Libertariese Anargisme: Antwoorde op Tien Besware

( Prof. Roderick T. Long )

 Ek wil ʼn paar van die vernaamste besware teen Libertariese anargisme bespreek en poog om dit te beantwoord. Voordat ek begin met die beantwoording van besware, is daar geen punt daarin om besware te antwoord sonder om positiewe redes te gee waarom jy daardie standpunt in die eerste plek huldig nie. Dus wil ek net kortliks beskryf wat ek dink die positiewe redes daarvoor is voor ek die besware beantwoord.

Die redes vir Libertariese Anargisme

Die Probleme met Dwang Monopolie

Wat is fout met ʼn skoen monopolie? Veronderstel dat ek en my bende die enigstes is wat wettiglik toegelaat word om skoene te vervaardig en te verkoop – my bende en enigiemand anders wat ek magtig, maar niemand anders nie. Wat is fout hiermee?

In die Eerste plek, van ʼn morele oogpunt, is die vraag: hoekom ons? Wat is so spesiaal aan my bende? Jy kan wonder waar ek en my bende die vermetelheid kry om hierdie reg vir onsself toe te eien. Om die alleenreg te hê om iets alledaags te mag maak en te verkoop, om ʼn diens te verskaf wat niemand anders mag aanbied nie. Sover jy weet, is ek net nog ʼn stoflike mens, naastenby soos jyself, in ʼn meer of mindere mate. Vanuit ʼn morele oogpunt het ek gevolglik nie meer reg om dit te doen as enigiemand anders nie.

In die Tweede plek moet mens van ʼn pragmatiese, konsekwente oogpunt na die kwessie kyk– wat is die waarskynlike gevolge daarvan dat ek en my bende ʼn monopolie op skoene het? Eerstens is daar aansporings probleme. As ek die enigste persoon is wat die reg het om skoene te maak en te verkoop, gaan jy waarskynlik nie die skoene baie goedkoop by my kry nie. Ek kan soveel vra as wat ek wil, solank as wat ek dit nie onbekostigbaar maak sodat jy besluit om sonder skoene klaar te kom nie. So lank as wat jy bereid en in staat is om te betaal, sal ek jou die hoogste prys vra, wat ek uit jou kan uitkry – want daar is geen mededinging nie, jy het nêrens anders om heen te gaan nie. Jy moet waarskynlik ook nie verwag dat die skoene van ʼn besonderse hoë gehalte sal wees nie, want solank dit bruikbaar is sal jy dit nog steeds verkies bo kaalvoet rondloop. Tweedens, benewens die feit dat die skoene duur gaan wees en nie van hoë gehalte nie, is daar ook die feit dat my posisie (as skoen monopolis- wat alleenreg het om skoene te maak en te verkoop) my ʼn sekere invloed oor jou gee. Veronderstel dat ek nie van jou hou nie. Gestel ek vind jou aanstootlik of ek is kwaad vir jou. Dan kry jy dalk net nie skoene vir ʼn rukkie nie, daar is dus ook misbruik van mag kwessies.

Daar is ook ander kwessies behalwe die aansporings probleem. Veronderstel ek is ʼn perfekte engeltjie en ek maak vir jou die beste skoene wat ek kan, en ek vra die laagste prys moontlik, en ek misbruik nie my mag nie. Gestel ek is geheel en al betroubaar. Ek is ʼn prins onder mense (nie in die Machiavelli sin nie). Daar is nog steeds ʼn probleem: hoe weet ek sonder twyfel dat ek die beste skoene vervaardig? Daar is immers geen kompetisie nie. Ek kan mense seker laat stem of ʼn meningsopname doen om te probeer uitvind watter soort skoene hulle wil hê, maar daar is baie verskillende maniere waarop ek skoene kan maak. Sommige van hulle is duurder, en ander weer goedkoper. Gegewe dat daar geen mark is wat pryse bepaal nie en ook niks in terme van wins en verlies analise nie, hoe sal ek weet? Ek moet maar net raai. Selfs al doen ek my beste met kwantiteit en kwaliteit, is dit dalk nie die beste geskikte besluite nie en voldoen dit nie aan die voorkeure van die verbruiker nie, en ek vind dit moeilik om hierdie dinge te bepaal.

Regering is ʼn Dwang Monopolie

Bogenoemde is dus die redes om nie ʼn monopolie op die vervaardiging en verkoop van skoene te hê nie. Prima facie ten minste, lyk dit asof dit alles goeie redes is waarom geeneen ʼn monopolie in die verskaffing van dienste van sekuriteit en regte moet hê nie, en die dinge wat ons breedweg kan noem – die onderneming van regering en regte. ʼn Morele vraag wat ons onsself kan afvra is: waarom het een bende of groep mense, die reg om die enigstes te wees wat in ʼn territoriale gebied sekere dienste (regsdienste) of sekere soorte dinge te mag afdwing (prohibisie)? Daar is ook nog die ekonomiese vrae: wat gaan die aansporings wees as dit ʼn monopolie is? Dit lyk waarskynlik asof hulle met ʼn gevange kliëntebasis hoër pryse gaan hef as wat hulle andersins sou en ook laer kwaliteit bied. Staatsburokrate is aan almal bekend in Moskou, Washington en tot selfs in Afrika. Daar is soms ʼn titseltjie magsmisbruik en ʼn klein bietjie korrupsie, maar veronderstel ons kom verby die bestuursprobleme en kry net ʼn klomp heilige tipes in die regering. Die vraag staan steeds :Hoe weet hulle dat die besonderse wyse waarop hulle regsdienste verskaf, sowel as die besonderse mengsel van regsdienste wat hulle aanbied, en die besonderse manier waarop hulle dit aanbied, dan nou eintlik die beste manier is? Politici en staatsamptenare kan raai wat sal werk, en dis uiteindelik presies wat hulle doen, raai. Aangesien daar geen mededinging is nie het hulle geen manier om te weet of dit wat hulle doen die mees suksesvolste metode is nie.

