Negatiewe Regte vs. positiewe “regte”

Positiewe regte vs Negatiewe Regte

Ons hoor gereeld hoe politici, politieke aktiviste en joernaliste verwys na regte. Soos hierdie klagte van Julius Malema ʼn paar jaar terug: “Malema told the SABC in an interview on Tuesday he felt that his human rights were being undermined by media leaks from the Hawks.” Die manier waarop die term “regte” rondgegooi word moet enige regdenkende mens laat stilstaan en vra of dit alles werklik regte kan wees? Van die regte op die volgende lys word algemeen gebruik.

In hierdie artikel gaan ons die onderwerp bespreek sodat daar geen twyfel meer bestaan nie. Eerstens ʼn kort video wat die konsep van negatiewe regte en positiewe “regte” verduidelik. Tweedens gaan ons kortliks die reg tot nie-diskriminerende gedrag opweeg i.t.v. positiewe en negatiewe regte. In die derde plek doen ons ʼn presiese uiteensetting van die dimensionele verskille van die twee regs-filosofiese idees deur Dr. Walter Block. Daarna wissel ons ʼn paar gedagtes rondom belasting en die reg tot wapenbesit en laastens dan die gevolgtrekking waar ek ʼn mening fel oor die Suid-Afrikaanse handves van menseregte en ons die bogenoemde regte oorweeg.

1) Inleiding:

2) Rassisme, diskriminasie, individualisme en etniese geweld

Hier help die onderskeid tussen negatiewe regte en positiewe “regte” om ʼn Babelse verwarring op te los. Dit is ongelukkig ook presies om hierdie tema waar mense wat hulself beskryf as óf sogenaamd konserwatief óf sogenaamd liberaal verby mekaar praat deur nie onderskeid te tref tussen negatiewe regte en positiewe “regte” nie.

Laat my dan toe om die problematiek van diskriminasie op grond van negatiewe regte en positiewe “regte” so te stel:

1) Die staat het geen reg om te diskrimineer tussen mense van etniese, geloof of rasse groepe nie, d.w.s. sodat die staat nie inmeng deur almal voordurend in kassies te probeer plaas en die een dan teen die ander af te speel nie – Negatiewe reg!

2) Om diskriminasie tussen individue te voorkom moet die staat anti-diskriminasie wetgewing instel, d.w.s. die staat moet almal in kassies plaas en voortdurend inmeng om te verseker dat niemand diskrimineer nie – Positiewe “reg”!

Ware individualisme bly in die slagveld in hierdie misverstand. Regse groepe blameer individualisme vir die verlies aan etniese samehorigheid terwyl dit vanaf die individu slegs ʼn keuse verteenwoordig om deel te wees al dan nie. Dít terwyl linkse groepe positiewe “regte” op ʼn diskriminerende wyse op almal wil afdwing. Vanuit hierdie positiewe “regte” groei die idee van swart ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika en regstellende aksie in Suid-Afrika sowel as die V.S.A., minderheidsregte aan sekere groepe in die V.S.A. terwyl dieselfde handelinge (ras gebaseerde politiek) deur die meerderheid daar as ʼn gruwelike “white supremacist” daad beskryf sou word. In Suid-Afrika is daar dan weer die verwerping van minderheidsregte, terwyl die dubbel standaarde vir almal duidelik is. Verder het die verknogtheid aan terme soos “nasiebou”, wat dit stel dat almal net “Suid-Afrikaners” of selfs “Afrikaanses” moet wees, in werklikheid niks met individualisme soos klasieke-liberale dit verstaan, te make nie, maar eerder met staats-nasionalisme. Linkses se beroep dat hulle aan individualisme glo terwyl hulle ʼn agenda van positiewe “regte” in die arena van etnisiteit, geloof of ras voorstaan is blote bog. Solank as wat daardie positiewe “regte” geld, kan daar nie na die bestaande stelsel as individualisme verwys word nie.

