Oorlog, die staat en die leerstelling van demokratiese vrede

staatsoorlog

(Prof. Hans-Hermann Hoppe)

Die staat word gebruiklik gedefinieer as ʼn agentskap met twee unieke karaktereienskappe. Eerstens is dit ʼn verpligte territoriale monopolis van finale besluitneming (jurisdiksie). M.a.w. die staat is die finale arbiter of regter in elke saak van konflik, insluitende konflikte waarin die staat self betrokke is. Tweedens is die staat ʼn territoriale monopolis van belasting. D.w.s. dit is ʼn agentskap of instelling wat eensydig pryse vasstel en van hul kliente eis vir die voorsiening van wette en geregtigheid as dienste.

Dit is voorspelbaar dat as mens slegs kan appelleer tot die staat vir geregtigheid, geregtigheid verdraai sal word ten gunste van die staat. In stede daarvan om konflik op te los, sal ʼn monopolis van finale besluitneming konflik aanhits om sodoende die saak te vereffen tot sy eie voordeel. Erger nog, terwyl die kwaliteit van geregtigheid onder die veelbelowende monopolis sal daal, sal die prys daarvoor styg. Gemotiveerd soos alle instellings deur eiebelang, maar toegerus met mag om te belas, is die burokraat se doelwit altyd dieselfde: om inkomste te maksimeer en produktiewe inspanning te minimaliseer.

Die staat, oorlog en imperialisme

In stede daarvan om te konsentreer op die interne gevolge van die instelling van ʼn staat, gaan ek eerder fokus op sy eksterne gevolge, d.w.s. buitelandse- in plaas van binnelandse beleid.

As ʼn agentskap wat geregtigheid verdraai en belasting oplê, word elke staat gedreig met “uitgang”. Veral sy mees produktiewe burgers mag byvoorbeeld die land verlaat om die belasting en/of verdraaiing van geregtigheid te ontvlug. Geen staat hou hiervan nie. In teendeel, in plaas daarvan dat die reikwydte van beheer inperk of ʼn krimpende belastingbasis, verkies burokrate dat dit vergroot word. Dit bring hulle dan in konflik met ander state. Anders as kompetisie tussen “natuurlike” persone en instellings, is die kompetisie tussen state egter elimineerend van aard. M.a.w., daar kan slegs een monopolis van finale besluitneming en belasting in enige gegewe area wees. Dus het die kompetisie tussen verskillende state ʼn geneigdheid na politieke sentralisasie en moontlik op die uiteinde, een enkele wêreld-staat.

As belastings-befondsde monopolis van finale besluitneming, is state inherent aggressiewe instellings. Waar “natuurlike” persone en instellings die koste van enige aggressiewe gedrag self sal moet dra (wat hulle heel moontlik kan weerhou van sulke optrede), kan state hierdie kostes eksternaliseer na hul belastingbetalers. Gevolglik is staatsagente meer geneig om provokateurs en aggressors te wees en kan daar dan van die proses van politieke sentraliserende verwag word om voort te duur deur middel van gewelddadige botsings o.a. interstaatlike oorloë.

Gegewe dat state klein moet begin, en as ons dan aanvaar dat die beginpunt van hierdie wêreld bestaan uit ʼn menigte van onafhanklike territoriale eenhede, kan iets nogal baie spesifiek oor die eise van sukses verklaar word. In moderne interstaatlike oorlogsvoering hang die oorwinning of nederlaag van vele faktore af. Maar met ander faktore, soos byvoorbeeld wanneer die populasiegetalle dieselfde is, is die beslissende faktor op die lang duur tog die relatiewe hoeveelheid ekonomiese hulpbronne tot ʼn staat se beskikking. Deur belasting en regulasie dra die staat nie by tot die skepping van ekonomiese welvaart nie. In stede daarvan trek hulle soos parasiete op bestaande welvaart. Tog kan die staat die kwantiteit van bestaande welvaart negatief beïnvloed. Hoe laer die belasting en regulerende las dus op die binnelandse ekonomie is, hoe groter sal die populasie neig om te groei en hoe groter sal die hoeveelheid binnelandse geproduseerde welvaart wees waarvan die staat gebruik kan maak in sy konflik met kompeterende state. D.w.s., state wat hulle ekonomie relatief laag belas en reguleer – liberale state – neig om hulle teenstanders te oorwin en hul geografiese en kulturele beheer te vergroot, ten koste van minder liberale state.

