Die Reg tot Wapenbesit

Reg tot wapenbesit

(Samuel Francis)

Een van die mees ironiese tendense van die laaste vier Amerikaanse administrasies is dat terwyl daar oorlog gevoer word, of beplan word om oorlog te voer reg oor die wêreld (van Somalië tot Serwië en van Korea tot Haiti en van Afganistan tot Libië), is die Amerikaanse staat ook in die proses om burgers te probeer ontneem van hulle reg tot wapenbesit in hulle eie tuisland deur die mees ambisieuse program van wapenbeheer in Amerikaanse geskiedenis. 

Natuurlik is ʼn buitelandse beleid van militêre inmenging gekombineer met ʼn binnelandse beleid van wapenonteiening en die skepping van passiewe burgers miskien nie so ironies as wat dit met die eerste oogopslag voorkom nie. Dit is ʼn kombinasie wat die oorspronklike denkers, van wat ons vandag klassieke republikeinisme noem, nie sou verbaas nie. Hierdie tradisie van klassieke republikeinisme het ʼn diepgaande invloed uitgeoefen op die 18de eeuse Amerikaners wat die Amerikaanse Republiek gevorm het. Tot ʼn groot mate het die kombinasie van ʼn militaristiese aggressiewe buitelandse beleid en ʼn binnelandse beleid van ontwapening die kern gevorm van tirannie soos wat die klassieke republikeine dit verstaan het. Soos wat hul denke ontwikkel het in Brittanje en oorgedra is na Amerika in die generasie voor die Amerikaanse rewolusie, was dit presies om die ewolusie na sulke tirannie te vermy dat daar sekere beginsels in die Amerikaanse grondwet gevestig is, die belangrikste een natuurlik die Tweede Wetswysiging wat dit stel dat “die reg van burgers tot wapenbesit nie op inbreuk gemaak sal word nie”.

Klassieke republikeinisme verwys na ʼn denkrigting wat ontwikkel het in Italië, Brittanje en die res van Wes-Europa vanaf die 16de tot die 18de eeu. Dit is ʼn denkrigting wat in moderne tye grootliks ontwikkel het vanuit die idees van Niccolo Machiavelli en gewentel het om verskeie politiese bewegings in verskeie lande wat daarop gemik was om die mag van die dinastiese monargieë wat in daardie state regeer het te beperk of selfs heeltemal mee weg te doen.

As daar enige definiërende beginsel was tot klassieke republikeinisme was dit die aandrang op die beperking van mag, en ʼn “gemengde regering” was die gunsteling meganisme om mag mee te beperk. Hierin het Machiavelli klassieke skrywers soos Aristoteles, Cicero en Polybius gevolg in die groepering van alle vorme van regering in: dié wat regeer met een (monargie), ʼn paar (aristokrasie of sy slegte neef, oligargie) en die vele (demokrasie). Machiavelli het soos sommige klassieke teoretici ʼn mengsel van hierdie egte vorms gesien as die mees effektiefste manier om politiese stabiliteit sowel as die institusionalisering van vryheid te waarborg. In hierdie voorkeur vir gemengde regering het die klassieke republikeine die heersende monargieë van Europa en Engeland uitgedaag. Hul teorieë het ʼn belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van weerstand teen die Stuart-monargie van die 17de eeu wat uiteindelik gelei het tot omverwerping van die monargie in die Engelse burgeroorloë, die teregstelling van Koning Charles die 1ste, die republikeinse eksperimente onder die statebond en latere diktatorskap van Oliver Cromwell. Tog het die ideaal van ʼn gemengde regering deur die werke van Locke en Montesquieu ook ʼn invloed gehad op die skrywers van die Amerikaanse grondwet, en is die bron van die beginsel vir die skeiding van magte waaronder uitvoerende, wetgewende en regterlike funksies veronderstel is om mekaar te kontroleer en te balanseer. 

