Krediet kanaliseer produksie

Lenings kanaliseer produksie

Deur Henry Hazlitt

1

Die regering se hulp aan besighede is soms net so skrikwekkend as regerings vyandigheid. Hierdie kamstige aanmoediging neem gereeld die vorm aan van lenings vanaf die regering of die borgstaan vir privaat lenings. Die studie van regeringskrediet kan dikwels ingewikkeld wees omrede dit die moontlikheid van inflasie insluit. Aangesien ons die analise van inflasie in ʼn latere hoofstuk bespreek gaan ons vir die onthalwe van eenvoud aanneem dat ons hier krediet wat nie inflasie veroorsaak nie, bespreek. Alhoewel inflasie die ondersoek bemoeilik, soos ons later sal sien, verander dit nie die nagevolge van die beleidspunte wat hier bespreek word nie. 

Een voorstel van hierdie soort wat gereeld voorkom is vir meer krediet vir boere. In die oë van politici kan opkomende boere net nooit genoeg krediet ontvang nie. Die krediet wat verskaf word deur privaat verbandmaatskappye, versekeringsmaatskappye of banke is nooit “genoegsaam” nie. Die regering vind altyd nuwe leemtes wat nie gevul kan word deur bestaande leningsinstansies nie, maak nie saak hoeveel van hierdie instansies bestaan of deur die staat self tot stand gebring is nie. Selfs as die boere oor genoeg langtermynkrediet en / of korttermynkrediet beskik, blyk dit skielik dat hulle nie genoeg wentelkrediet beskikbaar het nie; of die rentekoers is te hoog; of die klag is dat private lenings slegs aan ryk en welgevestigde boere toegestaan word. Dus word nuwe leningsinstansies en nuwe tipes landboulenings tot die voordeel van sommiges deur die regsisteem geskep en opmekaargestapel. 

Die vertroue in hierdie tipe regeringbeleid ontstaan vanuit twee kortsigtige maniere om na die probleem te kyk. Die een is om na die saak te kyk slegs vanuit die oogpunt van die boere wat leen en die ander is om slegs die eerste helfte van die transaksie in ag te neem. 

In die oë van regmatige leners moet alle lenings op die ou einde terug betaal word. Alle krediet is skuld. Voorstelle vir ʼn vermeerdering in die volume krediet is dus bloot net ʼn ander naam vir voorstelle vir ʼn vergrote skuldlas. Hierdie skemas sou baie minder aanloklik wees as politici altyd daarna verwys het by die tweede naam in plaas van die eerste.

Die normale lenings wat aan boere toegestaan word deur privaat bronne hoef nie hier bespreek te word nie. Dit behels verbande; Krediet paaiemente vir die aankoop van voertuie, yskaste, radio’s, trekkers asook ander landboumasjinerie, sowel as banklenings wat gemaak word om die boer te dra totdat hy in staat is om te oes en dit dan te bemark en daarvoor betaal te word. Hier bemoei ons onsself slegs met lenings aan boere wat of direk aan hulle toegestaan is vanaf ʼn regerings instansie of waar die skuld deur een gewaarborg word. 

Daar is twee sulke tipes lenings. Een is ʼn lening om die boer in staat te stel om sy oes van die mark af te hou. Dis ʼn besonders skadelike praktyk, en ons sal dit in diepte bespreek wanneer regeringskommoditeit kontroles bespreek word. Die ander en gewildste is ʼn lening om kapitaal te voorsien – meeste van die tyd om die opkomende boer in staat te stel om die plaas, pluimvee of trekker te koop, of selfs al drie. 

Met die eerste oogopslag wil dit voorkom of daar ʼn sterk argument gemaak kan word vir hierdie tipe lenings. Hier is ʼn arm familie, sal daar gesê word, met geen manier om ʼn bestaan te voer nie. Dit is wreed en selfs oneties om hulle nie te help nie. Koop vir hulle ʼn plaas; help hulle om ʼn besigheid en bestaan daarvan te maak; maak produktiewe en selfrespekterende burgers van hulle; laat hulle toevoeg tot die totale nasionale produk en die lening afbetaal uit dit wat hulle produseer. Of, hier is ʼn boer wat al sukkelend voortgaan met primitiewe metodes van produksie omrede hy nie die kapitaal het om vir homself ʼn trekker aan te skaf nie. Leen vir hom die geld om een te koop; laat hom sy produktiwiteit verhoog; hy kan die lening terugbetaal uit die winste van sy vergrote oeste. Op die manier verryk jy nie net hom en help hom op sy voete nie, jy verryk ook die hele gemeenskap met daardie toegevoegde opbrengste. Die argument sluit dan af deur dit te stel dat die lening dan die regering en die belastingbetaler minder as niks kos nie, omrede dit “self-likwiderend” is. 

