Stalinisme, Nasionaal-Sosialisme en Fascisme

Stalinisme, Nasionaal-Sosialisme en Fascisme

(Prof Paul Gottfried)

Daar was ʼn klompie jare terug ʼn artikel in die “Wallstreet Journal” gepubliseer, geskryf deur dié neo-konserwatiewe intellektueel, Francis Fukuyama, waarin hy die VSA prys dat hulle die Eerste Wêreldoorlog gewen het. Hy skryf ondermeer dat mens die gevolglike opkoms van Stalin en Hitler kan betreur, maar dat dit alles die moeite werd was. Die positiewe resultaat was dat die “bourgeoisie” samelewing van die Westerse wêreld vernietig was, omrede die moderne wêreld daarsonder minder egalitaries en feministies sou wees en minder oop vir die soort “Yuppie” lewenstyl wat ek aanneem mnr. Fukuyama lewe, of homself verbeel hy lewe. Dat ons almal verder dan in ʼn “geliberaliseerde” weergawe van Suid-Afrika sou lewe, en ek neem aan hy bedoel voor die oorname van die ANC. Volgens Fukuyama sou daar verder dan ook nie ʼn welsynstaat en al die ander positiewe dinge van ʼn liberale-demokrasie wees soos hy dit verstaan nie. Tong in die kies moet ek sê, tot ek mnr. Fukuyama se werk gelees het, het ek nie besef die Duitse keiser het vir soveel hoë en ydele ideale baklei tydens die Eerste Wêreldoorlog nie.

Die Eerste Wêreldoorlog was in baie opsigte ʼn draaipunt in die geskiedenis. Die chaos van die oorlog, die oorlogs-ekonomie, die mobilisasie wat die oorlog teweeggebring het en die gevolglike frustrasie van die Versailles vredesverdrag sou alles verorber word in die politieke herorganisasie van die tussen oorlogsjare waarvan daar drie hoofspelers verskyn nl. Fascisme, Kommunisme en Nasionaal-sosialisme.

As mens kyk na die wêreld in die 1920’s, sou fascisme na die suksesvolste van die drie lyk. Die Hongaarse Marxis György Lukács het gesê, “Mussolini was ernstig, Lenin was ʼn grap”. Hiermee het hy geïmpliseer dat Mussolini op iets werkliks gesinspeel het nl. nasionalisme, terwyl Marxistiese Leninisme gebaseer is op ʼn meer abstrakte universele ideaal wat meeste mense, buiten sekere intellektuele, geen aanklank by sou vind nie. Later het Von Mises ook uitgewys dat bykans alle vroeë kommunistiese leiers eksklusief vanuit die bourgeoisie stand afkomstig was. Min werkersklas mense kon die ingewikkelde teorieë verstaan, wat nog van uitdink, met die gevolg dat min mense hulle sommer meer sou volg.

Fascisme word vroeg in hierdie tydperk beskou as die toekoms, die mees ideale staats-bestuurde samelewing. Saam met die industrialisasie van die 1920’s, groei die idee van ʼn sentraal ekonomies beplande samelewing. Die Italiaanse model word in die 1920’s beskou as die mees suksesvolste, meestal a.g.v. goeie publieke verhoudings en omdat dit blyk dat hulle daartoe in staat is om idees wat aan die 20ste eeu behoort te kombineer nl. nasionalisme en sosialisme. Die mate van sosialisme onder die Italiaanse fasciste is blote retoriek. Hulle praat byvoorbeeld van “Collettivismo” en “Stato totalitario”, maar die staat was nie so “totaal” nie en daar was ʼn redelike vrye ekonomie in Italië. Dit het regdeur die 1920’s floreer tot in die later 1930’s, wat snaaks genoeg nie gekritiseer was deur progressiewe sosiale-demokrate en ander sosialiste nie, wat natuurlik almal na Mussolini se Nasionale Rewolusie hervormings gekyk het as ʼn ernstige poging om binne nasies ʼn model van sentrale beplanning van die ekonomie te weeg te bring. Hulle het gehoop dat onder die regte toestande dit na die VSA, Brittanje en ander lande uitgevoer kon word.