Die doel van hierdie oorwegings is om die onus van die teendeel oor te laat aan die teenstander om sy besware teen kompeterende regstelsels te opper.

Tien Besware Teen Libertariese Anargisme

(1) Regering is nie ʼn Dwang Monopolie nie.

Een beswaar wat soms geopper word, is nie soseer ʼn beswaar m.b.t. anargie nie, maar ʼn beswaar teen die morele argument vir anargisme:

Dit is nie regtig ʼn dwang monopolie nie. Dit is nie asof mense nie hiertoe ingestem het nie, want in ʼn sekere sin het mense ingestem tot die bestaande stelsel – deur te lewe binne die grense van ʼn bepaalde gebied, deur die voordele wat die regering bied te aanvaar, en so meer, het hulle tog daartoe ingestem. Net soos wanneer jy by ʼn restaurant inloop en ʼn koppie koffie bestel. Jy hoef nie uitdruklik te sê dat jy instem om daarvoor te betaal nie, dit word net so aanvaar en jou instemming om daarvoor te betaal is voor die hand liggend. As jy binne die grondgebied van ʼn spesifieke staat bly en jy aanvaar die voordele van polisie beskerming, staatsskole en gebruik van paaie ens, dan het jy implisiete(ongesproke) ingestem om by hulle voorskrifte te hou.

Let egter op dat selfs al werk hierdie argument, los dit nie die pragmatiese vraag of dit die beste moontlike stelsel is, op nie. Daar is egter iets oneerliks omtrent hierdie argument. Dit is seker waar dat as ek iemand se eiendom betree, lyk dit of daar ʼn verwagting is dat so lank as wat ek op hul eiendom vertoef, ek by hul reëls moet hou. As ek nie hulle reëls wil gehoorsaam nie, moet ek loop.

Logiese Voorbeeld(1) – Jou buurman nooi jou oor na sy huis, en as jy binne kom sê hy, “Jy moet die snaakse hoed met die klokkie dra.” En jy sê: “Wat is dit?”. En hy sê, “Dis hoe dit in my huis werk. Almal moet ʼn snaakse hoed dra, dit is my reëls.” Jy kan nie sê, “Ek bly net hier en ek sal nie die hoed dra nie“. Dit is sy huis en reëls – dit mag dalk dom reëls wees, maar hy kan dit doen.

Logiese Voorbeeld(2) – Veronderstel jy sit by die huis en aandete eet en jou buurman klop aan jou deur. Jy maak oop en hy nooi homself in en sê, “Jy moet die snaakse hoed met die klokkie dra.” En jy sê: “Hoekom?” En hy sê: “Wel, jy het langs my ingetrek, nie waar nie? Daardeur het jy soort van ingestem.” Natuurlik sal jy sê, “Wag ʼn bietjie, wanneer het ek dit gedoen?”

Die persoon wat die argument maak het egter reeds die veronderstelling aanvaar dat die regering ʼn legitieme jurisdiksie oor hierdie grondgebied het. Daarom sal hulle sê dat almal in hierdie territoriale gebied ingestem het tot die heersende reëls. Hulle veronderstel die juiste ding wat hulle probeer bewys – naamlik dat die regering se jurisdiksie oor die gebied legitiem is. Indien dit nie is nie, dan is die regering net nog ʼn groep mense wat in hierdie breë geografiese gebied bly. Elkeen besit sy lewe en eiendom, en nie die staat nie – ten minste het niemand my nog die argument gegee dat alles in werklikheid ʼn vergunning vanaf die staat is nie. Die feit dat ons dus leef in hierdie land, beteken ons leef in ʼn bepaalde geografiese gebied waarop hulle sekere pretensies het – maar die vraag is of daardie pretensies legitiem is. Jy kan dit nie aanvaar of as aanname gebruik, as ʼn metode om dit te bewys nie.

ʼn Verdere probleem rondom hierdie ongeskrewe sosiale-kontrak argumente, is dat dit nooit duidelik is wat die kontrak presies behels nie. In die geval van kos bestel in ’n restaurant weet almal wat die ooreenkoms is. Jy kan dus laat loop met ʼn argument van ongesproke toestemming, maar niemand gaan voorstel dat jy ʼn huis kan koop op dieselfde manier nie. As dit ʼn ingewikkelde kontrak is, sal niemand tevrede wees met ʼn argument dat jy sopas soort van toestemming gegee het deur jou kop op ‘n sekere punt te knik nie. Jy moet uitvind wat dit is wat werklik in die kontrak is; m.a.w. presies waartoe stem jy in. Dit is onduidelik as niemand presies weet wat die besonderhede van die kontrak is nie. Dit is gevolglik nie ʼn oortuigende argument nie.

(2) Hobbes: Regering is nodig vir Samewerking

Die bekendste argument teen anargisme is waarskynlik die argument wat Hobbes maak. Dit behels die volgende:

Menslike samewerking, of sosiale samewerking, vereis ‘n struktuur van regte in die agtergrond. Die rede waarom ons mekaar kan vertrou om saam te werk is omdat ons weet dat daar wetlike magte is wat ons sal straf as ons mekaar se regte skend. Ek weet dat hulle my sal straf as ek jou regte skend, maar hulle sal jou ook straf as jy my regte skend. Met die gevolg dat ek jou kan vertrou want ek hoef nie op jou persoonlike karakter te vertrou nie. Ek hoef net te vertrou op die feit dat jy geïntimideer word deur die wet. Sosiale samewerking vereis dus hierdie wetlike raamwerk gerugsteun deur die mag van die staat.