Die argument dat positiewe “regte” nodig is om diskriminasie en rasisme hok te slaan moet as pateties beskou word teen die agtergrond dat alle histories wrede en onderdrukkende diskriminasie staatsmag ingespan het. Dink maar aan die Nazi-staat, die Apartheidstaat; geïnstitusionaliseerde slawerny; Rwanda; Bosnië; ens. Wanneer die individu diskrimineer, doen hy dit op sy eie onkoste – omstandighede wat vir hom of haar persoonlik is en met geen invloed om meer as sy onmiddellike omgewing aan te raak nie. Die wegbeweging van ware individualisme na ʼn bestel van positiewe “regte” is juis wat etniese groepe dwing om kompeterend op te tree vir die vergryping van staatsmag.

Onder ʼn stelsel van individualisme met slegs negatiewe regte is dit heeltemal verstaanbaar dat natuurlike integrasie tussen rasse en etniese groepe sal plaasvind sowel as natuurlike segregasie en verskeie vorme van multikulturalisme en dat dit alles gelyktydig en natuurlik sal gebeur. Onder ʼn stelsel van positiewe “regte” waar die staat konstant moet diskrimineer om diskriminasie tussen individue te probeer beperk is daar gewig aan die argument dat multikulturalisme tot etniese wantroue en geweld moet lei. Gegewe die omvang van hierdie positiewe-“regs” eksperiment in die Europese en Amerikaanse kontekste sowel as die manier wat hierdie positiewe “regte” in lande soos Suid-Afrika toegepas word, kan dit daadwerklik op die lang duur lei tot “Bellum omnium contra omnes” – Die oorlog van almal teen almal.

3) Dimensies van verskille tussen positiewe en negatiewe regte

Dr. Walter Block verduidelik dit as volg: “In klasieke filosofie bestaan negatiewe regte, of dan negatiewe vryhede, alleenlik uit die reg om nie fisies gedwing, of die dreigement van fisiese geweld of dwang opgelê te word nie. Elke persoon het dan die reg om nie vermoor, verkrag, geroof, aangerand, mishandel, ens, te word nie. Die leerstelling van positiewe “regte” in kontras hiermee stel dit gewoonlik dat mense die reg het tot kos, klere, skuiling en, afhangende van watter variant onder bespreking, ʼn bestaanbare lewenstyl, nie-diskriminerende gedrag, betekenisvolle verhoudings, psigologiese welstand, indiensneming, ʼn geskikte salaris, ens, ens. Hierdie is eerder aspekte van rykdom, mag of beheer oor die omgewing. Om hierdie strak verskille tussen hierdie uiters ongelyksoortige konsepte van regte te illustreer, kontrasteer ons dit met mekaar in verskeie dimensies.

A) Omgewings afhanklikheid

Negatiewe regte is onafhanklik van tyd, plek, demografie en kondisie. Hulle is van toepassing op hierdie oomblik in tyd, maar hulle was net so toepaslik en relevant 10 000 jaar gelede. Hulle is heeltemal onafhanklik van omstandighede. In die prehistoriese tydperk was dit ʼn wetsoortreding vir een grotmens om ʼn ander grotmens met ʼn knuppel oor die kop te moker en hierdie wetsoortreding geld ook vir die ruimteman 10 000 jaar van nou af. Positiewe “regte” in teenstelling hiermee is hoogs afhanklik van die omgewing. As mense positiewe “regte” het tot voeding, moet daar voedsel beskikbaar wees, anders sou hulle outomaties ontneem wees van hul regte. Dit mag dalk heeltemal onmoontlik wees in sekere tydperke (die sewe “maer jare” vanuit die Bybelse tydperk), streke (die Noordpool) en gebiede (die Sahara). Al wat nodig is om negatiewe regte te eerbiedig, in teenstelling hiermee, is dat alle mense hulself weerhou van die inisiasie van geweld.

B) Welwillendheid

Slegs mense se wilskrag is nodig om negatiewe regte te beveilig. As die hele wêreld se bevolking ewe skielik, uit die staanspoor besluit om nooit weer betrokke te raak in enige geweld nie, sal alle negatiewe regs-oortredings alles in een beweging uitgewis kan word. Dit is nie bereikbaar in die geval van positiewe “regte” nie. Al het almal van ons in die wêreld die beste van intensies, kan ons nog steeds nie suksesvol wees in die verskaffing van goedere en dienste ter bevrediging van alle positiewe “menseregte” vir die hele aardse bevolking nie.

