierdie nuwe vryheid wat aan hulle opgedwing is deur die Jakobyne van die hand gewys. Hulle het steeds hul koning en kerke hoog geag en hul Christelike priesters beskerm en geweier om die dekrete van Parys te gehoorsaam. Die humanitariërs, daardie gelowiges in die regte van mense, het daarna ʼn konskripsie weermag op die been gebring. Iets wat geen koning ooit sou probeer nie. Die landelike bevolking het dit die bloed-belasting genoem en die inwoners van die Vendée het in opstand gekom. Die revolusionêres het hulle op die mense gewreek. Hulle het ʼn weermag gestuur en generaal Westermann het trots terug geskryf aan Parys dat sy troepe alles in hulle pad doodmaak, – kinders, vrouens, beeste en honde. Dit, het hy verklaar, is hoe “vryheid” met haar vyande omgaan. Honderde duisende is dood en daarin het ons die voorganger of prototipe, van die humanitariër met die atoombom, -die vegter vir alles wat “goed is”, -wat die mag van die staat meedoënloos gebruik om die vyande van “goedheid” te vergruis. Selfs vandag lees jy net van “antirevolusionêres” en “reaksionêre”, maar dis bloot mense wat hul tradisionele manier van lewe wou beskerm. Moet dus nie verbaas wees as die massa moorde deur humanitariërs nooit gelyke behandeling ontvang nie.

Die oorloë van die rewolusie en Napoleon het na ʼn tydelike terugslag gelyk, die Den Haag-konvensies het daarop gevolg ens., maar in die middel van die 19de eeu was daar ʼn voorganger van dinge wat sou kom, en dit was die Amerikaanse Oorlog tussen die State. Dis nie omrede die mense van die Amerikaanse Suide eksentriek is dat hulle van die Oorlog tussen die State praat nie, want ʼn burgeroorlog is gewoonlik ʼn oorlog waarin twee kante baklei vir die reg om te regeer of om sentrale mag te bekom. So dit was bloot ʼn oorlog tussen die state omrede die Suide baklei het vir die reg tot selfbeskikking.

In die houding van die Amerikaanse Noorde sien ons die humanitariër in aksie. Hulle beskou hul inval as ʼn groot kruistog, ʼn adellike stryd tussen vryheid en gelykheid teen die afskuwelike magte van “slaaf-kratiese tiranne”. In hulle oë doen die Noorde niks minder as wat Christus homself gedoen het nie. Hulle leef slegs in die sekulêre terrein Christus se offer op die kruis uit soos die Noordelike “Battle Hymn of the Republic” gaan “As he died to make men holy, let us die to make man free.” In hul poging hiertoe het hulle ʼn verwoestende veldtog op die Suide losgelaat. Soos generaal Sherman sy veldtog deur Georgia geloods het, het hy verklaar dat sy doel is: “om die uiterste verwoesting van die – paaie, huise en mense te wees. Ons veg nie slegs teen ʼn vyandige weermag nie maar teen ʼn vyandige bevolking, ons moet oud en jonk, ryk en arm die swaar hand van oorlog maak voel. Ek sal die opmars deur Georgia maak en ek sal Georgia maak skree.”

Dit het hy ook gedoen soos die Yankee weermag hul pad oopgemaak het met brandstigting, verkragting, roof en moord, maar in die oë van die humanitariër is dit alles heeltemal geregverdig. Dit het tot die dood van 620,000 mense gelei, burgerlikes uitgesluit, ʼn kwart van die mans in die Suide en ʼn sesde van die in die Noorde sou ontkom. Soms as ek die wreedheid en statistieke van die oorlog noem sien ek hoe mense probeer om ʼn tipe koste/voordeel analise by hulself te doen. Slawerny het op die meeste plekke geëindig omrede dit ʼn hoogs oneffektiewe ekonomiese stelsel is, maar hou ingedagte dat dit die staats-meganismes van dwang was wat dit in Amerika lewendig gehou het en nie die natuurlikheid of onnatuurlikheid van die institusie van slawerny self nie. Wanneer ook al staatsmag gebruik word vir onderdrukking, lei dit tot ʼn onnatuurlike toedrag van sake. Die punt is dat wanneer staatsmag gebruik word vir sogenaamde bevryding van ander dit eweneens ook nie noodwendig sal lei tot ʼn natuurlike toedrag van sake nie.      

