Marxistiese vs. Oostenrykse Klasanalise – Deel 2

Marx en Mises

Wat al hoe duideliker word is die teenstrydigheid in Marxisme tussen klasanalise en die nasionalisering van die faktore van produksie. As die staat ʼn instrument van kapitalistiese uitbuiting is waarom alle mag daarin verenig? Ook raak dit duidelik dat die sogenaamde “verwelking van die staat” die enigste manier was wat Marx hierdie teenstrydigheid kon oplos sonder om homself verkeerd te bewys. In Deel 2 gaan professor Hoppe voort om die teenstrydighede en verwantskappe met die Oostenrykse skool te verduidelik. 

deur Hans-Hermann Hoppe

As Marx se teorie van kapitalistiese uitbuiting en sy idees oor hoe om uitbuiting te beëindig en ​​universele voorspoed te vestig, vals is tot op die punt van belaglikheid, dan is dit duidelik dat enige teorie van die geskiedenis wat daaruit afgelei kan word, ook vals moet wees. Of indien dit korrek is, moes dit verkeerdelik afgelei gewees het. 

In plaas daarvan om deur die uitgerekte taak te gaan om al die leemtes in die Marxistiese argumente te verduidelik soos dit voortbou vanaf die teorie van kapitalistiese uitbuiting tot sy teorie van die geskiedenis wat ek vroeër beskryf het, sal ek ʼn kortpad neem. Ek sal nou op die kortste moontlike manier die korrekte teorie van uitbuiting uiteensit soos dit in die Oostenrykse skool verstaan word. Ek gaan ʼn verduidelikende skets gee van hoe hierdie teorie sin maak van die klasseteorie van die geskiedenis, en ook ʼn paar sleutelverskille tussen hierdie klasseteorie en die Marxistiese teorie uitlig. Ek sal ook intellektuele verwantskappe tussen die Oostenrykse skool en Marxisme uitwys wat spruit uit hul gemeenskaplike oortuiging dat daar inderdaad iets soos uitbuiting en ʼn heersersklas bestaan.

Die beginpunt vir die Oostenrykse teorie van uitbuiting is eenvoudig, soos dit moet wees. Eintlik is die teorie in wese reeds verduidelik: Uitbuiting het die verhouding tussen slaaf en slawe eienaar en lyfkneg en feodale heer gekenmerk. Maar geen uitbuiting was moontlik onder onbesmette kapitalisme nie. Wat is die beginselverskil tussen hierdie twee gevalle? Die antwoord is: die erkenning of nie-erkenning van die tuistevesting “homesteading” beginsel. Die “peasant” boer onder die feodale stelsel word uitgebuit omdat hy nie eksklusiewe beheer oor die tuistevesting grond het nie, en die slaaf word uitgebuit, want hy het geen eksklusiewe beheer oor sy eie tuistevesting-liggaam nie. Aan die ander kant, indien almal eksklusiewe beheer oor hulle eie liggame het (met ander woorde hulle is vrye arbeiders), en in ooreenstemming met die tuistevestingbeginsel optree, kan daar geen uitbuiting wees nie. 

Dit is logies absurd om te beweer dat ʼn persoon wat goedere beheer of tuistevesting wat nie voorheen deur iemand anders beheer is nie, of wat sodanige goedere in die produksie van toekomstige goedere gebruik, of wat tans beheerde of vervaardigde goedere spaar ten einde die toekomstige verskaffing van goedere te verhoog, enigiemand daardeur kan uitbuit. Daar is niks van iemand weggeneem in hierdie proses nie; inteendeel addisionele goedere is geskep. Dit sou ewe absurd wees om te beweer dat ʼn ooreenkoms tussen die verskillende tuistevestings, bespaarders en produsente ten opsigte van hul nie-uitbuitende toegeëiende goedere of dienste enige vuilspel inhou. Indien daar afgewyk word van die tuistevesting beginsel vind uitbuiting plaas. Uitbuiting vind plaas wanneer ʼn persoon gedeeltelike of volle beheer neem oor skaars hulpbronne wat hy nie getuistevesting “homesteaded” het nie en ook nie gespaar of geproduseer het nie, en wat hy nie kontraktueel verkry het van ʼn vorige produsent-eienaar nie. Uitbuiting is die onteiening van tuistevesting, produsente en bespaarders deur nie-tuistevesting, nie-produsente, nie-bespaarders en nie-kontrakteurs wat later op die toneel verskyn; dit is die onteiening van mense wie se eiendomseise gegrond is op werk en kontrakte deur mense wat hul eise uit hul duime suig en wat ander se werk en kontrakte verontagsaam. 