C) Wysiging

Negatiewe regte is onveranderlik. Hulle was nog altyd presies wat hulle nou is en sal altyd so bly. Positiewe “regte” is onderhewig aan verandering, afhangende van die immer veranderlike definisie van “ordentlikheid”, “menswaardigheid” en “minimum standaarde”. Mense kan in die geval van positiewe “regte” eers die “reg” op yskaste, televisies en verskeidenheid in kossoorte, ens., hê slegs nadat hierdie items beskikbaar geword het. Hulle het nog altyd die reg gehad om nie aangeval te word nie.

D) Agentskap

Slegs mense, in watter posisie ook al, kan negatiewe regte skend. Hy of sy kan deur geweld of dwang (dreigement van geweld) ʼn onskuldige persoon se negatiewe regte skend. In die geval van positiewe “regte” kan beide persone of die natuur dit skend. Mense doen dit deur te weier om hulself as persoon, of hul persoonlike eiendom te deel met ander wat daarop “geregtig” is volgens hierdie leerstelling. Die natuur kan ook positiewe “regte” ondermyn. Storms, oorstromings, vulkane, rotsstortings, aardbewings en alle ander natuurrampe – kan mense ontneem van hul positiewe “regte”. Geen van hierdie tragedies is eens relevant tot negatiewe regte nie.

E) Spelteorie

Negatiewe regte herinner aan ʼn positiewe som (almal wen) spel in die sin dat as een persoon skielik ʼn toename in sy negatiewe regte ontvang (sê hy word minder beroof) is daar geen afskaling in enige iemand anders se negatiewe regte nie. Die ekonomiese verwoording van die positiewe som spel is die handelstransaksie, waar beide partye van ʼn kommersiële ooreenkoms ten minste voordeel trek in die sin van ʼn onverpligte verwed (die hoop om beter af te wees) – andersins sou hulle nie ingestem het tot deelname nie. In kontras hiermee roep positiewe “regte” tot die idee van ʼn zero som (almal verloor) spel. Die ekonomiese verwoording van die zero som spel is poker – waar die prysgeld en die verliese van die verskeie spelers mekaar presies moet uitkanselleer. Dit is soortgelyk aan positiewe “regte”, want as een persoon se toekenning van klerasie of mediese dienste vergroot word, dan moet daar weer dieselfde aantal van iemand anders se toekenning weggeneem word.

F) Liefdadigheid

Onder ʼn stelsel van positiewe “regte” is dit nie net moeilik om liefdadigheid aan armes te toon nie, dit is onmoontlik. Selfs al is dit die skenker se bedoeling om liefdadig te wees kan dit nie die geval wees nie aangesien die minder gegoede ʼn “reg” het op (tot ʼn gedeelte van) die gegoede persoon se welvaart. Die welvarende persoon het op sy beurt ʼn plig om dit te oorhandig. Die verhouding tussen die donateur en ontvanger verander van so ʼn aard dat daar nie meer sprake van liefdadigheid is nie. Die verarmde is nou die skuldeiser wat “geregtig” is op vereffening van die skuld en kan aandring (gewapen met positiewe “regte”) dat die welgestelde persoon sy “verantwoordelikhede” nakom. In teenstelling hiermee, as negatiewe regte en slegs negatiewe regte operasioneel is dan is liefdadigheid logies regmatig. [Die verdere argument is ook al geopper dat dankbaarheid vir negatiewe regte nie kan bestaan nie, m.a.w. Jy kan nie dankbaar wees aan die verkragter wat jou nie verkrag het of die belastinggaarder wat jou nie belas het nie].

G) Ampsdraer

Wie is verantwoordelik vir die uitvoering van die pligte wat die twee alternatiewe sienings onder oorweging oplê? Met negatiewe regte is die antwoord duidelik. Almal moet hulle weerhou van die inisiasie van geweld of die uitoefening van fisiese dwang teenoor ander. Daar is geensins enige uitsonderings nie. Met positiewe “regte” is sake minder duidelik. Op wie val die plig om sy welvaart te deel met die minder bevoorregtes? Mense van dieselfde volk? Van dieselfde staat? In dieselfde stad, kontinent of munisipaliteit? Ons kan antwoord dat dit almal se plig is om te deel met die wat minder bevoorreg is. Tog is hierdie ʼn ware radikale idee en sal dit buitelanders van enige plek in staat stel om hulself aan ons voorstoep op te lewer en nie net ʼn versoek in te dien om ons welvaart met hulle te deel nie, maar om daarop aan te dring dat ons dit met hulle deel.

