Hoe die Sosialiste die Koue Oorlog gewen het

(Prof Paul Gottfried)

Openingstoespraak aan die HL.Mencken Club

Ek word dikwels gevra waarom daar ʼn behoefte is aan onafhanklike regse dinkskrums en intellektuele bewegings. Beskerm die hordes Republikeinse radiokommentators en televisiepersoonlikhede soos Sarah Palin dan nie ons ideologiese posisies nie? Waarom moet ons ʼn beweging buite die politieke spektrum skep as FOX-nuus en middeljarige mense met kostuumwinkelpruike by “Tea Parties” rondmarsjeer en ons werk vir ons doen? Waarom vir die Demokratiese Party ammunisie gee deur te wys dat ons kant verdeeld is? Ons moet ons eerder besig hou met partypolitiek om sodoende saam te span sodat ons die Demokratiese Party in die volgende verkiesing op hul plek kan sit.

Daar is geen manier om hierdie vrae aan te spreek sonder om terug te val op die filosoof Hegel nie. Dit was die beroemde Duitse filosoof Hegel wat aangevoer het dat die ware definisies van begrippe en bewegings noodwendig geneties is. Sulke definisies kan nie behoorlik afgehandel word tensy ons teruggaan na die oorsprong van dít wat gedefinieer word nie. ʼn Boom is nie wat dit met die eerste oogopslag voorkom om te wees nie, maar die geskiedenis van daardie voorwerp vandat dit ʼn saailing was. Net so is daar geen manier om te verstaan waar ons tans is, sonder om te verstaan waar ons voorheen was en die pad na die huidige milieu nie. Die huidige toestand van enige instelling of beweging weerspieël ʼn dialektiese proses wat wemel van botsende onderstrominge. Dit is volgens Hegel, net wanneer botsende magte in ʼn permanente sintese bymekaargebring kan word dat die inherente teenstrydighede opgelos word. Voor daardie punt bereik kan word, moet die dialektiek voortgaan as iets integraal deel van dít wat gevorm word.

Dit is nie my bedoeling om die leser te beswaar met Hegeliaanse konsepte nie. Dit is eerder om die onvoltooide dialektiek van regse bewegings aan te spreek, om te verstaan waarom ons nie aan enige offisiële politieke beweging behoort nie en waarom daardie bewegings net ʼn eggo van linkse bewegings geword het. Wat aan Oostenrykse ekonome wel bekend is, is die oorwinning van Keynesian ekonomiese beginsels vanaf die Tweede Wêreldoorlog op die politieke front, die uitsluitlike onderrig daarin as die enigste toelaatbare ekonomiese skool by tersiêre inrigtings en die gevolglik oneindige groei en uitbreiding van staatsmag wêreldwyd daarna. Om die ekonomiese argumente hier buite rekening te laat, wil ek dan begin met die volgende veralgemening.

In die tweede helfte van die 20ste eeu het linkse politieke bewegings bykans oral in die Weste die oorhand gekry. Hierdie linkses wat die oorhand gekry het, was nie die gerontokrasie van ou omies in grys pakke nie en het net so min te doen gehad met enige okkupasie weermag, die ondoeltreffende verspreiding van goedere en dienste of ʼn arsenaal van atoombomme wat als geassosieer word met die Sowjetbewind nie. Die linkse beweging wat geseëvier het, was waarlik ʼn radikale een, en het sy oorwinnings gevier in Westerse lande wat hulself ten diepste ingespan het om een of ander meer egalitariese vorm van demokrasie te beoefen.

Óf dit nou die Amerikaanse Burgerregtebeweging en sy latere implikasies vir wetgewing aangaande feministe, gays, transvestiete, en selfs beskerming van onwettige immigrante was óf die denkbeeldige opheffing van antifascisme en Tiers-mondisme in Frankryk, Italië, Spanje en die Nederlande was, óf die morbiede obsessie van die Duitsers met hul ondemokratiese verlede en hulle moeisame “Sonderweg”, het dit die post-kommunistiese linkse beweging aan ʼn nimmereindigende taak oorgelaat. Dit poog om die onregte van die verlede reg te stel en spesifiek daardie onregte wat geblameer kan word op ʼn Wit-Christendom en Indo-Europese beskawing.

