Filosofiese foute en kollektivisme

 kollektivisme en Filosofiese foute

(Dr. Michael Levin)

Dat filosofiese idees tel is nie nuus vir ekonome van die Oostenrykse skool nie, wie se ekonomiese teorieë rus op konsepsionele analise van aksie en waarde. Maar, filosofie kan verwar sowel as rigting gee. Ek gaan twee filosofiese foute aanraak wat gevaarlik idiotiese tendense teweegbring terwyl dit die vryemark ondermyn.

Reïfikasie

Ek begin met die meer bekende fout, en dit is om die samelewing te reïfiseer. Die geloof dat die woord “samelewing” ʼn entiteit se naam is wat oor sy eie magte beskik en dat mense is soos hulle is omrede die “samelewing” hulle kwansuis so maak. Deur die “samelewing” te behandel as ʼn item buite sy komponent individue, lei noodgedwonge tot meer abstrakte selfstandige naamwoorde soos misdaad, armoede, groepsdruk en welvaart, wat dan behandel of geïnterpreteer word as name vir werklike faktore. Anders as ander blapse, word reïfikasie deur sy volgelinge gesien, nie as ʼn monumentale fout nie, maar as ʼn groot sosiologiese uitvinding.

Analities gesproke is die ergste effek van reïfikasie dat dit lei tot valse verduidelikings van probleme. Die beroep of blamering op entiteite soos die “samelewing” of “armoede” versag die aptyt na ʼn verduideliking sonder om dit werklike intellektuele voeding te gee. ʼn Uur later en jy wonder nog steeds oor die oorsaak van die probleem. Jeugmisdaad vind plaas a.g.v. “groepsdruk”, of so word ons vertel, maar wat is groepsdruk behalwe jeugdiges wat misdaad pleeg en hul vriende vra om saam te kom steel? Dan is “groepsdruk” net ʼn ander woord vir die fenomeen waarna ons in die eerste plek oor uitgevra het, nl. jeugmisdaad, so jy is presies terug waar jy begin het – sonder ʼn antwoord.

Voorbeelde hiervan word algemeen gebruik. Inwoners van Connecticut kla op televisie, “We were bypassed by the wealth that surged through Fairfield county in the 1990’s”. Nog ʼn klasieke voorbeeld is deur die NY-times, “The Carter family is being stalked here by what their 54 year old mother calls a monster, crack-cocaine. She watched it swallow her daughter and now she is fighting for her grandson’s soul”. Nog ʼn interessante een is nadat ʼn bekende outeur uitgevang is vir plagiaat, verklaar die Washington Post, “He has been bitten by the virus of plagiarism”. Soos hierdie voorbeelde bewys, bevry reïfikasie die skuldige individue van enige blaam. Moenie die onverantwoordelike of roekelose gedrag op die individu blameer nie, blameer die groot sosiale masjien waarvan hy ʼn hulpelose onderdeel is. Maar, die inverse van bevryding van blaam is ʼn disrespek vir verantwoordelikheid.

Klein hulpelose onderdele kan nie outonoom wees, regte hê of vry wees nie. Wat individue dan doen is om te glo dat hul eie besluite op hul afgedwing is of onafwendbaar was, so die enigste manier om die samelewing te verbeter is om met die “masjien” in te meng en individue saam te sleep. Hierdie tipe sistematiese inmenging wat net ʼn staat kan onderneem bots lynreg met die idee van individuele vryheid, maar mense sal jou vinnig reghelp dat individue in elk geval nie vry is nie. Hulle is slawe tot hul sosiale rol, so om hulle te forseer om anders op te tree en hulle ʼn nuwe rol te gee, doen dan niks ergers as wat die samelewing self aan hulle gedoen het nie.

