Gesondheidsorg en die staat

Staats gesonheidsorg

 (Dr. Yuri N. Maltsev)

Lenin se slagspreuk, “Marxisme is Almagtig Omdat Dit Waar Is”, was omtrent orals vertoon in die ou Sowjetunie. My eerste ontmoeting met Karl Marx het plaasgevind in graad een in die stad van Kazan, geleë aan die oewer van die Wolgarivier. Sy foto was gedruk op die eerste bladsy van die eerste handboek wat ek ooit oopgemaak het. “Dedushka Marx” (Grootvader Marx), het die onderwyser gesê en gewys na die foto. Ek was opgewonde aangesien beide my oupas omgekom het in Stalin se Groot Suiwering in die 1930’s en ek dus geen oupa gehad het nie. Ek het huis toe gehardloop na skool om my ouma te vertel dat sy verkeerd was. “Ek het ʼn oupa,” het ek gesê, en met sy groot baard en vriendelike oë het hy vir my nes “Dedushka Moroz” Vader Frost gelyk(die Sowjet/ateïs weergawe van Vader Kersfees of Sinterklaas).

As jy grootgeword het in die Sowjetunie was sulke vroeëre verwarrings gou opgeklaar aangesien studies in Marxisme ʼn onafwendbare ervaring vir almal was, ongeag van ouderdom, klas, sosiale stand of nasionaliteit. Tot selfs die gevangenes in die tronke, insluitende die wat hul eie teregstelling afwag, moes die “Shining Heights” van die sogenaamde groot bevrydings meester bestudeer(“Shining Heights” was die Sowjet propaganda term vir kommunisme wat later ʼn cliché in Rusland geword het). Die werke van Marx, Engels en Lenin was gepubliseer in die USSR in 173 tale met ʼn totale produksie van 480 miljoen kopieë. Baie van die werke was uitgevoer na die buiteland. Ek het eenkeer selfs ʼn Indiese vertaler ontmoet wat indiens van die Politieke-Publiseringshuis was om 50 volumes van die kollektiewe werke van Marx en Engels na Malajalam te vertaal. Hy het gekla dat die projek sloer omrede die Sowjet propaganda offisiere nie ʼn ander Malajalam vertaler in die hande kon kry om sy werk te proeflees nie.

In die Sowjetunie het mense nie aan Marxisme gedink as bloot net ʼn ekonomiese teorie nie. Dit het op ʼn letterlike manier voorgegee om ʼn universele verduideliking van die natuur, lewe en samelewing te wees. Dit was ook ʼn dodelike wapen wat teen persoonlike vyande gebruik kon word. Soos in die geval van Nikolai Vavilov , wat tot die dood verhonger was omrede hy Marxisme teengestaan het deur ʼn voorstander van genetika as wetenskap te wees, wat deur Marxiste beskryf was as “ ʼn valse wetenskap wat uitgedink is deur die Katolieke monnik, Mendel”. In die naam van Marxisme het die dodetal 100 miljoen bereik; die riviere van bloed het gevloei van Rusland tot Kampuchea, van China tot Tsjeggo-Slowakye.

Haat was die sterkste motivering van die sosialistiese revolusionêre en hul volgelinge. Lenin het politiek gesien as ʼn vertakking van plaagbeheer; die doel van sy operasies was die uitwissing van wat hy beskou het as kokkerotte, parasitiese luise, die tallose mense wat in die pad van sy politieke ambisies gestaan het. Tog het Westerse skrywers en kommentators van die tyd so sag as moontlik oor hierdie genadelose gruweldade gerapporteer soos wat die historikus Richard Pipes afgesien van sy argumentsfoute met Aleksandr Solzhenitsyn, wel goed gedokumenteer het.