Excurses:Die oorsprong van politieke korrektheid – Deel 1

Die oorsprong van politieke korrektheid – Deel 2

Die oorsprong van politieke korrektheid – Deel 3

In my boek The Strange Death of European Marxism toon ek aan hoe die huidige linkses van beide Marxisme in teorie en kommunisme in praktyk verskil. Hierdie beweging word in die algemeen na verwys as kulturele Marxisme of totalitêre humanisme, en dit voer nou oorlog in die sosiale sfeer met enigiets wat nie radikaal genoeg is nie. Die aanhangers daarvan blameer die middelklas gemeenskappe vir sulke euwels soos “rassisme” “seksisme”, “homofobie”, en die gruwels van Hitler se Derde Ryk. Hierdie post-Marxistiese linkses doen ʼn beroep op die skuldige gewete van die Weste vir die onderdrukking van almal wat nie die ekonomiese hoogtepunt van die Westerse beskawing bereik het nie en selfs vir ʼn soort onvoldoende vasberadenheid in die stryd teen fascisme.

Alhoewel hierdie linkses in Europa kommunistiese regimes verdedig en tipies die misdade van Stalin se Rusland onderbeklemtoon, is dit nie primêr geïnteresseerd in sosialisme nie. Dit stel veral belang in die herkonstruksie van die samelewing en die integrasie van Westerse nasiestate in internasionale organisasies en in die oopstelling van Westerse lande aan Derde Wêreldse immigrante en in die popularisering van nie-Christelike of nie-Judeo-Christelike godsdienste. Vir diegene wat dalk nie opgemerk het nie, het die EU ʼn belangrike instrument vir hierdie sosiale eksperimente in Europa geword.

Waar hierdie linkse beweging Christelike teologie oorvleuel is in die beklemtoning op skuld vir die verlede en die behoefte aan onvoorwaardelike versoening. Die Christelike houding het sedertdien in ʼn plaasvervangerteologie verander, een wat sy eie kultus van revolusionêre heiliges en slagoffers ontwikkel en een wat ʼn seremoniële kalender produseer wat gesentreer is op polities korrekte herinneringe. In hierdie plaasvervangerteologie word van diskriminerende groepe verwag om onvoorwaardelik eensydig te versoen met diegene wat as historiese slagoffers voorgehou word en dit onophoudelik uit te leef as boetedoening vir een of ander oorspronklike “Westerse-sondeval”. Hierdie houding kan maklik waargeneem word in mense wat hulself as liberaal beskryf en dalk selfs neerkyk op Christelike konserwatiewes maar in hul verdoeming van enigeen wat politieke inkorrekte opinies huldig, optree soos religieuse fanatici.

Hierdie post-Marxistiese linkse beweging het kommunisme begin vervang as die belangrikste linkse ideologie in die Weste nog voor die val van die Sowjetunie. Reeds in die Sestigs het ʼn jeugkultuur die gedragstandaarde van die bourgeoisie verwerp en in noue samewerking met ʼn anti-koloniale Derde Wêreldse radikale bewegings in Europa wortel geskiet. In Franse en Italiaanse kommunistiese partye het energie begin wegvloei van die tradisionele partykaders na jong radikale toe. Hierdie nuwe opkomende elite was meer gemoeid met die stryd teen diskriminasie teen vroue en immigrante en die politieke insluiting van gays, as wat hulle met enige nasionalisering van produktiewe hulpbronne was. Alhoewel die ontluikende beweging meer sigbaar geword het in Mei 1968 na die gewelddadige betogings van die “soixante-huitard”(Agt-en-sestigers) in Parys en die organisasie van Rooi Brigades in Duitsland en Italië, was tekens van ʼn ontluikende beweging al reeds teenwoordig.

In ʼn skerpsinnige werk, Sognando la rivoluzione: La sinistra italiana e le origini del ‘68, het die politieke historikus van Milaan Italië, Danilo Breschi, uitgewys hoe die leierskorps van kommunistiese jeugorganisasies en arbeidsstakings in die hande geval het van dít wat die ou kommunistiese garde bestempel het as dekadente jeugdiges van die bourgeoisie. Diegene wat opgedaag het vir die stakings in die Sestigs in Turyn, Genua, Milaan, Bologna en ander stede in die noordelike industriële belt, was selfverklaarde anti-kapitalistiese radikale, gewerf vanuit die linkse Katolieke aksie, Trotskiese faksies en etniese minderhede; vir die onder-30 betogers was die ware agenda meer ambisieus, maar ook meer haalbaar. Dit was ʼn sosiaal-kulturele transformasie wat van bo ontwerp moes word. Die jare lange voorstanders van Marxisme, soos die filmmaker PP Pasolini, en die Marx-student en volgeling Lucio Colletti, het woedend uitgevaar teen hierdie indringers, en gepoog om hulle uit gerespekteerde linkse byeenkomste te verban. Colletti het so ver gegaan as om die polisie te bel om hierdie “dekadente” uit die kommunistiese party se kantore te verwyder, en Pasolini het hul oproerigheid aan die Italiaanse linkse beweging met groeiende vrees aanskou en na hul uitsprake verwys as ʼn verbale siekte.