Hobbes maak egter verskeie aannames gelyktydig. Eerstens veronderstel hy dat daar geen maatskaplike samewerking kan ontstaan sonder ʼn wet nie. Tweedens veronderstel hy dat daar geensins ʼn wetlike raamwerk kan wees tensy dit afgedwing word deur fisiese geweld nie. Derdens veronderstel hy dat jy nie ʼn wetlike raamwerk kan hê wat fisies afgedwing word tensy dit gedoen word deur ‘n monopolistiese staat nie. Hierdie aannames is egter almal vals.

1) Samewerking kan en sal ontstaan selfs sonder enige wette, miskien minder doeltreffend as met die wet, maar dit sal ontstaan. Daar is byvoorbeeld Robert Ellickson se briljante boek “Order Without Law”, waar hy verduidelik hoe bure daarin slaag om hul geskille op te los. Hy gee allerhande interessante voorbeelde, soos wat gebeur as ʼn boer se beeste op ʼn ander boer se grond wei en hoe hulle dit oplos deur ooreenkomste en onderlinge gebruike en tradisies, ens. Daar is geen wetlike raamwerk vir die oplossing van die geskille nie, maar hulle doen dit. Miskien is dit nie voldoende vir ʼn komplekse ekonomie nie, maar dit dui verseker aan dat samewerking bewerkstellig kan word sonder ʼn wetlike raamwerk.

2) ʼn Wetlike raamwerk kan ook bestaan sonder dat dit gerugsteun word deur geweld, soos die Handelaars Wette van die laat Middeleeue. ʼn Stelsel van kommersiële reg wat gerugsteun was deur dreigemente van boikot. Boikot is nie ʼn daad van geweld nie. Al die handelaars het wederkeurige ooreenkomste gemaak, en as jy nie by die kontrak gehou het nie, kon die hof net vir almal se kennisname publiseer dat die skuldige party nie by sy ooreenkomste hou nie, en dat handelaars dit in ag moet neem as hulle dit oorweeg om ʼn kontrak met die party aan te gaan.

3) Formele regstelsels wat geweld gebruik maar wat nie monopolisties is nie kan ook bestaan. Aangesien Hobbes nie eens hierdie moontlikheid oorweeg nie, gee hy nie regtig ʼn argument teen dit nie. Die geskiedenis van Middeleeuse Ysland dien as ʼn goeie historiese voorbeeld, waar daar geen enkele instelling van afdwingende gesag was nie. Alhoewel daar iets was wat jy dalk ʼn regering kon noem, het dit geen uitvoerende gesag, polisie of soldate gehad nie. Dit het ʼn tipe mededingende hofstelsel gehad en die bekragtiging of afdwinging was op enigeen wat die verantwoordelikheid sou aanvaar en daar was addisionele interne stelsels wat ontwikkel was om geskille hierom te hanteer.

(3) Locke: Drie ongemaklikhede van Anargie

John Locke het in die 18 de eeu geargumenteer dat anargie drie dinge behels wat hy “ongemaklikhede” noem. Locke het geglo dat sosiale samewerking wel kan bestaan onder anargie en was ʼn bietjie meer optimisties as Hobbes. Hy het gedink dat op grond van morele simpatie aan die een kant en self-belang aan die ander kant, samewerking kan bestaan.

Hy het drie probleme voorsien. Die eerste probleem, wat hy voorsien het, was dat daar dan nie ʼn algemene liggaam van regte sal wees wat algemeen bekend is en waartoe almal kan instem en verstaan nie. Mense kan sekere basiese beginsels van Natuurlike reg verstaan, maar hul toepassing en presiese besonderhede sal altyd kontroversieel wees. Selfs libertariërs stem nie oor als saam nie. Hulle kan saamstem oor algemene sake, maar stry altyd met mekaar oor die verskillende fyner punte. Selfs al skep jy dus ʼn gemeenskap van vreedsame, koöperatiewe libertariërs, gaan daar altyd verskille wees oor die besonderhede. Tensy daar ʼn algemene liggaam van wetgewing is wat almal ken en verstaan sodat hulle kan weet wat hul regte is en wat hulle kan en nie kan doen nie– andersins gaan vrye koöperasie nie werk nie.

Tweedens is daar ʼn bekragtiging of handhawings-probleem. Hy het voorsien dat sonder ʼn staat daar nie genoeg verenigde mag sal wees om sosiale samewerking af te dwing nie. Individue wat slegs op hul eie, geregtigheid probeer afdwing, is nie georganiseerd genoeg nie en kan oorrompel word deur ʼn kriminele bende of iets soortgelyks.

Derdens, kan mense nie vertrou word om regters in hul eie sake te wees nie. Hy het voorsien dat as twee mense ʼn meningsverskil het, kan beide dink hul kennis van natuurlik reg is verhewe bo die ander en gaan dit probeer afdwing. Mense is geneig om bevooroordeeld te wees, en hulle gaan heel waarskynlik die interpretasie van die natuurlike reg kies wat hul eie saak bevoordeel. Mense kan nie vertrou word om regters in hul eie regs-sake te wees nie, en daarom moet hulle moreel verplig word om hul geskille na ʼn arbiter te verwys. Miskien in gevalle van nood kan hulle hulself op die plek verdedig, maar vir ander gevalle waar dit nie ʼn kwessie van onmiddellike selfverdediging is nie, moet hulle dit delegeer na ʼn arbiter of derde party – en dit is die staat.

Locke was dus van mening dat bogenoemde die drie probleme is wat jy onder anargie sal hê, en dat jy dit nie sal hê onder ʼn regering of ten minste onder die regte soort regering nie. My mening is dat dit eintlik presies andersom is, dat anargie al drie van hierdie probleme kan oplos, terwyl die staat deur sy inherente natuur dit onmoontlik nie kan oplos nie.

