Marxistiese vs. Oostenrykse Klasanalise – Deel 3

Karl Marx1

In Deel 3 en slot van ons reeks oor klasanalise oorweeg professor Hoppe – imperialisme, die natuur van die uitbuitende monopolie, ekonomiese stagnasie en die moontlikheid van ʼn ware rewolusie wat verandering kan meebring en hoe dit met Marxistiese teorie ooreenkom en verskil. 

deur Hans-Hermann Hoppe

  Mededinging binne die heersendeklas en onder verskillende heersersklasse bring ʼn neiging na vore in die rigting van toenemende magskonsentrasie. Marxisme is in hierdie aspek korrek. Tog lei die foutiewe teorie van uitbuiting hulle weer daartoe dat die rede vir hierdie tendens op die verkeerde plek gesoek word. Marxisme sien hierdie tendens as inherent in kapitalistiese mededinging. Dit is eerder so lank as wat mense betrokke is in ʼn onbesmette kapitalisme dat kompetisie nie ʼn vorm van zero-som-interaksies is nie. Die tuistevestiger “homesteader”, die produsent, bespaarder en kontrakteur maak nie wins ten koste van mekaar nie. Hul winste laat ander se fisiese besittings heeltemal onaangeraak of hulle impliseer wedersydse winste (soos in die geval van alle kontraktuele ruiltransaksies). Kapitalisme kan dus verantwoordelik wees vir ʼn verhoging in absolute welvaart. Onder hierdie stelsel kan nie gesê word dat daar ʼn sistematiese neiging na relatiewe magskonsentrasie is nie. In teenstelling hiermee kenmerk zero-som- interaksies nie net die verhouding tussen die heersers en dié wat regeer word nie, maar ook die verhouding tussen mededingende heersers. 

Uitbuiting, gedefinieer as nie-produktiewe en nie-kontraktuele eiendomsverkrygings is slegs moontlik so lank as wat daar iets is wat onregverdig toegeëien kan word. As daar egter vrye mededinging in die uitbuitingsbedryf was, sou daar natuurlik niks oor wees om te onteien nie. Uitbuiting vereis dus ʼn monopolie oor ʼn gegewe grondgebied en bevolking; en die mededinging tussen die uitbuiters is uit die aard daarvan eliminerend en moet ʼn geneigdheid in die rigting van relatiewe konsentrasie van uitbuitende maatskappye meebring, sowel as ʼn neiging tot sentralisasie in elke uitbuitende firma. Die ontwikkeling van state eerder as kapitalistiese maatskappye verskaf die beste illustrasie van hierdie tendens: State het veel groter beheer en oor groter gebiede as wat hulle in effek in die vorige eeu gehad het. Binne elke staatstruktuur is daar in werklikheid ʼn konstante geneigdheid tot die verhoging van die magte van die sentrale regering ten koste van sy streeks- en plaaslike onderafdelings. 

Buite die staatstruktuur het kompetisie ʼn geneigdheid in die rigting van relatiewe konsentrasie van mag ook duidelik geword om dieselfde rede; maar nie as gevolg van enige eienskap wat inherent aan kapitalisme is nie, maar omdat die heersersklas sy heerskappy na meer aspekte van die burgerlike samelewing uitgebrei het. Dit vind plaas deur die skepping van ʼn staatsbank-sake-alliansies en (in besonder) die vestiging van ʼn stelsel van sentrale bankwese. As ʼn konsentrasie en sentralisering van staatsmag dan plaasvind, is dit net natuurlik dat dit gepaard sal gaan met ʼn parallelle proses van relatiewe magskonsentrasie in die bankwese en sakesektor. Saam met die verhoogde mag van die staat, verhoog die gepaardgaande bankwese en sakesektor se mag van eliminering of die benadeling van ekonomiese kompeteerders deur middel van nie-produktiewe en/of nie-kontraktuele onteiening. Besigheidskonsentrasie is die weerspieëling van die “staat-ifisering” van die ekonomiese omgewing. Hierdie effek kan veral waargeneem word in die gevolge van semi-staatsmaatskappye. 

Die primêre manier waarop die staat sy mag uitbrei en mededingende uitbuitingsentrums uitskakel, is oorlog en militêre dominasie. Kompetisie tussen state impliseer ʼn geneigdheid na oorlog en imperialisme. As sentrums van uitbuiting, is hul belange uiteraard antagonisties. Omdat elkeen van hulle intern in beheer is van belasting en geldvervalsing as instrument, is dit moontlik vir die heersende klasse om ander te laat betaal vir hul oorloë. As ʼn mens nie self vir jou riskante ekspedisies hoef te betaal nie, maar ander kan dwing om daarvoor te betaal, is jy natuurlik geneig om groter risiko’s te neem as wat jy andersins sou. In teenstelling met baie van die sogenaamde bourgeois sosiale wetenskappe, is Marxisme se feite hieromtrent reg: Daar is inderdaad ʼn neiging in die rigting van imperialisme in die geskiedenis, en die sterkste imperialistiese magte is inderdaad die mees gevorderde kapitalistiese nasies. 