Hierdie tipe denke kan byvoorbeeld direk deurgetrek word na mense se uitkyk op internasionale handel. Juanita maak hardloopskoene in die Filippyne teen ʼn vergoeding van 50c ʼn uur, ʼn goeie transaksie vir almal; die voltooide produk is baie goedkoper as wanneer dit tuis vervaardig sou word en Juanita is in ʼn beter finansiële posisie as wat sy sou wees sonder daardie werk. Natuurlik is 50c ʼn uur baie minder as wat ʼn Amerikaner sou kry, hoofsaaklik omrede soveel ander lede van die Filippynse arbeidsmag ook bereid is om daardie vergoeding te aanvaar. Mense vind dit skandalig, want Juanita word uitgebuit deur “kapitalisme”, forseer om te werk deur die “armoede” van die “Derdewêreld”. Die oplossing waarmee hulle dan vorendag kom is om die entiteit “armoede” aan te val deur die staat te kry om sulke maatskappye swaarder te belas of finansiële hulppakkette aan die Filippynse staat te gee om “armoede” te “beveg”, of om die maatskappye met wetgewing te dwing om Juanita beter te vergoed as wat hulle onder normale omstandighede sou.

Voorstanders van staatsinmenging, oftewel intervensioniste, verwerp Hobbes se idee dat die waarde van alle dinge waarvoor gekontrakteur word, gemeet word in terme van die aptyt van die handelaars in die transaksie, en daarom is die korrekte waarde van enige ietem, dit wat hulle bereid is om te betaal of aanvaar. Die intervensioniste redeneer dat Juanita nie vrywillig kontrakteer nie omdat sy in ʼn “stelsel” vasgevang is en bla.bla.bla. Dit is hier waar die reïfikasie inkom deur die Filippynse arbeidsmag as iets ekstern tot Juanita te hanteer wat haar dwing om redelike lae besoldiging te aanvaar. Hulle doen nie die moeite om werklik vas te stel hoekom die Filippynse arbeidsmag so optree nie. Die rede dat die betrokke arbeidsmag so optree, het te doen met vaardighede, opleiding en vermoëns. Daarom is hul arbeid nie veel meer werd nie, dis ook moontlik dat hulle nie weet hoe om kollektief te beding nie en dit is ook ʼn aanduiding van individue in ʼn samelewing se vermoë om met mekaar saam te werk. Die “ekonomie” verplig niemand om enigiets te doen nie, dis net ʼn naam vir individue wat vrywilliglik goedere, dienste en kapitaal uitruil. Die karakter van ʼn ekonomie word verduidelik deur die interaksie van sy individuele lede se keuses. Wanneer dit verstaan word kan alle staatsinmenging in die ekonomie gesien word vir wat dit is, nl. ʼn manipulerende geboelie.

Geloof in kollektivisme rus op ʼn misverstand tussen twee tipes eienskappe van individue. Daar is karakter eienskappe wanneer mense in isolasie geneem word soos ouderdom, lengte, gewig en gesondheid, hierdie eienskappe verduidelik geensins hoe mense in sosiale groepe funksioneer nie. Jy kan ure lank “Robinson Crusoe” op sy eiland dophou en jy sal nooit weet of hy goeie geselskap is nie. Sosiale holisme is die aanspraak dat die eienskappe van groepe nie afgetrek kan word na die eienskappe van individuele lede nie, en dis waar, maar mense het ook verhoudings eienskappe. Crusoe se bereidwilligheid om grappe te vertel aan enigeen wat sal luister is so ʼn voorbeeld. Al verg dit verwysings na ander mense, het dit betrekking op Crusoe die individu, in die sin dat hy goeie geselskap sou wees as hy ʼn gehoor gehad het. Die belangrike punt is dat die eienskappe van ʼn groep wel afgetrek kan word na die verhoudings eienskappe van die individu. As jy weet hoe die lede van ʼn groep reageer op mekaar, m.a.w. hoe hulle organiseer, koöpereer en beding, dan kan jy die ekonomie wat hulle gaan produseer voorspel en holisme is dan vals. Verstaan die twee tipes, hou hulle apart en jy sal nooit reïfiseer nie. Reïfikasie is ook een van die hoof foute wat gemaak word in die rasionaal vir kollektivisme en Sosialisme.

Afgeroomde melk

Ek wil nou die aandag vestig op iets wat ek meer as ʼn gevolglike denkfout beskou. Dit word ook baie min bespreek, so die verwoestende gevolge daarvan gaan grootliks ongesiens verby. Dit raak bietjie abstrak maar as ons by die denkfout kom, is dit duidelik en lagwekkend. Ek verwys na die persepsie dat dinge nooit is wat dit voorgee om te wees nie, of om dit abstrak te stel dat wetenskap dinge altyd weg verduidelik tot die teendeel van hul voorkoms. Ek gaan vier bekende maar werklik epiese wetenskaplike ontdekkings verduidelik, wat deur historici en filosowe gemisinterpreteer is en daardeur die populêre persepsie van wetenskaplike navorsing verwrong het.

