Die gebreekte venster denkfout

Stukkende venster denkfout

(Deur Henry Hazlitt)

Die Gebreekte Venster

Kom ons begin met die eenvoudigste illustrasie moontlik en boots Bastiat na en kies ʼn gebreekte glasruit.

Stel jou voor, ʼn jong straatboef gooi ʼn baksteen deur die venster van ʼn bakker se winkel. Die winkeleienaar is boos en probeer hom agterna sit, maar die seun is klaar weg. ʼn Skare drom saam en staar na die gat in die venster en die stukke glas wat oor die brood en pasteie gesaai lê met stille tevredenheid. Naderhand voel die skare ʼn behoefte om filosofies te raak. Party van die bystanders is oortuig daarvan om mekaar, of die bakker daaraan te herinner dat teenspoed tog ʼn ligter sy het. ʼn Gebeurtenis soos die sal gevolglik verseker dat een of ander glasmaker besigheid ontvang. Soos hulle daaraan begin dink, begin hulle ook op hierdie konsep uitbrei. Hoeveel kos ʼn nuwe ruit? Vyfhonderd rand? Dis ʼn groot som geld en as vensters dan nooit breek nie, wat sal per slot van rekening met die glasbesigheid gebeur? Die saak is natuurlik eindeloos, die glasmaker sal R 500 meer hê om te spandeer by ander handelaars, hulle sal dan weer R 500 meer hê om by nog ander handelaars te spandeer ens tot in oneindigheid in. Hierdie gebreekte venster sal voortgaan om geld en werksgeleenthede te voorsien in immer verbredende sirkels. Die logiese gevolgtrekking wat die skare bereik, is dat die straatboef wat die baksteen gegooi het nie ʼn bedreiging is nie, maar eerder ʼn publieke weldoener.

Laat ons nou die saak bekyk vanuit ʼn ander oogpunt. Die skare is ten minste reg met hul eerste gevolgtrekking. Hierdie klein gebeurtenis van vandalisme sal in die eerste instansie meer besigheid vir een of ander glasmaker beteken. Die glasmaker sal nie minder gelukkig wees om van die insident te hoor as wat ʼn begrafnisondernemer sal wees om van ʼn afsterwe te hoor nie. Die winkeleienaar sal R 500 armer wees wat hy van plan was om op ʼn nuwe pak klere te spandeer. Nou dat hy ʼn venster moet vervang sal hy sonder die pak klere moet klaarkom (of enige ander gelykstaande behoefte of luuksheid). In stede daarvan dat hy ʼn venster en R 500 het, het hy nou slegs ʼn venster. As hy van plan was om ʼn pak klere dieselfde middag te koop, moet hy nou tevrede wees met net ʼn venster en geen pak klere nie. As ons aan hom dink as deel van die gemeenskap het die gemeenskap ʼn nuwe pak klere verloor wat kon ontstaan het, en is hulle nou ook net soveel armer.

Die glasmaker se besigheidsaanwins is die kleremaker se verlies. Geen nuwe “werkskepping” het plaasgevind nie. Die mense in die skare het slegs aan twee partye van die transaksie gedink, nl. die bakker en die glasmaker. Hulle het van die potensiële derde party wat betrokke kon wees, nl. die kleremaker vergeet. Hulle het hom juis vergeet omrede hy nou nie meer in die toneel is nie. Die nuwe venster gaan wel in die volgende dag of twee gesien word, maar hulle sal nooit die ekstra pak klere sien nie, omrede dit nooit gemaak sal word nie. Hulle sien slegs wat hulle met die oog kan waarneem.

 Die Seën van Vernietiging

Ons het die elementêre denkfout van die gebreekte venster voltooi. Enige iemand, of so sou mens dink, sal dit kan vermy na ʼn paar oomblikke se nabetragting. Tog is die denkfout van die gebreekte venster een van die mees volhardende denkfoute in die geskiedenis van ekonomie. Dit is meer algemeen nou as wat dit ooit in die verlede was. Dit word gereeld herbevestig deur groot industriële leiers, deur sakekamers, deur (arbeids) unie leiers, redakteurs, koerantrubriekskrywers en radiokommentators, ook deur geleerde statistiekkundiges wat almal van die mees verfynde tegnieke gebruik maak en selfs deur professore in ekonomie verbonde aan ons beste universiteite. Op hul verskeie maniere brei hulle uit oor die voordele van vernietiging.