Hierdie post-Marxistiese en anti-bourgeoisie, linkse groepe het minder simpatie vir die kommunistiese partye gehad as vir ander sosialistiese groepe, en hulle het in besonder goed oor die weg gekom met die Groen bewegings. Soos die Groen bewegings hul fokus verskuif het van omgewingsake na die bevordering van immigrasie van armes in die Derde Wêreld na Westerse lande en met die bevordering van alternatiewe leefstyle, het hulle ononderskeibaar van die post-Marxistiese linkse bewegings geword. Teen die einde van die Koue Oorlog het kommunisme in die Weste in onbruik geraak omdat die kulturele Marxistiese beweging sy plek ingeneem het, en omdat hierdie vervangende linkses die linkerkant van die politieke spektrum in Wes-Europa begin vorm het.

Die kommunistiese partye in Frankryk, Italië en Duitsland het voortgegaan om te funksioneer as een van verskeie hawens van kulturele Marxisme, maar gewoonlik nie as deel van sy belangrikste middelpunt nie. ʼn Soortgelyke proses het stadiger in die Sowjetunie ontvou. Onder die neuse van die kommunistiese amptenare in Oos-Duitsland het kulturele radikale soos die Stasi-informant en latere hoof van die Duitse Party van die Demokratiese linkses, Gregor Gysi, tot hul eie reg gekom. Die DDR (Oos-Duitsland) se ineenstorting het toegelaat dat hierdie radikale bewegings by die Weste kon aansluit wat hulle met dieselfde anti-bourgeoisie projekte beywer het, naamlik gay en feministiese regte, die oorbeklemtoning op fascistiese gevare en die samesmelting van nasiestate as onderafdelings van ʼn globale bestuur-staat, nl. die VN en die EU.

Mens kan probeer om die uiteindelike rigting van my argument te betwis, dat dit alles niks te make het met neokonserwatiewe FOX News of Glenn Beck nie. Die konserwatiewe beweging verkondig dat dit anti-links is. Sommige bespot selfs die verheerliking van Islam en handhaaf Westerse demokratiese en feministiese ideale; en dit verdedig kamstig die dominansie van die Amerikaanse staat teen internasionale organisasies soos die VN. ʼn Goed betaalde GOP-satirikus, Mark Steyn, dryf aanhoudend die spot met die Europeërs en Kanadese se ononderbroke hulp aan lande en individue wat anti-Westerse uitgesprokenes is. Ek kan dus onmoontlik nie daarop aanspraak maak dat die amptelike konserwatiewe beweging in Amerika kulturele Marxisme verteenwoordig nie. In werklikheid huldig ek presies hierdie siening.

Ek sou die verdere punt maak dat wat die gemagtigde konserwatiewe leiers onderskei van die post-Marxistiese linkses in Europa, en die Amerikaanse en Kanadese linkse bewegings meestal kwantitatief is. Terwyl die linkses sonder voorbehoud politieke korrektheid bevorder, druk die konserwatiewe bewegings in die lande dit in ʼn minder oordadige vorm uit. Beide groepe weerspieël egter in wisselende grade dieselfde algemene kulturele beweging. Net soos Amerikaanse linkses en die dominante ideologie in Wes-Europa, is ons 40+-jarige konserwatiewe ondersteuners gedompel in ʼn linkse kultuur. Die resultaat daarvan is dat almal van hulle sekere dinge glo wat volwassenes in die Vyftigs, insluitend kommunistiese simpatiseerders, skaars sou kon verstaan.