1) In 1573 het Copernicus gedemonstreer dat die Aarde om die son draai, en dat die son en sterre in werklikheid vasgepen is relatief tot die aarde.

2) ʼn Eeu later het Robert Boyle die korpuskulêre teorie van materie verteoretiseer, wat verduidelik dat die fisiese wêreld uit baie mini-deeltjies bestaan, en dat hul interaksie die eienskappe van makroskopiese objekte verduidelik. Twee afleidings leer ons hiervan op hoërskool, enige objek soos ʼn muur is in werklikheid meestal leë ruimte en nie solied nie en dat kleur nie ʼn fisiese aspek van enigiets in die natuur is nie, dis eerder die effek van die klein deeltjies op die senuwee stelsel, kleur is in die brein van die observeerder.

3) Raaisels omtrent straalenergie en elektron wentelbane het ficici daartoe gelei om aan te voer dat die energie wat liggame het nie kontinuïteit het nie, maar kom en gaan in diskrete hoeveelhede. Meer spesifiek impliseer hierdie kwantumteorie dat hoe meer definitief ʼn liggaam se momentum is, hoe onduideliker is sy posisie. My hand is byvoorbeeld ter enige tyd in golwe van moontlikhede oor die heelal verspreid, dit kom net voor asof dit een plek inneem omrede dít is waar die moontlikheidsgolwe spits.

4) Einstein se 1905 teorie van relatiwiteit ontken dat daar iets soos ruimte en tyd bestaan soos dit normaalweg verstaan word. Jy kan byvoorbeeld dink NASA se nuutste Mars Pathfinder doen iets nou op hierdie tydstip, maar twee gebeurtenisse wat gelyktydig is vir jou is nie gelyktydig vir observeerders wat relatief tot jou beweeg nie. Ook fluktueer die afstand tussen hier en Mars met die spoed van die observeerder, absolute gelyktydigheid in afstand bestaan nie. Asof dit nie eienaardig genoeg is nie, het Einstein later verklaar dat twee voorwerpe wat val in ʼn massiewe liggaam se gravitasie veld nie spoed op tel nie. Massa verbuigde ruimte, en wat ons erken as gravitale toename in spoed, is eenvormige beweging in verbuigte ruimte tyd.

Hierdie vier gevalle is so interessant want in elkeen van hulle is dit wat waar is presies die teenoorgestelde van wat ons waarneem met gewone observasie. Die Son beweeg oor die horison, maar dit doen nie, ʼn hout tafel lyk bruin en solied, maar dit is nie, ʼn hand lyk of dit ʼn spesifieke posisionele plek inneem, maar nie regtig nie, dit wil voorkom asof iets nou gebeur, maar dis nie so nie.

Van hierdie aannames kan wel uitgedaag word. Om iets solied te noem kan beteken dat ek nie my hand daardeur sit nie, so die tafel is solied al is dit meestal ruimte. Net so kan ek sê omdat die atome van die tafel sekere sensasies op my observasie het, is die tafel bruin.

Tog is die boodskap duidelik. In vier treffende voorvalle het wetenskaplike navorsing bewys dat die wêreld die teenoorgestelde is van hoe dit voorkom. Wat ek vermoed gebeur het, is dat historici van die wetenskappe wat van beter moes weet, hierdie vier gevalle op oordrewe wyse veralgemeen het, in wat bekend staan as ʼn paradigma, dat wetenskap altyd bewys dat dinge die teenoorgestelde is van hoe dit voorkom. Dat diepe navorsing altyd sal bewys dat dinge teenoorgesteld is van hoe dit voorkom en om op voorkoms staat te maak ʼn tentoonstelling van naïwiteit is. In die klasieke komedie “Gilbert & Sullivan”, sing Buttercup: dinge is selde soos dit voorkom, afgeroomde melk paradeer as room. So ek noem die denkfout die “afgeroomdemelk” denkfout.