Alhoewel meeste van hulle daarvan sal terugdeins om te sê dat daar netto voordele in klein dade van vernietiging is, sien hulle amper eindelose voordele in enorme dade van verwoesting. Hulle vertel ons hoeveel beter af ons ekonomies is in tye van oorlog as wat ons is in tye van vrede. Hulle sien in die nagevolge van oorlog, “wonderwerke van produksie”. Hulle sien ʼn wêreld wat floreer na die afloop van die Tweede wêreldoorlog a.g.v. ʼn massiewe “opgehoopte” of “geakkumuleerde” aanvraag. In Europa tel hulle vreugdevol die huise en hele stede wat tot op die vloer platgeslaan is en wat “vervang moet word”. In Amerika tel hulle die huise wat nie gedurende die oorlog gebou kon word nie, die nylon sykouse wat nie verskaf kon word nie, die afgeleefde motors en die verouderde radio’s en yskaste. Gesamentlik kom hulle met ontsaglike groot totale na vore.

Dit is in werklikheid slegs ons ou vriend – die gebreekte venster denkfout – in ʼn nuwe baadjie getoë en skaalgewys verby herkenning vergroot. Hierdie keer word dit ondersteun deur ʼn hele rits verwante denkfoute. Behoeftes word met aanvraag verwar. Hoe meer oorlog verwoes, hoe meer verarm dit en hoe groter is die na-oorlogse behoeftes. Ongetwyfeld ja! Maar behoeftes is nie aanvraag nie. Effektiewe ekonomiese aanvraag vereis nie net bloot behoefte nie, maar ook korrelerende koopkrag. Die behoeftes van China sal na die afloop van die Tweede Wêreldoorlog onvergelykbaar groter wees as die behoeftes van Amerika. Maar sy koopkrag, en daarom die “nuwe besigheid” wat dit kan stimuleer, onvergelykbaar kleiner.

Verby hierdie punt is daar nog ʼn verdere denkfout wat die “gebreekte venster-iete” gewoonlik aangryp. Hulle dink aan “koopkrag” slegs in terme van geld. Geldnote kan onophoudelik deur drukperse vervaardig word. Soos wat hier geskryf word, is die besigheid van geld-druk die wêreld se grootste industrie, as die produk gemeet word in monetêre terme. Hoe meer geld op hierdie manier vervaardig word, hoe meer val die waarde van enige gegewe eenheid van geld. Hierdie waarde-afname kan gemeet word in stygende pryse van kommoditeite. Meeste mense is so vas in die denkwyse om hulle welvaart en inkomste te sien i.t.v geld, dat hulle hulself as beter af sien soos wat hierdie monetêre totale styg ten spyte van die feit dat hulle, (i.t.v. goedere) minder het en minder kan koop. Meeste van die “goeie” ekonomiese resultate wat mense toeskryf aan oorlog is eintlik te danke aan oorlogsinflasie. Die ekwivalent daarvan kan net so maklik in vredestyd geproduseer word. Ons sal later weer terugkom na hierdie monetêre illusie.

Bygesê daar is ʼn halwe waarheid in die “opgehoopte” aanvraag denkfout, net soos daar ook een was in die gebreekte venster denkfout. Die gebreekte venster het meer besigheid ingebring vir die glasmaker. Die verwoesting van oorlog sal meer besigheid inbring vir die produsente van sekere goedere. Die vernietiging van huise en stede genereer meer besigheid vir die bou- en konstruksie industrieë. Die onvermoë om motors, radio’s en yskaste te produseer gedurende die oorlog bring ʼn kumulatiewe na-oorlogse aanvraag vir hierdie spesifieke produkte mee.

Vir die meeste mense sal hierdie situasie blyk om ʼn toename in die totale vraag te wees en in terme van geld met ʼn laer koopkrag mag dit dalk wel so wees. Wat in werklikheid plaasvind is ʼn verskuiwing van aanvraag vir hierdie spesifieke produkte vanaf ander produkte. Die bevolking van Europa sal (in die heropbou na die Tweede wêreldoorlog) meer nuwe huise bou as wat hulle andersins sou – omdat hulle moet. Wanneer hulle egter meer huise bou gaan hulle net soveel teengewig mannekrag en produktiwiteitskapasiteit verlore vir alle ander industrieë. Wanneer hulle daardie huise koop gaan hulle net soveel minder koopkrag hê vir enige ander produkte. Waar ook al besigheid in een rigting toeneem, moet dit (behalwe waar produktiewe energie in die algemeen gestimuleer word deur begeerte of dringendheid) ooreenstemmend in ʼn ander rigting afneem.

Die oorlog sal die rigting van inspanning in die naoorlogse tydperk verander; dit sal die balans van industrieë verander; dit sal die struktuur van industrieë verander. Die verandering sal ook met tyd nagevolge hê. Daar sal weereens ʼn verdeling van aanvraag wees nadat die geakkumuleerde behoeftes vir huise en ander duursame goedere versadig is. Hierdie tydelik bevoordeelde industrieë sal dan weer relatief moet afneem om plek te maak vir die groei van ander industrieë wat ander behoeftes bevredig.