H) Graad

Die graad waartoe hierdie regte gerespekteer moet word, is nog ʼn dimensie waarin die twee leerstellings wye verskille toon. In die geval van ware regte, nl. negatiewe regte, is die mate van nakoming wat vereis word absoluut. Dit is verbode vir een om ʼn ander fisies aan te val selfs in die fynste. Jy kan nie ʼn “haar op sy kop aanraak nie”. Aangesien dit geen implikasie vir welvaart of inkomste herverdeling het nie, is herverdeling van enigiets gevolglik irrelevant tot die belange van negatiewe regte. Wanneer dit by positiewe “regte” kom, is daar geen “haar op sy kop”- minimalistiese veronderstelling nie en presies hoe ver die herverdeling moet gaan word ons nooit as ʼn stelling vergun nie. Gevolglik kan ons net spekuleer. Die enigste filosofiese bevredigende antwoord op “hoe ver die herverdeling dan moet gaan?” – is: dat die proses moet voortgaan totdat absolute welvaart gelykheid bereik is. As ongelykheid die rede vir die proses self is, dan is die voortgesette herverdeling regverdigbaar so lank as wat daar enige oorblyfsels van ongelykheid is.

I) Regering

Die implikasies vir die reikwydte en natuur van die staat vir die twee alternatiewe regs-filosofieë is ook baie verskillend. Novak se insig in die vraag is beslissend:

“Die konsep van ekonomiese regte ondermyn die idee van ʼn beperkte staat. Burgerlike en politieke regte verhoed dat die staat inbraak maak op God-gegewe onvervreembare regte. Ekonomiese positiewe “regte” aan die ander kant bemagtig die staat om aksie te neem, insluitende die daarstel van definisies, kondisies en prosedures waaraan begunstigdes moet voldoen, sowel as die vergryping van mag oor die ekonomiese middele om dit te ontmoet. In ekstremisme neem dit die vorm aan van populasie beheer (in China); geforseerde bevolkingsverskuiwings (in Sowjetunie); die volle beheer oor politieke aktiwiteite en indiensneming (in Serwië en Poland). Positiewe “regte” lei onafwendbaar tot ʼn uitset in die mag van die staat.

In teenstelling hiermee is die tipe regering wat versoenbaar is met negatiewe regte ʼn baie beperkte staat. Histories het klasieke liberale die beskerming van negatiewe regte as die hoof funksie van die “nagwag staat” beskou.

J) Straf

Oortreding van negatiewe regte word algemeen gestraf deur die oplegging van ʼn boete, en vir meer ernstige oortredings gevangenisstraf of doodstraf. Daar bestaan geen tekort aan literatuur oor watter straf by watter besonderse misdaad hoort nie. Daar bestaan geensins iets soortgelyks wanneer dit by positiewe “regs”-oortredings kom nie. Die hele idee is inderdaad absurd. Die idee dat jy mense sou kon straf omrede hulle nie hierdie sogenaamde verpligtinge nagekom het nie, is walglik (veral wanneer dit onduidelik is watter spesifieke welaf individue verantwoordelik is vir die voeding van watter spesifieke arm mense). Tog is die konkoksie van presies so ʼn teorie nodig om enige sin aan die leerstelling van positiewe “regte” te gee. Die onmoontlikheid hiervan moet enigeen ernstig laat nadink tot watter mate selfs die voorstanders van positiewe “regte” in hul eie teorie glo.

K) Regs Konflikte

Twee verkillende regte kan slegs in konflik met mekaar wees in die geval van positiewe “regte”. Hier kan die een se grense die ander sin diep oorskry. As daar ʼn oorvleueling van regsgrense is, is daar konflik – en óf die een óf die ander óf albei sal afstand van gedoen moet word. Die “reg” byvoorbeeld, van arm Afrika lande om hul goedere na Ierland toe uit te voer kan nie vereenselwig word met die “regte” van Ierse inheemse werkers (wat goedere teen ʼn hoër koste produseer) om hul werk te behou nie. Beide stelle positiewe “regte” kan nie gerespekteer word nie. Dit lei tot die gevolgtrekking dat die een, of die ander, of beide glad nie regte kan wees nie. In teenstelling hiermee is daar geen moontlikheid van ʼn konflik op die terrein van negatiewe regte nie. Die reg van A om nie aangeval te word nie bots nie met die identiese reg van B nie.