Dit sou geen oordrywing wees om te sê dat Sarah Palin, wat ʼn uitgesproke voorstander is van antidiskriminasiewetgewing vir vroue, sosiaal meer radikaal is as wat die Franse en Italiaanse kommunistiese leiers 60 jaar gelede was nie. Terwyl outydse Kommunistiese Partylede ten gunste was van ʼn sentraal beheerde ekonomie en moontlik selfs die Sowjet-kant in die Koue Oorlog ondersteun het, was hulle in teenstelling met Palin, nie gretig om seksisme te straf nie. Hulle het ook nie ʼn snars omgegee of eens oorweeg dat belastinggeld aangewend kon word vir die bevordering van gay regte nie, tot en met die tyd dat die kommunistiese partye reeds in die verknorsing was met die post-Marxistiese linkses. Dit is ondenkbaar dat die kommuniste van daardie era vandag se neokonserwatiewe publikasies soos dié van Jona Goldberg, Charles Kraut Hammer, John Podhoretz, die Neocon New York Post of die Wall Street Journal sou volg ter bevestiging van staatsbefondsde gay regte. Twee geskiedskrywers van die post-Wêreldoorlog kommunistiese bewegings in onderskeidelik Frankryk en Italië, Annie Kriegel en Andrea Ragusa, beeld ʼn partyleierskap uit wat, ten spyte van hulself, aan ʼn bourgeoisie-era behoort het. Hulle beklemtoon die mate waartoe kommunistiese partye in dié tyd nog die tradisionele menslike sosiale verhoudings van die pre-Vatikaan II Kerke verteenwoordig het.

Neokonserwatiewe kritici van Islamitiese immigrasie na Europa, soos Steyn en Christopher Caldwell, teiken (en die leser moet hierop attent gemaak word) ʼn spesifieke Europese eksperiment in multikulturalisme in voorheen homogene lande. Amerika se gewilligheid om net mooi enigiemand in te neem en te naturaliseer skeel hierdie kritici min; vermoedelik kan die Amerikaanse groot tent onophoudelik meer mense van radikaal verskillende kulture inneem. Deur hulself te verklaar as ʼn “proposisionele nasie” wat bymekaar gehou word deur menseregte en die geloof in ʼn universele demokratiese gelykheid, maak hulle die deure oop na die wêreld, of ten minste dié in die wêreld wat hul universalistiese geloof bevestig.

Te danke aan republikeine het ek oor die afgelope twee dekades geleer dat Martin Luther King spesifiek opgetree het as ʼn konserwatiewe Christelike teoloog toe hy aan die voorpunt van die burgerregterewolusie gestaan het; dat gay huwelike ʼn konserwatiewe “familiewaarde” kan wees indien dit behoorlik verstaan word; dat ons verplig is om Moslems te oortuig dat ons huidige konsep van regte van vroue en gays reg is. Dit is juis hierdie idees wat ons “Westers” maak; en as ons werklik die heerlikheid van ons beskawing waardeer, wat tot stand gekom het in ʼn onlangse fase van laat modernisme, moet ons werk daaraan om ons hoë ideale oral te versprei, al beteken dit militêre optrede teen dié wat dit nie aanvaar nie. Ewe relevant vir hulle is die stryd teen diegene wat hul oortuigings van menseregte uitdaag en uitgedaag het, en die mees verregaande 19deeeuse teen-revolusionêre wat na hulself as “liberale” verwys het. Volgens die republikeinse party sou hierdie mis-geëtiketteerde konserwatiewes, met gesonde staatsonderrig, die Amerikaanse geloof van demokratiese gelykheid verwelkom het.

ʼn Treffende voorbeeld van hoe diep gegrond linkse denkpatrone die regses beïnvloed het, kan gesien word in William F. Buckley se antwoorde en aanvalle in die liberale/Neocon-pers teen die sogenaamde “anti-Semiete” Joe Sobran, Samuel Francis en Pat Buchanan. Ons drie “anti-Semiete” het slegs die voor die hand liggende uitgewys, maar in die National Review-uitgawes van Desember 1991 en Maart 1992 en in sy latere “In Search of Anti-Semitism”, onderskei Buckley tussen diegene wat anti-Semiete is vanuit oortuiging en diegene wat “kontekstueel” anti-Joods is. Sy hoofonderskeid val egter terug na die Marxistiese idee van ʼn “objektiewe reaksionêr”, bedoelende enige iemand wat die voorkeure van die Kommunistiese Party uitdaag. Buckley se argument in konteks maak ook die aanklag teen enigeen wat multikulturalisme in Europa uitdaag as iemand wat voorbrande maak vir Nazi’s.