Uiteraard is uitbuiting wat so gedefinieer word dus in werklikheid ʼn integrale deel van die geskiedenis van die mens. ʼn Mens kan rykdom bekom en vermeerder hetsy deur tuistevesting, vervaardiging, besparing of kontraktering, of deur die onteiening van beheerders, tuistevestigers, bespaarders of kontrakteurs. Daar is geen ander maniere nie. Beide metodes is natuurlik vir die mens. Saam met tuistevesting, vervaardiging en kontraktering was daar nog altyd nie-produktiewe en nie-kontraktuele eiendomsverkrygings. Net soos produsente en kontrakteurs maatskappye, ondernemings en korporasies kan stig in die verloop van ekonomiese ontwikkeling, kan uitbuiters met enige vorm van dwangmatige reg grootskaalse ondernemings, regerings en state van uitbuiting skep. Die regerende klas (wat weer intern gestratifiseer word) is aanvanklik saamgestel uit die lede van so ʼn uitbuitingsmaatskappy. Die middelpunt van die hele geskiedenis is inderdaad dan die stryd tussen uitbuiters en dié wat uitgebuit word. Met ʼn heersersklas wat in ʼn gegewe gebied gevestig is en betrokke is by die onteiening van ekonomiese hulpbronne van ʼn klas van uitgebuite produsente. 

As die geskiedenis dus reg oorvertel word, is dit in wese die geskiedenis van die oorwinnings en nederlae van die parasitiese of regeerders klas in hul poging om inkomste wat deur uitbuiting toegeëien is, te vermeerder en dié van dié wat uitgebuit word se pogings om hierdie tendens te weerstaan en om te keer. Dit is in hierdie evaluering van die geskiedenis dat Oostenrykers en Marxiste saamstem en waarom daar ʼn merkbare intellektuele ooreenkoms bestaan tussen die Oostenrykse en Marxistiese historiese ondersoeke. Beide is gekant teen ʼn geskiedskrywing wat slegs aksie of interaksie – ekonomies en moreel op gelyke voet – erken. Beide is ook gekant teen ʼn geskiedskrywing wat in plaas daarvan om so ʼn waarde-neutrale standpunt in te neem, dink dat ʼn mens se eie eensydige ingestelde subjektiewe waardeoordele die weg baan vir historiese verhale. Geskiedenis moet eerder vertel word in terme van vryheid en uitbuiting, parasitisme en ekonomiese verarming, private eiendom en die vernietiging daarvan – anders word dit verkeerd vertel

Alhoewel produktiewe ondernemings kom en gaan as gevolg van vrywillige ondersteuning of die afwesigheid daarvan, kom ʼn heersersklas nooit aan bewind omdat daar ʼn aanvraag daarvoor is nie, en abdikeer so ʼn klas ook nie as daar op abdikasie aangedring word nie. ʼn Mens kan nie daarop aanspraak maak of jou selfs verbeel dat tuistevestigers, produsente, bespaarders en kontrakteurs hul eie onteiening geëis het nie. Hulle moet gedwing word om dit te aanvaar, en dit bewys onweerlegbaar dat die uitbuitende firma nie in aanvraag is nie. ʼn Mens kan ook nie sê dat ʼn heersende klas tot ʼn val gebring kan word deur die weerhouding van transaksies op dieselfde manier as wat ʼn mens ʼn produktiewe onderneming tot ʼn val kan bring nie. Die heersersklas verkry hul inkomste deur middel van nie-produktiewe en nie-kontraktuele transaksies en is dus onaangeraak deur boikotte. Dit wat eerder die opkoms van ʼn uitbuitingsmaatskappy of staat moontlik maak, en wat alleen op sy beurt die staat tot ʼn val kan bring, is ʼn spesifieke toestand van die openbare mening, of in Marxistiese terminologie, ʼn spesifieke toestand van klassebewussyn. 