Hierdie verduidelik byvoorbeeld waarom Wes-Europa daarin geslaag het om die res van die wêreld te domineer in plaas van andersom. Meer spesifiek verduidelik dit waarom dit eers die Nederlande en toe die Britte, en uiteindelik in die 20ste eeu, die VSA was wat die dominante imperiale mag geword het. Dit verduidelik ook waarom die VSA, (intern een van die mees liberale state), een van die mees aggressiefste buitelandse beleid kon redigeer terwyl die vorige Sowjetunie, byvoorbeeld, met sy totaal on-liberale (onderdrukkende) binnelandse beleid toegetree het met ʼn vergelykende vreedsame en versigtige buitelandse beleid. Die VSA het geweet dat hulle militêr enige ander staat sal kan verower, dus het hulle aggressief opgetree. In kontras hiermee het die Sowjetunie geweet dat hulle waarskynlik ʼn militêre konfrontasie met enige staat met redelike grootte en slaankrag sal verloor tensy hulle kon wen binne ʼn paar maande of selfs weke.

Van monargie en oorloë van weermagte na demokrasie en totale oorlog

Histories was meeste state monargieë met absolute of konstitusionele konings of prinse aan die hoof. Vanselfsprekend was demokratiese state (insluitende sogenaamde parlementêre monargieë), met presidente en eerste ministers, ʼn rare verskynsel tot en met die Franse Rewolusie en het eers ʼn belangrike wêreld-historiese rol begin aanneem na die Eerste Wêreldoorlog.

Alhoewel daar van alle state verwag kan word om oor aggressiewe neigings te beskik, is die aansporings struktuur waarmee tradisionele konings aan die een kant en moderne presidente aan die ander gekonfronteer word, verskillend genoeg om as ʼn verduideliking te dien vir verskillende tipes oorloë. Waar konings hulself gesien het as privaat-eienaars van die gebied onder hul beheer, sien presidente hulself eerder as tydelike opsigters en dalk selfs eerder opsigters van hul amp as van ʼn territoriale gebied. Die eienaar van ʼn hulpbron is bemoei met die huidige inkomste wat verkry word vanaf die hulpbron en die kapitale waarde wat daarin beliggaam is (as ʼn refleksie van verwagte toekomstige inkoms). Sy belange is langtermyn, ʼn besorgdheid vir die beskerming en verbetering van die kapitale waardes, verpersoonlik in “sy” land. In teenstelling hiermee is die opsigter van ʼn hulpbron (gesien as publieke- eerder as private-eiendom), primêr bemoei oor sy huidige inkomste en gee min of geen aandag aan kapitale waardes nie.

Die empiriese eindresultaat van hierdie unieke aansporings struktuur is dat monargiese oorloë geneig het om “gematig” en “konserwatief” te wees in vergelyking met demokratiese oorlogvoering.

Monargiese oorloë het tipies uitgebreek as dispute om erfporsies wat tot stand gekom het deur komplekse netwerke van inter-dinastiese huwelike. Hulle was gekenmerk deur tasbare territoriale doelwitte. Dit was nie ideologies gemotiveerde geskille nie. Die publiek het oorlog gesien as die koning se private besigheid, om uitgevoer en gefinansier te word op sy eie onkostes en militêre magte. As konflikte plaasgevind het tussen verskillende regerende families, het konings verplig gevoel om ʼn duidelike verskil te erken tussen strydende faksies en burgerlikes en dat hulle dan hulle oorlogsinspanning eksklusief teen mekaar en kompeterende families se landgoed teiken. Die militêre historikus Michael Howard het dit dan ook so genoteer oor die 18de eeu se Monargiese oorlogsvoering:

Op die [Europese] kontinent het reis, handel, kultuur en intellektuele interaksie in oorlogstyd bykans ongehinderd voortgegaan. Die oorloë was die koning se oorloë. Die rol van die goeie burger was om sy belasting te betaal en ʼn gesonde politiese ekonomie dikteer dat “die goeie burger” alleen gelos moet word om geld te genereer van waar hy dan daardie belasting kan betaal. Daar was nie van hom verwag om deel te neem aan die keuses wat oorloë meebring en ook nie om aan oorloë deel te neem wanneer hulle uitbreek nie, tensy hy aangehits was deur ʼn gees van jeugdige avontuur. Hierdie sake was arcane  regni (die bekommernis van die soewereine- alleenlik). [War in European History, 73]

Ludwig von Mises het soortgelyk die observasie van oorloë en weermagte genoteer:

In oorloë van weermagte neem die weermag deel in die geveg, terwyl die burgers wat nie lede van die weermag was nie, aangegaan met hul normale alledaagse lewens. Die burgers betaal die kostes van oorlogvoering; hulle betaal vir die instandhouding en toerusting van die weermag, maar andersins bly hulle buite die oorlogsgebeure. Dit mag dalk gebeur dat die oorlogsveldslae en gebeurtenisse hulle huise tot niet maak, hulle land verwoes en hulle ook ander eiendom verloor; maar hierdie is ook deel van die oorlogsonkostes wat hulle moet dra. Dit mag dalk ook gebeur dat hulle geplunder word en toevallig vermoor word deur soldate – tot selfs deur lede van hulle “eie” weermag. Tog is die tipe gebeure nie inherent aan oorlogsvoering as sodanig nie; dit verhinder eerder die krygsverrigtinge van die weermagsleiers en word nie verdra as die in bevel volle beheer oor hulle troepe het nie. Die oorlogvoerende staat wat die weermag gevorm, toegerus en onderhou het, sien plunder deur soldate as ʼn oortreding; hulle was gehuur om te baklei, nie om hulle eie mense te plunder nie. Die staat wil die burgerlike lewe so normaal as moontlik laat afloop want dit wil die vermoë van die mense wat belasting betaal nie laat krimp nie en verowerde gebiede was beskou as die soewereine se persoonlike eiendom. Die markekonomie stelsel moes onderhou word gedurende oorlogstyd om in die behoeftes van oorlogsvoering te dien. [Nationalökonomie, 725-26]

In teenstelling met die beperkte oorlogsvoering van die antieke regime, was die era van demokratiese oorlogsvoering – wat begin het met die Franse Rewolusie en die Napoleontiese Oorloë en volgehou het gedurende die 19de eeu met die Amerikaanse Oorlog teen Suidelike Onafhanklikheid en sy hoogtepunt bereik het gedurende die 20ste eeu met die Eerste en Tweede Wêreldoorloë – ʼn era van totale oorlog gewees.

Deur die onderskeid tussen die heersers en die oorheersde publiek onduidelik te maak (“ons almal regeer onsself”), het demokrasie die identifikasie van die publiek met ʼn spesifieke staat versterk. Eerder as aristokratiese eiendomsdispute wat opgelos kan word deur verowering en okkupasie, het demokratiese dispute ideologiese oorloë geword; botsings van beskawings, wat slegs opgelos kon word deur kulturele, taal en/of geloofsdominansie, onderwerping en (wanneer nodig) uitwissing. Dit het toenemend moeiliker geword vir lede van die publiek om hulle los te maak van persoonlike betrokkenheid in staatsoorloë. Teenkanting teen hoër belasting om oorloë te befonds was toenemend gesien as verraderlik. Omrede die demokratiese staat, in teenstelling met ʼn monargie, “besit” word deur almal, het militêre konskripsie die reël geword eerder as die uitsondering. Met massiewe weermagte vol goedkoop, en dus maklik vervangbare dienspligtiges wat baklei vir nasionale doeleindes en ideale, gesteun deur die ekonomiese hulpbronne van die hele nasie, het alle verskille tussen soldate en burgerlikes prakties weggeval. Kollaterale skade(onbedoelde ongevalle en vernietiging toegedien op burgerlikes in die loop van die militêre bedrywighede) was nie meer ʼn onbedoelde newe-effek nie, maar ʼn integrale deel van oorlogsvoering. Hierom het die historikus Michael Howard die volgende noteer:

“Sodra die staat nie meer gesien word as die “eiendom” van monargiese prinse nie, en eerder die instrument van magtige bewegings toegewy aan sulke abstrakte konsepte soos Vryheid of Nasionaliteit of Rewolusie, wat groot getalle van die populasie in staat stel om in die staat te sien ʼn verpersoonliking van een of ander “absolute Goedheid” is daar geen prys te hoog en geen opoffering te groot om te betaal nie; dan skyn die “gematigde en twyfelagtige geskille” van die rococo era as ʼn absurde kleinigheid.”

William A. Orton sake so opgesom:

Tradisie het 19de eeu se oorloë binne perke gehou, wat ʼn goed erkende konsep in internasionale reg was dat burgerlike eiendom en besighede buite die sfeer van oorlogsvoering behoue was. Burgers se bates was nie blootgestel aan arbitrêre beslaglegging of permanente konfiskering nie, en afgesien van sulke territoriale en finansiële stipulasies wat een staat op ʼn ander mag voorskryf, was die ekonomiese en kulturele lewe van die oorlogvoerende bevolking in die algemeen toegelaat om voort te gaan soos normaal. Die 20ste eeu se praktyke het dit alles verander. Gedurende beide Wêreld Oorloë was daar oneindigende lyste van kontrabande( goedere geproduseer in vyandige lande wat onwettig verklaar word) gekoppel met eensydige verklarings van regte ter see wat elke tipe handelsbedryf in gevaar gestel het en afvalpapier gemaak het van alle vorige gebruike in hierdie opsig. Die einde van die eerste oorlog was gekenmerk deur ʼn vasbeslote en suksesvolle poging om die ekonomiese herstel van die verloorders in die wiele te ry en om sekere burgerlike eiendomme te behou. Die tweede oorlog het die uitbreiding van hierdie beleid gesien tot op ʼn punt waar internasionale reg in oorloë nie meer bestaan nie. Duitsland se regering het vir jare, vir so ver as wat sy arms kon reik, ʼn beleid van konfiskasie op ʼn rasse teorie gebaseer wat geen erkenning in siviele reg gehad het nie en nog minder in internasionale reg of Christelike etiek nie; en toe die oorlog begin het, het hierdie skending van die beleefdheid van volke aansteeklik geword. Verbaal en prakties het Anglo-Amerikaanse leierskap ʼn kruistog gelanseer wat geen erkenning gegee het aan wetlike of territoriale limiete tot die uitoefening van dwang nie. Die konsep van neutraliteit was beide in teorie en praktyk afgeskiet. Dit was nie meer alleen die bates en belange van die vyand wat in gedrang was nie, maar die bates en belange van hoegenaamd enige partye, tot selfs die in neutrale lande was blootgestel aan elke beperking wat die oorlogvoerende heersers effektief kon afdwing; en die bates en belange van neutrale state en hul burgers, wat geherberg was in oorlogvoerende gebiede of gebiede onder hul beheer was onderworpe aan so te sê dieselfde tipe dwang as dié van vyandige nasies. Dus het “totale oorlog” ʼn soort van oorlog geword wat geen burgerlike gemeenskap kan hoop om te ontsnap nie; en “vredeliewende volke” sal die vanselfsprekende afleidings maak. [The Liberal Tradition: A Study of the Social and Spiritual Conditions of Freedom, 251-52]

Excursus: Die leerstelling van demokratiese vrede

Ek het verduidelik hoe die instelling van die staat tot oorlog lei en waarom dit skynbaar teenstrydig state is wat intern liberaal is wat neig om imperialistiese magte te wees of te word; en hoe die gees van demokrasie bygedra het tot groter barbarisme in die uitvoering van oorlog.

