Marxistiese vs. Oostenrykse Klasanalise – Deel 1

Karl Marx vs Ludwig Von Mises

Min idees word so sterk met Marxisme geassosieer as die konsepte van klas en klaskonflik; dis selfs onmoontlik om die Marxistiese teorie van geskiedenis of hul rewolusionêre teorie in die afwesigheid daarvan te verbeel. Tog was klasanalise goed ontwikkel lank voordat Marx op die toneel verskyn het. Marx erken self in ʼn brief aan ʼn ondersteuner: “Geen krediet kom my toe vir die ontdekking van die bestaan van klasse in die moderne samelewing nie en ook nie vir die stryd tussen hulle nie. Lank voor my het bourgeoisie geskiedkundiges die historiese ontwikkeling van klassestryd beskryf en bourgeoisie ekonome die anatomie van klasse.” Uiteindelik sou daar slegs twee ekonomiese skole wees wat daarop sou steun en ʼn klas teorie sou ontwikkel, nl. die Marxiste en die Oostenrykse denkskool. In hierdie stuk verduidelik professor Hoppe die verkille in benadering tot klasanalise tussen hierdie twee ongelyksoortige skole. 

deur Hans-Hermann Hoppe

 Ek wil die volgende in hierdie artikel doen: Eerstens wil ek die standpunte aanbied wat die kernfilosofie van die Marxistiese teorie van geskiedenis vorm en ek gaan beweer dat almal van hulle in wese korrek is. Dan sal ek bewys hoe hierdie ware standpunte in Marxisme afgelei is van ʼn foutiewe beginpunt. Ten slotte sal ek demonstreer hoe die Oostenrykse denkskool in die Mises-Rothbard tradisie ʼn korrekte, maar kategories alternatiewe verduideliking van die geldigheid daarvan kan gee. 

Laat ek begin met die kern van die Marxistiese geloofstelsel:

(1) “Die geskiedenis van die mensdom is die geskiedenis van ʼn klassestryd.” Dit is die geskiedenis van die stryd tussen ʼn relatief klein heersersklas en ʼn groter klas wat uitgebuit word. Die primêre vorm van uitbuiting is ekonomies van aard: Die heersende klas onteien ʼn deel van die produktiewe uitset van dié wat uitgebuit word of, soos die Marxiste sê: “Hulle eien ʼn sosiale surplus produk vir hul toe” en gebruik dit vir hul eie verbruiksdoeleindes. 

(2) Die heersende klas word verenig deur hul gemeenskaplike belang in die handhawing van hul uitbuitende posisie en die maksimalisering van die surplusproduk wat hulle hulself toe-eien. Hulle gee nooit doelbewus mag op nie en ook nie die uitbuitingsinkomste nie. In plaas daarvan moet dit van hulle weggestoei word met ʼn stryd, en die sukses daarvan hang van die klassebewussyn van dié wat uitgebuit word af; dit wil sê, óf en tot watter mate dié wat uitgebuit word, bewus is van hul eie status en bewustelik verenig is met hul ander klaslede in gesamentlike teenkanting teen die uitbuiting. 

(3) Klasseheerskappy manifesteer hoofsaaklik in spesifieke sosiale ooreenkomste met betrekking tot die toewysing van eiendomsreg. In Marxistiese terminologie word dit, in spesifieke “verhoudings van produksie” genoem. Ten einde hierdie reëlings of produksieverhoudings te beskerm, vorm die regerende klas, en is hulle in beheer van die staat as die apparaat van mag en dwang. Die staat dwing ʼn gegewe klassestruktuur af en dra by tot die skepping van ʼn klassestruktuur deur die administrasie van ʼn stelsel van “klassegeregtigheid”, en dit help met die skepping en ondersteuning van ʼn ideologiese superstruktuur wat ontwerp is om legitimiteit aan die bestaan van klasoorheersing te gee. 