Eers met die opkoms van naziïsme en Mussolini se alliansie met Hitler is fascisme begin om as ʼn immorele regse ideologie gesien te word. Daar is ʼn goeie boek van J.P Diggins, getiteld “Mussolini en Fascisme” waarin hy die perspektief van fascisme vanaf die VSA in die tyd analiseer met baie verwysings na artikels in die gewilde “New Republic” tydskrif van die tyd. Daarin is ʼn hele rits groot name, insluitende die sosiale-demokraat John Dewey wat almal Mussolini se lof besing. Fascisme word ook gesien as ʼn beter model omdat bolsjewisme in die tyd baie rondval. Daar was militêre pogings deur bolsjewiste in Engeland, Frankryk, Duitsland en almal word vinnig onderdruk of vooraf uitgevang. Die kommunistiese Russiese regering sukkel en maak wel ʼn alliansie met Duitsland in die 1920’s en dit was Duitse regses wat die alliansie gesoek het om troepe in Rusland te kon oplei weens beperkings van die Versailles vredesverdrag. Dit help egter nie Rusland veel wat Westerse invloed aan betref nie. Die kommunistiese party in die VSA in hierdie tyd was ʼn grap, hulle was gefragmenteer en na die opkoms van Stalin nog meer so. Daar was ook ʼn kommunistiese poging in China in die 1920’s wat totaal misluk, asook in Finland, Hongarye ens.

Die Marxiste word gevolglik nie in ʼn besonderse sterk posisie gesien nie terwyl Mussolini as ʼn man van eer beskou word. Die fasciste kry huldeblyke en ʼn goeie ontvangs in Amerika sowel as in Brittanje. In die 1930’s tree die Nazi’s dan na vore en ek wil nie te veel ingaan op die vraag of Naziïsme, Fascisme of Stalinisme was nie. Dit was in werklikheid ʼn kombinasie van die twee. Die Duitsers kies van vele sentrale-staats bestuurstelsels. Die resultaat was beslis meer boos as wat in Italië bestaan, maar nie naby so boos as dit wat in Rusland aan die gebeur was nie. Hulle kry net slegter nuusdekking omrede hulle aan die verloorkant van die Tweede Wêreldoorlog opeindig.

Die Nazi’s het ook aan die begin ʼn goeie ontvangs gekry afgesien van swak publieke betrekkinge a.g.v. hul anti-Semitisme, wat nie goed ontvang word in die VSA of Brittanje nie. Afgesien van wat Joodse organisasies vandag mag sê in verband hiermee, was die Nazi’s baie ongewild as gevolg daarvan onder die publiek in Westerse lande. Dis interessant hoe veel van Hitler se toesprake die woord, “vrede” in daardie tyd bevat. Ons doen dit of dat vir vrede, nieteenstaande, word die Nazi’s nie naastenby so goed ontvang as die Italiaanse Fasciste nie.

Die Nazi’s begin om in die 1930’s gesien te word as die leidende fasciste, asof hulle die Italiaanse model geperfeksioneer het. Daar is ook soos die Duitse historikus Ernst Nolte uitwys, ʼn tipe kompetisie tussen die Duitse fascistiese model en die bolsjewistiese model. Mense in sentraal Europa wie baie anti-kommunisties is voel aangetrokke eerder tot die Italiaans/Duitse kant as die kommunistiese kant. Die kommuniste word in die 1930’s gesien as die meer gevaarlike massa moordenaars. Hulle het toe al reeds begin doen wat Hitler eers ʼn dekade later sou doen. Hulle rig ook hul visier meer op die middel klas. Die middel klas voel volgens Nolte, dat die Duitse/Italiaanse kamp die veiligste is, maar ek dink dit verskil ook van plek tot plek, afhangende van watter gevaar die naaste was.

Die kommuniste maak tog ʼn terugkeer in die 1930’s. Alhoewel die skynhowe mense by die derduisende uitmoor, sit Stalin ʼn meer populistiese front voor vir Westerse lande. Hy doen byvoorbeeld ʼn beroep op alle progressiewe partye in Westerse lande om saam met die kommuniste te werk om so van die fascistiese gevaar ontslae te raak. Hulle maak ook vordering in gewildheid tydens die groot depressie, veral in Duitsland, waar hulle saam met die Nazi’s die Weimar republiek probeer omverwerp. In Frankryk veroorsaak hulle saam met regse nasionaliste, talle onderbrekings en in die VSA kry hulle bykans ʼn miljoen stemme in een verkiesing, maar bly gefragmenteer.