Meer spesifiek het ek die opkoms van die VSA tot die rang van die wêreld se voorste imperiale mag verduidelik en as ʼn gevolg van sy opeenvolgende transformasie vanaf ʼn aristokratiese republiek na ʼn onbeperkte massa demokrasie wat begin het met die Oorlog vir Suidelike Onafhanklikheid, – die rol van die VSA as ʼn toenemende arrogante, sélf geregverdigde, oorloglustige imperialis.

Wat dan blyk om in die weg van vrede en beskawing te staan, is, bowenal, die staat en demokrasie, en spesifiek die wêreld se model demokrasie: die VSA. Ironies genoeg is dit die VSA wat daarop aanspraak maak dat demokrasie die oplossing is tot die strewe na vreedsame naasbestaan. Die rede vir hierdie aanspraak is die leerstelling van demokratiese vrede, wat terugdateer uit die dae van Woodrow Wilson en die Eerste Wêreldoorlog. Aan die einde van die Koue Oorlog is dit weer afgestof en ter tafel gelê deur George W. Bush en sy neo-konserwatiewe adviseurs en word teen hierdie tyd onder baie liberale en konserwatiewe denkers, sonder meer, as ‘n waarheid aanvaar. Die teorie maak aanspraak daarop dat:

  • Demokrasieë nie met mekaar oorlog voer nie.
  • Om blywende vrede te bewerkstellig moet die hele wêreld dus demokraties gemaak word.

En as ongestaafde afleidings hiervan:

  • Baie state wat nie demokraties is nie, staan interne demokratiese hervormings teen.
  • Gevolglik moet oorlog en druk toegepas word om hulle na demokrasieë te omvorm of herskep om blywende vrede te bewerkstellig.

Ek gaan slegs kortliks kritiek lewer op die teorie se aanvanklike veronderstellings en uiteindelike gevolgtrekking.

Eerstens: Sê demokrasieë mekaar nie die stryd aan in oorlog nie? Aangesien min demokrasieë bestaan het voor die 20ste eeu, kan die antwoord slegs in die laaste honderd jaar of wat gevind word. Die kern van die bewyse wat aangebied word ten gunste van die tesis, is slegs die observasie dat Wes-Europese state nie in die post Tweede Wêreldoorlog era met mekaar oorlog gevoer het nie. Soortgelyk in die Stille-Oseaan streek waar Japan en Suid-Korea in dieselfde periode nie oorlog met mekaar gevoer het nie. Bewys dit egter die teorie as korrek? Die demokratiese vrede teoretici dink so. Hulle is geïnteresseerd as “wetenskaplikes” in “statistiese” bewyse, en soos hulle dit sien, is daar baie voorbeelde om hul “saak” op te bou: Duitsland het nie oorlog gemaak teen Frankryk, Italië of Engeland ens nie. Frankryk het nie oorlog gemaak teen Spanje, Italië of België, ens nie. Ook afgelei hiervan is die nimmereindigende permutasies: Italië het nie Frankryk aangeval nie en Frankryk ook nie Italië nie, ens. Gevolglik het ons hordes bewyse en dit vir ‘n 60 jaar periode sonder enige teenbewyse. Het ons werklik hier so baie stawende gevalle?

Die antwoord is nee: ons het in werklikheid niks meer as ʼn enkele voorbeeld nie. Met die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hoofsaaklik al die (teen die tyd demokratiese) Wes-Europa en demokratiese Japan en Suid-Korea in die Stille Oseaan almal deel geword van die Amerikaanse Empaaier soos aangedui deur die teenwoordigheid van Amerikaanse militêre basisse in bykans al daardie lande. Wat die post Tweede Wêreldoorlog periode van vrede dan “bewys”, is dat ʼn leidende imperialistiese mag soos die VSA nie sy verskeie “koloniale gedeeltes” toelaat om met mekaar oorlog te voer nie. Ook dat die “hoof” imperialistiese mag self geen rede gehad het om oorlog te voer met sy eie satelliet state nie, en die satelliet state op hul beurt onderdanig was hetsy uit vrees of oortuiging.