Terwyl die oorspronklike ideaal van ʼn gemengde regering beteken het dat geen enkele sosiale element die staatsmeganismes mag domineer nie, het dit ook beteken dat alle soortgelyke elemente aktief moet deelneem in die regering en openbare sektor. Sodoende het dit in werklikheid ʼn ondermynende idee in die hiërargiese en eerbiedige gemeenskappe van vroeë moderne Europa bekend gestel. Die republikeinse ideaal van ʼn aktiewe politiese lewe het hoofsaaklik ʼn nuwe politiese sielkunde en politiese sosiologie bekend gestel in daardie tyd. 

Machiavelli het geargumenteer dat terwyl party republieke, soos Fenicië en Sparta, kon floreer en standvastig bly met hoofsaaklik oligargiese regerings was dit nie die veiligste manier vir republieke om hulself te organiseer nie. ʼn Beter manier was dié van die antieke Romeinse republiek waar die plebs ʼn aktiewe rol gespeel het. Alhoewel die toelating van plebs aan politiese mag gelei het tot interne burgerlike konflik, het dit ook die Romeinse staat bemagtig om op die plebs te steun vir militêre doeleindes en sodoende hul vyande te verower, te oorleef en te floreer. Uit Machiavelli se oogpunt het Rome opgemaak vir die verlies i.t.v interne vreedsaamheid, in sy kapasiteit om militêr te oorleef. Die sleutel tot Rome se oorlewing, uitbreiding en sukses het gelê in sy steuning op sy plebejiese burgers vir sy weermag. Steuning op ʼn burgerlike weermag het ook beteken dat die Romeine moes erken dat sy plebs toegang het tot ʼn gedeelte van politieke mag; daarom was die plebs veronderstel om nie minder deel te neem aan die publieke lewe en die regering as die adel nie en so het die Romeinse regering ontwikkel in ʼn gemengde regering wat elemente van demokrasie, aristokrasie en monargie gekombineer het. In Machiavelli se teorie was die verbinding tussen politiese en militêre deelname sentraal tot die natuur van die republiek. 

Machiavelli het hierdie konneksie tussen die burger en die soldaat meer breedvoerig ontwikkel in sy boek, The Art of War. Sy siening word gereeld as foutief uitgewys omdat hy die gebruik van huursoldate verwerp het en die gebruik van artillerie gekritiseer het. Die gebruik van beide was inderdaad belangrik in die opkoms van die absolute monargieë van sy era, maar Machiavelli se punt was dat hy probeer het om ʼn republiek te ontwikkel eerder as ʼn absolute monargie. Hy het voortdurend daarop aanspraak gemaak dat die gebruik van huursoldate en hipertegnologiese toestelle soos artillerie ʼn gevaarlike en korrupte uitwerking op republieke het. Dit was gevaarlik omrede dit onafhanklike militêre mag plaas in die hande van die staat en dié wat die staat beheer. Dit laat hulle toe om die beperkings wat deur gewapende burgers daargestel word te ontduik, en dit was korrup omrede die steun op professionele soldate en militêre tegnologie beteken het dat die publiek geen rede sou hê om wapens te besit vir hul eie beskerming nie. Daarom moes hulle ook nie verwag om ʼn aandeel in publieke mag te hê nie, en daardeur verdwyn die hele konsep van ʼn republikeinse gemengde regering met aktiewe politieke deelname. 

Bygesê was dit die kern van Machiavelli se teorie dat burgers wat wapens besit noodwendig die etiek van persoonlike en politiese onafhanklikheid sou behou wat die oorlewing van die republiek verseker. Die historikus J.G.A. Pocock noem dit: “Machiavelli se leerstelling van wapens”. 