Toe Lincoln uiteindelik gedood is in ʼn sluipmoord aanval, het die noordelike regters die volgende verklaar t.o.v. die samesweerders: “Die rebellie in wie se guns hierdie sameswering tot stand gekom het en hierdie groot publieke misdaad gepleeg is, was self ʼn groot sameswering en ʼn massiewe sluipmoord.” Deur slegs die wil van die noordelike politici te definieer was almal in die Suide dus skuldig aan hoogverraad en het alles verdien wat hulle gekry het. Die Suide was vernietig vir generasies, maar het ʼn redelike vrye mark gehad, die weste was oop en Amerika het ryk geword bo alle verwagtinge.

Hierin is dan die fundamentele logistieke gelê vir alle humanitêre geweld van oorloë in die 20ste eeu. Eers gooi jy bomme op jou slagoffers, dan versmoor jy hulle in reddingspakkette om te bewys dat jou Empaaier ʼn humanitêre Empaaier is. Die groot Amerikaanse welvaart masjien word dan altyd ingespan deur die dominante politieke klas van die gegewe tyd om hul eie internasionale doelstellings te bereik.

Teen die einde van die 19de eeu het hulle belang begin stel in imperialisme en moes kolonies en oorloë hê. Hiertoe het ʼn geleentheid homself voorgedoen toe humanitariërs uitvind dat die Spanjaarde hulle swak gedra teenoor Kubaanse terroriste wat vir onafhanklikheid baklei. Die vryheidsvegters het gedoen wat terroriste gewoonlik doen en die Spanjaarde het baie swaar op hulle neergekom. Daarom het Amerika in 1898 in ʼn oorlog met die Spanje betrokke geraak, en redelik maklik gewen maar nou met kolonies opgeëindig toe hulle klaar gewen het – Puerto Rico sowel as die Filippyne. Nadat die oorlog gewen is, het hulle so te sê onmiddellik die kanonne en gewere op die Kubaanse rebelle laat losbrand en het baie meer wreed opgetree as wat die Spanjaarde ooit opgetree het. Die afgebrande Filippynse dorpies vol lyke van onskuldige burgerlikes was dalk ʼn gepaste gesig van die afgebrande dorpe wat in Viëtnam jare later sou volg.

Daarmee was die weg dan gebaan vir die grootste van alle humanitêre staatsmanne, Woodrow Wilson. Hy was ʼn groot gelowige in pligsgetrouheid, verantwoordelikheid, moraliteit en idealisme en was vas oortuig dat hy al hierdie eienskappe het. Hy het ʼn baie hoë opinie van homself gehad. H.L.Mencken het daardie tyd spottend gesê dat dit Wilson se persoonlike opinie is dat hy eerste in lyn is sou daar ʼn posisie in die Drie-enigheid oopgaan.

Amerika se oorspronklike buitelandse beleid was gewapende neutraliteit. Dit was nie net in Washington se bedankingstoespraak nie, maar kom voor in die uitsprake en skrywes van Jefferson; Madison; Webster; Klay, een na die ander tot in die 19de eeu. Deesdae word die “nie-inmengingsbeleid” verkeerdelik “isolasie” genoem, soos John Quincy Adams dit gestel het, “America does not go abroad in search of monsters to destroy.” Wilson het natuurlik presies die teenoorgestelde idee gehad. Hy het nog voor die oorlog uitgebreek het verklaar, “Is dit nie iets om op trots te wees nie? Dat jy weet hoe om mag te gebruik, soos konsensieuse mans en here. Dat jy jou medemens dien en hulle nie probeer oorwin nie… Die Amerikaanse vlag moet voortaan staan vir waardigheid, vir die handhawing van die reg van een nasie om die ander nasies van die wêreld te dien.”

Wilson het sy perfekte geleentheid gekry in die vorm van die Eerste Wêreldoorlog. Daar was ʼn militêre blokkade van seeroetes na Duitsland om kosvoorrade af te sny, en die doel was om hongersnood te veroorsaak en die burgerlikes te dryf na ʼn spoedige oorgawe. Duitsland het met duikboot oorlogvoering beantwoord en daar was natuurlik komplikasies. Daar is ʼn goeie boek deur Walter Karp, “The politics of war”, wat dit alles in fyner besonderhede behandel. Walter Karp was ʼn talentvolle joernalis eerder as ʼn historikus van professie, maar die feite en navorsing is uitmuntend. In 1916 wen Wilson dan die verkiesing naelskraap op die tema “Hy het ons uit die oorlog gehou”. Op die 4de Maart is hy ingesweer vir sy tweede presidensiële ampstermyn, maar op die 2de Maart het hy reeds voor die Amerikaanse kongres verskyn vir ʼn oorlogsverklaring. Neem in ag dat Wilson die moeite gedoen het om die kongres te nader vir ʼn oorlogsverklaring, selfs Roosevelt het die moeite gedoen om die kongres te vra vir ʼn oorlogsverklaring. Deesdae neem almal eenvoudig aan dat die president Amerika in enige oorlog kan inkry, enige plek op aarde, sonder ʼn oorlogsverklaring deur die kongres.