Hulle begin dus meer aansien kry en word gesien as ʼn ernstige teenvoeter vir fasciste en projekteer hulself ook meer suksesvol as ʼn party vir die werkers wat die vrugte van produksie beter gaan versprei en die ongelykhede van die kapitalistiese stelsel sal kan verminder. As mens na die einde van die Tweede wêreldoorlog kyk, is hulle groot wenners, afgesien van die feit dat hulle die Nazi’s om elke hoek en draai gehelp het. Hulle was verby die retoriek van Stalin en Hitler, in werklikheid bondgenote van die begin af tot en met Hitler se inval in Rusland. Dit is iets wat vandag min genoem word. In Frankryk byvoorbeeld kan mens dit vandag nie eens noem nie want dit word opsigself as ʼn fascistiese standpunt beskou. Die Franse kommuniste was so erg dat hulle ander Franse vermoor het wie teen Hitler baklei het en selfs Frankryk se oorlogspogings opsetlik in die wiele gery, weereens tot en met Hitler se Russiese avontuur. Aan die einde van die oorlog dra hulle nie net die anti-fascistiese mantel nie, hulle vervolg en vermoor talle sogenaamde “collaborateur” op wrede maniere wat baie minder skuldig was as hulle self.

Die kommuniste doen dieselfde in Italië en in ʼn land soos Joegoslawië vermoor hulle baie monargiste as sogenaamde fasciste wie in werklikheid wel die Nazi’s teengestaan het. Hulle was baie suksesvol daarmee, en linkses is in ʼn mate vandag nog goed daarmee om enige vyand as ʼn fascis uit te beeld. Teen die einde van die oorlog gaan dit voort, net meer brutaal. Daar is ʼn goeie Franse boek gepubliseer in die 1960’s deur Paul Sérant getiteld “Les vaincus de la libération” waarin hy gedetailleerde syfers gee. Letterlik honderde duisende word vermoor in Frankryk, en in Italië ook, en tog kom hulle uit die oorlog met ʼn baie goeie beeld, terwyl hulle die ergste tweegesigte was en nie naastenby die beste weerstandsbeweging in enige land tydens die oorlog nie. Tog word hulle vereer en neem beheer van vele linkse koalisies.

Hulle sou aanhou om die goeie beeld te hê tot om en by die 1950’s toe daar eers weer sterker bewegings in die teenoorgestelde rigting kom in Europese lande. Christelike konserwatiewe tipe partye begin om verkiesings te wen en daar is ʼn definitiewe politieke verskuiwing na regs. Die kommunistiese partye begin om gesien te word as onderdrukkend en word geassosieer met Stalin, wie teen die tyd nie meer as ʼn held gesien word nie. In hierdie tyd ontwikkel daar ʼn teorie wat beslis geanaliseer moet word en een waarmee ek groot geword het en waarin baie mense glo. Dit is die idee dat Nazisme, kommunisme en Fascisme, totalitêre bewegings verteenwoordig wat almal baie dieselfde is en dat die stryd teen die Nazi’s op ʼn natuurlike wyse moes oorloop in ʼn stryd teen die Bolsjewiste en dat die VSA natuurlik die goeie ouens is.

Die teorie van totalitarisme is deur verskeie mense ontwikkel, Franz Borkenau reeds in die 1930’s, Karl Wittfogel in die 1940’s. Dan ook ʼn gewilde boek deur Brzezinski en Carl Friedrich, getiteld: “Totalitarian Dictatorship and Autocracy”. Daarin word die argument voorgelê dat totalitêre regerings kwalitatief verskil van demokratiese en outoritêre regerings omrede totalitêre regerings alles beheer waar hulle oorneem en intimidasie gebruik as ʼn metode van beheer. Deur realiteit te verwrong met een of ander ideologie wat empiriese nonsens is maar wat hulle op die bevolking afdwing as ʼn instrument van beheer. Met outoritêre regerings bedoel hulle onderontwikkelde state in primitiewe of landelike wêrelddele voor modernisasie, want as modernisering plaasvind ontwikkel middelklasse met ʼn sterk dryf na parlementêre demokratiese institusies. Hulle glo dat totalitêre regerings aan die ander kant nêrens het om heen te verander of evoleer nie omrede hulle so “totaal” is en dus slegs met geweld vernietig kan word.