(4) Intern genereer die proses van mededinging binne die heersersklas ʼn neiging in die rigting van toenemende konsentrasie en sentralisering van mag. ʼn Multipolêre stelsel van uitbuiting word geleidelik verdring deur ʼn oligargiese of monopolistiese stelsel. Al hoe minder en minder sentrums van uitbuiting bly operasioneel, en dié wat oorbly, word toenemend in ʼn hiërargiese orde georden. Ekstern m.b.t. buitelandse betrekkinge, sal hierdie interne sentraliseringsproses (hoe meer intensief, hoe meer gevorderd is dit) lei tot imperialistiese oorloë tussen state en die territoriale uitbreiding van oorheersing deur uitbuiting. 

(5) Met die sentralisering en die uitbreiding van oorheersing deur uitbuiting wat geleidelik naderkom aan sy uiteindelike perk van wêreldoorheersing, sal klasseoorheersing toenemend onverenigbaar word met die verdere ontwikkeling en verbetering van “produktiewe magte”. Ekonomiese stagnasie en krisisse sal meer kenmerkend word en die “objektiewe toestande” skep vir die opkoms van ʼn revolusionêre klassebewussyn deur dié wat uitgebuit word. Die situasie word dan ryp vir die vestiging van ʼn klaslose samelewing, die “verwelking van die staat”, “die vervanging van ʼn regering van mens oor mens” wat ʼn administrasie van boewe is, en gevolglik ongekende ekonomiese welvaart. 

Al hierdie standpunte is heeltemal verdedigbaar, soos ek sal bewys. Ongelukkig is dit egter Marxisme self wat hulle almal onderskryf, wat meer suksesvol was as enige ander ideologiese stelsel om hul geldigheid te diskrediteer deur ’n ooglopend absurde teorie van uitbuiting daar te stel. 

Wat is hierdie Marxistiese teorie van uitbuiting? Volgens Marx, word pre-kapitalistiese sosiale stelsels soos slawerny en feodalisme gekenmerk deur uitbuiting. Dit is onbetwisbaar. Die slaaf is inderdaad nie ʼn vrye arbeider nie, en daar kan nie gesê word dat hy daarby baat om ʼn slaaf te wees nie. Inteendeel, sy slawerny verminder sy nutswaarde gelykstaande tot die toename in welvaart wat deur die slawe-eienaar toegeëien is. Die belange van die slaaf en dié van die slawe-eienaar is inderdaad antagonisties. Dieselfde is waar van die belange van die feodale landheer wat huurgeld van ʼn boer eis wat op tuistevesting (“homesteaded”) eiendom werk. Die heer se winste is die boer se verliese. En dit is ook onbetwisbaar dat slawerny sowel as feodalisme die ontwikkeling van die produktiewe magte belemmer. Nie ʼn slaaf of ʼn lyfkneg/“serf” sal so produktief wees as wat hy sou wees sonder slawerny of lyfknegskap nie. 

Die tuistevesting (hierdie regsbeginsel heet “okkupasie” binne die Romeins Hollandse Reg – sien occupatio) is ʼn etiese regsbeginsel waarmee ʼn individu eienaarskap van ʼn hulpbron verkry deur dit in gebruik te neem of te ontvorm en kan ook beskryf word as die daad van oorspronklike toeëiening. 

Die werklik nuwe idee wat uit Marxisme voortspruit is egter dat niks wesenliks verander met betrekking tot uitbuiting onder kapitalisme nie, byvoorbeeld as die slaaf ʼn vrye arbeider word, of as ʼn boer besluit om op grond te boer wat deur iemand anders besit word en huur betaal in ruil daarvoor. In die beroemde vier-en-twintigste hoofstuk van die eerste volume van sy boek Das Kapital, getiteld “Die sogenaamde oorspronklike toeëiening” , gee Marx ʼn historiese agtergrond van die opkoms van kapitalisme wat die punt maak dat baie of selfs die meeste van die aanvanklike kapitalistiese eiendom die resultaat was van plundering, omheining en verowering. 

