Openbare werke beteken belasting

(Henry Hazlitt)

Daar is geen geloof in die hedendaagse wêreld wat meer volhardend en invloedryk is as die geloof in staatsbesteding nie. Staatsbesteding word orals voorgestel as ʼn wondermiddel vir al ons ekonomiese kwale. Is die privaatsektor gedeeltelik stagnant? Ons kan alles reg toor met staatsbesteding. Is daar werkloosheid? Dit is duidelik a.g.v. “onvoldoende private koopkrag”. Die wonder middel is net so voor die hand liggend. Al wat nodig is, is vir die staat om genoeg te spandeer om op te maak vir hierdie “tekort”.

ʼn Enorme hoeveelheid literatuur word op hierdie denkfout gegrond, en soos dit maar dikwels gebeur met leerstellings van hierdie soort, het dit deel geword van die ingewikkelde netwerk van denkfoute wat mekaar wederkerig ondersteun. Ons gaan hier na die oorspronglike denkfout van hierdie netwerk kyk.

Buiten die gawes wat die natuur aan ons voorsien moet alles wat ons ontvang op een of ander manier voor betaal word. Die wêreld is gevul met sogenaamde ekonome wat elkeen op hul beurt vol planne is om iets uit niks uit te kry. Hulle wil ons oortuig dat die staat onophoudelik kan spandeer sonder enige belasting-verpligting wat daaruit spruit; dat die staat kan voortgaan om skuld te vergader sonder om dit ooit af te betaal, omdat “ons dit aan onsself verskuldig is”. Hier moet ek dogmaties wees en die leser daarop wys dat sulke aangename dagdrome in die verlede nog altyd deur bankrotskap of hiperinflasie verpletter was. Alle staatsbesteding moet op die ou einde voor betaal word vanuit die opbrengs van belasting en om hierdie aksie uit te stel deur lenings maak slegs die probleem groter. Inflasie opsigself is bloot ʼn venynige tipe belasting.

Omrede ons die netwerk van denkfoute wat steun op kroniese staatslenings en inflasie vir latere nadenke gelaat het, sal ons in hierdie hoofstuk die feit dat elke rand van staatsbesteding óf onmiddellik óf uiteindelik verkry moet word vanuit ʼn rand se belasting as ʼn gegewe aanvaar. Sodra die saak uit hierdie oogpunt beskou word sal die sogenaamde “wonderwerke van staatsbesteding” in ʼn ander lig gesien word.

ʼn Sekere hoeveelheid staatsbesteding is dalk noodsaaklik om sekere fundamentele regeringsfunksies te bewerkstellig. Openbare werke – soos die bou van paaie, brûe en tonnels die onderhoud van eiendomswetgewing en howe sowel as die polisie en brandweer om publieke dienste te voorsien wat noodsaaklik is. Ons is nie hier gemoeid met hierdie tipe openbare werke nie, maar eerder met die openbare werke wat gesien word as ʼn wyse om “werkskepping te verskaf” of om rykdom aan gemeenskappe te gee wat hulle nie andersins sou gehad het nie.

As ʼn brug gebou word om aan ʼn dringende publieke behoefte te voldoen hetsy dit nou ʼn verkeersprobleem of vervoerprobleem is – as dit selfs meer noodsaaklik is as die goedere wat die belastingbetaler self met hul geld sou koop voordat dit deur belasting by hulle weggevat was kan daar min beswaar daarteen wees. As die brug daarteenoor primêr gebou word om “werkskepping te bied”, is dit ʼn anderste tipe brug. Wanneer werkskepping die doel word, word behoefte ʼn ondergeskikte oorweging. “Projekte” moet deur burokrate uit die duim gesuig word. In stede daarvan om slegs te dink aan waar brûe gebou moet word, begin staatsamptenare hulself afvra waar brûe gebou kan word. Kan hulle aan ʼn geloofwaardige rede dink waarom ʼn addisionele brug Braamfontein en Newtown aanmekaar moet bind? Dit word ewe skielik polities broodnodig om daardie brug te bou. Die wat twyfel aan die noodsaaklikheid word gou as verkramptes en beswaardes geëtiketteer en geïgnoreer.

Twee argumente word gevoer rondom die bou van die brug, een wat hoofsaaklik aangehoor word voor dit gebou word en die tweede hoofsaaklik nadat dit voltooi is. Die eerste argument is dat dit werkskepping sal teweegbring. Dit sal byvoorbeeld vir ʼn jaar 500 werksgeleenthede skep en die implikasie van die argument is dat hierdie werksgeleenthede nie andersins tot stand sou kom nie.