Wanneer sake dan so in aanskou geneem word, gebaseer op ʼn begrip van geskiedenis eerder as naïewe geloof, dat twee entiteite met verskillende benamings daarom verskillende gedrag ten toon sal stel wat onafhanklik van mekaar is, word dit duidelik dat die bewyse wat voorgelê word niks met demokrasie te make het nie, maar alles met oorheersing. Geen oorlog het byvoorbeeld uitgebreek tussen die Tweede Wêreldoorlog en die laat 1980’s onder die USSR se satelliet state nie. M.a.w. daar was geen oorlog tussen Oos-Duitsland, Pole, Tsjeggo-Slowakye, Roemenië, Litaue, Bulgarye, Hongarye ens. nie. Kan ons dan daarvan aflei dat kommunistiese diktatorskappe nie “oorlog maak” teen mekaar nie? Dit moet die gevolgtrekking wees as ons demokratiese vrede teoretici ernstig opneem, maar dit sou verseker vals wees. Geen oorlog het uitgebreek nie omrede die Sowjetunie dit nie toegelaat het nie – net soos die VSA dit nie toegelaat het binne sy belangesfere nie. Die Sowjetunie het verseker militêr ingemeng in Hongarye en Tsjeggo-Slowakye, maar net so het die VSA in Sentraal-Amerika ingemeng op verskillende tye, soos in Guatemala, byvoorbeeld. Hoe sal ons addisioneel die oorloë tussen Israel, Palestina en Libanon vergelyk? Is almal van hulle dan nie demokrasieë nie, of moet Arabiese lande dan nou per definisie beskou word as on-demokraties?

Tweedens: Dit is moeilik om demokrasie as ʼn oplossing tot enigiets te oorweeg, wat nog te sê van vrede? Hier val die argument vir demokratiese vrede eers kort. Die kortstondige historiese insig wat ten toon gestel word, is werklik vreesaanjaend. Hier is slegs ʼn paar van die fundamentele tekortkomings:

Eerstens behels die teorie ʼn konsepsionele teenstrydigheid van demokrasie en vryheid. Die fondasie en hoeksteen van vryheid is die instelling van private eiendom, en private – eksklusiewe – eiendom is logies onversoenbaar met demokratiese meerderheidsregering. Demokrasie het niks met vryheid te doen nie. Demokrasie is niks minder as ʼn sagte variant van kommunisme nie, en in die geskiedenis van idees is dit selde ernstig oorweeg as enigiets meer as “mob-rule”. Terloops, voor die totstandkoming van die demokratiese era in die vroeë dae van die 20ste eeu, was staatsuitgawes as ʼn kombinasie van alle vlakke van regering in Wes-Europese state iewers tussen 7-15% van die bruto nasionale produk, en nog minder in die VSA. Minder as ʼn honderd jaar van volskaalse demokratiese meerderheidsregering het hierdie persentasies verskuif na 50% in Europa en 40% in die VSA.

Tweedens, die teorie van demokratiese vrede onderskei hoofsaaklik slegs tussen demokrasie en nie-demokrasie, wat dan summier as diktatorskap geëtiketteer word. Dus verdwyn nie net alle aristokratiese republieke uit die oog nie, maar belangriker nog, ook alle tradisionele monargieë. Hulle word dus gelykgestel aan diktatorskap soos die van Lenin, Mussolini, Hitler, Stalin en Mao. In der waarheid het tradisionele monargieë baie min in gemeen met diktatorskap, terwyl demokrasie en diktatorskap, aan die ander kant, ʼn noue verwantskap het.