ʼn Uitbuiter skep slagoffers, en slagoffers is potensiële vyande. Dit is moontlik dat hierdie weerstand permanent afgebreek kan word met geweld, byvoorbeeld in die geval van ʼn groep mans wat ʼn ander groep van min of meer dieselfde grootte uitbuit. Meer as geweld is egter nodig om die uitbuiting uit te brei oor ʼn bevolking wat baie keer groter is as die groep. Om dit reg te kry, moet ʼn staat ook openbare ondersteuning hê. Die meerderheid van die bevolking moet die uitbuitende optrede as regmatig aanvaar. Hierdie aanvaarding kan wissel van aktiewe entoesiasme tot passiewe onderwerping. Dit moet egter ʼn aanvaarding wees in die sin dat ʼn meerderheid opgegee het om hulle aktief of passief te verset teen enige poging om nie-produktiewe en nie-kontraktuele eiendomsverkrygings af te dwing. Die klassebewussyn moet laag, onontwikkeld en vaag wees. 

Slegs solank as wat hierdie toedrag van sake voortduur, is daar ruimte vir ʼn uitbuitende maatskappy om voorspoedig te wees, selfs as daar geen werklike aanvraag daarvoor bestaan nie.

Slegs indien en in soverre die uitgebuite en onteiende persone ʼn duidelike idee van hul eie situasie ontwikkel en verenig word met ander lede van hul klas deur middel van ʼn ideologiese beweging wat uitdrukking gee aan die idee van ʼn klaslose samelewing waar alle uitbuiting afgeskaf word, kan die mag van die regerende klas gebreek word.

Slegs indien en in soverre ʼn meerderheid van die uitgebuite publiek bewustelik geïntegreer word in so ʼn beweging en gevolglik ʼn algemene woede toon oor alle nie-produktiewe of nie-kontraktuele eiendomsverkrygings, ʼn algemene minagting toon vir almal wat betrokke is by sulke dade, en doelbewus weier om daartoe by te dra of enige hulp te verleen (om nie eens te praat van aktiewe ondermyning nie), kan hierdie klas se mag gebreek word. 

Die geleidelike afskaffing van die feodale en die absolutistiese heerskappy en die opkoms van toenemend kapitalistiese samelewings in Wes-Europa en die V.S.A. – het gepaardgegaan met ongekende ekonomiese groei en ʼn groeiende bevolking – en was die gevolg van ʼn groeiende klassebewussyn onder dié wat uitgebuit was en wat bemagtig was met die ideologiese samesmelting van die leerstellings van natuurlike regte en klasieke liberalisme. Hieroor stem Oostenrykers en Marxiste saam. Hulle verskil egter ten opsigte van die feit of die omkering van die liberaliseringsproses en die geleidelik verhoogde vlakke van uitbuiting in hierdie samelewings sedert die laaste derde van die negentiende eeu, en veral sedert die Eerste Wêreldoorlog, die gevolg was van ʼn verlies aan klassebewussyn. Trouens, volgens die Oostenrykse siening moet Marxisme self baie van die blaam dra vir hierdie tendens. Deur ʼn foutiewe uitbuitingsmodel daar te stel en die aandag verkeerdelik te vestig op die verhouding tussen loonverdiener en kapitaal houer (en klasanalise hiervoor in te span) het hulle konsepte verkeerdelik verwar en gepropageer. 

Die totstandkoming van ʼn heersersklas oor ʼn uitgebuite klas (groter as hyself) deur dwang en manipulasie van die openbare opinie (m.a.w. ʼn lae klasbewussyn onder die wat uitgebuit word) kom as ʼn uitrukking die sterkste na vore deur die skepping van publiekereg bo-oor en verenig met privaatreg. Die heersende klas stel hulself apart van die res en beskerm hul posisie as ʼn heersersklas deur ʼn grondwet vir hul “firma” te aanvaar wat dan hanteer word as regsdokument waartoe almal ingestem het. Die grondwet formaliseer die interne operasies binne die staatsmeganismes, maar ook die verhouding met die uitgebuite populasie. Die grondwet skep dus die wettige stabiliteit daarvan. Hoe meer populêre en bekende aspekte van privaatreg in die grondwet en publiekereg, hoe meer sal die publiek gunstig reageer op die bestaan van die staat. 