Die afgeroomdemelk denkfout het die sluise oopgemaak vir die tipe nonsens wat neoliberales glo. Daar is geen enkele groep of skrywer wie dit laat gebeur het nie, alhoewel Thomas Kuhn se werk oor die irrasionaliteit van die wetenskappe sekerlik gehelp het asook Sigmund Freud se prinsiep dat die redes waarvoor mense dink hulle dinge doen gewoonlik in werklikheid meer selfsugtige redes het. Maar dit was hoofsaaklik die prominente aandag wat die vier wetenskaplike deurbrake gekry het.

Ek het geen probleem met die ontdekkings self nie, maar hulle is almal verwyder van menslike skaal en kan nie gesien word as tipies van die wetenskappe nie. Dit is natuurlik dat normale logika nie dinge sal registreer wat op ʼn kwantum fisiese vlak plaasvind nie, evolusie het geen rede gehad om ons voor te berei vir wat in nanosekondes gebeur teen astronomiese afstande of teen die spoed van lig nie. Evolusie het wel ons sintuie aangepas om akkuraat te werk in dimensies waarin ekonomiese en sosiale fenomene plaasvind. ʼn Dier wat swak toegerus is om voedsel te erken, of om die gedrag van sy mededingers te voorspel, gaan minder suksesvol wees as ʼn ander en ons stam van die suksesvolles af wat oorleef het. Omdat sake op ʼn menslike skaal is, m.a.w hoe dinge voorkom, is ʼn baie goeie aanduiding van hoe dinge werklik is. Dis waarom afgeroomde melk as room ʼn denkfout is. Een van die mees onverklaarbare aspekte van moderne neoliberale en progressiewe konvensionele wysheid, is die verskriklike perversiteit daarvan.

Waarom glo so baie linkse denkers onsin soos die volgende:

  • straf ontmoedig nie kriminaliteit nie;
  • die huwelik is eintlik soos prostitusie;
  • mans is inherent nes vroue;
  • die staat moet armoede beveg;
  • homoseksuele is eintlik nes heteroseksuele;
  • individue wat vrylik handel dryf word uitgebuit;
  • om die enigste skoen van die enigste Sowjet winkel te koop is vryheid;
  • intelligensie is irrelevant tot werklike uitkomste;
  • minimale loonwette skep beter geleenthede;
  • enige student kan hoë prestasie lewer as sy onderwyser in hom glo;
  • om geld vir ongehude moeders te gee voorkom ongehude moeders;
  • om enige skaars of duursame item te belas lei tot meer daarvan;
  • etniese diversiteit is krag;
  • Stalin was eintlik ʼn goeie ou;
  • Die vryemark skep ongelykhede.

Waarom, vra ons onself gedurig in privaat gesprekke en terwyl ons koerante lees, kan mense sulke idiotiese dinge glo? Neoliberale joernaliste en denkers is anti-spesialiste, mens kan op hulle vertrou om verkeerd te wees en hulle as ʼn barometer gebruik vir wat nie waar is nie. Daar is redes soos afguns, skuldgevoelens, identifikasie met die idee van die onderdrukte, die hoop om die staat se dwangmasjinerie te bestuur, maar iets moet die brein voorberei om te aanvaar wat ondervinding en logika weerspreek. Dit is hier waar die afgeroomdemelk denkfout intree. Ek stel as antwoord aan u voor dat hierdie dom, onsinnige dinge geglo word juis omrede dit observasie en “common sense” weerspreek. Die temas wat die kanonieke van neoliberale wysheid verenig, is dat dit presies die teenoorgestelde van konvensionele ondervinding is. Ek dink hulle arriveer by hierdie gevolgtrekkings via ondervinding en observasie met die aanname dat observasie altyd die teenoorgestelde van die werklikheid is.