Monargie is die semi organiese uitgroeisel van ʼn natuurlike staatlose sosiale orde. Konings was die hoof van uitgebreide families en stamme. Hulle het ʼn groot hoeveelheid natuurlike, vrywillig erkende outoriteit geniet wat oor baie generasies geakkumuleer en geërf was. Dit is binne die raamwerk van sulke ordes (en van aristokratiese republieke) dat liberalisme dan eers ontwikkel en floreer het. Demokrasie, in kontras hiermee, is egalitaries en ekonomies herverdelend in uitsig – daarvolgens dan die bogenoemde groei in staatsmag in die 20ste eeu. Die oorgang van die monargiese era na die demokratiese era in die tweede helfte van die 19de eeu, was gekarakteriseer deur ʼn voortgesette agteruitgang in die klasieke liberale partye en ʼn korresponderende groei in sosialistiese partye van alle soorte.

Derdens volg dit hieruit dat die siening wat demokratiese vrede teoretici van konflik oorloë soos die Eerste Wêreldoorlog het, gesien moet word as belaglik, ten minste vanaf die oogpunt van enigeen wat ʼn waardering het vir vryheid. Aangesien dié oorlog hoofsaaklik vir hulle ʼn oorlog van demokrasie teen diktatorskap was, was dit in hul oë dus progressief en regverdigbaar deurdat dit die hoeveelheid demokrasieë help vermeerder het om uiteindelik vrede te bevorder.

Die waarheid sien heel anders daarna uit. Voor oorlogse Duitsland en Oostenryk sou dalk nie kwalifiseer as so demokraties as Engeland, Frankryk of die VSA van die tyd nie. Maar Duitsland en Oostenryk was beslis nie diktatorskappe nie. Hulle was monargieë waarin die keiserlike oppergesag toenemend ontman was en as sodanig net so liberaal, indien nie meer so, as hul eweknieë nie. In die oploop tot die Eerste Wêreldoorlog in die VSA byvoorbeeld, is anti-oorlog aktiviste gevange geneem, die Duitse taal was op plekke selfs verban en burgers van Duitse herkoms was openlik geteister tot so ʼn mate dat baie verkies het om hul name en vanne te verander vir veiligheid. Niks vergelykbaar het in die tydperk of vroeër in Oostenryk of Duitsland plaasgevind met betrekking tot etniese minderhede nie.

Die resultaat van die kruistog om die wêreld veilig te maak vir demokrasie was in aller geval minder liberaal as wat voorheen bestaan het (en die Versailles vredesdiktaat het die Tweede Wêreldoorlog help ontketen). Staatsmag het nie net gegroei as gevolg van die oorlog nie, maar het daarna vinniger gegroei as ooit tevore. Die behandeling wat minderhede ontvang het, het in besonder agteruitgegaan in die na-oorlogse periode. In nuutgestigte Tsjeggo-Slowakye, byvoorbeeld, is daar sistematies teen Duitsers gediskrimineer deur die meerderheid Tsjegge totdat hulle uiteindelik by die miljoene verban is en by die tien duisende uitgemoor is na die Tweede wêreldoorlog. Niks naastenby vergelykbaar het met Tsjegge gebeur gedurende die Habsburg bewind nie. Die situasie aangaande die verhouding tussen die Suidelike Slawiese volke, Tsjegge, Duitsers en Hongare in die voor oorlogse Oostenryk teenoor die na oorlogse Joego-Slawië, was eweneens ʼn agteruitgang van verhoudings en natuurlik die verhouding tussen Duitsers en Joodse minderhede in die na oorlogse Duitsland wat alom bekend is.