Dit is egter wat elke dag gebeur met die gebruik van private krediet. As ʼn man ʼn plaas wil koop en net die helfte of ʼn derde van die kapitaal het wat die plaas kos, sal ʼn buurman, vennoot of bank vir hom die res leen in die vorm van ʼn verband op die plaas. As hy ʼn trekker wil koop sal die trekkermaatskappy self, of ʼn finansieringsmaatskappy, hom toelaat om die voertuig te koop vir ʼn gedeelte van die koopprys met die res van die balans wat dan in paaiemente afbetaal sal word vanuit die winste wat die trekker self sal genereer.

Daar is egter beslis ʼn verskil tussen lenings wat verskaf word deur privaat instansies en die lenings wat verskaf word deur ʼn regeringsagentskap. Elke privaat uitlener plaas sy fondse op risiko. (Dit is waar dat ʼn bankier die fondse wat ander aan hom toevertrou het op risiko plaas, maar as die geld verlore gaan moet hy of daarvoor vergoed uit sy eie fondse of hy gaan besigheid verloor en bankrot speel). Wanneer mense hul eie fondse op risiko plaas is hulle gewoonlik versigtig in hulle ondersoeke na die geskiktheid van die bates waarvoor hulle borg teken, sowel as die besigheidsvernuf en eerlikheid van die lener.

As die regering dieselfde streng standaarde sou handhaaf, wat sou dan die argument wees vir hulle om enigsins in die veld betrokke te raak? Hoekom presies doen wat privaatagentskappe alreeds doen? Maar die regering opereer onafwendbaar onder ander standaarde. Die hele argument vir die toetreding tot die leningsmark is dat die regering lenings sal toestaan aan mense wat nie lenings kon verkry van privaat instansies nie. Dit is slegs ʼn ander manier om te sê dat regeringsuitleners risiko’s met ander mense se geld gaan vat (die belastingbetalers sin), wat privaat instansies nie met hulle eie geld sou vat nie en ook nie met beleggers se geld nie. Inderwaarheid sal voorstanders hiervan partykeer openlik erken dat die persentasie verliese hoër sal wees op hierdie regeringslenings as op privaat lenings. Maar hulle argumenteer dat daarvoor gekompenseer word deur die verhoogde produksie wat tot stand kom a.g.v. die leners wat terug betaal, en selfs deur van die leners wat nie sal kan terugbetaal nie. 

Hierdie argument kan korrek voorkom solank as wat ons fokus op die spesifieke leners aan wie regering fondse toegestaan word en die mense wat as gevolg daarvan van fondse ontneem word, oorsien. Want dit wat regtig geleen word, is nie geld nie – wat bloot die ruilmiddel is – maar eerder kapitaal. Wat in werklikheid geleen word is die plaas of die trekker self. Die aantal plase waarop suksesvol geboer kan word is beperk, en so ook is die produksie van trekkers (veral wanneer daar aangeneem word dat die ekonomiese oormaat van trekkers nie bloot geproduseer is ten koste van ander dinge nie). Die plaas of trekker wat aan A geleen is, kan nie ook aan B geleen word nie. Die ware vraag is dus of dit A of B sal wees wat die plaas gaan kry.

Dit bring ons dan na die meriete van A en B sowel as wat elkeen bydra, of in staat is om by te dra, tot produksie. Kom ons sê dat A die man is wat die plaas sal kry as die regering nie inmeng nie. Die plaaslike bankier of sy bure ken hom en ken sy kredietrekord. Hulle soek beleggingsgeleenthede vir hul fondse waaruit hulle ʼn opbrengs kan verdien. Hulle weet hy is ʼn goeie boer en ʼn eerlike man wat by sy woord hou. Hulle beskou hom gevolglik as ʼn goeie risiko. Hy het dalk al klaar d.m.v. handelstransaksies, spaarsamigheid en vooruitsig, genoeg kontant bymekaargemaak om ʼn kwart van die plaas se prys te betaal. Hulle leen vir hom die ander driekwart en hy kry die plaas.

Daar is ʼn vreemde idee wat deur baie mense geglo word en dit is dat krediet iets is wat ʼn bankier aan ʼn man gee. Krediet is in werklikheid iets wat ʼn man klaar het. Hy het dit omrede hy alreeds bemarkbare bates besit wat meer werd is as die lening wat hy wil aangaan. Of hy het dit omrede hy dit verdien het op grond van sy historiese rekord. Hy bring dit in die bank in, dis hoekom die bankier die lening aan hom toestaan. Die bankier gee nie iets vir niks nie. Hy voel verseker van teugbetaling. Al wat hy doen is om ʼn meer vloeibare bate of krediet te verruil vir ʼn minder vloeibare vorm. Partykeer maak hy ʼn fout, en dan is dit nie net die bankier wat daaronder lei nie, maar die hele gemeenskap; geldwaardes wat deur die lener geproduseer moes word, word nie geproduseer nie en hulpbronne is dan verkwansel.