Een van die algemene ooreenkomste tussen Leninisme en die staats-intervensioniste in die Weste, is die geloof dat die probleme van monopolie en die probleme van eienaarskap eenders is: slegs ʼn private monopolie wat optree uit hebsug is skadelik. Hierdie instellings onderdruk wetenskaplike en tegnologiese vordering, besoedel die omgewing en neem deel aan ander sameswerings teen die publieke welstand, of so word geglo. ʼn Staatsmonopolie daarteenoor, was gesien as eties en opreg. Hulle vervang die “hebsug van profyt”, die winsmotief met ʼn sosiale gesentraliseerde “belange” -motief (publiekebelang, volksbelang, landsbelang). Tog is die burokrate wat die publieke sektor beheer en onderhou, geensins minder baatsugtig as dié wat private besighede beheer en onderhou nie. Daar is wel een belangrike verskil: anders as private entrepreneurs is hulle nie finansieel verantwoordelik vir hulle aksies nie en werk sonder institusionele beperkinge van koste beheer wat teweeggebring word deur privaateiendom en kompetisie. Die verligte verstand van die staat se beplanners, burokrate en tegnokrate kan nie die ekonomiese berekenings-probleem oorkom sonder enige markaanwysers nie.

Die mislukking van sosialisme in Rusland, en die enorme swaarkry en teenspoed van die gepeupel in alle sosialistiese lande, is ʼn kragtige waarskuwing teen sosialisme, staatisme en intervensionisme in die Weste. “Ons moet almal dankbaar wees teenoor die Sowjetunie”, skryf Paul Craig Roberts, “juis omrede hulle onteenseglik bewys het dat sosialisme nie werk nie. Niemand kan sê dat hulle nie genoeg mag of genoeg burokratiese reikwydte of genoeg beplanners gehad het nie, of dat hulle net nie ver genoeg gegaan het nie.” Dit is verby die kapasiteit van ekonomiese analise om die geleentheidskoste van die sosialistiese eksperiment in Rusland te bereken. Maar die sterftesyfers van Stalin se kollektivisme, reinigings en Goelag kampe is geskat deur Russiese historikus, Roy Medvedev, as 41 miljoen mense. ʼn Populêre Russiese gesegde lui, “Die enigste les wat die geskiedenis ons leer is dat dit ons niks leer nie.”

Dit was egter Mises se kritiek wat as die mees akkurate voorspelling bestempel kan word. In sy 1920 opstel, “Ekonomiese kalkulasie in die Sosialistiese Gemenebes”, argumenteer hy dat die sosialistiese ekonomie nie heeltemal ʼn “ekonomie” genoem kan word nie aangesien die sisteem geen metode vir die rasionele allokering van hulpbronne bied nie. Dit bring die afskaffing van privaateiendom in kapitale goedere mee en elimineer sodoende die markte wat pryse produseer waardeur winste en verliese bereken moet word. Die afwesigheid van rasionele ekonomiese berekeninge, en die institusionele strukture wat dit ondersteun, voorkom enige realistiese evaluering van die optimale gebruik, geleentheidskostes en hulpbron allokasie opsies. “Sodra mens die konsep van ʼn vrylik gevestigde monetêre prys vir goedere van ʼn hoër klas opgee,” skryf Mises, “word rasionele produksie heeltemal onmoontlik. Die sentrale beplanners van ʼn industriële ekonomie sal hulself in ʼn konstante toestand van verwarring en onkunde bevind, soekend in die donker.”

Wat Von Mises ook goed verstaan het is dat dit nie net geld vir ʼn volkome sosialistiese stelsel nie maar dat alle fondse wat na die staat vloei en aangewend word, ʼn geleentheidkoste bevat wat nie net bestaan uit die hoër effektiwiteit – sou daardie fondse volgens werklike verbruikersbehoeftes aangewend word nie, maar ook in terme van modernisering van metodiek (innovasie) wat as gevolg van die selfde monopolistiese tekortkominge in gebreke bly.

ʼn Algemene fout wat Westerse waarnemers gemaak het en steeds maak is om te dink dat die Sowjetunie se fundamentele probleem ʼn tekort aan demokrasie was. Hulle het die feit dat die institusionele strukture van die politiese stelsel nie die inherente probleem – van ʼn ekonomiese stelsel sonder enige metode van rasionele berekening of besluitneming – kon oorkom nie, totaal geïgnoreer.

In 1918 het die Sowjetunie dan die eerste land geword wat universele “geboorte-tot-dood” mediese dekking bied, uitgevoer deur die volkome nasionalisering van gesondheidsorg. Die “reg om te lewe” het ʼn “konstitusionele reg” geword vir Sowjet burgers. Die verklaarde voordele van hierdie stelsel was dat dit “kostes verminder” en die “oortolligheid” wat van “onnodige duplisering en parallelisme” wat die vryemark teweegbring, ontslae raak – m.a.w. die afskaffing van kompetisie.