Die uiteensetting van die Art of War definieer beide die morele en die ekonomiese karaktertrekke van die burgerlike krygsman. Met die oogmerk om ʼn gepaste geneentheid tot die publieke welstand te hê, moet hy ʼn tuiste en beroep van sy eie hê buite die militêre kamp. Die huursoldaat is bloot ʼn instrument in ʼn ander man se hande; maar die burgerlike krygsman is meer as ʼn instrument in die staat se hande, aangesien sy eer sy eie is en hy kan kies om te baklei uit kennis van dít waarvoor hy baklei. Wanneer ʼn stad egter ophou om sy eie burgers in sy weermag te gebruik en huursoldate gebruik, sal die burgers korrup wees, omrede hulle ondergeskiktes toelaat om te doen wat hulle self moet doen in publieke belang; die professionele soldate sal agente wees van daardie korrupsie omrede hulle ʼn publieke funksie gelewer het sonder agting vir publieke belang. Vir Machiavelli en amper alle klassieke republikeine na hom, is dit die fundamentele onafhanklikheid van die burger – as burger en as krygsman – wat ʼn republikeinse lewe moontlik maak. Die republikeinse burger, anders as die passiewe onderdaan van ʼn monargie, betree ʼn aktiewe rol in beide oorlog en regering en hy was in staat om ʼn aktiewe rol te betree juis as gevolg van sy persoonlike selfstandigheid – ekonomies, moreel, polities en militêr. Dit was Machiavelli se klem op die rol van wapens in die burgerlike lewe van die republiek wat die lang klassieke republikeinse tradisie van populêre burgermagte verduidelik. In die Tweede Wysigingswet van die Amerikaanse grondwet word die nasaat van Machiavelli se leerstelling van wapens gevind – dat “ ʼn goed gereguleerde burgermag noodsaaklik is tot die sekuriteit van ʼn vrye staat” – dus vind ons in die grondwet dat daar nie inbreuk gemaak mag word op burgers se reg tot wapenbesit nie. 

Heelwat van die skrywers van die Amerikaanse grondwet sowel as die Handves van Regte was ongetwyfeld vertroud met Machiavelli se werke en kon die idee van ʼn burgermag by hom gekry het. Daar was egter ʼn groot hoeveelheid geskiedkundige gebeure en teorieontwikkeling tussen Machiavelli en die laat 18de eeu wat die idee versterk het, en dit was hoofsaaklik vanaf die Britse ondervinding in die laat 17de en 18de eeu waaruit die Amerikaanse republikeine hul idees geput het oor ʼn burgermag, en wat dit beteken vir die beskerming van politieke vryheid. 

Engeland het ʼn onafhanklike burgermag gehad vanaf die Anglo-Saksiese tydperk en gedurende meeste van Engeland se geskiedenis en onder verskeie monargieë is die burgermag aangemoedig en ondersteun met die redenasie dat goed bewapende onderdane handige ondersteuners is vir interne vrede en eksterne verdediging. In die middel 17de eeu het verskeie sosiale hervormings van die Stuart-dinastie egter begin weerstand ontvang van populêre leiers wat goed opgelei was in die gebruik van wapens, en het die monargie ʼn beleid begin om die Engelse burgers te probeer ontwapen en eerder te steun op ʼn Staandemag. Gedurende die Engelse Rewolusie van die 1640’s is hierdie beleid van die Stuart-monargie voortgesit en selfs versterk deur Oliver Cromwell en sy militêre diktatorskap wat op ʼn staande mag gesteun het. Na die herinstelling van die monargie in 1660 het Charles II voortgegaan om die militêre magte van sy regering op te bou, en hierdie beleid was eintlik deel van ʼn algemene transformasie van die Engelse staat en samelewing van daardie tydperk. Wat in wese besig was om in Engeland te gebeur was die totstandkoming van die moderne staat met ʼn monopolie op die gebruik van geweld en die finansiële hulpbronne om die monopolie te ondersteun. 

Tussen 1660 en ongeveer 1720 het die monargie ʼn staande weermag ontwikkel sowel as die burokratiese meganismes om genoegsame fondse te verkry d.m.v. belastings en lenings. Onder Willem III was hierdie staatsinstellings gebruik vir die uitdruklike doel van oorlogvoering op ʼn globale skaal, maar selfs onder die laaste Stuart-konings, Charles II en sy broer James II, was dieselfde tendense sigbaar. Ten einde die staat (verpersoonlik in welke koning of dinastie ook al) daartoe te bemagtig om geld in te samel en oorlog te voer sonder interne teenkanting, was dit nodig om die bevolking te ontwapen. Die latere Stuarts het presies dít probeer doen. Die “Militia Act” van 1662 het die offisiere van die burgermag wat teen die tyd deur die koning aangestel is die mag gegee om enige onderdaan te ontwapen op die offisier se diskresie, ʼn mag wat ongeken was in die Engelse geskiedenis. ʼn Paar jaar later in 1671 is die eerste van ʼn lang lys wette, bekend as die “Game Laws”, deurgevoer wat jag verbied het vir mense wat nie genoegsame eiendom besit nie en die konfiskering van wapens en ander jagtoerusting gemagtig het wat in die besit van mense was wat nie gekwalifiseer het om te jag nie.