Dit is belangrik om ingedagte te hou dat daar nie net ʼn verskil in die patroon van na-oorlogse vraag teenoor die voor-oorlogse vraag sal wees nie, maar ook ʼn afwaartse neiging. Aanvraag sal nie net van een kommoditeit na ʼn ander verskuif word nie. In meeste lande sal dit as ʼn totale hoeveelheid krimp.

Dit is onafwendbaar as ons dit in ag neem dat vraag en aanbod twee kante van dieselfde muntstuk is, dieselfde ding gesien vanuit ʼn ander perspektief. Aanbod skep vraag juis omrede dit aan die einde van die dag ook vraag is. Die aanbod van ʼn produk wat mense vervaardig, is al wat die mense het om aan te bied in ruil vir die dinge wat hulle wil hê. In hierdie sin is die boer se aanbod van graan sy vorm van vraag op motors en ander goedere. Die aanbod van motors is die vorm van vraag deur die mense in die motorindustrie vir graan en ander goedere. Hierdie is als inherent in die moderne arbeidsverdeling asook in ʼn ruilhandel ekonomie.

Hierdie fundamentele feit is verberg vir die meeste mense(insluitende sekere sogenaamde briljante ekonome) as gevolg van komplikasies soos byvoorbeeld loonbetalings en die indirekte vorme van omtrent alle moderne ruil transaksies wat deur die medium van geld gemaak word. Alhoewel John Stuart Mill en ander klassieke skrywers somtyds nie daarin geslaag het om genoegsame waarde te heg aan komplekse nagevolge wat ontstaan as gevolg van die gebruik van geld nie, het hulle tog die onderliggende realiteite, wat deur die monetêre sluier verbloem word, gesien. Tot ʼn mate was hulle beter ingelig as die menigte van hul hedendaagse kritici wat dronkgeslaan word deur geld eerder as om daardeur begelei te word. Inflasie – die blote uitreiking van meer geld met hoër lone en pryse as ʼn nagevolg – mag dalk lyk na die skepping van meer aanvraag. Maar in terme van die ware vervaardiging en uitruil van produkte, is dit nie so nie. Tog kan ʼn val in na-oorlogse aanvraag verbloem word (van ʼn menigte mense) deur die illusie wat voortspruit uit hoër lone in geld terme wat meer as net uitgekanselleer word deur hoër pryse.

Ter herhaling sal die na-oorlogse vraag in die meeste lande in absolute terme afneem in vergelyking met die voor-oorlogse vraag omrede die na-oorlogse aanbod sal krimp. Dit behoort voor die hand-liggend te wees in Duitsland of Japan, waar ʼn magdom stede tot op die grond platgeslaan was. Die punt is duidelik genoeg wanneer ons die geval meer ekstreem maak: veronderstel Engeland was meer benadeel as die mate waartoe sy was deur haar deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Bykomend was haar groot stede en fabrieke verwoes en amper al haar opgehoopte kapitaal en verbruikersgoedere vernietig sodat haar burgers gereduseer was tot die ekonomiese vlak van die Chinese. Min mense sou dan praat van die groot opgehoopte of geakkumuleerde aanvraag wat geskep was deur die oorlog. Dit sou duidelik wees dat koopkrag vernietig was in dieselfde mate as wat produktiewe kapasiteit vernietig was. ʼn Monetêre hiperinflasie wat pryse ʼn duisend keer sal laat styg, mag dalk die “nasionale inkomste” syfers in monetêre terme hoër maak as voor die oorlog, maar mense wat hierdeur gefnuik word om hulself te verbeel dat hulle meer welaf is as voor die oorlog is egter buite die bereik van rasionele argumente. Tog word dieselfde argumente toegepas op ʼn klein oorlogsvernietiging as op ʼn oorweldigende een.

Dit is waar dat daar sekere kompenserende faktore is. Tegnologiese ontdekkings en uitvindings gedurende ʼn oorlog mag byvoorbeeld op ʼn spesifieke gegewe tyd individuele of nasionale produktiwiteit vermeerder. Die vernietiging van ʼn oorlog sal na oorlogse aanvraag kanaliseer van sekere industrieë af na ander. ʼn Sekere aantal mense mag ook voortgaan om vir altyd gefnuik te word aangaande hul ware ekonomiese welvaart deur stygende lone en pryse wat geskep word deur ʼn oormaat van gedrukte geld. Maar die geloof dat ware vooruitgang deur ʼn “vervangingsaanvraag” meegebring kan word vir goedere wat vernietig of nie vervaardig is tydens ʼn oorlog nie is nogtans ʼn tasbare denkfout.

______________________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 2 en 3 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek “Ekonomie in Een Les” gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Opsomming(3min):

Hoofstuk 4

Hoofstuk 5

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.