Hierdie doelstellings was soortgelyk aan dies wat onlangs voorgestel was deur Mnr. Obama en Mev. Pelosi en heel waarskynlik duisende ander politici regoor die wêreld – aantreklike en humanitêre doelstellings van universele dekking en lae kostes. Wie sal nou nie daarvan hou nie?

Die stelsel in Rusland het vir baie dekades wankelrig gewerk, maar wydverspreide onverskilligheid en die lae kwaliteit van arbeid het die gesondheidsorg stelsel magteloos gelaat. Op die hoogtepunt van die sosialistiese eksperiment was die gesondheidsorg instellings in Rusland ten minste ʼn honderd jaar agter die gemiddelde vlak van die VSA. Ter selfde tyd het die vullis, die stank, rondloper katte, besope medici en die afwesigheid van seep en reinigingsmiddels bygedra tot ʼn algehele indruk van hopeloosheid en frustrasie wat die stelsel magteloos gelaat het. Volgens die offisiële Russiese skattings het 78% van VIGS lyers in Rusland die virus opgetel in staatshospitale deur besmette spuitnaalde of bloed wat met HIV in aanraking was.

Onverantwoordelikheid, uitgedruk deur die populêre Russiese slagspreuk “Hulle maak asof hulle ons betaal en ons maak asof ons werk” het daartoe gelei dat die kwaliteit van dienste ontsettend swak was, korrupsie wydverspreid en ʼn hoë sterftesyfer as ʼn resultaat hiervan. My vriend, ʼn bekende neurochirurg in hedendaagse Rusland, het ʼn maandelikse salaris van 150 rubels verdien – ʼn derde van die salaris wat die deursnee bus-drywer sal verdien.

Om die minimale aandag van dokters en verpleegspersoneel te ontvang moes pasiënte hulle gereeld met omkoopgeld oortuig. Ek was persoonlik getuie van ʼn insident waar ʼn “nie-betalende” pasiënt gesterf het terwyl hy probeer het om ʼn toilet te bereik aan die einde van ʼn lang gang nadat hy breinchirurgie ondergaan het. Verdowingsmiddels was gewoonlik “nie beskikbaar” vir aborsies of kleinere oor-, neus-, keel- en vel operasies nie. Dit was ook ʼn algemene gebruik as ʼn middel van afpersing deur gewetelose mediese burokrate tot omkoopgeld.

Om die statistieke te verbeter aangaande die getalle sterftes binne die stelsel was pasiënte gereeld by die agterdeur uitgestoot nog voordat hulle hul laaste asem kon uitblaas.

Omdat ek ʼn volksverteenwoordiger was in die streek van Moscow van 1987 tot 1989, het ek menigte klagtes ontvang, te veel om almal ooit te onthou, aangaande kriminele nalatigheid, omkopery van mediese amptenare, besope ambulansbemanningslede, en voedselvergiftiging in hospitale en kindersorg-fasiliteite. Ek onthou die geval waar ʼn veertienjarige meisie van my distrik wat oorlede is van akute nierontsteking in ʼn hospitaal in Moscow. Sy is dood omrede ʼn dokter besluit het dat dit beter sou wees om ʼn “kosbare” X-straalfilm te bespaar (ingevoer deur die Sowjets vir munt “hard currency”) in plaas daarvan om sy diagnose te staaf. Hierdie X-strale sou die teenbewys bevestig het van sy diagnose van neuropatiese pyn. In stede hiervan het die dokter die tiener behandel met ʼn hittekompres, wat amper haar onmiddellike dood tot gevolg gehad het. Daar was geen wettige hulpmiddel vir die meisie se ouers of grootouers nie. Per definisie kan ʼn enkel-betalende stelsel nie werklik so ʼn hulpmiddel voorsien nie. Die meisie se grootouers kon nie met hulle verlies saam lewe nie en beide het binne ses maande na haar dood gesterf. Die doktor het geen offisiële straf ontvang nie.