Teen die tyd wat die Katoliek, James II die troon bestyg in 1685, het hy doelbewus daarna gestreef om Ierse Protestante te ontwapen, en het hy die staande weermag wat hy van sy broer, Charles II, geërf het, verdubbel. Dit was die eerste staande weermag onder die monargie in die Engelse geskiedenis. Soos wat die historikus J.R. Western skryf: “There are signs that the disarming of the people for good was an integral part of the crown’s measures for destroying Whig powers of resistance. The disarming of the people was accompanied and intensified by the decline of the militia…Under James II the militia was steadily superseded by the standing army.” ʼn Militêre mag meer afhanklik van sy beheer as die Stuart-konings wat hy vervang het. Hy het geweier om die “Militia Act” op te hef en teen die einde van die Negejarige Oorlog in 1697 het hy geweier om die staande weermag te demobiliseer, wat toe veel groter was as wat die Stuarts ooit beplan het. Dit was sy aandrang op die behoud van ʼn staande weermag wat gelei het tot die betrokkenheid by nog ʼn buitelandse oorlog, nl. die Oorlog van die Spaanse Troonopvolging, wat uitgeloop het op die eerste uitdruklike verdediging van ʼn populêre burgermag in Engelse politiese denke deur die klassieke republikeinse pamfletskrywers John Trenchard en Walter Moyle.

Trenchard en Moyle, sowel as ʼn verskeidenheid ander teoretici, het geargumenteer dat die “antieke grondwet” van Engeland wat geërf was vanaf Anglo-Saksiese tye omvergewerp was deur die monargiste wat gebruik gemaak het van professionele soldate, en om die antieke grondwet en die vryhede wat daarmee gepaard gaan te herstel moes ʼn burgermag weer hervorm word. Hulle het uitgebreide planne beraam waarby alle mans wat eiendom besit by die burgermag sou aansluit en elke Christelike gemeente sy eie wapens en ammunisie sou voorsien. Die geskiedkundige Caroline Robbins beskryf die republikeinse besprekings van burgermaghervorming as volg: “Die klem was op die gevaar van interne sekuriteit teen koninklike mag eerder as op die noodsaaklikheid van verdediging teen eksterne aanvalle. Die verbinding tussen absolutisme en huursoldate is oor en oor uitgewys…Almal het tot dieselfde gevolgtrekking gekom: Hy wat gewapen is, is altyd meester van die beursie van hy wat ongewapen is.” 

Ongelukkig was die klassieke republikeine wat ʼn burgermag wou hervorm en teen ʼn staande weermag gekant was, verslaan, grotendeels deur die politieke oorloop van lord John Somers en sy volgelinge, wat later bekend geword het as die “Court Whigs”, wat hulle by die monargiste geskaar het en gebruik gemaak het van populêre vrese vir Katolieke Frankryk om die skepping van ʼn groot staande weermag te regverdig, asook al die staatsinstellings van die moderne staat, insluitende die finansiële, administratiewe en diplomatiese masjinerie om hierdie gewapende magte te onderhou. Alhoewel die ondersteuners van die burgermag die politieke stryd verloor het, is daar twee betekenisvolle implikasies van hierdie episode van die Engelse geskiedenis. Die eerste is dat die “Whig” en klassieke republikeine se debat oor burgermaghervorming ʼn diepgaande effek op Amerikaanse kolonialiste in die 18de eeu gehad het, en dit is grotendeels van die werke van mans soos Trenchard en sy kollegas waaruit die Amerikaners hul eie teoretiese idees van die reg tot wapenbesit, en ook hoe om ʼn burgermag te onderhou, gevorm het. 