Dit was ook nie toevallig nie. Nes onder die Habsburg monargie in Oostenryk was minderhede redelik goed behandel deur die Ottoman Turke. Met die disintegrasie van die multikulturele Ottoman ryk in die loop van die 19de eeu en die vervanging daarvan met semi demokratiese Griekeland, Bulgarye ens., is die Turkse Moslems wat daar gevestig was uitgesmyt of uitgewis. Turkye sou sy inheemse Griekse Christen bevolking met dieselfde bloeddorstigheid behandel. In dieselfde lyn sou die VSA na die “demokratiese oorwinning” oor die Konfederale Suide, voortgaan om diePlains Indians” meer effektief uit te moor. Soos Mises dan opgemerk het, werk demokrasie nie in multiëtniese samelewings nie. Dit skep nie vrede nie, maar bevorder konflik en het potensiële volksmoord neigings.

Vierdens, die demokratiese vrede teoretici maak daarop aanspraak dat demokrasie ʼn stabiele “ewewig” verteenwoordig. Hierdie sentiment is op sy duidelikste verwoord in die werk van Francis Fukuyama, wat die huidige neo-liberale demokratiese wêreldorde beskryf as die “einde van die geskiedenis. Oorweldigende bewyse bestaan egter dat dit nie die geval is nie. Hoe kan demokrasie as ʼn stabiele ewewig beskou word as dit op ʼn teoretiese grondslag demokraties omvorm kan word in ʼn diktatorskap, m.a.w. ʼn stelsel wat dan as onstabiel beskou sal word? Die antwoord is dat dit nie sin maak nie!

Empiries is demokrasieë als behalwe stabiel, soos aangedui in multikulturele samelewings waar demokrasie gereeld lei tot diskriminasie, onderdrukking of selfs verbanning en uitwissing van minderhede – nie naastenby ʼn vreedsame ewewig nie. In etnies homogene samelewings aan die ander kant, loop demokrasie maklik uit op ʼn klassestryd wat lei tot ʼn ekonomiese krisis, wat dan weer lei tot diktatorskap. Dink byvoorbeeld aan post Tsaristiese Rusland, post Eerste Wêreldoorlog – Italië, Weimar Duitsland, Spanje en Portugal, en post Tweede Wêreldoorlog Griekeland, Turkye, Chili, Guatemala en Argentinië.

Nog erger as die problematiek van die nabye korrelasie tussen demokrasie en diktatorskap vir demokratiese vrede teoretici, is dat hulle tot vergelyk moet kom met die feit dat diktatorskap wat tot stand kom uit ʼn demokratiese krisis vanaf ʼn klasieke-liberale of Libertynse oogpunt hoegenaamd nie altyd erger is as wat andersins die resultaat sou wees nie. Gevalle kan maklik opgenoem word waar diktatorskap verkieslik, asook ʼn verbetering was. Dink maar aan Italië onder Mussolini of Spanje onder Franco. Hoe vereenselwig mens addisioneel die soetsappige verkondiging van demokrasie met die feit dat diktators, heel anders as konings wat hul rang te danke het aan die geluk van geboorte, baie keer die “gunsteling” van die massas is en in daardie sin ook hoogs demokraties? Dink maar net aan Lenin of Stalin wat sekerlik meer demokraties was as Tsaar Nikolaas II; of dink aan Hitler wat beslis meer demokraties, en ʼn “man van die volk” was, eerder as Keiser Wilhelm II of Keiser Franz Joseph.

Volgens hierdie demokratiese vrede advokate en teoretici, sal dit dan voorkom asof die VSA veronderstel is om ʼn militêre oorlog te voer teen alle buitelandse diktators, konings, of watter titel ook al, om demokrasieë daar te stel  – wat dan moontlik omskep kan word in ʼn (moderne) diktatorskap totdat( of so kan ons maar aanneem) Amerika self uiteindelik in ʼn diktatorskap verander danksy die eindelose groei van interne staatsmag wat die tyd sal baar as ʼn resultaat van die eindelose “krisisse” wat die eindelose oorloë bring. Laat ons dan eerder ag slaan op die advies van Erik von Kuehnelt-Leddihn – in stede daarvan om die wêreld veilig te maak vir demokrasie, moet ons dalk eerder daarna streef om die wêreld te beveilig teen demokrasie.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Demokrasie and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.