1) Laat ons die eerste saak van universaliteit aanvat, m.a.w. ʼn alombekende liggaam van regte wat mense vooraf ken en op kan staat maak. Kan dit ontstaan in ʼn nie- staatsstelsel? In der waarheid het dit wel ontstaan in die Handelaars Wette van die laat Middel Eeue juis omrede state dit nie voorsien het nie. Een van die dinge wat gehelp het met die opkoms van die Handelaars Wette was dat die individuele lande in Europa elkeen verskillende stelle wette gemaak het wat die transaksies tussen handelaars sou reël. Hulle was almal verskillend en ʼn hof in Frankryk sou nie ʼn kontrak wat in Engeland gemaak is handhaaf ingevolge die wette van Frankryk nie, en vice versa. Die handelaars se vermoë om deel te neem in internasionale handel is dus in die wiele gery deur die feit dat daar nie ʼn eenvormige stelsel van kommersiële reg vir die hele Europa was nie. Die handelaars het toe bymekaar gekom en besluit om hul eie reëls te maak. Hulle het staatswette geïgnoreer waar moontlik en hul eie stelsel geskep en eerbiedig. Dit was dus ʼn geval waar eenvormigheid en voorspelbaarheid deur die vryemark geproduseer was en nie deur die staat nie. Mens kan sien waarom dit nie verrassend is nie. Dit is in die belang van diegene wat ʼn privaatstelsel voorsien om dit eenvormig te maak omrede kliënte voorspelbaarheid nodig het.

Om dieselfde rede kry jy nie driehoekige OTM-kaarte nie. Daar is geen wet wat bepaal dat jy nie ʼn driehoekige OTM kaart mag hê nie, maar as iemand dit gaan probeer bemark gaan dit nie baie gewild wees nie, omrede hulle nie in die bestaande masjiene gaan pas nie. Wanneer mense verskeidenheid nodig het in terme van goedere of dienste, of verskillende stelsels vir verskillende mense, dan produseer die vryemark dit. Tog is daar sekere dinge waar eenvormigheid beter is en dan produseer die mark dit ook. Jou OTM-kaart sal meer bruikbaar wees as almal dieselfde soort kaart gebruik, of ʼn soort wat universeel is, sodat jy dit in al die masjiene kan gebruik. Daarom moet produsente eenvormigheid skep as hulle wil wins maak. Die mark het dus ʼn aansporing om eenvormigheid te voorsien waar dit nodig is op ʼn manier wat die staat nie het nie.

2) Op die vraag van voldoende mag vir die organisering van verdediging – daar is geen rede waarom jy nie onder anargie kan organiseer vir sekuriteit nie. Anargie beteken nie dat elke persoon sy eie skoene moet maak nie, die alternatief vir die regering wat al die skoene verskaf is nie dat elke persoon sy eie skoene maak nie. Net so is die alternatief vir die regering wat al die regs- en sekuriteitsdienste verskaf nie dat elke persoon sy eie onafhanklike polisieman moet word nie. Daar is geen rede waarom mense nie op verskeie maniere georganiseerd kan raak nie. In der waarheid, as jy bekommerd is oor ongenoegsame mag om ʼn aggressor teen te staan, dink daaraan dat ʼn monopolie in die vorm van ʼn regering ʼn baie meer gevaarlike aggressor as net ʼn bende van bandiete of enige ander gevaar. Die staat verenig alle mag van die hele samelewing in net een punt, wat maklik en dikwels misbruik word.

3) Dit is interessant dat Locke se argument om ʼn regter in jou eie saak te wees hier teen hom boemerang, juis omdat dit nie ʼn goeie argument is vir ʼn monopolie nie. Dit is immers ʼn dwaling om te redeneer

  • vanaf: Almal moet hul geskille na ʼn derde party verwys.
  • na: Daar behoort ʼn derde party te wees waarna almal hul geskille verwys.

Dit is dieselfde as om te redeneer

  • vanaf: Almal hou van ten minste een TV-program.
  • na: Daar is ten minste een TV-program.

Dit volg nie logies op mekaar nie en almal kan hul geskille na ʼn derde party verwys sonder dat daar ʼn enkele derde party is waarheen almal hul geskille verwys. Gestel jy het drie mense op ʼn eiland, A en B kan hul geskille na C verwys, en A en C kan hulle geskille na B verwys, en net so weer B en C na A. So jy het nie ʼn monopolie nodig ten einde die idee te beliggaam dat almal hul geskille na ʼn derde party moet verwys nie.

Om aan hierdie beginsel te voldoen het jy meer as net, (nie ʼn regering nodig nie), maar ʼn regering is presies wat nie voldoen aan die beginsel nie. As jy ʼn geskil met die regering het, dra die regering nie die geskil oor na ʼn derde party nie. As jy ʼn geskil met die staat het, sal dit opgelos moet word in ʼn regeringshof (as jy gelukkig is, as jy minder gelukkig is en jy woon onder een van die meer rowwe op-en-wakker regerings, sal jy nooit die binnekant van ʼn hof sien nie). Natuurlik is dit ietwat beter as die regeringsmagte self verdeel is met wigte en teenwigte, ensovoorts. Dit is nader aan derde partye, maar hulle is almal nog steeds deel van dieselfde staats-stelsel, die regters word betaal vanuit belasting geld. Dit is dus nie asof jy nie beter en slegter benaderings tot hierdie beginsel onder verskillende regeringsvorme kry nie. So lank as wat dit egter ‘n monopolistiese stelsel is, bly die aard daarvan wetteloos omrede geskille uiteindelik nooit na ʼn derde party oorgedra word vir beslissing nie.