Die tweede implikasie is dat die staat se aanval op die burgermag en die inspanning om die Engelse burgers te ontwapen, gepaard gegaan het met die staat se poging om sy militêre mag uit te brei en om sy militêre magte te gebruik vir eksterne militêre inmenging. Hierdie verbintenis is nie per toeval nie. Die Engelse monargiese konings van al die dinasties het verstaan dat hulle nie die finansiële hulpbronne kon mobiliseer vir oorlog vanaf hul onderdane nie, of inderdaad enige politieke oorheersing oor hulle onderdane uitoefen as die onderdane die vermoë van militêre teenstand het, en daarom was die ontwapening van die mense d.m.v. wetlike beperkings op die eiendomsreg van wapens ʼn konstante tema van die vroeë geskiedenis van die moderne staat en moderne imperialisme. 

Ten spyte van die laat 17de eeuse pogings tot ontwapening het die Engelse die reg tot wapenbesit behou en selfs uitgebrei in die loop van die 18de eeu. Tydens die rewolusie van 1688 is ʼn konvensie byeengeroep eerder as die parlement. Die “Whigs” en klassieke republikeine het ʼn aansienlike invloed uitgeoefen op die Engelse Handves van Menseregte wat die Konvensie aanvaar het. Een van hierdie regte was “dat die protestantse onderdane wapens mag besit vir hul eie verdediging gepas tot hul kondisie en soos deur die wet bepaal.” Die oorspronklike taal was meer radikaal en het geïmpliseer dat die onderdane ʼn plig het om wapens te besit. Hierdie taal was versag, waarskynlik a.g.v. William III se invloed en vrees dat ʼn plig eerder as ʼn reg om wapens te besit, sou voorkom as ʼn plig om koninklike outoriteit teen te staan. Die insluiting van die reg om wapens te besit in die Engelse Handves van Regte was die fondasie van hierdie reg in Brittanje tot en met die 20ste eeu. Alhoewel die Engelse Handves van Regte die reg beperk het tot Protestante, was die enigste beperking op Rooms-Katolieke dat Katolieke wettiglik verbied was om wapens te berg wat vir die doel van rebellie gebruik kon word; hulle was uitdruklik gerusgestel dat hulle die reg het om wapens te besit vir selfverdediging in ooreenstemming met wette wat in die 18de eeu daargestel is. Een en twintig jaar na die inwerkingstelling van die “Game Laws” is dit aangepas in 1692 om die reg om wapenbesit te bevestig – die wet is aangepas om wild te beskerm teen jagters, maar nie om eienaarskap van wapens te beperk nie.

Die bekendste Engelse regsgeleerde van die 18de eeu, Sir William Blackstone, was fanaties oor die reg tot wapenbesit as ʼn sentrale beginsel in die reg tot ʼn vrye land. In sy beroemde  Commentaries on the Laws of England skryf Blackstone aan die einde van sy opsomming van die regte van die Engelse:” But in vain would these rights be declared, ascertained, and protected by the dead letter of the laws, if the constitution had provided no other method to secure their actual enjoyment. It has therefore established certain other auxiliary rights of the subject, which serve principally as outworks or barriers, to protect and maintain inviolate the three great and primary rights, of personal security, personal liberty, and private property.” 

In Blackstone se siening was daar vyf van hierdie “auxiliary rights ”. Die vyfde en laaste van hierdie hulpregte was om wapens te besit vir selfverdediging, ooreenstemmend met hul kondisie en graad, en soos wat die wet dit toelaat en is inderdaad ʼn publieke toelaag onder gepaste beperkings van die natuurlike reg tot weerstand en selfbehoud, wanneer gemeenskaplike en wetlike sanksies onvoldoende gevind word om geweld en onderdrukking teen te staan. 