Net so word die rol van dwang en geweld in die oordrag van kapitalisme na die Derde Wêreld sterk beklemtoon in hoofstuk 25, wat handel oor die “moderne teorie van kolonialisme”. Toegegee, dat dit oor die algemeen korrek voorkom, kan niemand verskil met die etikettering van sodanige kapitalisme as uitbuitend nie. Tog moet ʼn mens bewus wees van die feit dat Marx hier besig is met ʼn truuk. Deur betrokke te raak by historiese ondersoeke en die leser se emosionele toorn op te wek teen die wreedhede wat onderliggend is aan die vorming van sommige kapitalistiese fortuine, systap Marx eintlik die kwessie wat op hande is, en ontduik hy die feit dat sy teses ʼn heeltemal ander een is: selfs onder sogenaamde onbesmette kapitalisme; dit wil sê, ʼn stelsel waarin die oorspronklike toeëiening van kapitaal die gevolg was van niks anders as besittings, harde werk en spaar nie, sou die kapitalis wat arbeid in diens neem vir hierdie kapitaal volgens Marx betrokke wees by uitbuiting. Inderdaad beskou Marx die bewys van hierdie teses as sy belangrikste bydrae tot ekonomiese analise. 

Sy bewys van die uitbuitende karakter van onbesmette kapitalisme bestaan uit die waarneming dat die arbeidsfaktorpryse en in besonder die lone wat deur die kapitaliste aan arbeiders betaal word, laer is as die uitsetpryse. Die arbeider word byvoorbeeld ʼn loon betaal wat verbruiksgoedere verteenwoordig wat in drie dae geproduseer word, maar hy werk vyf dae vir sy loon en produseer gevolglik ʼn uitset van verbruiksgoedere wat groter is as dit wat hy as vergoeding ontvang. Die uitset van die twee ekstra dae, die surpluswaarde in Marxistiese terminologie, word deur die kapitalis toegeëien. Volgens Marx is daar dus uitbuiting. 

Wat is verkeerd met hierdie analise? Die antwoord word duidelik wanneer gevra word waarom die arbeider waarskynlik tot so ʼn reëling sou instem! Hy stem in omdat sy loonbetaling huidige goedere verteenwoordig, terwyl sy eie arbeid net toekomstige goedere verteenwoordig en hy meer waarde heg aan huidige goedere. Hy kan na alles ook besluit om nie sy arbeidsdienste aan die kapitalis te verkoop nie en dan die “volle waarde” van sy produksie self te kry. Dit sou natuurlik impliseer dat hy langer sal moet wag vir verbruikersgoedere om beskikbaar te raak. Met die verkoop van sy arbeidsdienste toon hy dat hy ʼn kleiner hoeveelheid verbruiksgoedere nou verkies oor ʼn moontlik groter een in die toekoms. Aan die ander kant, waarom sou die kapitalis ʼn ooreenkoms met die arbeider wou maak? Waarom sal hy huidige goedere (geld) vir die arbeider wil gee in ruil vir dienste wat eers later sou vrugte dra? Hy sal byvoorbeeld nie nou R100 uitbetaal as hy dieselfde bedrag of waarde oor ʼn jaar terug sal ontvang nie. Hoekom sal hy dit dan nie net hou vir ʼn jaar en die ekstra voordeel ontvang om die hele tyd beheer daaroor te hê nie? In plaas daarvan, moet hy verwag om ʼn groter bedrag as R100 in die toekoms te ontvang om nou R100 in lone aan die arbeider te betaal. Hy moet verwag om in staat te wees om ʼn wins te maak, of meer korrek, ʼn rente-opbrengs te verdien. Hy word ook beperk deur tydsvoorkeur; met ander woorde, die feit dat ʼn rolspeler op ʼn ander manier maar sonder uitsondering goedere vroeër eerder as later verkies. 

Indien ʼn mens in die toekoms ʼn groter bedrag kan kry deur ʼn kleiner een in die hede op te offer, waarom spaar die kapitalis nie meer as wat hy huidiglik doen nie? Hoekom huur hy nie meer arbeiders as wat hy reeds het nie as elkeen van hulle ʼn bykomende rente-opbrengs kan inbring? Die antwoord behoort weereens duidelik te wees: omdat die kapitalis ook ʼn verbruiker is, en nie kan help om een te wees nie. Die hoeveelhede wat hy spaar en belê word beperk deur die noodsaaklikheid dat hy, (nes die arbeider) ʼn aanbod van huidige goedere vereis wat “groot genoeg is om aan al sy behoeftes te voorsien, wat gedurende die wagtydperk (vir ʼn hoër opbrengs) as meer dringend beskou word as die voordele wat ʼn nog groter verlenging van die produksietydperk sal voorsien.” 