Wilson se groot toespraak het soos volg verloop: “Waarvoor baklei ons? Ons baklei vir demokrasie, vir die regte en vryheid van klein nasies, vir ʼn universele domein van regte wat vrede en veiligheid na alle nasies sal bring en die wêreld self uiteindelik vry sal maak.” Dit is duidelik dat hierdie die humanitariër in aksie is, die staatsman en utopiese dromer. Hy gaan voort, “ Vir so ʼn taak kan ons, ons lewens offer, ons rykdom, alles wat ons is en het. Met trots vir die wat besef dat die dag aangebreek het dat Amerika bevoorreg is om haar mag en bloed te spandeer vir die beginsels wat haar geboorte en geluk gegee het. God help haar, sy kan nie anders nie.”

Die laaste deel, natuurlik ʼn ego vanuit Martin Luther se verklaring by die kerkvergadering van Worms,“ Hier stehe ich, ich kann nicht anders.” Nes Oliver Cromwell dan nooit daarop uitgegaan het om die Ierse volk uit te wis met sy energieke geloof in sy eie geregtigheid nie, net so het Wilson dan nooit uitgegaan om die Duitse volk uit te wis in sy stryd met sy eie innerlike demone nie. Hierdie seun van ʼn Presbiteriaanse prediker was volkome oortuig in die geregtigheid van sy dade. Verstaan dat Wilson se idee was dat Amerikaners nie gebore word om hul lewens in vrede uit te leef in hul families, kerke en vrye assosiasies nie, maar om vir ewig die kruis van globale verantwoordelikheid op te neem. Behalwe vir die 1920’s was, en is dit, die kreet van elke Amerikaanse president sedertdien.

Dit bring my dan by die Tweede Wêreldoorlog. Volgens die gelowiges in globalisme dan die “laaste goeie oorlog”. Die globaliste is natuurlik mal daaroor om oor die Tweede Wêreldoorlog te praat, omrede hulle voel dis hul beste voorbeeld waarom militante inmenging in ander se sake altyd geregverdig is. Waarom wil dieselfde mense wat dit as regverdiging gebruik nooit oor die Eerste Wêreldoorlog praat nie? Dit was tog Amerika se oorspronklike inmenging in globale militêre aksie. Hoe goed het dit vir almal afgeloop? Terloops, in die Eerste Wêreldoorlog het ons nog een van daai ongesproke wandade van die militante humanitariërs wat nooit genoem word nie, die Britse hongerblokkade in die Duitse Noordsee het moontlik tot die dood van soveel as 750,000 Duitse burgers gelei deur hongersnood en siektes wat daarmee gepaard gegaan het. Die kinders wat dit oorleef het, was so teen 1929-1931 omtrent 18 en was die vreeslose rekrute vir Hitler se stormtroepe. Die Eerste Wêreldoorlog was inderdaad ʼn waterskeiding. Hier is ʼn aanhaling uit Walter Karp se boek waarna ek vroeër verwys het, “Die feit dat Amerikaanse skoolkinders vandag leer dat Woodrow Wilson ʼn goeie president was, is op sigself ʼn aanduiding van die skade wat hy die Amerikaanse republiek aangerig het.”

Wanneer enigeen wandade in oorlog uitwys is die onmiddellike reaksie altyd dat Hitler en die Nazi’s erger was – óf die een óf daardie een was altyd erger. Wel, ek is bereid om dit te aanvaar, maar is dit werklik die standaard wat ons as mense vir onsself en ons leiers wil stel? Toe Timothy McVeigh die bom in Oklahoma laat ontplof het, en dis ʼn saak wat ek nou nog nie verstaan nie aangesien dit so teen produktief was tot wat hy gesê het sy oogmerke was, toe dit gebeur het, was daar so baie briewe in die koerante van mense wat vra – “Wie maak kinders dood?”- “Watter tipe mens maak kinders dood?” Wel, die antwoord is maklik, magtige state en staatsmanne maak kinders dood. Ek weet nie wie dink hulle was onder daai bomme in Berlyn, Dresden, Nagasaki, Hirosjima en die lengtes en breedtes van Viëtnam nie? Altyd, wanneer die mag van die sentrale staat gebruik word vir oorlogvoering, of om een of ander verbeelde vyand te onderdruk, verskuif, red of uitwis – dit is kinders wat sterf in oorloë – kinders.