Indien ons veronderstel dat A die krediet het en hy die lening vanaf die bankier sou kry, maar omrede die regering die leen besigheid betree het kry B regeringshulp om die plaas te koop en kry A gevolglik nie die plaas nie. Ons veronderstel (vir ons voorbeeld) dat die regering dit vanuit ʼn welwillendheidsrede doen, soos ons gesien het is hulle bekommerd oor B. B kan nie ʼn verband, of enige ander lenings, van die privaat uitleners kry nie omrede hy nie kredietwaardig is nie. Hy het geen spaargeld nie; hy het geen indrukwekkende rekord as ʼn goeie boer nie; hy mag dalk selfs op die oomblik op welsyn wees. Hoekom nie?, vra die voorstaners van regeringskrediet, maak hom ʼn bruikbare en produktiewe lid van die gemeenskap deur vir hom genoeg geld te leen vir ʼn plaas en pluimvee of ʼn trekker en hom uit armoede op te hef.

Miskien sal dit in individuele situasies goed uitwerk. Maar dit is voor die hand liggend dat die mense wat volgens die regeringstandaarde gekies word in die algemeen hoër risiko’s sal wees as die wat gekies word volgens privaatstandaarde. Daar sal ʼn hoër persentasie mislukkings onder hulle wees en meer geld sal verlore gaan deur lenings aan hulle toe te staan. Hulle sal dus minder doeltreffend wees. Meer hulpbronne sal deur hulle vermors word. Ongeag hiervan sal die ontvangers van regeringskrediet hulle plase en trekkers kry ten koste van ander wat andersins die ontvangers van privaatkrediet kon gewees het. Omdat B ʼn plaas het, sal A ontneem word van een. A word uit die mark uitgedruk omdat rentekoerse opgegaan het a.g.v. regeringsbedrywighede, of omdat plase se pryse in die mark opwaarts aangepas het a.g.v. regeringsbedrywighede, of omdat geen ander plaas beskikbaar is in sy omgewing nie. In ieder geval is die netto resultaat van regeringskrediet nie om die aantal welvaart wat deur die gemeenskap geproduseer word te vermeerder nie, maar wel om dit te verminder omrede die beskikbare ware kapitaal (bestaande uit werklike plase, trekkers, ens) geplaas is in die hande van die minder doeltreffende leners eerder as die meer doeltreffende en betroubares.

2

 Die saak word nog duideliker as ons van landbou af wegbeweeg en na ander sektore van besighede kyk. Die voorstel dat die regering risiko’s behoort te neem wat “te groot vir die private finansiële industrie” is, word gereeld gemaak. Dit beteken dat staatsamptenare toegelaat moet word om risiko’s te neem met belastingbetalers se geld wat niemand anders bereid is om met hul eie te neem nie.

ʼn Regeringsbeleid van die aard sal lei tot ʼn verskeidenheid van gruwels. Dit sal lei tot voortrekkery: lenings sal net toegestaan word aan vriende, of in ruil vir omkopery, of sommige regeringsondersteuners. Skandale en bedrog sal onvermydelik wees. Dit sal lei tot wedersydse verwyte wanneer ook al die belastingbetaler se geld weggegooi word op ondernemings wat misluk het. Dit sal die aanvraag na sosialisme verder vergroot: want, daar sal waarskynlik gevra word: as die regering die risiko’s gaan dra, hoekom kan hulle nie ook die winste kry nie? Watse regverdiging kan daar inderdaad moontlik wees vir hulle om belastingbetalers te vra om risiko’s te neem terwyl hulle private kapitaliste toelaat om die profeite te hou?

Vir eers sal ons al die addisionele gruwelike gevolge oorsien en eerder konsentreer op slegs een gevolg van hierdie tipe lenings. Dit is dat hulle kapitaal sal vermors en produksie verminder. Hulle sal die beskikbare kapitaal vermors op slegte projekte. Hulle sal dit plaas in die hande van mense wat minder bekwaam of minder betroubaar is as die wat dit andersins sou gekry het. Omrede die (aantal) ware kapitaal op enige tydstip (geonderskei van monetêre papiergeld) beperk is. Wat in die hande van B geplaas word, kan nie ook in die hande van A geplaas word nie.