Ook nie verbasend nie het regerings burokrate en Kommunistiese Party lede so vroeg as 1921 (drie jaar na Lenin se nasionalisering van medisyne) reeds besef dat die egalitaristiese stelsel van gesondheidsorg slegs goed was vir hul persoonlike belange as broodwinners, bestuurders en rantsoenuitdelers – maar nie as private verbruikers van die stelsel nie. Soos dan in so baie lande wat gebruik maak van staatsmediesesorg was daar uiteindelik ʼn dubbel-sisteem geskep: een vir die “grys massas” en ʼn ander, met ʼn heeltemal anderste standaard van diens, vir die burokrate en hulle intellektuele amptenare. In die USSR was dit gereeld gevind dat terwyl arbeiders en boere besig was om dood te gaan in staatshospitale, was die medisyne en toerusting wat hul lewens kon red beskikbaar en in onbruik in die nomenklatura stelsel.

Aan die einde van die sosialistiese eksperiment was die offisiële kindersterftesyfer in Rusland 2.5 keer hoër as in die VSA en meer as vyf keer die van Japan. Die skaal van 24.5 sterftes per 1000 lewende geboortes was onlangs bevraagteken deur verskeie verteenwoordigers van die Russiese parlement, wat beweer het dat dit tot sewe keer hoër was as dié van die VSA. Dit beteken dat die Russiese sterftesyfer tot 55 kon wees vergelykende met die VSA se 8,1 per 1000 lewende geboortes. Nou moet ek dit duidelik maak dat die VSA seker een van die hoogste kindersterftesyfers van die industriële wêreld het slegs omrede hulle alle dooie kinders insluit –  insluitende vroeggebore babas, waar meeste van die sterftes plaasvind.

Meeste lande tel nie vroeggebore kindersterftes nie. Sommige tel glad nie enige sterftes wat tydens die eerste 72 uur plaasvind nie. Sommige tel nie eens enige sterfgevalle binne die eerste twee weke nie. In Cuba, ʼn land wat ʼn baie lae kindersterftesyfer weergee, word kinders eers geregistreer nadat hulle ʼn paar maande oud is, sodoende vermy hulle die offisiële statistieke van alle kindersterftes wat plaasvind in die eerste paar maande na geboorte.

In die plattelands gedeeltes van Karakalpakië, Sacha, Tsjetsjnië, Kalmikië en Ingoesjetië, was die kindersterftesyfer so naby aan ʼn 100 per 1 000 geboortes dat dit hierdie gedeeltes in dieselfde kategorie as Angola, Tsjad, en Bangladesj getel het. Te wyte aan die syfer van 7.3 aborsies wat die gemiddelde Russiese vrou in haar vrugbare jare ondergaan het, was daar wydverspreide uterus beskadiging. Dan moet daar nog in gedagte gehou word dat baie vrouens aborsies vermy, en dit beteken dat baie ander vrouens ʼn dosyn of meer aborsies ondergaan het in hulle leeftyd.

Volgens die Russiese Staats Statistiek Komitee is die gemiddelde lewensverwagting vir Russiese mans huidiglik minder as 59 jaar – 58 jaar en 11 maande – terwyl Russiese vrouens beraam word om gemiddeld 72 jaar oud te word. Die gekombineerde getal is 65 jaar en drie maande. In vergelyking is die gemiddelde lewensverwagting in die Verenigde State, 73 jaar vir mans en 79 jaar vir vrouens. In die Verenigde State het die lewensverwagting vir die hele populasie by geboorte ʼn hoogtepunt van 77.5 jaar bereik, vanaf 49,2 jaar slegs ʼn eeu gelede. In Rusland is die lewensverwagting by geboorte 12 jaar laer.

Na sewentig jaar van sosialisme, het 57 persent van alle Russiese hospitale nie lopende warm water gehad nie, en 36 persent van hospitale geleë in plattelandse gedeeltes van Rusland het geen lopende water of rioolstelsel gehad nie. Is dit nie wonderbaarlik nie, dat die mees sosialistiesste regering wat ooit bestaan het en wat totale egalitariese gelykheid en klasloosheid daar wou stel, terwyl hulle ruimtenavorsing en gesofistikeerde wapens ontwikkel het, heeltemal die basiese regte van hul burgers gewetenloos ignoreer het nie?