Uit hierdie oogpunt maak dit dan nie regtig saak of ʼn mens iets sê wat objektief korrek is nie. Wat tel, is om nie sekere “VIP’s” te ontstel nie. In die lees van Buckley se literêre aanvalle moet in gedagte gehou word dat nóg die “kwaaddoeners” nóg die slagoffers enigiets te doen gehad het met etniese suiwerings. Die ware ramp word op die voordeur geplaas van enigiemand wat homself toelaat om hierdeur geïntimideer te word en dit as argument te aanvaar. Verder word Amerikaanse Christene in hierdie geval deur die skuldlas geraak deurdat voorgeskrewe sensitiwiteit aan veral Amerikaanse Jode vereis word. Daar is in elke land surrogaat-slagoffers en surrogaat-oortreders, die eerste in ons voorbeeld is Buckley se vriende en die joernaliste wat verontwaardig gevoel het dat mense ander opinies as hulle het, en die tweede is diegene wat aanstootlike opmerkings gemaak het, maar wat geensins iets met Nazi-misdade te doen gehad het nie. Die bogenoemde “oortreders” moes almal afgedank en verdryf word uit gerespekteerde konserwatiewe publikasies en selfs uit beleefde geselskap uit. Soos in die geval van Joseph Sobran wat nie eens privaat toesprake kon maak sonder dreigoproepe na borge nie. Hulle is, of was, die ekwivalent van wat die Kommuniste “sosiale fasciste” genoem het en wat die Europese voogde van politieke korrektheid noem “fascistoid”. Sulke antisosiale tipes is vir hulle kontekstueel gevaarlik en moes daarom verstoot word voordat hulle kan kwaad doen.

Let daarop dat ons drie kontekstuele anti-Semiete nooit geweld teen Jode voorgestaan het nie en selfs Joodse vriende, insluitende myself, gehad het, net soos Europese kritici van die Moslem-immigrasie na Europa, of Duitse geleerdes wat die uitsluitlike blaam van hul land vir elke groot oorlog in die geskiedenis bevraagteken, nie voorstanders van die Holocaust is nie. Hulle het eenvoudig ʼn bloutjie geloop met die denkpolisie deur die heropening van onwelkome debatte. Die Republikeinse party in Amerika speel hierdie speletjie deur enige vraag wat hulle nie wil aanhoor nie as vir ewig gesluit te verklaar. Sulke vrae sluit nou onder meer in enige kritiek rondom 1965 se immigrasiewetgewing en swartburgerregtewetgewing.

Wat wel in die Amerikaanse konserwatiewe beweging van die Vyftigs tot die Tagtigs oorgebly het, is antikommunisme. Amerikaanse konserwatiewes gedurende hierdie tydperk was ten gunste van weerstand teen kommunistiese uitbreiding en het in die algemeen die Sowjetunie as ʼn bose ryk beskou. Die beweging se argumente teen die “bose ryk” het egter oor die dekades verander, van die verdediging van Westerse beskawing teen ʼn goddelose vyand na die beskerming van wêreldwye demokratiese waardes teen ʼn reaksionêre, homofobiese regse Russiese vyand.

Hierdie veranderende redes vir ʼn anti-Sowjet-opinie vertel ons baie oor die konserwatiewes se linkswaartse neiging. Hierdie neiging het ʼn gedwonge opmars geword nadat die neokonserwatiewes oorgeneem het, en die gevolge daarvan help om te verduidelik waarom daar ʼn onafhanklike regse dinkskrum is. Ons bly in oorlog gewikkel met die kulturele en politieke kragte wat die linkses in die Sestigs hervorm het; die Republikeinse Party het in teenstelling hiermee vrede met dié kragte gemaak – terwyl hulle ten sterkste ontken wat gebeur het.

Die gemiddelde burger wat wel tot die gevolgtrekking kom dat hy te min inspraak in sy eie sake het verstaan nie altyd die impak en belang van intellektuele bewegings nie, en dra gewoonlik ook nie veel meer kennis van ekonomie as die deurslag-politikus nie. Die gevolg is dat sommiges daarop terugval om alle probleme op ʼn denkbeeldige illuminati, Joodse-geldmag of vrye messelaars te blameer, waar onbewysbare teorieë op onbewysbare teorieë gegrond is. Dit is die idee dat derduisende mense in honderde lande geheimsinnig kan saamspan tot geheimsinnige doelstellings sonder dat enigiemand dit uitlek, en dan nog meer fabelagtig en ongelooflik daardie doelstellings dan bereik. Moet ook nie verbaas wees as mense wat sulke teorieë aanhang, omdraai om staatskole, publieke vervoer of enige ander “verniet” gawe van die regering te verdedig nie, dit dui op ʼn onvermoë om die mag te verstaan wat in die staat gesentreer is.