Mense wil hul eie kapitaal belê. Maar hulle is katvoet en wil dit terugkry. Dus ondersoek meeste uitleners enige voorstel versigtig voordat hulle hul eie geld daarin belê en aan risiko blootstel. Hulle weeg die moontlikheid van wins teenoor die kanse van verlies. Hulle mag dalk partykeer foute begaan, maar vir verskeie redes is hulle geneig om minder foute te maak as regeringsbesluitnemers. In die eerste plek is die geld of hul eie of dit is vrywilliglik aan hulle toevertrou. In die geval van die regering wat die geld leen behoort die geld aan ander en is dit ongeag hul persoonlike wense, d.m.v. belasting van hulle ontneem. Die private geld sal slegs belê word waar terugbetaling definitief met rente of wins verwag word. Dit is ʼn teken dat daar van die persone aan wie die lening gemaak is, verwag word om produkte te produseer waarvoor daar ʼn mark bestaan. Die regeringsgeld aan die ander kant, sal waarskynlik geleen word vir een of ander vae algemene doel, soos vir “werkskepping”, en hoe meer ondoeltreffend die werk – d.w.s., hoe groter die volume van werkers wat benodig is in vergelyking tot die waarde van die produk – hoe hoër sal die belegging geag word. 

Bygesê word die privaat uitleners geselekteer deur ʼn venynige marktoets, as hulle slegte foute maak verloor hulle hul geld en het dan nie meer om te leen nie. Dit is slegs as hulle suksesvol was in die verlede dat hulle meer geld het om uit te leen in die toekoms. Dus is private uitleners (behalwe die relatief klein proporsie wat hulle fondse geërf het) deur ʼn rigiede proses van oorlewing van die sterkste geselekteer. In teenstelling hiermee is regeringsuitleners wat dan hierdie besluite moet neem: óf die wat ten minste ʼn staatsdiens eksamens kon slaag, óf die wat die mees geloofwaardigste redes kan gee om lenings toe te staan en die mees geloofwaardigste verduidelikings kan gee oor hoekom dit nie hulle skuld was as die lenings nie terugbetaal word nie. Maar die netto resultaat bly dieselfde: privaat lenings sal veel beter gebruik maak van bestaande hulpbronne en kapitaal as wat regeringslenings dit sal doen. Regeringslenings sal veel meer kapitaal en hulpbronne vermors as privaat lenings. Regeringslenings in vergelyking met privaat lenings, sal produksie verminder, nie vermeerder nie.

Die staatsamptenare wat regeringslenings aan privaat individue of projekte toestaan sien vir B en vergeet van A. Hulle sien die mense in wie se hande die kapitaal geplaas is en vergeet van die wat dit andersins sou hê. Hulle sien die projek waaraan kapitaal toegestaan is en vergeet van die projekte van wie kapitaal as gevolg daarvan weerhou is. Hulle sien die onmiddellike voordeel aan een groep; maar nie die verliese van ander groepe nie, en ook nie die netto verlies van die gemeenskap as ʼn geheel nie. 

Dit is nog ʼn illustrasie van die denkfout waar daar slegs spesiale belange in die korttermyn raak gesien word, en die algemene belange in die langtermyn oorgesien word.

3

Ons het aan die begin van hierdie hoofstuk genoem dat regeringshulp aan besighede partykeer meer angswekkend is as regerings vyandigheid. Dit is net so toepaslik tot regeringstoelaes as wat dit is tot regeringslenings. Die regering leen of gee nooit enigiets aan besigheid wat dit nie van besigheid ontneem nie. Mens hoor gereeld hoe voorstanders van die “New Deal” en ander staatsskemas met trots spog oor hoe die regering besighede “gered” het d.m.v. een of ander skema. Maar die regering kan geen finansiële hulp verleen aan besigheid wat dit nie eers of uiteindelik van besigheid wegneem nie. Die regering se fondse kom alles vanaf belasting. Tot selfs die veel geroemde “regeringskrediet” rus op die aanname dat sy lenings uiteindelik terugbetaal sal word uit die opbrengs van belasting. Wanneer die regering lenings of toelaes aan besighede toestaan, belas dit suksesvolle privaat besigheid om sodoende onsuksesvolle privaat besigheid te ondersteun. Onder sekere noodgeval omstandighede mag daar dalk ʼn argument hiervoor wees. Op die lang duur is dit egter nie ʼn gesonde beleid vir die land as ʼn geheel nie en ervaring het bewys dat dit nie is nie.

_______________________________________________________________   Hierdie was dan hoofstuk 6 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek “Ekonomie in Een Les” gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 5

Hoofstuk 7

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , . Bookmark the permalink.