Die afgryslike kwaliteit van dienste is nie ʼn karaktereienskappe van “barbaarse” Rusland en ander Oos-Europese nasies nie: dit is ʼn direkte resultaat van die staatsmonopolie op gesondheidsorg en kan in enige land plaasvind. In “beskaafde” Engeland, byvoorbeeld, is die waglys vir chirurgie naastenby 800 000 uit ʼn populasie van 55 miljoen. In vergelyking met die VSA is die allernuutste toerusting nie-bestaande in meeste Britse hospitale nie. In Engeland is slegs 10 persent van die gesondheidsorg se koopkrag afkomstig vanuit privaat bronne.

Brittanje was die pioniers in die ontwikkeling van nier-dialise tegnologie, en tog het die land een van die laagste dialise syfers in die wêreld. Die Brookings Instituut (allermins ʼn voorstaander van vryemarkte) het bevind dat daar elke jaar 7 000 Britte is wat heupvervangings benodig, tussen 4 000 en 20 000 wat koronêre omleiding chirurgie benodig, en omtrent 10 000 tot 15 000 wat kanker chemoterapie benodig  – wat almal mediese aandag geweier word in Brittanje.

Diskriminasie op grond van ouderdom is veral teenwoordig in alle staatsbeheerde of streng gekontroleerde stelsels van gesondheidsorg. In Rusland was pasiënte ouer as 60 gesien as waardelose parasiete, en die ouer as 70 was gereeld selfs elementêre vorme van gesondheidsorg geweier. Veral Europese en Kanadese staatsmediese skemas word gereeld as die utopiese voorgehou, tog in Brittanje word diegene ouer as 55 jaar wat behandeling benodig vir kroniese nier-versaking, by 35 persent van dialise sentrums weggewys. Vyf en veertig persent van 65 – jarige pasiënte word behandeling geweier, terwyl pasiënte 75 jaar en ouer selde enige mediese aandag ontvang by hierdie sentrums.

In Kanada word die populasie verdeel in drie ouderdomsgroepe in terme van hulle toegang tot gesondheidsorg: dié jonger as 45, dié tussen 45 en 65, en die ouer as 65. Vanselfsprekend geniet die eerste groep, die wat mens die “aktiewe belastingsbetalers” kan noem, prioriteit behandeling.

Voorstanders van gesosialiseerde/nasionale gesondheidsorg in die V.S.A. maak onbeskaamd gebruik van Sowjet propaganda taktieke om hulle doelstellings te bereik. Die filmmaker Michael Moore is een van die prominentste en effektiefste voorbeelde van hierdie propagandiste in Amerika. In sy film, Sicko, vergelyk hy op ʼn onregverdige en ongunstige wyse gesondheidsorg vir ouer pasiënte in die V.S.A. (met komplekse en ongeneesbare siektes) met gesondheidsorg in Frankryk en Kanada vir vrouens wat deur die alledaagse roetine van geboorte skenk gaan. As hy die teenoorgestelde sou doen – m.a.w. gesondheidsorg vir jong vrouens in die V.S.A. vergelyk het met ouer pasiënte met komplekse en ongeneesbare siektes in staats gesondheidsorgstelsels – sou die film dieselfde gewees het, behalwe dat die V.S.A. se gesondheidsorg stelsel ideaal sou voorkom, en dié van Engeland, Kanada en Frankryk soos barbarisme daarteenoor sou vertoon.

Sou die VSA ʼn enkele sentrale gesondheidsorg stelsel kry, kan burgers hul voorberei op diskriminasie op die behandeling van bejaardes met betrekking tot gesondheidsorg. Ezekiel Emanuel wat verbonde was aan die Kliniese Bio-etiese Departement van die VSA Nasionale Institute van Gesondheid is ook die mede argitek van Obama se gesondheidsorg hervormingsplan. Hy is ook die broer van Rahm Emanuel, Obama se vriend en vorige stafhoof van die Withuis. In ʼn artikel, met Emanuel as medeskrywer, wat in die mediese joernaal, “The Lancet”, verskyn in 2009, stel die skrywers dat anders as allokasie [van gesondheidsorg] ten opsigte van ras of geslag, is allokasie ten opsigte van ouderdom nie aanstootlike diskriminasie nie; elke persoon leef deur verskeie fases van die lewe eerder as om ʼn enkele ouderdom te bly. Selfs al geniet 25-jariges prioriteit oor 65-jariges, was almal wat 65 jaar oud is eens op ʼn tyd 25. Deur 65-jariges dus anders te behandel op grond van stereotipering of valshede sal ouderdomsdiskriminasie wees; om hulle anders te behandel omdat hulle meer lewensjare gehad het is nie, al dan volgens die skrywers. Emanuel het ook geskryf dat gesondheidsorgdienste nie gewaarborg moet word aan individue wat nie aktiewe, deelnemende burgers kan word nie. ʼn Vanselfsprekende voorbeeld is om nie gesondheidsorg te waarborg aan diegene wat aan dimensie of ander geestesongesteldhede ly nie.