Wat is dan verkeerd met Marx se teorie van uitbuiting? Hy verstaan nie die verskynsel van tydsvoorkeur as ʼn universele kategorie van menslike optrede nie. Die feit dat die arbeider nie sy “volle waarde” ontvang nie, het niks te doen met uitbuiting nie, maar weerspieël bloot die feit dat dit onmoontlik is vir die mens om toekomstige goedere te ruil teen huidige goedere, behalwe teen ʼn verdiskonteerde afslag. Anders as in die geval van slaaf en slawe eienaar, waar laasgenoemde voordeel trek ten koste van eersgenoemde, is die verhouding tussen die vrye arbeider en die kapitalis ʼn wedersyds voordelige een. Die arbeider sluit die ooreenkoms, want gegewe sy tydsvoorkeur, verkies hy ʼn kleiner bedrag van die huidige goedere oor ʼn groter een in die toekoms. Die kapitalis betree die transaksie, want gegewe sy tydsvoorkeur, het hy ʼn omgekeerde voorkeurorde en verkies hy ʼn groter toekomstige bedrag van goedere bo ʼn kleiner huidige een. Hul belange is nie teenstrydig nie, maar harmonieus. 

Sonder die kapitalis se verwagting van ʼn rente-opbrengs, sal die arbeider slegter daaraan toe wees omdat hy langer sou moes wag as waarop hy gehoop het; en sonder die arbeider se voorkeur vir die huidige goedere sou die kapitalis slegter daaraan toe wees, want hy sou hom moes wend tot minder ompadproduksie en minder doeltreffende produksiemetodes as dié wat hy sou wou aanvaar. Die kapitalistiese loonstelsel kan ook nie beskou word as ʼn struikelblok vir die verdere ontwikkeling van produktiewe kragte soos wat Marx beweer het nie. As die arbeider nie toegelaat was om sy arbeidsdienste te verkoop en die kapitalis nie toegelaat was om dit te koop nie, sou die uitset nie hoër gewees het nie, maar laer omdat produksie sou moes plaasvind met relatief verlaagde vlakke van kapitaalakkumulasie.

In teenstelling met Marx se standpunte, sou die ontwikkeling van produktiewe magte onder ʼn stelsel van gesosialiseerde produksie nie nuwe hoogtes bereik nie, maar eerder dramaties sink. Dit is vanselfsprekend dat kapitaalakkumulasie deur bepaalde individue op bepaalde punte in ruimte en tyd daargestel moet word deur tuistevesting “homesteading”, vervaardiging en besparing. In elke geval word dit teweeg gebring met die verwagting dat dit sal lei tot ʼn toename in die uitsette van toekomstige goedere. Die waarde wat ʼn persoon aan sy kapitaal heg, weerspieël die waarde wat hy aan alle verwagte toekomstige inkomste heg, toeskryfbaar aan sy inspanning daarvan en verdiskonteer tot sy persentasie van tydsvoorkeur. 

Indien ʼn persoon, soos in die geval met die kollektiewe besit van die faktore van produksie, nie meer eksklusiewe beheer oor sy opgehoopte kapitaal het nie, het hy gevolglik ook nie beheer oor die toekomstige inkomste wat daaruit geput sal word nie. Hy het slegs daardie gedeeltelike beheer wat toegeken word aan nie-tuistevestigers, nie-produsente en nie-spaarders. Die waarde van die verwagte inkomste en die kapitale goedere is vir hom in effek verminder. Sy effektiewe koers van tydsvoorkeur sal styg. Daar sal minder tuistevesting van hulpbronne wees waarvan die skaarsheid raakgesien word en minder besparing vir die instandhouding van bestaande kapitale goedere, sowel as verminderde produksie van nuwe kapitale goedere. Die produksietydperk en die ompad struktuur van produksie sal vervolgens verkort, wat dan ook tot relatiewe verarming sal lei.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Marxisme and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.