Wanneer ons hierdie argumente hoor is daar niks op die oog af verkeerd daarmee nie. Ons praat van links en regs in politiek, maar ons bedoel nie Naziïsme aan die een kant en kommunisme aan die ander nie. Die twee is baie naby aan mekaar, en as Hitler en Stalin twee pole van ʼn politieke spektrum is, dan is dit gewis nie ʼn spektrum waarvan jy wil deel wees nie. Waarom is hierdie model, buiten die ergste dae van die koue oorlog, dan nooit werklik geglo nie? Ook is daar nooit werklik gepoog om dit reg of verkeerd te bewys nie.

Meeste denkers in Amerika koop nie die teorie nie, maar ondersoek dit ook nie, en in my opinie is dit omrede die meeste van hulle van die kommuniste hou. Hulle wil kommunisme op geen manier vergelyk met Hitler of selfs Mussolini nie. Ek onthou as ʼn jong assistent professor was daar nooit gepraat van kommunisme nie, dit was Stalinisme, en Stalinisme was nooit vir hulle so erg soos fascisme nie, al het Mussolini tien mense vermoor en Stalin nader aan vyftig miljoen. Daar was altyd ʼn meer gunstige verwysing na Stalinisme, selfs met Franco van Spanje, en hy was selfs erger as Hitler.

Die rede is dat die meeste Amerikaanse intellektueles dink die manipulerende liberale sosialisme waarin hulle glo, en dit waarin die kommuniste glo, eintlik een en dieselfde ding is, en daar dus geen rede bestaan om anomalieë uit te wys nie. Hulle het tien teen een gedink McCarthy en Nixon was ten minste net so erg as Hitler, en mens sien hierdie tipe wêreldbeskouing op CNN en die sogenaamde geskiedenis kanaal op televisie waar perspektief en gelyke behandeling bloot nie bestaan nie. Ons praat van Nazi’s, maar hulle het hulself natuurlik nooit Nazi’s genoem nie, maar nasionaal-sosialiste omrede hulle sosialiste was, wat hedendaagse neo-liberale en progressiewe’s baie ongemaklik laat voel.

Die totalitêre argument is foutief vanuit die staanspoor, nie elke totalitêre regering tree op soos die model impliseer nie. Die Sowjetunie het nie platgeval omdat dit militêr binnegeval is nie, wat gebeur het is dat dit beter begin raak het in stadia na Stalin en finaal ingegee het omrede dit onprakties was. Toe Mikhail Gorbachev die vrees uit die stelsel haal, val dit plat. Die Chinese wat steeds ʼn totalitêre staat het, het met betrekking tot persoonlike vryheid baie beter geraak as wat dit onder Mao was.

Dit is ook debatteerbaar hoe magtig hierdie totalitêre state was. Selfs Mao se China het nie werklik beheer oor al die mense in die land uitgeoefen nie. Hulle kon eenvoudig nie, dis ʼn massiewe groot land en baie mense het bloot normaal handel gedryf en nooit enige belasting betaal nie. Baie doen dit nou nog en mens kan met die argumente aanhou en aanhou. Dis sekerlik brutaal, onplesierig en jy wil nie daar woon nie, maar dit is nie ʼn totalitêre staat volgens die gegewe model nie en dit hoef ook nie militêr omvergewerp te word om te verander nie.

Die probleem met die totalitêre-model is dat dit ʼn skepping van liberale-demokratiese linkses is om eienskappe van militante fasciste oor te dra aan die Sowjetunie en ander om as ʼn soort “gogga maak vir baba bang” te dien. Dis nie dat die Nazi’s die kommuniste naboots wat hulle ontstig of woedend laat nie, wat wel histories waar is. Hitler se model het ontsettend baie Stalinisme geabsorbeer, maar in hulle paradigma is fascisme die hoogtepunt van boosheid. Hulle het Rusland en China veroordeel omdat hulle soos fasciste optree, hulle haat nie kommunisme opsigself nie. Dit help ook om die aandag af te trek van hoe baie fascistiese modelle die liberale-demokrate self absorbeer met hul idees van staatsinmenging in die ekonomie sowel as die sosiale samelewing. Dit alles lei tot ʼn soort misverstand, ʼn probleem wat selfs Hans-Hermann Hoppe ʼn paar jaar terug ondervind het toe hy in referaat verklaar dat Duitsland onder Hitler nie so totalitêr was as Rusland onder Stalin nie. Hy is natuurlik korrek, maar sy werk was onmiddellik ontrek deur die universiteit. Ek het geen liefde vir Naziïsme nie, maar die staat het geensins die totalitêre beheer oor opinies en idees van mense gehad as wat die staat en die media vandag het nie.