Dit is die beeld wat onmiddellik sigbaar is. Maar as ons met ʼn geoefende oog verby die onmiddellike gevolge kyk na die sekondêre gevolge, en ook verby die mense wat direk bevoordeel word deur ʼn regeringsprojek na ander wat indirek geaffekteer word, sal daar ʼn ander prentjie sigbaar word. Dit is waar dat ʼn bepaalde groep arbeiders meer werk sal ontvang as wanneer die brug nie gebou sou word nie, maar daar moet vir die brug betaal word met belastinggeld. Vir elke rand wat op die brug spandeer word, word daar ʼn rand weggeneem vanaf belastingbetalers. As die koste van die brug R 40 miljoen beloop, sal die belastingbetaler R 40 miljoen verloor. Daar sal net soveel van hulle af weggeneem word as wat hulle andersins op meer nodige goedere en dienste sou kon spandeer.

Vir elke staats-pos of publieke werk wat sodoende geskep word deur die brugprojek gaan daar ʼn privaatsektor pos iewers anders verlore. Ons kan die mans sien wat aangestel is om die brug te bou en hoe hulle werk. Die werkskeppingsargumente wat die staatsamptenare lewer word lewendig en oortuigend vir die meeste mense. Tog is daar ander dinge betrokke wat ons nie kan sien nie juis omrede dit nooit toegelaat was om te ontstaan nie. Dit is die werksgeleenthede wat vernietig is deur die R 40 miljoen wat van die belastingbetaler af weggevat was. Al wat gebeur het, is dat daar hoogstens ʼn verskuiwing van werksgeleenthede a.g.v. die projek plaasgevind het. Meer brugbouers; minder motorwerktuigkundiges, kleremakers of landboukundiges. Nou kom ons by die tweede argument. Die brug bestaan en kom ons veronderstel dit is ʼn pragtige bruikbare brug. Die indruk onder die publiek is dat die brug opgetower is deur staatsbesteding en as die beswaarmakers en verkramptes hulle sin sou kry, daar geen brug sou wees nie en die land gevolglik armer sou wees.

Weereens het die staatsamptenare die voordeel in die argumente met almal wat nie verby hul eie neuse kan sien nie. Hulle kan die brug sien, maar as hulle geleer het om verder te kyk sal hulle die indirekte sowel as direkte gevolge kan waar neem en die moontlikhede wat as gevolg daarvan nooit toegelaat was om tot stand te kom nie, raaksien. Wat mense nie sien nie, is die huise wat nie gebou is nie, die motors en radio’s wat nie vervaardig is nie, die rokke en skoene wat nie gekoop en verkoop is nie en die graan wat nie geplant is nie. Om hierdie nie-geskepte goedere te sien benodig ʼn verbeelding wat sommige mense net nie oor beskik nie. Ons kan dalk eenmalig aan hierdie niebestaande voorwerpe dink, maar ons kan dit nie in ons verbeelding hou soos ons die brug wat ons elke dag op pad werk toe oor ry in ons verbeelding kan hou nie. Wat gebeur het, is dat daar bloot een ding i.p.v. ander dinge geskep is.

Dieselfde redenasie is van toepassing op elke ander vorm van openbare werke. Dit is net so van toepassing by die oprigting van behuising met publieke fondse vir diegene met lae inkomste. Al wat gebeur is dat geld weggeneem word d.m.v. belasting van families met ʼn hoër inkomste (en miskien ʼn bietjie van families met dieselfde inkomstes) om hulle te forseer om hierdie families met laer inkomstes wat deur die staat uitverkies is te subsidieer en in staat te stel om in beter behuising te bly as vantevore.

Ek is nie van plan om hier al die voordele en nadele van publieke behuising te ondersoek nie. Ek is slegs bemoei met die foutiewe denkwyse in die twee mees prominente argumente wat dikwels gevoer word ten gunste van publieke behuising. Eerstens is die argument dat dit werkskepping teweegbring en tweedens dat dit welvaart skep wat nie andersins geproduseer sou word nie. Beide hierdie argumente is vals, omrede hulle dit(produksie) wat deur belasting verlore gaan ignoreer. Belasting vir publieke behuising vernietig net soveel werk in ander rigtings as wat dit in behuising werk skep. Dit het ook tot gevolg dat daar nou ongeboude private huise is, ongemaakte wasmasjiene en yskaste en ʼn gebrek van ontelbare ander kommoditeite en dienste. Dalk nog erger is die feit dat weinig aansporing oorbly vir private entrepreneurs om innoverend tot die lae koste behuisingsmark toe te tree.