L) Egalitarisme

Gegewe die aanname van gelykheid in die arena van regte (“Ons het almal gelyke regte voor die wet”), lei positiewe “regte” onwillekeurig na egalitarisme. As ons almal gelyke positiewe “regte” het, en positiewe “regte” is niks anders as ʼn sinoniem vir welvaart nie, dan is geforseerde en presiese inkomste gelykheid regverdigbaar. Vanselfsprekend kan so ʼn aanname nie toegepas word op negatiewe regte nie. Ons het almal verseker ʼn gelyke reg om nie teen ons wil deur dwang geforseer te word nie, maar aangesien dit niks met welvaart te doen het nie, kan egalitarisme nie van so ʼn stelsel afgelei word nie.”

4) Belasting en die reg tot wapenbesit

Belasting is die instrument vir die realisasie van positiewe “regte” deurdat die staat die eiendomsreg van sy onderdane skend en dit dan herverdeel deur die daarstel van oneffektiewe dienste. Die Amerikaners het met die oprigting van hul stelsel so sterk gevoel hieroor dat direkte belasting (persoonlike belasting) deur die federale regering onwettig was ingevolge die Amerikaanse grondwet wat redelik gestand gedoen het tot en met die belasting wet van 1913. Die wet was toe verander vir die deurvoer van die Eerste Wêreldoorlog en op daardie stadium het minder as 1% van die V.S.A. se populasie belasting aan die federale regering betaal. Ten tye hiervan was daar aan die bevolking verduidelik dat dit slegs tydelik sou wees, maar dit is toe nooit teruggetrek na die oorlog nie. Daar was ʼn interessante hofsaak in 1895 wat die mate van beskerming aantoon wat individue teen die staat gehad het, die Pollock v. Farmers’ Loan & Trust Company saak, waar Pollock die betrokke maatskappy gedagvaar het omrede hulle belasting op dividende betaal het. Hy het aangevoer dat dit ʼn direkte belasting verteenwoordig en het die saak gewen. Dit is waar dat persoonlike belasting met glyskale reeds met die belasting wet van 1862  daar gestel is. Die wet was van toepassing tydens die Oorlog tussen die State en het sy eie vervaldatum binne die wet self bevat en het toe ook verval in 1866.

Die Amerikaanse staat was gebore in ʼn belasting rebellie en Sam Francis, wat die geskiedenis van die reg tot wapenbesit bestudeer het, het dit eens gestel dat die rede waarom die reg juis soveel aandag geniet het in die V.S.A. was om enige toekomstige administrasie geweldadiglik van die idee van direkte belasting te laat afsien. Elke persoon het dan die reg gehad om sy privaat eiendom te verdedig, en die idee was dat jy op ʼn rondgaande belasting invorderaar kan skiet, hom verkieslik dood skiet en indien jy nie daartoe in staat is nie, jou bure en gemeenskap om hulp nader om hom ten minste gruwelik te vermink. Hy stel dit verder dat “in ʼn samelewing waar die staat getriomfeer het, dit volledig sin maak om die reg tot wapenbesit van onderdane te beperk en te ontken.”

Die grootste argument wat geopper word ter ondersteuning van positiewe “regte”, is dat samelewings wat sosiale ongelykhede bevat, polities onstabiel is. Die geskiedenis is egter duidelik dat waar eiendomsreg nie eerbiedig word nie daar baie meer politieke onstabiliteit en onderdrukking is, dink maar aan Rusland na die rewolusie van 1917 en Frankryk na die rewolusie van 1789 en selfs Zimbabwe in ons eie tyd na die konfiskasie van privaat eiendom. Dit is waar dat daar onregmatige voordele bestaan het in beide Frankryk en Rusland voor die onderskeie rewolusies, maar in beide daardie gevalle was daar wetlike beperkings wat deur die staat opgelê was op die herverdeling en verkoopbaarheid van grond. In samelewings waar privaat eiendom absoluut gewaarborg word, word ongelykhede nie uitgewis nie, maar die toestand van die minder bevooregde lede van daardie samelewings se lewensstandaard of lewenskwaliteit is aansienlik beter. Die bostaande twee paragrawe aangaande belasting en wapenbesit in die V.S.A. voor die Eerste Wêreldoorlog is ʼn voorbeeld van die toestand waarin ekonomiese reserwes teen astronomiese koerse gegroei het met geen agting vir herverdeling of gelykheid as basis nie.