Enige grondwet en publiekereg formaliseer die staat en heersersklas se vrywaring van die tuistevesting beginsel. Dit formaliseer die reg van die staat se verteenwoordigers om betrokke te raak in nie-produktiewe en nie-kontraktuele eiendomsverkrygings en die uiteindelike ondergeskiktheid van privaatreg aan publiekreg. Klassegeregtigheid – dit wil sê, een stel wette vir die regeerders en ʼn ander vir dié wat regeer word – raak ʼn werklikheid in hierdie dualisme van publiek- en privaatreg en in die oorheersing en die infiltrasie van die publiekreg oor en in die privaatreg. Dit is nie, soos die Marxiste dink, omdat private eiendomsreg deur die wet erken word dat hierdie klassegeregtigheid ontstaan nie. Klassegeregtigheid word eerder teweeg gebring juis wanneer ʼn wetlike onderskeid bestaan tussen ʼn klas van persone wat kragtens en deur die publiekreg beskerm word en ʼn ander klas wat eerder kragtens en deur die een of ander ondergeskikte privaatreg beskerm word. Dit is die basiese stelling van die Marxistiese teorie van die staat in besonder wat vals is. Die staat is nie ʼn uitbuiter omdat hy die kapitaliste se eiendomsregte beskerm nie, maar omdat die staat vrygestel is van die beperking om eiendom slegs deur produksie en of kontraktuele aanwins te bekom. 

Ten spyte van hierdie fundamentele wanopvatting bied Marxisme, omdat dit die staat korrek as uitbuitend interpreteer, ʼn paar belangrike insigte ten opsigte van die logika van staatsbedrywighede. 

Eerstens erken dit die strategiese funksie van ʼn staatsherverdelings-beleid. As ʼn uitbuitende maatskappy, moet die staat te alle tye belangstel in ʼn lae vlak van klassebewussyn tussen dié waaroor regeer word. Die herverdeling van eiendom en inkomste is die staat se manier om verdeeldheid onder die publiek te skep en die vorming van ʼn verenigende klassebewussyn te vernietig onder dié wat uitgebuit word. Daarbenewens is die herverdeling van staatsmag deur die demokratisering van die staat se grondwet,  – van elke regeringsposisie vir “almal” – en die toestaan van positiewe regte aan “almal” – vir “almal” om deel te neem in die bepaling van die staatspersoneel en staatsbeleid eintlik ʼn middel vir die vermindering van weerstand teen uitbuiting. 

Tweedens is die staat inderdaad, soos die Marxiste dit sien, die middelpunt van ideologiese propaganda en geheimhouding: Uitbuiting word vryheid; belasting word vrywillige bydraes; nie-kontraktuele verhoudings word ʼn “sosiale” kontrak; om oorheers te word verander na “ons regeer oor onsself; sonder die staat sal reg of sekuriteit nie bestaan nie; en die armes sal vergaan, ens.. ens. Al hierdie dinge is deel van die ideologiese superstruktuur wat ontwerp is om die onderliggende grondslag van die ekonomiese uitbuiting te regverdig. 

Laastens is Marxiste ook korrek om die noue verbintenis tussen die staat en besigheid op te merk, veral die bank-elite – selfs al is hul verduideliking daarvoor foutief. Die rede is nie dat die bourgeois samelewing die staat sien en ondersteun as die bron van privaat eiendomsreg of beskermengel van kontrakte nie. Inteendeel, hulle beskou die staat korrek as die antitese tot privaateiendom, wat dit is, en stel ook presies vir hierdie rede baie daarin belang. Hoe meer suksesvol ʼn besigheid is, hoe groter is die potensiële gevaar van uitbuiting deur regerings, maar die potensiële winste wat gemaak kan word as dit onder die regering se spesiale beskerming kan kom en vrygestel word van vryemark mededinging is ook groter. Dit is die rede waarom sommige besigheidsektore geïnteresseerd is in die staat en sy inmenging. Die heersende elite is op hul beurt geïnteresseerd in noue samewerking met die besigheidsektor as gevolg van sy finansiële magte.

Die bank-elite is veral van belang omdat die staat as ʼn uitbuitende firma natuurlik volle outonomie vir vervalsing wil hê. Deur aan te bied om die bank-elite by sy eie vervalsingskonkelary in te sluit en hulle toe te laat om note te vervals bykomend tot die staat se eie vervalste note, deur fraksionele reserwebankhandel, kan die staat maklik hierdie doel bereik en ʼn stelsel van staatsgemonopoliseerde geld en gekartelleerde bankbeheer deur die sentrale bank vestig. Deur direkte vervalsingsverbintenisse met die bankstelsel, en deur die uitbreiding van die bank se groot kliënte, strek die heersende klas in werklikheid veel verder as die staatsapparaat tot in die hart van die burgerlike samelewing. Dis nie veel anders as die prentjie wat Marxiste graag skets van die samewerking tussen die bankwese, sake-elites en die staat nie – ten minste wat voorkoms betref.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Marxisme and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.