In die VSA sal ʼn gesentraliseerde staats-gesondheidsorg stelsel die oorsaak wees van ʼn massiewe regerings burokrasie – duurder arbeids kostes deur die belasting verpligting op werkgewers af te dwing om die dekking te kan bied en ook prys kontroles wat noodgedwonge opgelê sal word en lei tot tekortkomings en swak kwaliteit van dienste. Dit sal ook lei tot nie-prys rasionering (m.a.w. rasionering gebaseer op politieke vergoeding, korrupsie en nepotisme) of gesondheidsorg deur staatsburokrate.

Egte “besparing” in ʼn staatsgesondheidsorg stelsels kan slegs bereik word deur druk toe te pas op verskaffers of om sorg te weier – daar is geen ander manier om te spaar wanneer kompetisie geëlimineer is nie. Dieselfde argumente was gebruik om slawerny in die katoen boerdery industrie te verdedig in die Amerikaanse Suide voor die Oorlog tussen die State. Slawerny het verseker die  – “kostes van arbeid besnoei”, “verkwisting van loon onderhandelings geëlimineer” en “onnodige duplikasie en parallelisme vermy” – eties is dit egter nie.

Deur die beroep op staatsgesondheidsorg te ondersteun, is Amerikaanse gesondheidsorg praktisyne soos skape wat die wolf opkommandeer: hulle besef nie dat die hoë koste van mediese sorg in die VSA deels gebaseer is op die feit dat Amerikaanse gesondheidsorg praktisyne die hoogste vlak van besoldiging ontvang in die wêreld nie. ʼn Ander bron van die hoë koste van gesondheidsorg is die bestaande regeringsregulasies op die industrie wat groter kompetisie verhoed wat natuurlik kostes sou verlaag. Bestaande reëls en staatsregulasies soos die “Certificate of need”, lisensiëring en ander staatsbeperkings op die beskikbaarheidstelling van gesondheidsorgdienste verhoed kompetisie en sodoende veroorsaak dit hoër pryse en minder dienste.

Staatsgesondheidsorg stelsels het nog nooit daarin geslaag om enige algemene gesondheidstandaard of lewenstandaard op te stoot bo dit wat die vryemark in elk geval in staat was nie. In teenstelling hiermee toon beide analitiese redenasie en empiriese bewyse dat die teenoorgestelde gevolgtrekking waar is. Maar die neerslagtige mislukking van staatsgesondheidsorg om mense se gesondheid en lewensduur op te hef, het nog nie die aantrekkingskrag verloor vir politici, administrateurs en hulle intellektuele amptenare op hul soektog na absolute mag en totale staatskontrole nie.

Meeste lande wat onder Sowjet dominasie was het uit ʼn volle gesosialiseerde stelsel van mediese dienste uit beweeg deur privatisering en sodoende kompetisie in die gesondheidsorg stelsel begin vestig. Ander, insluitende sommige Europese sosiale demokrasieë, is van plan om die gesondheidsorg stelsel te privatiseer op die lang duur en sodoende gesondheidsbeheer te desentraliseer. ʼn Lid van die Russiese Duma, Oleg Kulikov het dit soos volg gestel: “Dit is fassinerend, ons gaan terug na ʼn kapitalistiese bestel in gesondheidsorg deur die privaatsektor se aandeel in die voorsiening van dienste te vergroot. Terwyl die stelsel wat Obama voorstel gedefinieer kan word as sosialisme. Hulle neem posisies in wat ons reeds agter gelaat het.” Die privaateienaarskap van hospitale en ander mediese eenhede moet gesien word as ʼn kritiese bepalende faktor van die nuwe, meer doeltreffende en humanitêre stelsel.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Medies/Welsyn and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.