Die kwessie word ook nie bevredigend aangespreek deur die soort argument dat publieke behuising deur behuisings-subsidies eerder as ʼn enkelbedrag kapitaalbesteding moet plaas vind nie. Dit beteken eenvoudig dat die koste versprei word oor ʼn aantal jare in plaas daarvan om alles in een jaar te laat gebeur. Dit beteken ook dat dit wat weggeneem word van belastingbetalers versprei word oor baie jare in plaas van eenmalig of oor een jaar. Hierdie fyner tegniese punte is irrelevant tot die groter prentjie.

Die groot sielkundige voordeel wat die publieke behuising voorstaanders het is dat daar gesien word hoe mans werk soos die huise gebou word, en die huise word gesien wanneer hulle klaar is. Mense bly in hulle en wys hulle vriende trots deur die vertrekke. Die werksgeleenthede wat vernietig is deur die belasting vir die behuising word nie gesien nie en ook nie die goedere en dienste wat nooit gemaak is nie. Dit neem inspanning van denke, asook ʼn nuwe inspanning elke keer as die huise en gelukkige mense in hul nuwe staatshuisies gesien word, om te dink aan die welvaart wat andersins vervaardig sou word. Is dit verbasend dat die voorstanders van publieke behuising dit moet veronagsaam as dit onder hul aandag gebring word as ʼn wêreld van verbeelding of besware van teorie, terwyl hulle die publiek die behuising kan uitwys wat wel bestaan? Soos ʼn karakter in Bernard Shaw se Saint Joan antwoord toe hy vertel word van Pythagoras se teorie dat die wêreld rond is en om die son beweeg: “Wat ʼn opperste dwaas! Kon hy nie sy oë gebruik nie?”

Dieselfde redenasie moet weereens toegepas word op groot projekte soos die Gariep Dam. Hier word ʼn illusie sterker as ooit geskep slegs op grond van die uitermatige grootte van die projek. Dit is ʼn magtige dam, ʼn ontsaglike groot muur van staal en beton; groter as enige iets wat private kapitaal kon bou; die beheptheid van fotograwe; die hemel van sosialiste; die mooiste simbool vir die wonderwerke van staatskonstruksie, publieke eienaarskap en operasies. Hier is magtige kragopwekkers en ʼn hele streek gelig tot ʼn hoër ekonomiese vlak wat fabrieke en industrieë kan aantrek wat nie andersins sou kon bestaan nie. Dit word als voorgegee, in die lofprysing van voorstanders vir staatsbesteding as ʼn netto ekonomiese bate sonder kompensasie.

Ons hoef nie hier op die voordele van die Gariep Dam of soortgelyke publieke projekte in te gaan nie. Hier moet daar ʼn uitsonderlike poging aangewend word om na die debiet kant van die boeke te kyk. As mense en maatskappye belas word en die belasting word in een spesifieke deel van die land spandeer, waarom sal dit met verbasing as ʼn wonderwerk beskou word, as die spesifieke deel vergelykbaar ryker word? Ander dele van die land is dan vergelykbaar armer. Die projek wat so groot was dat private kapitaal dit nie kon bou nie, is maar eintlik deur privaat kapitaal gebou – die kapitaal wat onteien is deur belasting of as die geld geleen was, toekomstige belasting. Weereens moet daar ʼn poging aangewend word om die kragstasies en huise in privaatbesit wat tot stand kon kom te sien, om die talle motors, kos en klere te verbeel wat nooit toegelaat was om te ontstaan nie, omrede geld van mense regoor die land geneem is om die fotogeniese Gariep Dam te bou.

Daar is doelbewus gekyk na die mees voordelige voorbeelde van publieke bestedingskemas – d.w.s. die voorbeelde wat vurigste en gereeld aangemoedig word deur staatsamptenare en die hoogste geag word deur die publiek. Die duisende onnodige en spandabelrige projekte wat sonder uitsondering onderneem word sodra die doel is om “werk te skep” of omrede die begroting van welke departement dit toelaat is nie eens oorweeg nie. Die miljoene wat verlore gaan a.g.v. korrupsie en politieke selfverryking is ook hier buite rekening gelaat. Die nut van die projek self is onvermydelik ʼn ondergeskikte oorweging. Hoe meer spandabelrig die projek, hoe duurder die arbeidskoste, hoe beter word die projek vir die doel van werkskepping. Onder sulke omstandighede is dit hoogs onwaarskynlik dat die projekte wat deur die staatsamptenare uitgedink word dieselfde bruto toevoeging tot welvaart en welsyn sal hê per rand wat spandeer word, as wat die geval sou wees as die belastingbetalers dit self sou spandeer in plaas daarvan dat hulle forseer was om ʼn deel van hulle inkomste aan die staat af te staan.

_________________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 4 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek “Ekonomie in Een Les” gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 2 & 3

Hoofstuk 5

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.