(4) Ayn Rand: Privaat Sekuriteitsagentskappe sal Oorlog Maak

Die gewildste argument teen Libertariese anargie is waarskynlik die een van Ayn Rand wat lui soos volg:

Wat gebeur as ek dink jy het my regte geskend en jy voel seergemaak en dink ek het jou regte geskend? Beide partye bel hul sekuriteitsagentskappe ter verdediging – waarom sal hulle nie net oorlog maak nie? Daar is geen waarborg dat hulle nie sal oorlog maak nie.

Waarop die antwoord is dat die mens vrye wil het en allerhande soorte mal dinge kan doen. Hulle kan oorlog maak sonder die staat ook, net soos enige president môreoggend ʼn oorlogsverklaring kan uitreik of ʼn atoombom op ʼn ander land gooi. Die vraag is, is dit waarskynlik? Watter een is meer waarskynlik, om ʼn geskil op te los deur middel van geweld, ʼn regering of ʼn privaat-sekuriteitsagentskap? Die verskil is dat privaat ondernemings self die koste sal moet dra as hulle besluit om oorlog te voer, om oorlog te voer is immers duur. As jy ʼn keuse tussen twee maatskappy of agentskappe het, en die een los sy geskille oorwegend met geweld op, en die ander een los sy geskille oorwegend deur arbitrasie op – wat gaan die kliënt se keuse wees?

Dis maklik om ligsinnig daarop aanspraak te maak dat jy die een gaan kies wat geweld gebruik omrede jy ʼn Viking was in jou vorige lewe of omdat dit “cool” klink. Kliënte sal egter na hul maandelikse versekerings premies kyk en moet besin oor hoe verbind hulle werklik is tot enige Viking mentaliteit. Selfs al sou sommige so verbind wees tot die Viking mentaliteit dat hulle bereid is om dit te betaal, gaan dit baie duurder wees en baie van die ander kliënte sal eerder oorskuif na ander firmas wat nie die koste van geweld dra nie, omrede hul versekeringspremies die hoogte in sou skiet. Die gevolg is dat die meer vreedsame sekuriteitsfirma se ledetal sal toeneem soos die meer militante een se ledetal val.

Regerings in teenstelling hiermee het ʼn gevange kliënte basis (aangesien hulle geen ander opsie het nie) en aangesien die kliënte in elk geval belasting betaal, kan ʼn staat aanhou oorlog voer tot alle reserwes uitgeput is en hul beweegredes hoef nooit regverdig te word nie. Die regverdiging van oorlog kan deur ʼn staat bloot in geloof of ideologie verdoesel word. ʼn Staat kan dus die koste van oorlog eksternaliseer, terwyl ʼn privaatsekuriteitsfirma of agentskap dit nie sal kan doen nie.

(5) Robert Bidinotto: Geen Finale Arbiter van Geskille nie

Een algemene beswaar teen anargie – (soos in die werke van Robert Bidinotto – wie ʼn Ayn Rand volgeling was en self ʼn aantal artikels geskryf het teen die idee van anargie), is dat daar onder anargie geen finale arbiter in geskille is nie. Onder ʼn staat is daar ʼn finale arbiter wat op ʼn sekere punt intree en die geskil oplos in een van die partye se guns. Onder anargie, waar daar nie ʼn enkele agentskap is wat die alleenreg het om ʼn geding vir eens en altyd op te los nie, juis omdat daar nie ʼn “finale” arbiter is nie, kan geskille in ʼn sekere sin, nooit tot ʼn einde kom nie en bly dit onopgelos.

Daar is ʼn dubbelsinnigheid aan die konsep van ʼn finale arbiter. Deur die term “finale arbiter” te gebruik, kan bedoel word ʼn finale arbiter in die sin dat iets of iemand of ʼn instelling moet bestaan wat dan op een of ander manier absoluut waarborg dat die saak vir ewig opgelos word. Dit wil sê ʼn absolute waarborg dat die geskil opgelos word. Met die term “finale arbiter” kan ook bedoel word dat een of ander persoon of ʼn proses of instelling, in ʼn meer of mindere betroubare sin waarborg dat hierdie regsgeskille meeste van die tyd opgelos word.

Dit is waar dat anargie nie in die aspek van – ʼn absolute waarborg van ʼn finale arbiter – een verskaf nie, maar so ook bied geen ander stelsel dit nie. Neem as voorbeeld ʼn minargistiese konstitusionele republiek van die soort wat Bidinotto as konsep voorstaan. Is daar ʼn finale arbiter onder daardie stelsel in die sin van iets wat absoluut waarborg dat die proses van die regsaak vir ewig beëindig word? Veronderstel jy dagvaar my, of jy word gedagvaar, of selfs dat jy beskuldig word van iets, ongeag die aard is jy dan in ʼn tipe hofsaak. Kom ons veronderstel verder jy verloor die saak en appelleer teen die uitspraak. Jy appelleer weer in die Hooggeregshof. Hulle lewer uitspraak teen jou. Jy begin ʼn drukgroep om die parlement sover te kry om die wetgewing in jou guns te verander en hulle doen dit dan nie. Jy probeer dan ʼn beweging vir ʼn konstitusionele wysiging aan die gang kry, maar dit werk dan ook nie uit nie. Jy probeer dan maar mense bymekaar kry om iemand anders, of ʼn ander party, in die parlement in te stem wat jou sal steun. In ʼn sekere sin kan dit vir ewig voortduur. Die geskil is nie verby of opgelos nie.

In die praktyk eindig meeste regsgeskille tog uiteindelik, iemand vind gewoonlik uit dat dit net te duur is om voort te gaan. Net so is daar geen waarborg onder anargie dat die konflik nie vir ewig sal voortduur nie, daar is baie min waarborge van die “gepantserde” soort, maar dit is geen rede om te verwag dat vryemark regstelsels nie sal werk nie.