Ten spyte van die kwalifiserende regstaal wat Blackstone gebruik het oor die reg tot wapensbesit, het sy sienings ʼn sterk invloed gehad op die skrywers van die Amerikaanse grondwet wat ʼn minder kwalifiserende siening aangeneem het van wie wapens mag besit, ongeag van wat as “geskik tot hulle kondisie en graad” beskou kon word. Regdeur die 18de en 19de eeue was daar boonop in Brittanje baie min politieke verskille oor die reg tot wapenbesit. Die enigste uitsondering was ʼn wet wat deurgevoer was in 1819 as een van wat later bekend sou staan as “the Six Acts”, wat deurgevoer was in die tyd van die Napoleontiese oorloë om interne sekuriteit te beheer. Een van hierdie wette, bekend as die Konfiskasie van Wapens Wet, het toegelaat dat magistrate wapens van onderdane kon konfiskeer onder sekere omstandighede. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat selfs lord Castlereagh, die regeringswoordvoerder, wie die Konfiskasie van Wapens Wet voorgestel het in die Laerhuis, erken het dat die wet die konstitusionele reg om wapens te besit, skend. Castlereagh het die volgende gesê: “die beginsel van die wetgewing is nie in lyn met die grondwet nie en maak inbreuk op die regte en pligte van die mense en kan daarom slegs verdedig word op die noodsaaklikheid van die omstandighede”. Ten spyte van sterk teenkanting teenoor die wet is dit deurgevoer, maar net omdat dit moes verval na twee jaar, wat dan ook gebeur het. Van daardie tydstip af tot omtrent ʼn eeu later was daar feitlik geen ernstige poging om vuurwapen beheer uit te oefen in Engeland nie en daar was beslis geen suksesvolle pogings nie. Lord Macaulay het in werklikheid in die middel van die 19de eeu die reg tot wapenbesit verdedig as “die sekuriteit waarsonder alle ander regte onvoldoende is”. 

Teen die einde van die 19de eeu was daar sekere wette aanvaar wat kleiner beperkings voorgeskryf het met betrekking tot wapenbesit. In 1870 was daar ʼn Wapenlisensie Wet wat vereis het dat diegene wat vuurwapens in die buitelig wil dra, ʼn 10-shilling lisensie moes koop by die poskantoor; en dit was bedoel om as ʼn belastingmeganisme te dien. In 1893 en 1895 het die Britse Laerhuis dit oorweeg om strenger pistoolbeheerwette in te stel, maar dis van die hand gewys as “onnodig en nutteloos”. In 1903 het die Laerhuis ʼn Pistool Wet deurgevoer wat ʼn verbod geplaas het op die verkoop van pistole aan minderjariges en misdadigers. 

In 1920 het die koalisie regering van David Lloyd George egter wetgewing voorgestel wat later as die “Firearms Control Act” bekend geword het wat effektief die reg tot wapenbesit herroep het deur te vereis dat enige iemand wat ʼn vuurwapen wil koop, besit of gebruik, ʼn sertifikaat moet besit om dit te magtig. Die plaaslike polisiehoof was veronderstel om te besluit wie mag en wie mag nie wapens besit nie en kon enige iemand uitsluit, gebaseer op “onstuimige gewoontes, gekrenkte geestesvermoëns, of vir enige rede wat jou vertroue in die persoon sou krenk.” ʼn Stipulasie wat tans die meeste lede van enige parlement sou diskwalifiseer. Die aansoeker moes die polisie oorreed dat hy “goeie rede het om so ʼn sertifikaat te hê,” en die regering se woordvoerder in die House of Lords het toegegee dat “goeie rede deur praktyk” bepaal sal word – m.a.w. die “goeie rede” sal beteken wat die polisie wil hê dit moet beteken. Onder dié wet kon die Engelse in die hof appelleer teen die weiering van ʼn sertifikaat, maar die Iere was uitdruklik van so ʼn appèl uitgesluit. 

Terwyl die 1819-Beslaglegging op Wapens Wet deurgevoer was in ʼn ondemokratiese Britse Laerhuis, in ʼn tydperk van ernstige sosiale onrus en rewolusionêre aktiwiteite, het dit steeds sterk politieke teenkanting gekry. Die “Firearms Control Act” van 1920 het geen soortgelyke teenkanting gekry nie. Een lid van die Laerhuis, Joseph Kenworthy het protes aangeteken en daarop gewys dat die reg tot wapenbesit ten minste histories belangrik was vir die verkryging van ander politieke regte wat alle Engelse nou geniet, omrede dit hulle toegelaat het om die staat teen te staan. Hy was onmiddellik afgeskiet deur Winterton wat hom snedig toegesnou het dat “sy kollega se idee is dat die staat ʼn aggressiewe instelling is, wat poog om die private individu te ontneem van wapens wat die Hemel in sy hande geplaas het om teen die staat te veg…Daar is ander mense in hierdie land wat daardie opinie huldig en dit is juis as gevolg van mense van [daardie tipe] dat die regering hierdie wetsontwerp moet deurvoer.” 