Harry Truman, die man wat wel die atoombom gebruik het, en deesdae word hy ook uitgebeeld as die staatsman wat almal liefgehad het. Ek onthou Harry Truman baie goed en ek onthou wat almal van die lae luis gedink het. Dis maklik om te sê “gooi die bom”. Hirosjima – 32 skole vol kinders, wat verwag mense in sulke tipe oorlogvoering? Was daar ʼn alternatief? Daar is altyd ʼn alternatief! In die eerste plek is onkondisionele oorgawe nooit nodig nie, dit forseer jou vyand net om tot die bitter einde te baklei. Hoe anders kon die oorlog geëindig het? Nes meeste oorloë eindig deur onderhandelinge. Dan kom die teenkanting gewoonlik :Wel, dan sou die Japannese aangedring het om ʼn gedeelte van hul imperiale grondgebied te behou, ens. Die alewige teen-feitlike geskiedenis waarin hulle wil spekuleer sê dat as Amerika nie betrokke geraak het nie sou Hitler gewen het, die wêreld oorgevat het en almal doodmaak het. Dis hul teen-feitlike geskiedenis as regverdiging vir alle militêre inmenging. As hulle dan in teen-feitlike geskiedenis wil spekuleer, wat dan hiervan: as Japan toegelaat was om ʼn gedeeltelike mag te behou in die Ooste, is dit baie onwaarskynlik dat die kommuniste in China aan bewind sou kom en dan sou die 25 tot 30 miljoen wat in die kulturele rewolusie en onder kommunistiese kollektiwiteit gesterf het, nie plaasgevind het nie.

Gelukkig is daar nog mense met ruggraat, soos die Katolieke filosoof G.E.M. Anscombe wat daarteen geargumenteer het toe Oxford universiteit aan Truman ʼn ere graad wou gee. Sy het dit teengestaan deur te sê, óf daar is reëls, óf daar is geen reëls nie. As daar geen reëls vir oorlogvoering is nie, dan kan enigiets maar gaan, en as daar reëls is, dan teiken jy nie ongewapende burgers nie. Gevolglik is die ere graad toe nie aan hom toegeken nie.

Wat is die alternatief tot die humanitariër met die atoombom? Paterson het geargumenteer dat die alternatief ʼn vryemark stelsel en vrywillige welsyn is. Net so dan in buitelandse beleid is daar twee alternatiewe; daar is die humanitariër met die atoombom wat probeer om elke ongeregtigheid teen te staan en elke traan te probeer afvee deur militêr in te gryp, of ʼn land wat sterk na sy eie veiligheid omsien, maar ander uitlos om hul eie probleme op te los.

Daar is ʼn interessante korrelasie tussen mense wat altyd planne smee hoe om elke probleem in die wêreld vir ander mense op te los en dink dat dit fantasties in hul eie land gaan, en die wat weer op hul beurt dink dat dit meer skade as goed veroorsaak en dat hulle meer as genoeg van hul eie probleme het om op te los. Die Oorlogs-welsynstaat kan bykans humoristiese skynheilige situasies skep. Daar was ʼn klompie jare terug ʼn wet in Rusland afgekondig wat teen Katolieke en Protestante diskrimineer ten gunste van hul tradisionele Ortodokse kerke. Wel die Amerikaanse regering wou ʼn veldtog van stapel stuur om die Russe te dwing om die wet terug te trek omrede dit geloofsvryheid aan bande lê. Dit is nou dieselfde Amerikaanse federale regering wat vir dekades letterlik ʼn oorlog gevoer het in elke lokaliteit in Amerika teen geloof in skole en die tradisionele geloofskultuur in Amerika, en op grond hiervan wil hulle vir ander sê hoe om te lewe?!

Ten slotte dan, in plaas daarvan om altyd polisieman vir ander mense of lande te probeer speel en te probeer om liberale-demokrasie of enige ander ideologie op ander af te dwing, is dit altyd beter om die vryhede wat elkeen van ons aan ons eie staat afgestaan het te probeer herwin. In plaas daarvan om met staatsmag ander mense te probeer red, ophef, verwesters of ver-Christen, eerder deur vrywillige welsyn ʼn positiewe impak te probeer maak, wat nie staatsmag, gewere of atoombomme verg nie.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis, Opinie and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.