5) Gevolgtrekking

Die grootste verskil tussen die Suid-Afrikaanse handves van mense regte en die Amerikaanse weergawe is dat vele positiewe “regte” in die Suid-Afrikaanse grondwet ingesluit is, terwyl die Amerikaanse weergawe slegs uit negatiewe regte bestaan. 

Artikel 27(2) bepaal byvoorbeeld soos volg: “Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om binne sy beskikbare middele elk van hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik.”

Hierdie positiewe “regte” het hul pad in die Suid-Afrikaanse grondwet in gewurg en is verskans. Die blaam kan eensydig voor die deur van politici en vele regskenners geplaas word wat op konstitusionele regte spesialisser, terwyl hulle geen begrip van die ekonomiese wetenskappe het nie, oor beperkte kennis van geskiedenis beskik en ook nie veel meer van regte weet nie. Die feit dat selfs die V.S.A. vandag sy onderdane belas teen ʼn effektiewe koers van ongeveer 40% (deur alle vlakke van regering) en die negatiewe regte van onderdane eskalerend vertrap word, vorm die basis van argumente tussen anargiste en voorstanders van die minimale staat. Dit kan dalk wenkbroue laat lig om die V.S.A. ʼn mislukking te noem. As jou idee van vryheid egter ʼn staat is wat sy burgers se regte toenemend ondermyn en wêreldwyd in imperialistiese oorloë betrokke raak, dan is dit seker ʼn groot sukses. Anargiste beskou die imperialistiese V.S.A. as ʼn mislukte eksperiment in die idee van ʼn konstitusionele beperkte staat en glo dat kreatiewe denkers hulle daarom eerder moet toespits op alternatiewe opsies t.o.v selfregering eerder as die herhaling van mislukte eksperimente in die beperking en hervorming van die staat. Indien die rolmodel van ʼn beperkte staat met ʼn handves van slegs negatiewe regte nie die staat daarvan kon weerhou om onophoudelik te groei nie, wat kan?

Elke rasionele mens moet hom of haarself ook afvra tot watter mate enige handves van regte privaat eienaarskap van grond en ander ekonomiese middele kan beskerm indien die staat reeds deur alle vorme van belasting die helfte van alle geproduseerde welvaart uit enige gegewe ekonomie kan verwyder, ongeag die graad van oneffektiewe aanwending van daardie hulpbronne deur die staat? Op die lang duur, aangevuur deur die politieke insentiewe wat demokrasie skep vir welvaart herverdeling, is die Suid-Afrikaanse handves van mense regte nie veel meer as toiletpapier werd nie, die staat se magte word slegs beperk deur sy eie onbevoegdheid.

Aangaande die regte wat aan die begin gelys is, kan die leser dit nou gemaklik self uitpluis. Ek kan net byvoeg dat Afrikaners en inwoners van die territoriale gebied bekend as Suid-Afrika wat hulle onder ʼn rowerstaat aan die verloorkant van sogenaamde positiewe “regte” bevind, nie verder ag hoef te slaan op staatswette nie. Reg en verkeerd is eerder ʼn geval van moraliteit en etiek. Moord, roof, bedrog, belasting en verkragting verteenwoordig ʼn skending van regte, daarteenoor is die grootskaalse weerhouing en ontduiking van belasting nie ʼn skending van enige reg nie.

H. L Mencken het dalk alle regerings opgesom in hierdie stelling: “The government consists of a gang of men exactly like you and me. They have, taking one with another, no special talent for the business of government; they have only a talent for getting and holding office. Their principal device to that end is to search out groups who pant and pine for something they can’t get and to promise to give it to them. Nine times out of ten that promise is worth nothing. The tenth time it is made good by looting A to satisfy B. In other words, government is a broker in pillage and every election is sort of an advance auction sale of stolen goods.”

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Regte, Video and tagged , , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.