(6) Eiendomsreg kan nie Ontstaan in die Vryemark nie

Nog ʼn gewilde argument, wat ook gereeld gebruik word deur die Minargiste, is dat die vryemark, eiendomsreg as ʼn agtergrond vereis. Ek en jy kan nie handel dryf, of goedere, geld en dienste uitruil tensy daar reeds ʼn stabiele agtergrond van eiendomsreg is wat ons bestaande eiendoms titels beskerm nie. Omrede die vryemark eiendomsreg as voorvereiste benodig om te kan funksioneer, kan eiendomsreg nie self ʼn produk van die vryemark wees nie. Daar moet volgens hulle dus ʼn funksionerende wetsraamwerk wees voordat komplekse ekonomiese transaksies kan plaasvind.

Dit mag dalk waar wees dat jy nie komplekse markte sal hê sonder ʼn funksionerende regstelsel nie, maar dit is nie asof die regstelsel eers in plek gestel moet word en dan op die laaste dag, wanneer dit klaar is, begin almal skielik handel dryf nie. Hierdie dinge kom gesamentlik tot stand. Regsinstellings en ekonomiese handel ontstaan gesamentlik in dieselfde plek. Die regstelsel is nie iets onafhanklik van die aktiwiteite wat dit beliggaam nie. Na alles is ʼn regstelsel nie ʼn robot mannietjie of ʼn hemelse verskynsel of iets apart van ons nie. Dit bestaan uit ʼn regsstelsel van mense wat dit self eerbiedig en gehoorsaam. As almal die regstelsel ignoreer, sou dit op die ou einde geen mag hê nie. Dit is dus net omdat mense daardie gesag aanvaar dat dit oorleef. Die regstelsel is afhanklik van vrywillige ondersteuning.

Baie mense is bang vir anargie omdat hulle dink dat daar onder die staat ʼn tipe waarborg is en dat dit onder anargie weggeneem sal word. Dat daar op een of ander manier ʼn versekerde agtergrond van reëls is waarop teruggeval kan word wat onder anargie net afwesig is. Hierdie versekerde agtergrond is bloot net die produk van mense se interaksies met die aansporings wat hulle het. Wanneer anargiste sê dat mense onder anargie waarskynlik die aansporings sal hê om dít of dát te doen, kan mens dink dat “waarskynlik” nie goed genoeg is nie. Meeste mense sal antwoord dat hulle ʼn absolute waarborg soek dat die aansporings wat ʼn suiwer vryemarkstelsel skep daardie uitslag sal oplewer, maar die regering is net ʼn groep mense. Afhangende van wat die grondwetlike struktuur van die regering is, is dit waarskynlik dat hulle die een of die ander aksie sal neem. Jy kan egter nie ʼn grondwet ontwerp wat sal verseker dat mense in die regering op enige besonderse wyse sal optree nie. Jy kan dit dalk so struktureer dat hulle meer geneig sal wees om dít te doen en minder geneig om dát te doen, maar konstitusies word altyd omseil en oor tyd aangepas soos dit die staat behaag. Mens kan ook sien dat anargie net ʼn baie uitgebreide stelsel van wigte en teenwigte op ʼn groter skaal is, sonder die konsolidasie van mag in ʼn enkele instelling.

Mense sal byvoorbeeld vra wat as waarborg sal dien dat verskillende agentskappe op die een of ander besonderse manier probleme gaan oplos. Die Amerikaanse Grondwet gee byvoorbeeld geen voorskrifte en besonderhede oor wat moet gebeur as verskillende takke van die regering nie weet hoe om gesskille op te los nie. Dit stipuleer nie wat moet gebeur as die Hooggeregshof dink iets is ongrondwetlik terwyl die Kongres dink dat dit wel die geval is en dit dan in elk geval wil deurvoer nie. Soos almal in die Amerikaanse Suide sekerlik goed verstaan, stipuleer dit nie wat moet gebeur as daar ʼn geskil tussen die state en die federale regering is nie. Die huidige stelsel waar die Hooggeregshof iets ongrondwetlik verklaar en die Kongres of die president dit dan nie meer doen nie(of ten minste nie so baie nie), het nie altyd bestaan nie. ʼn Goeie voorbeeld is toe president Andrew Jackson die Cherokee Indiane se grond met proklamasie by hulle weggeneem het in die 1830’s en hulle die Hooggeregshof genader het, wat hulle toe as ʼn soewereine volk verklaar het. Die hof het President Andrew Jackson se aksies dus ongrondwetlik verklaar, maar omdat hy die President was het hy net gesê, “Hulle het hul besluit gemaak, laat hulle dit nou afdwing.” Die Grondwet self het nie bepaal of die manier waarop Jackson dit gedoen het reg of verkeerd was nie. Die manier waarop ons hierdie geskille vandag oplos het deur gewoonte oor tyd tot stand gekom en nie deur stipulasies van ʼn grondwet nie.

