Belasting ontmoedig produksie

(Henry Hazlitt)

Daar is nog ʼn verdere faktor wat dit onwaarskynlik maak dat die welvaart wat deur staatsbesteding geskep word ten volle sal vergoed vir die welvaart wat vernietig is deur die belasting wat gehef is om te betaal vir die staatsbesteding. Dit is nie ʼn eenvoudige saak soos so dikwels veronderstel word, om bloot iets uit die bevolking se regter hand te vat en dit in sy linker hand te plaas nie. Die staatsamptenare wil ons wys maak dat as nasionale inkomste byvoorbeeld R 2 Triljoen beloop (hulle is altyd rojaal as dit by die bepaling van hierdie syfer kom) sal die belasting van R 500 Biljoen per jaar beteken dat slegs 25 persent van die nasionale inkomste oorgedra word vanaf private tot publieke doeleindes. Dit is soos om van die land te praat asof dit dieselfde soort saamgevoegde hulpbronne het as ʼn groot doelgerigte maatskappy en dit bloot net ʼn boekhou transaksie is wat betrokke is. Die staatsamptenare vergeet dat hulle die geld van A vat om vir B te betaal. Anders gestel, hulle weet dit baie goed, maar terwyl hulle uitwei en pronk oor al die voordele van die proses aan B en al die wonderlike dinge wat hy sal hê (wat hy nie sou gehad het nie) as die geld nie na hom toe oorgedra was nie, vergeet hulle van die gevolge wat die transaksie op A het.

In ons moderne wêreld word dieselfde persentasie inkomstebelasting nooit op almal gehef nie. Die groot las van inkomstebelasting word opgelê op ʼn klein deel van die land se inkomste; en hierdie inkomstebelasting moet deur ander tipes belasting aangevul word. Hierdie belasting affekteer onvermydelik die aksies en ywer van dié van wie dit gevat word. Wanneer ʼn maatskappy 100 sent verloor van elke rand wat dit verloor, maar slegs toegelaat word om 70 sent te hou van elke rand wins wat dit maak, en wanneer dit ook nog nie die jare waarin ʼn verlies plaasvind voldoende kan verreken met winsgewende jare nie, affekteer dit tot ʼn groot mate die maatskappy se risiko-beleid. Die Maatskappy brei nie operasies uit nie, of brei net daardie operasies uit wat met die minimum risiko hanteer kan word. Mense wat die risiko’s te hoog ag word afgeskrik om nuwe besighede te begin, hoe laer die risiko’s immers is, hoe groter die aansporing vir mense om sakeondernemings te begin. Dus skep bestaande werkgewers nie nuwe poste nie, of nie soveel as wat hulle dalk sou nie; en werknemers wat dalk oorweeg het om hul poste prys te gee om entrepreneurs te word en daardeur self werkgewers te word, neem nie die risiko nie. Verbeterde masjinerie en beter toegeruste fabrieke ontstaan baie stadiger as wat dit andersins sou. Die langtermynresultaat is dat die verbruiker verhinder word om beter en goedkoper produkte te bekom en ware lone word hierdeur laag gehou.

Daar is ʼn soortgelyke effek wanneer persoonlike inkomste 50, 60, 75 en 90 persent belas word. Mense begin hulself afvra waarom hulle ses, agt of tien maande van die jaar vir die regering moet werk, en slegs ses, vier of twee maande vir hulself en hul afhanklikes. As ʼn mens die hele rand verloor wanneer hy ʼn verlies maak, maar slegs 10 sent daarvan kan hou as hy ʼn wins maak, besluit die persoon dat dit onverstandig is om risiko’s te neem met sy kapitaal. Addisioneel hiertoe krimp die beskikbare kapitaal wat geleen kan word om risiko’s mee te neem gelykstaande tot die persoonlike oorweging tot risiko. Welvaart (kapitaal) word tot niet belas nog voor dit bymekaargemaak kan word. Kapitaal om nuwe private arbeidsgeleenthede mee te skep word gevolglik verhoed om tot stand te kom en die gedeelte wat wel ontstaan word ontmoedig om in nuwe besighede te belê. Die spandabelrige staatsamptenare skep die juiste probleem van werkloosheid wat hulle so wyd verkondig om vir almal op te los.

ʼn Sekere hoeveelheid belasting is noodsaaklik vir die voortbestaan van regeringsfunksies. Redelike belasting vir hierdie doel hoef produksie nie te knou nie, mits die tipe regeringsdienste wat verskaf word in ruil daarvoor produksie self beskerm, m.a.w. ʼn regstelsel en polisiëring wat vergoed vir die verlies. Maar hoe groter die persentasie van die nasionale inkomste wat belas word, hoe meer word privaat produksie en werkskepping van ontwikkeling weerhou. Wanneer die totale belastingslas op land se bevolking groot is, word die staat se probleem om finansiering te verkry wat nie produksie ontmoedig of versteur nie, ʼn onoplosbare probleem.

____________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 5 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek “Ekonomie in Een Les” gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 4

Hoofstuk 6

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , . Bookmark the permalink.