Verbeel jouself dat jy in ʼn wêreld woon waarin alle wetenskappe altyd bewys dat dinge teenoorgesteld is van wat jy waarneem, en jy beskou jouself as ʼn diep denker en wil jouself bo die ander laat uitstaan met jou kennis. Jy sal dan oor menslike gedrag soos volg redeneer :

  • Die geslagte lyk of hulle verskil, hulle moet dus dieselfde wees;
  • mans en vrou lyk of hulle paartjies vorm uit diep emosie, hul verhouding is dus kommersieel;
  • vir heteroseksuele mans is die idee van seks met ʼn ander man totaal afskuwelik dus is die homoseksuele persoonlikheid nes die heteroseksuele;
  • Engels is ʼn foneties taal daarom moet dit aangebied word asof dit ideografies(soos Chinese karakters) is;
  • kapitalisme lei tot welvaart waar ook al dit probeer is daarom moet dit sleg wees;
  • sosialisme werk nooit nie, so dit moet goed wees;
  • niemand dwing mense in vrywillige handel nie, so hulle is nie vry nie;
  • onder sosialisme kan jy nie doen wat jy wil nie, so jy is vry;
  • verskillende etniese groepe produseer soms totaal verskillende beskawings daarom moet almal presies dieselfde wees;
  • almal vrees pyn, dood en verlies aan eiendom daarom het dreigemente van pyn, dood en konfiskasie van eiendom geen impak op gedrag nie;
  • sommige studente doen goed vanaf n baie jong ouderdom, hulle bemeester moeilike materiaal en los die res van ons agter, daarom het intelligensie niks met sukses te doen nie;
  • party mense kan sekere konsepte nie verstaan nie, maak nie saak hoe geduldig jy dit verduidelik nie, daarom is hul mislukking ons fout;
  • mense raak gedemoraliseerd as jy hul inkomste verminder daarom maak belasting dat mense harder werk;
  • mense voel op hul gemaklikste saam met mense soos hulself daarom sal hulle versot wees oor etniese diversiteit.
  • In geen beskawing of stelsel is daar gelykheid nie daarom moet alles in die stryd gewerp word om dit te skep.

Net ʼn ten volle afgeroomdemelk neoliberaal kan so redeneer en hierdie tipe nonsens glo, maar dit oorstroom hopeloos te maklik die gewone man op straat, beïndruk deur die wetenskappe, maar valslik onder die indruk dat wetenskap en “common sense” altyd teenstrydig is. Die paradokse van neoliberalisme word wyd aanvaar omrede die publiek ook onder die vae indruk is dat die wetenskappe gewoonlik die teenoorgestelde bewys van menslike observasie en dat die mense wat met die afgeroomdemelk teorieë vorendag kom weet waarvan hulle praat. Mense vertrou dus nie hul eie observasie nie. Kom ons oorweeg die onheilspellende verhouding tussen afgeroomdemelk en ekonomiese vryheid, alle vorme van sosialisme kom neer op die geloof dat vryheid slawerny is.

Hier is die tipiese marxistiese sinnetjie wat nog immers gewild is: onder die vel van bourgeoisie regte tot nie-inmenging skuil die skedels van onderdrukking. Onthou dat Marx geslagte van denkers beïndruk het deur sy sosialistiese teorieë wetenskaplik te noem. Vroeë vorme is beskryf as moreel meerderwaardig tot die vryemark stelsel, maar morele superioriteit is moeilik om empiries te bewys. Watter konsepsie van die wetenskappe motiveer die rewolusionêre Marx? Toe, net soos nou, is dit die paradigma. Die wetenskaplike deurbraak wat Marx beïndruk het was die van Copernicus, waar die voorkomste deur observasie as verkeerd bewys word.

Die een ding wat duidelik is van menslike kommersiële handel en produksie is dat dit vrywillig is, ʼn wetenskaplike teorie moet dan bewys dat dit nie is nie. Daarom dat indiensneming “loon-slawerny” is, die arbeider word “forseer” om ʼn “gebrekkige” loon te aanvaar omdat soveel ander arbeiders in die “ekonomiese-stelsel” is wat ook daarop bie. Neem kennis hoe reïfikasie en afgeroomdemelk hand aan hand werk in kommunistiese leerstellings.

Aan die anderkant van die sosialistiese argument het arbitrêre belasting vryheid tot gevolg omdat dit plutokrate onder beheer bring; net so doen die minimale vergoedingswette, al wil dit selfs vir sosialiste voorkom asof dit ʼn hele reeks winskopies uitskakel. Enige produk wat so uniek of begeerbaar is dat almal goedere daarvoor sal ruil is dus ʼn “monopolie” wat homself “afdwing” op “hulpelose” verbruikers. Eensydige prysvasstelling deur die staat bevry verbruikers van monopolistiese “skemas”.