Blykbaar sou die regering van 1920 dit as hul reg beskou het om beslag te lê op wapens wat gevind was in die besit van John Trenchard, sir William Blackstone, lord Macaulay en ander van “daardie tipe” wat die reg tot wapenbesit verdedig het as sekuriteit teen ʼn aggressiewe staat. Winterton het moontlik iets anders as regte in gedagte gehad. Die rede vir hierdie inperking was ʼn vrees by die regering vir ʼn bolsjewistiese rewolusie, alhoewel die offisiële redes wat die regering gegee het ʼn toename in misdaad was. Tussen 1915 en 1917 het die misdaadsyfer waarin vuurwapens gebruik was in der waarheid afgeneem vanaf 45 tot 15. Dit was nie uitsluitlik vrees vir bolsjewisme nie, daar was ook arbeidsonrus en Ierse geweld wat bygedra het tot die regering se besluit om die voorgestelde wetsontwerp deur te voer. Dit is insiggewend dat hierdie vuurwapenbeheermaatreëls nes dié van die laat 17de eeu nie aangevuur was uit ʼn behoefte om misdaad te beperk nie, maar uit vrees vir populêre burgerlike teenstand – met ander woorde die staat se vrees vir sy eie bevolking, vir die presiese eienskap wat die reg tot wapenbesit bedoel was om te verseker. 

Wat ook insiggewend is, is dat die 1920-wetsontwerp in die Britse Laerhuis deurgevoer is met ʼn stemtelling van 254 teen 6. Die Britse parlement het gevolglik ʼn fundamentele reg met ʼn oorweldigende meerderheid van die hand gewys. Hou in gedagte dat dit daardie reg was wat die rewolusie van 1688 geïnspireer het en een wat histories verdedig was as sentraal tot Engelse vryhede deur die land se voorste juriste en historici. Teen die tyd wat die debat aangaande die “Firearms Control Act” in die Laerhuis gevoer is, soos ons kan aflei uit Winterton se dom aanmerkings, het die Engelse burokratiese klas vergeet wat die reg tot wapenbesit beteken, waarom dit belangrik was, en daar is geen aanduiding dat ʼn Engelsman dit vandag enigsins beter verstaan as toe hulle hulself van daardie reg ontneem het in 1920 nie. Die wet is sedertdien telkemale versterk met min of geen publieke teenkanting, en hedendaagse Britse joernaliste is verbyster oor die feit dat sommige Amerikaners dink dat elke man die reg het om ʼn masjiengeweer in sy kas aan te hou; hul kennis van Amerikaanse geskiedenis is net so naïef en beperk soos hul kennis van hul eie land se geskiedenis. 

Die onmiddellike rede vir die Britse regering se behoefte om wapenbeheerwetgewing in te stel en die afskaffing van die Engelse se reg om wapens te besit was dalk vrees vir rewolusie en onluste, maar in ʼn breër sin het die verloop van die 1920-wet beslis verband gehou met die sistematiese vergroting van staatsmag in Brittanje en Amerika wat op daardie stadium begin het. Die eerste Amerikaanse federale wapenwet was 14 jaar later deurgevoer in 1934. Ek maak nie daarop aanspraak dat die Britse en Amerikaanse regerings doelbewus daarop uit was om burgers te ontwapen as ʼn voorbereidende skuif om hulle van uitgebreide vryhede te ontsê deur meerderwaardige staatsmag nie, alhoewel dit seker nie as moontlikheid uitgesluit kan word nie. Waarop ek wel aanspraak maak, is dat die inperking van die reg tot wapenbesit honderd persent sin maak in ʼn samelewing waarin die staat getriomfeer het. ʼn Samelewing waarin die sentralestaat, eerder as die mense, die ware bron van gesag is, en dit maak geen sin om in so ʼn samelewing wapenbesit toe te laat of as reg te erken onder die staat se onderdane nie. 