(7) Georganiseerde Misdaad sal Oorneem

ʼn Volgende beswaar is dat georganiseerde misdaad onder anargie sal oorneem. Dit kan, maar is dit waarskynlik? Georganiseerde misdaad kry sy mag omrede dit spesialiseer in dinge wat onwettig is – dinge soos dwelms, prostitusie, dobbel ensovoorts. Gedurende die jare van alkohol prohibisie het georganiseerde misdaad in alkoholhandel gespesialiseer en daardie magsbasis gebruik om uit te brei. Tans is hulle minimaal betrokke in die alkohol bedryf. Die mag van georganiseerde misdaad is dus in ʼn groot mate afhanklik van die mag van die regering se bedrywighede. Dit word ook waargeneem dat georganiseerde misdaad uitbrei na nuwe markte in liggaamsorgane, renoster horings, sigarette en skaars diersoorte eers nadat die staat beperkings op die markte plaas en is georganiseerde misdaad dus ʼn soort parasiet op die regering se aktiwiteite. Deurdat die regerings ʼn verbod op sekere dinge plaas, skep hulle swart markte. Swart markte is van nature gevaarlike dinge om betrokke by te wees omdat jy jou moet bekommer oor die regering sowel as die ander skarminkels wat in daardie mark opereer. Georganiseerde misdaad spesialiseer hierin. Georganiseerde misdaad sal dus swakker wees, nie sterker nie, juis omrede die tipe produkte onder anargie in ʼn ope mark beskikbaar sal wees.

Die verbod op dwelms en prostitusie bewys ook iets anders, dat ʼn mark sal onstaan nie net sonder die staat nie, maar in weerwil daarvan. David Friedman maak die argument dat een van die funksies van die Mafia is om ʼn soort hof en regstelsel vir kriminele te wees. Dis natuurlik nie al wat hulle doen nie, maar meeste van hul aktiwiteite is baie afhanklik van prohibisie. Dis dalk nie die tipe private regstelsel wat jy wil hê nie, maar dit bewys ten minste dat dit spontaan in die mark kan ontstaan.

(8) Net die Ryk Mense sal Regeer

ʼn Ander bekommernis is dat net ryk mense sal regeer, dat geregtigheid na die hoogste aanbod sal gaan as jy regsdienste in ekonomiese goedere omskep. Dit is ʼn baie algemene beswaar onder die Randians (volgelinge van Ayn Rand), maar onder watter stelsel is die rykes meer magtig? Onder die huidige stelsel of onder anargie? Sekerlik sal jy altyd ʼn voordeel van een of ander aard hê as jy ryk is. Dit is voordelig om ryk te wees, punt. Jy is altyd in ʼn beter posisie om mense om te koop as jy ryk is as wanneer jy arm is, dit is waar. Tog is dit die mag van ryk mense, veral die met politieke konneksies wat onder die huidige stelsel onregmatiglik vergroot word. Veronderstel dat ek ʼn bose ryk persoon is en ek wil die regering kry om iets te doen wat ʼn miljoen dollar kos. Moet ek een of ander burokraat ʼn miljoen dollar gee om dit gedoen te kry? Nee, want ek vra hom nie om dit met sy eie geld te doen nie maar staatsgeld. Dit is duidelik dat as ek hom sou vra om iets te doen met sy eie geld, ek hom nie met minder as ʼn miljoen dollar kan omkoop om daardie voordeel te verkry nie. Dit sou ten minste ʼn miljoen dollar en een sent moet wees. Met staatsburokrate wat belastinggeld beheer wat hulle nie self besit nie, en dit daarom nie net in sy eie sak kan druk en huis toe gaan nie (alhoewel dit verbasend naby daaraan kan kom), al wat ek hoef te doen om hom om te koop om daardie voordeel te verkry is om hom vir ʼn paar duisend dollars om te koop en hy kan miljarde dollars se belasting geld kanaliseer aan my gunsteling projek – en die mag of onregmatige impak van my omkoop geld word dus vermenigvuldig.

Daarteenoor, as jy die hoof was van ʼn private sekuriteitsagentskap en ek probeer om jou te kry om iets te doen wat ʼn miljoen dollar kos, dan moet ek jou omkoop met meer as ʼn miljoen. Dus is die mag van ryk mense inderwaarheid verminder, of ten minste gelykgestel, tot hul eie welvaart onder anargie. Natuurlik gaan enige hof wat ʼn reputasie kry vir swak regspraak behandel word nes enige bank wat geld vervals – dit gaan eenvoudig nie ʼn gewilde besigheid wees nie en gaan regmatiglik ondermyn word omrede reputasie belangrik is in veral besighede wat dienste verskaf.

In die geval van verarmde slagoffers kan mens altyd, in ʼn moderne sin, doen wat hulle in Middeleeuse Ysland gedoen het, as jy te arm was om regsdienste te bekostig. Veronderstel iemand het jou eiendomsreg geskend, kan jy vergoeding laat vereffen, en as jy daardie dienste nie kan bekostig nie, kan jy ʼn gedeelte of jou volle eis verkoop aan iemand anders. Dit is soos om ʼn prokureur te huur op ʼn bystand of noodgeval basis. Jy kan jou eis gevolglik verkoop aan iemand wat in ʼn posisie is om dit namens jou te eis.

(9) Robert Bidinotto: Die Massas sal Slegte Wette Maak.

Nog ʼn bekommernis wat Bidinotto het – (amper die teenoorgestelde van sy bekommernis dat slegs ryk mense sal regeer) – was Von Mises nie dalk reg in die sin dat die mark ʼn groot demokrasie is, waar die verbruiker soewerein is deur met sy geld te stem en die massas dus slegs daardeur kan kry wat hulle werklik wil hê nie? Dis alles puik as dit karre en yskaste is, maar sekerlik is dit ʼn slegte ding as dit by wette kom. Want na alles is die massas ʼn klomp agterlike, onopgevoede idiote, en as hulle die wette kry wat hulle wil hê, gaan hulle net “dom” wette maak.

Die verskil tussen die soort ekonomiese demokrasie wat Von Mises beskryf het en politieke demokrasie is dat die mense wel gaan kry wat hulle wil hê, maar hulle gaan daarvoor betaal. Dis redelik om te verwag dat as mense fanaties genoeg is oor iets, hulle wel iets onbillik as ʼn wet sal verklaar. As jy genoeg mense bymekaar het, binne ʼn dorp of stad wat stem oor wette kan anargie tot nie-Libertariese uitkomste lei, maar dit gebeur daagliks in groot territoriale state ook.