Daarmee ontken ek nie die bestaan van organisasies soos die Bilderberg-groep of ander met moontlike duistere motiewe nie, maar dat indien hulle enige mate van mag of belang het of wil hê, hulle staatsamptenare moet werf wat reeds oor te veel mag beskik. Dit is dalk omrede hul so gekondisioneer is om die staat as ʼn platoniese vriend te sien dat wanneer die uitkomste wat die staat oplewer lynreg bots met hul eie logika, dit makliker is om dit op ʼn geheimsinnige “derde mag” te blameer. Binne die staat vind allerhande sameswerings plaas, soos Murray Rothbard dit gestel het: Sameswerings vind tog plaas, links en regs. Dan het hy gewoonlik met ʼn glimlag bygevoeg maar meestal aan die politieke linkerkant.

Wat as ek jou vertel

Almal is bewus daarvan dat dit die Republikeinse Party was wat die oorlog op die Amerikaanse Suide losgelaat het en die meeste van die Suidelike state vir bykans 60 jaar as eenpartystate in die hande van die Demokratiese Party bestaan het as gevolg van hul ontevredenheid met die Noorde. Tog het die twee partye teen 1936 vir goed hul tradisionele posisies verruil. Wat die republikeinse party van sy linkse verlede behou het, is sy militarisme en geloof in Amerika as ʼn eenheidstaat. Daar is verskeie bekende redes vir hierdie plekverruiling van die twee partye, nl. immigrasie, die hulpelose poging tot prohibisie, swart burgerregte en vele meer. Een van die minder bekende redes is die oorloop van vele Trotsky-kommuniste na die Republikeinse Party, aangehits deur hul vurige haat vir die Sowjetunie en Stalin. Ook belangrik is om die progressiewe denke van die vroeë 1900’s te verstaan, en veral John Dewey op wie se uitnodiging die Frankfurt Skool in Amerika gevestig het. Hoewel hy homself meeste van die tyd as ʼn sosiale-demokraat beskryf het, het hy en sy ideologiese volgelinge gehelp om die term liberaal te verander vanaf die oorspronklike betekenis.

Tyd en die Amerikaanse Republikeinse Party self het daartoe bygedra om hierdie waarhede te vervaag. Die “oorwinning van die Weste” in die Koue Oorlog word geplaas in ʼn nagemaakte reeks konserwatiewe oorwinnings wat as “konserwatiewe oorwinnings” beskryf word, van Reagan se “konserwatiewe revolusie” in die Tagtigs regdeur tot die presidentskap van Bush II. Volgens die “Heritage Foundation” se versinning, of eerder laakbare leuens, behoort selfs die Clinton-presidentskap aan ʼn “voortdurende konserwatiewe revolusie” wat begin het met Reagan en wat in Bush II se demokratiese Midde-Oosterse kruistogte uitgeloop het. Soos Reagan en Bush I en II, het Clinton vermoedelik fiskale konserwatisme beoefen en Amerikaanse konsepte van menseregte bevorder, alhoewel nie so effektief as sy republikeinse teenstanders nie. Daar is ook “goeie” Europeërs wat hierdie konserwatiewe opmars bevorder het, insluitend ʼn andersins gewone sosiale linkse, Tony Blair, wat die Bush-administrasie ondersteun het. Thatcher en Kohl was twee ander vriende wat gehelp het gedurende die Koue Oorlog. Die Duitse kanselier Kohl was kruiperig genoeg, met ander woorde “konserwatief” genoeg in die huidige vae konteks, om seker te maak dat sy land se hereniging ʼn verbygaande fase sou wees met ʼn groter EU wat van meer belang sou wees. “Konserwatief” buite die VSA beteken om met ʼn neokonserwatiewe beleid saam te stem.

Die Republikeinse Party het ook die “konserwatiewe”-etiket aangewend aan dinge wat niks te doen het met enige verstaanbare konsep van konserwatisme nie. Demokratiese gelykheid en matige feminisme is twee sulke verkose waardes wat die konserwatiewe beweging vir homself opgeëis het. Republikeinse dinkskrums het ook vir hulself selfgeëtiketteerde linkses toegeëien as mans en vroue van die regse beweging. Die herontdekking van Martin Luther King, Joe Lieberman en Pat Moynihan as “konserwatiewe” helde is ʼn voorbeeld van hierdie praktyk. En sulke manipulasies het hul politieke voordele. Die beweging kan daarop aanspraak maak dat dit goed doen, selfs wanneer die linkses seëvier.