Die patroon van die ou Marxistiese linkses om wat vry is slawerny te noem en vice versa, gaan voort in die nuwe linkses. Jy sal van observasie aflei dat mans en vroue paartjies vorm omrede hulle wil, asook dat vroue na die kinders kyk in alle samelewings omdat hulle meer waarde daaraan heg as mans en mans meer hoë status posisies beklee omdat hulle kies om meer van hul energie daarin te stort as vroue. Maar, ai tog, as observasie verkeerd is dan kan dit net die volgende wees: Mans en vroue tree so op omdat hulle gebreinspoel is deur paternalisme en chauvinisme, slegs regstellende aksie rolmodelle geskep deur sosiale programme wat deur die staat onderneem word en ʼn oorlog teen rasisme en stereotipes kan mans en vroue bevry om hulself te wees. Ons sou nooit enigiets hiervan kon raai as ons op voorkoms of observasie staat gemaak het nie.

Ironies genoeg het Marx en sy volgelinge nog ʼn wetenskaplike deurbraak wat ook ʼn paar voorkomsste weerspreek het, totaal geïgnoreer, maar indien dit korrek verstaan word die waardering vir die vryemark verdiep. Die teorie van evolusie het bewys dat die voorkoms van ontwerp in die natuur misleidend is. Dat die meeste eienskappe van lewende organismes doel-gedrewenheid vertoon en die effektiwiteit daarvan het mense vir baie eeue laat dink die natuurlike wêreld beplan is. Soos Darwin verduidelik het kan ontwerp nageboots word deur patroonlose wanorde waarin elke organisme kompeteer om voort te plant onder omgewingsbeperkings. Die wêreld mag dalk ʼn skepping wees in ʼn teologiese sin, maar sover as wat dit natuurlike prosesse aangaan, simuleer dit slegs een.

Onbeplande doelgedrewenheid, van die soort wat ons in die natuur waarneem, roep tog na die idee van die spontane vryemark. Waar goedere kompeteer om te oorleef in die mark, diere moet energie absorbeer en maats aantrek, goedere moet faktore van produksie absorbeer en kopers aantrek. Komplekse ekosisteme ontwikkel omrede net daardie organismes oorleef wat voldoende voedsel kan vind; net daardie goedere en dienste oorleef wat voldoende afsetgebiede vind. Beide die vryemark en die natuur verbeter die produk en proses gehalte soos wat variante van oorlewende organismes en produkte in hulself gereproduseer en uitgedun word, wat net die hardste en beste variante agter laat. Vroeër modelle soos dinosourusse en Volksie’s maak plek vir verbeterde vorme, perde en Ferrari’s en kru vorme van reproduksie, mitose en stukwerk maak plek vir meer elegante vorme, seks en die fabriek produksielyn.

Navorsing verlig nie net die prosesse wat ek verduidelik het nie, maar ook die meer misterieuse eienskappe van sosio-ekonomiese stelsels, soos die opkoms van moraliteit. Die vryemark is afhanklik van vertroue, so hoekom eer mense hul transaksie verantwoordelikhede as hulle kan wegkom met winsgewende swendelary? Hoekom straf ons onverantwoordelike gierigheid as dit winsgewend sou wees om daarmee saam te span? Die antwoord is nie vêr van die rede dat diere in die natuur binne spesie verband selde tot die dood sal baklei en die verhouding tussen mans en vroue altyd naby aan gelyk is nie.

Neoliberale bekommer hulle oor die onbeplande aard van die vryemark. Hulle noem ʼn reeks privaat dokters, privaat hospitale en privaat skole ʼn nie-gesondheidstelsel en ʼn nie-onderwysstelsel – en sal sekerlik ʼn reeks privaat howe en sekuriteitsfirmas barbarisme noem, – maar dit is hier waar voorkoms tog die waarheid verberg, onbeplande orde(Anargie) op ʼn menslike sosiale skaal is volkome haalbaar.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Opinie, Wetenskap and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.