Om dit in ʼn voorbeeld te verwoord: as jy in ʼn stad in California bly en die mense is fanaties gekant teen rook, kan hulle sigarette onwettig maak. Net so kan jy in ʼn dorp in Alabama bly waar hulle homoseksualiteit wil verban. Hou egter in gedagte dat hulle daarvoor gaan betaal. Jy kry jou maandelikse rekening en jy kyk wat jou basiese dienste is – beskerming teen kriminele ens. Dan is daar jou uitgebreide dienste, die ekstra fooitjie van $8000 om elke aand deur jou buurman se venster te kyk of hy nie rook of homoseksueel is nie. Die ergste fanatiese mense kan dalk bereid wees om die ekstra geld te betaal vir so iets, maar natuurlik as mense so fanaties is gaan jy probleme onder minargie ook hê. Anders as onder ʼn staatsbestel, sal mens dan altyd die opsie hê om vrylik en teen laer koste as moderne emigrasie darem, na ʼn ander dorp met ander wette te trek. Hou ingedagte dat onder ʼn demokratiese kies stelsel waar mense dalk nie eens so fanaties oor iets is nie, maar al wat hulle hoef te doen (om ʼn ander persoon se regte in te perk) is om ʼn kruisie te trek by ʼn nasionale verkiesing, is daar geen aansporing tot matigheid nie. Hulle hoef net ʼn kruisie te trek, dis so maklik soos dit! As mense egter elke maand moet betaal vir ʼn absurde diens, gaan hulle heel moontlik tot die gevolgtrekking kom dat dit net te duur is en dat hul buurman se persoonlike keuses in sy huis niks met hulle uit te waai het nie.

(10) Robert Nozick en Tyler Cowen: Private Beskermingsagentskappe sal ʼn de facto Regering Wees

Die laaste beswaar was oorspronklik geopper deur Robert Nozick en is sedertdien op uitgebrei deur die minargis Tyler Cowen.

Nozick voorsien dit as volg: Veronderstel jy het anargie, een van drie dinge gaan gebeur, die agentskappe gaan dalk oorlog maak – en hy gee twee verskillende uitlegte van wat sal gebeur as hulle baklei (Ons het alreeds hierdie scenario’s vroeër behandel). Die derde opsie is om te vra wat sal gebeur as hulle nie baklei nie? Hy teoretiseer dat sou hulle ooreenkom op oor en weer arbitrasie kontrakte in stede van oorlog voer, dan word hierdie anargie ʼn regering omrede die kliënte steeds moet betaal vir die beskerming.

Tylor Cowen brei die argument dan uit, en sê basies dat die agentskappe ʼn kartel gaan vorm en dit in die kartel se belang sal wees om te verseker dat hulle in ʼn regering of staat omskep word. Nuwe agentskappe wat ontstaan gaan hulle bloot boikot. Dit is in jou belang as jy ʼn nuwe OTM kaart uitbring dat dit bruikbaar is in al die masjiene, net so is dit in jou belang as jy ʼn nuwe beskermingsagentskap is, om deel te wees van ʼn stelsel van kontrakte en arbitrasie wat jou toegang gee tot die geriewe wat die bestaande agentskappe het. Verbruikers gaan nie met jou besigheid doen as hulle uitvind dat jy geen ooreenkomste het nie, omrede hulle dalk bang sal wees vir konflikte met ander agentskappe. Die gevolg daarvan is dat so ʼn kartel jou effektief uit besigheid uit kan vries.

Kan dit gebeur? Sekerlik! Allerhande dinge kan gebeur, helfte van die land kan more selfmoord pleeg. Die vraag is, is dit waarskynlik? Gaan so ʼn kartel in ʼn posisie wees om mag op hierdie manier te misbruik? ʼn Kartel van sakeondernemings is onstabiel vir die gewone redes, dit beteken nie dit is onmoontlik nie. Mense het, na alles, vrye keuse. Dit is tog onwaarskynlik omrede presies dieselfde insentiewe wat besighede aanspoor om ʼn kartel te vorm hulle ook aanspoor om daarop te verkul. Dis altyd in die belang van enigeen om ooreenkomste aan te gaan buite die kartel as hy eers daarin is.

Bryan Caplan maak die onderskeid tussen selfregulerende boikotte en nie-selfregulerende boikotte. Self-regulerende boikotte is waar die boikot redelik stabiel is omrede dit ʼn boikot is teen byvoorbeeld besighede wat oneerlik is of individue wat hul vennote verneuk. Jy het geen wetgewing, morele verbindheid of onwrikbare resolusie nodig om nie met mense besigheid te doen wat hul vennote verneuk nie, dis in jou onbeskaamde selfbelang om dit nie te doen nie.

Dink aan die toegewydheid van individue om nie besigheid te doen met mense van ʼn ander territoriale gebied, klas, geloof of etnisiteit nie (vir welke rede ook al). Selfs wanneer die Verenigde Nasies of die staat dit verbied, ondermyn mense dit nog steeds omrede dit in hul ekonomiese belang is om dit te doen. Nou gaan genoeg mense (miskien almal) in so ʼn kartel toegewyd genoeg wees dat die boikot hou? Miskien, maar ongeag of die boikot uit ekonomiese selfbelang of enige ander rede geskep word, bly dit presies daardie ekonomiese eienskap van selfbelang wat veroorsaak dat mense dit gaan ondermyn en omseil omrede dit altyd in jou belang is om in wedersyds voordelige handelstransaksies in te tree. Laastens is dit ook nog debatteerbaar tot watter mate privaat beskermingsagentskappe funksies bo en behalwe polisiëring sal verrig, indien enige.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.