Soveel as wat Mussolini aan sy staat sou wou dink as totalitêr, was dit nie. Dit was ʼn redelike swak staat. Mussolini het self eenkeer spottende verklaar dat dit baie maklik is om oor Italianers te regeer, want dit maak nie eintlik ʼn verskil nie. Hulle marsjeer met uniforms en sing liedjies, maar die mark is redelik vry. Hulle het net nie die vermoë gehad om in die ekonomie in te meng soos sentrale state vandag het nie. Was Franco se Spanje dan totalitêr? Weereens nee. Dit verteenwoordig meer ʼn tradisionele militêre diktatorskap en pas nie by die totalitêre model nie, ek vind wel hul argument rondom outoritêre state meer aanvaarbaar.

Duitsland is nog erger as Frankryk as dit by die beperking en vervolging teen politieke inkorrekte opinies kom. Hitler het mense vermoor, hy was ʼn brutale krimineel, maar as jy praat van totalitarisme, moet jy ook praat i.t.v. beheer oor gedagtes en opinies, en die Nazi’s het nie die morele ordening van mense probeer herskep soos die kommuniste nie. Linkses is net altyd meer totalitêr. Die totalitêre model neem dit eenvoudig nie in ag nie. Daar is ʼn redelike vrye ekonomie in Wes-Europa vandag, maar veel meer gedragsbeherende maatreëls deur die staat.

Jare gelede het ek byvoorbeeld ingeskryf op ʼn regse Duitse koerant, “Junge Freiheit. ʼn Baie gematigde publikasie, en ek het aanvanklik gehoop hulle was heelwat meer regs, nieteenstaande het hulle een of twee artikels geplaas wat immigrasie vanaf Derdewêreld se lande ligweg kritiseer. Hulle was daarna op ʼn tipe swartlys van rassiste geplaas vir sewe jaar en die bank waar hulle sake doen het onmiddellik hul rekening gesluit. Die staat hoef jou gevolglik nie in ʼn konsentrasiekamp toe te sluit nie, maar ruïneer jou reputasie en gooi jou toe in hofsake waarin jy maklik bankrot kan speel. In Frankryk is dit algemeen, in een geval moes ʼn kommentator ses maande tronkstraf uitdien na kritiek op immigrasie, en Holocaust ontkenning is natuurlik ʼn kriminele oortreding. ʼn Historikus is in Frankryk as voorbeeld deur die staat hof toe gesleep omrede hy van mening was dat die tien duisend Pole wat in die Katyn woud vermoor was, deur kommunistiese Russe en nie deur Duitsers vermoor was nie, en hy moes verbete veg om tronkstraf vry te spring.

Liberaal-demokratiese state het in werklikheid die ware erfgename van fascisme geword en deur sosialistiese programme soos die “new deal” en “the great society” is daar magte losgelaat wat oor tyd onafwendbaar tot ʼn totalitêre staat moet lei. Die staat beheer onderwys en mense wat vir die staat gaan werk, glo reeds dat demokratiese sosialisme onafwendbaar en ideologies korrek is, en dis alles faktore wat in mekaar in voed. Amerika het alreeds ʼn duisend keer meer rasgebaseerde wetgewing op hul boeke as waarvan Hitler kon droom. Selfs al was anti-Semitisme pandemies in Duitsland, kan enigeen werklik dink die konsentrasie kampe kon plaasvind sonder die propaganda en mag van die sentrale staat?

Vandag huldig die VSA homself die reg om te besluit watter staat totalitêr is en watter nie, en hy doen dit gewoonlik tot sy eie voordeel. Amerika het ʼn spieëlbeeld punt bereik van die stryd tussen Trotsky en Stalin, waar Trotsky kommunisme geweldadiglik die wêreld wou indra terwyl Stalin dit tuis wou perfeksioneer. In die VSA wil die Demokratiese party, demokratiese-sosialisme tuis perfeksioneer terwyl die Republikeinse party dit as reeds perfek beskou en militant op die wêreld wil afdwing, terwyl burgers se regte stelselmatig krimp en belasting aanspreeklikheid stelselmatig groei.

Advertisements

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Fascisme, Geskiedenis, Opinie and tagged , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.