Die Republikeinse party het ook die Sestigs in hul eie politieke korrekte herinneringe herskep deur daardie dekade se kulturele radikalisme van die politiek te skei. Alhoewel nare hippies – of so word ons vertel – die lug vervuil het deur nie hul tande te borsel nie en zol te rook, het die Sestigs ook wetgewende hervormings meegebring waarop Edmund Burke kwansuis trots sou wees, soos byvoorbeeld die Wet op Burgerregte wat volgens Jona Goldberg vir die eerste keer ekonomiese vryheid vir almal in Amerika moontlik gemaak het. Die Wet op Stemreg was nog ʼn “konserwatiewe” deurbraak, want daarna het die federale regering seker gemaak dat alle burgers in staat sou wees om te stem. In werklikheid het dit beteken dat sekere dele van die land onder konstante federale militêre toesig sou wees om te verseker dat die swart/wit-stem-verhouding nie onder ʼn sekere verwagte verhouding val nie. Om dan ook vir een of beide van ons twee geïnstitusionaliseerde politieke partye te stem is in werklikheid ʼn “konserwatiewe” praktyk, en vermoedelik, hoe meer mense van verskillende velkleure stem, hoe meer “konserwatief” word ons. Ewe belaglik is die idee dat die Immigrasiehervormings van 1965 die VSA gevul het met “konserwatiewe” Katolieke kiesers, waarvan die voordele (of konserwatisme) nog eendag vasgestel moet word.

In die Vyftigs en Sestigs het mense wat hulself as konserwatief beskryf het ʼn opvallende ander opinie aangaande hierdie sake gehad. Terwyl hulle verseker nie verheug was oor diegene wat universiteitsgeboue beset het of dwelms gebruik het nie, was hulle baie meer ontevrede met daardie era se politieke hervormings. Nie eens in hul wildste drome sou die meeste van hulle dit kon indink dat sulke verreikende pogings om die land kultureel of etnies te herskep eendag verklaar sou word as konserwatief nie. En ek sou dit as voor die hand liggend beskou dat ʼn mens nie ʼn voorstander van Jim Crow-wette of apartheid hoef te wees om te besef dat die maatreëls wat die staat uiteindelik geneem het om diskriminasie te beëindig, ʼn permanente “straightjacket” op individuele vryheid geplaas het waarvan dit soms voel of dit onmoontlik gaan wees om onsself te bevry. Daar was niks “konserwatief” oor die burokratiese maatreëls waarmee hierdie “straightjacket” afgedwing was nie.

Vandag se konserwatiewe beweging in Amerika gaan oor die behoud van die Sestigs. Hulle het daardie dekade se transformerende wetgewing in die hoeksteen van “konserwatiewe” politiek verander. En dan was daar daardie ander twyfelagtige triomf vir die regses: vermoedelik behoort die ineenstorting van die Sowjetunie aan ʼn reeks konserwatiewe oorwinnings in die Weste, wat verband gehou het met Reagan, Thatcher, en hul opvolgers. Die einde van die Sowjet-oorheersings in Oos-Europa het egter nie die ideologiese verskuiwing veroorsaak wat soms daaraan toegeskryf word nie. Die Sowjetunie het die verhoog van die geskiedenis verlaat na ʼn meer radikale linkse beweging oorgeneem het, en dit het by uitstek in die Weste plaasgevind, wat nooit onder die lot van militêre oorheersing deur die Sowjette gely het nie. Hierdie vervangde linkse bewegings het kommunistiese organisasies hervorm lank voor die ineenstorting van die Sowjetunie, en in sy ligter vorme het dit die algemene politieke kultuur in Westerse lande bepaal, insluitend dié van ʼn getransformeerde Amerikaanse Republikeinse party.

ʼn Mens kan nie die vraag na waarom daar ʼn onafhanklike regse dinkskrum is voltooi sonder om ook te kyk na die groter prentjie nie. Ons is deel van daardie prentjie, net so veel as diegene wat ons teëstaan. In teenstelling met ander gee ons onself nie daaraan oor om emosies op te jaag, verwarring te saai of die feite te manipuleer nie. In die Weste was daar geen konserwatiewe oorwinnaars in die Koue Oorlog nie. Indien daar oorwinnaars bestaan het, was dit die herlewende nasies van Oos-Europa, en selfs hierdie welverdiende oorwinnaars kan bedreig word met morele nederlaag, indien die linkses wat in die Weste geseëvier het, voortgaan om vordering te maak.
______________________________________________________________________

Die leser mag my dalk vra wat hierdie paleokonserwatiewe stuk enigsins met die inwoners van die territoriale gebied bekend as Suid-Afrika of Afrikaners in besonder te make het? Ons is deel van ʼn wêreld wat vinnig verander en dit help nie om dinge gedeeltelik te verstaan as ons sin daarvan wil maak nie.