Daardie klassieke republikeine wat eerste die reg om wapens te besit verdedig en gekonseptualiseer het, het verstaan dat die soort samelewing wat hulle in gedagte gehad het, een sal wees waar gesag van onder af kom; dat die demokratiese element in samewerking met die aristokratiese element sou verseker dat daar deur die reg tot wapenbesit die staat daarvan weerhou sou word om sy perke te oorskry t.o.v. vryheid, eiendom en persoonlike sekuriteit. Hulle het ook geweet dat ʼn instelling soos ʼn burgermag die reg tot wapenbesit goed sou vestig en die effektiwiteit daarvan teen ʼn aggressiewe staat, en die ekonomiese onafhanklike burger wat met hul eie wapens in hierdie mag sou dien die sukses van republikeinse selfregering sou verseker. 

Dit is nie verrassend dat ʼn beskawing wat die lesse van klassieke republikeinisme vergeet het, (dat persoonlike en sosiale onafhanklikheid die voorvereiste is vir ʼn vrywillige regering) ook die betekenis van die reg tot wapenbesit vergeet het nie. ʼn Reg wat hulle goedsmoeds en in onkunde opgegee het, wat ʼn integrale verhoudingsaspek tot die natuur en konsep van ʼn selfregerende republiek is. Die alternatief tot die tipe gemengde regering wat klassieke republikeine ondersteun het, is presies die tipe wat James II en William III probeer bou het deur eerstens te verseker dat hul onderdane ontwapen was en nie hul plannetjies kon teenstaan nie. In die republiek, soos die klassieke teoretici dit uitgedink en verstaan het, spruit die outoriteit van die staat uit die mense, vanuit die sosiale elemente waarvan die bevolking opgemaak is, daarom is dit die staat wat met konkrete bewyse ons die burger moet oortuig waarom hulle iets onwettig wil verklaar, of om wette in te stel wat wapeneienaars beperk of om oorlog te maak in veraf lande. In die outokrasie, wat beoog was deur James II en William III, (om nie eens te praat van hul geestelike nageslag David Lloyd George, John Major, George Bush, Tony Blair, Bill Clinton, George W Bush, Gordon Brown, Obama en David Cameron nie) is dit die burger wat die staat moet oortuig dat hy toegelaat mag word om ʼn vuurwapen te besit. Die staat en sy burokrate mag hierdie pleitkreet afwys op enige gronde wat hulle as ʼn “goeie rede” beskou. 

Wat betrokke is by die huidige tendens van vuurwapenbeheer is ʼn bietjie meer as net ʼn poging na verbeterde wet en orde of regulering van jagters en wapenversamelaars. Dit is ʼn onuitgedaagde rewolusie teen ons fundamentele begrip van die staat, ʼn transformasie van die moderne republiek vanaf sy republikeinse karakter tot ʼn outokratiese karakter. Omrede die reg om vuurwapens te dra en te besit as individue of as selfbewapende burgers ʼn sentrale eienskap is van ʼn republiek en ʼn vrye nasie is. Dit is sinneloos om daarop aanspraak te maak dat ons ʼn republiek het as ons nie addisioneel die reg het om onsself te bewapen nie, aangesien die kapasiteit van mense om hulself te kan beskerm en verdedig – teen kriminele, buitelandse elemente en hul eie regering – ook ʼn voorwaarde is tot hul kapasiteit om oor hulself te regeer en ander daarvan te weerhou om oor hulle te regeer. Gelykstaande hieraan is die ontkenning van die reg tot wapenbesit ʼn karaktereienskap van outokrasie en mense wat in werklikheid slawe is, ongeag hoeveel geld hulle verdien of hoe gereeld hulle stem, omdat mense wat gestroop is van die kapasiteit om hulself te kan verdedig of beskerm, nie versoenbaar is met die konsep van ʼn republiek nie – en in der waarheid waar die staat ʼn monopolie op wapens het, kan daar nie na mense verwys word as burgers nie, maar eerder onderdane.

Advertisements

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis, Regte, Sekuriteit and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.