Tog dink ek daar is ʼn ander waarskuwing ook hierin opgesluit, en dit is die idee dat sosiaal-konserwatiewe waardes of selfs minderheidsregte met staatsmag beskerm moet word, eerder as met selfregerende lokalisme. Dit is nie asof gays of enige etniese of selfs rasgroep nie regte het nie, almal het immers dieselfde inherente natuurlike regte. Ook is dit nie die geval dat denkers van ander skole soos die Frankfurt-skool almal slegte mense met net slegte idees is nie. Dit is eerder ʼn geval daarvan dat die staat en staatsamptenare deur natuurlike aansporings slegs teorieë van enige ideologie aangryp as dit verhoogde staatsmag tot gevolg het.

Anti-Semitisme en die probleme wat politieke korrektheid skep, is beslis nie temas waarmee ek te veel tyd wil mors op die blog nie, maar ʼn bekende aanklag is dat een van die hoofredes waarom anti-Semitisme so sterk was in Europa, is dat vir baie eeue die monargieë so lank en sterk op Jode staatgemaak het vir die invordering van belastings onder oorwegend ongeletterde bevolkings. Vir diegene wat die etniese staat egter voorhou as die oplossing vir alle probleme, ken nie die staat se vermoë om sy eie mense te onderdruk nie. In 1953 kom die Oos-Duitsers in opstand en die kommunistiese digter Bertolt Brecht skryf ʼn gedig met ʼn eenvoudige antwoord, as die ideologie nie werk nie moet die staat die volk ontbind en ʼn nuwe een verkies; in ʼn mate is dit wat in Suid-Afrika gebeur het.

Peter Brimelow gee ʼn interessante blik op hierdie idee met ʼn duidelike begrip vir die ekonomiese oorwegings.

Op die ou einde behoort die antwoord op al hierdie vorms van kollektivisme steeds eerder te wees, ʼn tipe hipper individualisme waar die staat in sover as wat dit dan moet bestaan net individue kan sien. Die probleem met my stelling is natuurlik dat individue (vir die behoud van vryheid) nie staatsmag kan uitdaag nie, die staat duld geen kompetisie wat sy monopolie uitdaag nie en verkies die ontmagtige individu. Daarom is alle vorme van kollektivisme wat staatsmag kan uitdaag wel aanneemlik ongeag of dit gebaseer is op geloof, taal, klas, ras, etnisiteit of seksuele oriëntasie, solank dit na lokalisme en desentralisasie lei. Hulle is almal aanneemlik, maar indien dit na sentralisasie en verhoogde staatsmag lei, is hulle almal (ongeag of dit addisioneel kulturele konserwatisme of kultureel-liberale waardes verteenwoordig) ewe dwangmatig in hul onderdrukking. In die sweer waar konserwatisme en/of liberalisme staatsmag benodig, verteenwoordig beide dit wat onnatuurlik is. Alhoewel Westerse lande verkondig dat hulle individualisme bevorder, lê die probleem daarin opgesluit dat hulle altyd sekere groepsregte (ongeag watter groep ter sprake is) erken en dan gesamentlik daarmee diskriminasie tussen individue en lidmaatskap tot privaat instellings wat diskriminerend beperk word, probeer verban met hul eie diskriminasie wat dan tot ontelbare voorbeelde van dubbelstandaarde lei en vrye assosiasie ondermyn.

 Indien sosiale ingenieurswese tot ongewensde uitkomste ly in homogene lande, hoeveel te meer is dit nie gevaarlik in ʼn territoriale gebied soos Suid-Afrika nie, waar ʼn natuurlike multikulturele samelewing nog altyd bestaan het. Die punt is dat alle vorme van sosiale ingenieurswese ewe gevaarlik is ongeag of dit deur ʼn konserwatiewe of liberale regering deurgevoer word, ongeag of dit die NP of die ANC is, en ongeag of dit diskriminasie met wetgewing probeer bevorder of onwettig verklaar.

 Die filosoof Hobbes, wie se skryfwerk steeds gedeeltelik die basis van sosiale-kontrakteorie vorm (wat mense vir watter rede ook al aanvaar sonder om dit uit te daag), het in sy boek Leviátan wat in 1651 gepubliseer is, daarop aanspraak gemaak dat die staat die mens uit ʼn toestand van anargisme lig en ons gevolglik red uit die oorlog van almal teen almal. Dit raak egter al hoe duideliker dat die staat ons eerder lei na “Bellum omnium contra omnes” – Die oorlog van almal teen almal.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Marxisme, Politieke Korrektheid, Video and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.