Tog is die verduideliking weereens foutief. Dit is die staat as ʼn instelling, wat vrygestel is van die kapitalistiese reëls van eiendomsverkrygings, wat van nature aggressief is. Die historiese bewyse van ʼn noue korrelasie tussen kapitalisme en imperialisme mag dalk voorkom of dit die idee weerspreek. Dit vind egter maklik genoeg ʼn verduideliking in die feit dat ten einde suksesvol te wees in interstaatsoorloë, ʼn staat in beheer moet wees van voldoende (in relatiewe terme) ekonomiese hulpbronne. As alle ander faktore gelyk is, sal die staat met die meeste hulpbronne wen. As ʼn uitbuitende firma, vernietig ʼn staat van nature welvaart en kapitaalakkumulasie. Welvaart word uitsluitlik deur die burgerlike samelewing geproduseer, en hoe swakker die staat se uitbuitende magte, hoe meer welvaart en kapitaal akkumuleer die breër gemeenskap. Al klink dit aanvanklik paradoksaal, hoe swakker of meer liberaal ʼn staat intern is, hoe verder is die land se kapitalisme ontwikkel; die staat is dus meer welvarend as sy teenstander omrede dit ʼn ontwikkelde kapitalistiese ekonomie het wat uitgebuit kan word, en ’n ryker staat kan meer suksesvol ekspansionistiese oorloë voer. Dit is hierdie verwantskap wat verduidelik waarom die state van Wes-Europa, en in besonder eers die Nederlande en Groot-Brittanje, wat aanvanklik die voorste imperialistiese magte was, en waarom hierdie rol in die twintigste eeu na die V.S.A. oorgegaan het. 

Verder bestaan ʼn soortgelyke eenvoudige, dog heeltemal nie Marxistiese, verduideliking vir die gereelde Marxistiese waarneming dat die bankwese en sake-elites gewoonlik onder die mees vurige ondersteuners van militêre mag en imperialistiese ekspansionisme is. Hierdie ondersteuning bestaan nie omdat die uitbreiding van die kapitalistiese markte uitbuiting vereis nie, maar omdat die uitbreiding van staatbeskermde en -bevoorregte ondernemings vereis dat sodanige beskerming ook uitgebrei word na ander lande en dat buitelandse mededingers belemmer word deur nie-kontraktuele en nie-produktiewe eiendomsverkrygings op dieselfde manier (of selfs meer so) as interne kompetisie. 

Die elites sal op grond van die aansporings altyd imperialisme ondersteun indien hierdie ondersteuning vergoed word, of die potensiaal inhou om te lei tot ʼn posisie van militêre oorheersing oor ʼn ander staat deur die elites se eie geallieerde staat. Van daar af word dit, vanuit ʼn posisie van militêre mag, moontlik om ʼn stelsel te vestig wat ʼn mens monetêre imperialisme kan noem. Die dominante staat sal sy superieure mag gebruik om ʼn beleid van internasionaal gekoördineerde inflasie af te dwing. Sy eie sentrale bank sal die pas aan gee in die proses van vervalsing, en die sentrale banke van die gedomineerde state word indirek beveel om sy geldeenheid te gebruik as hul eie reserwes en dit in effek meer te maak. Die dominante staat en die eerste begunstigdes van die vervalste reserwe-geldeenheid kan gesamentlik dus by die gepaardgaande finansiële en sakesektor betrokke raak in ʼn byna kostelose onteiening van buitelandse eienaars en inkomsteprodusente. ʼn Dubbel laag van uitbuiting vind dan plaas – van ʼn vreemde staat en ʼn buitelandse elite bo-op en addisioneel tot hul eie uitbuitende staat en elites in die oorheersde gebiede. Dit ly tot langdurige ekonomiese afhanklikheid van die dominante staat en veroorsaak relatiewe ekonomiese stagnasie in vergelyking met die dominante staat. Dit is hierdie baie onkapitalistiese situasie wat kenmerkend is van die status van die Verenigde State en die Amerikaanse dollar en wat aanleiding gee tot die (korrekte) beskuldigings rondom die Verenigde State se ekonomiese uitbuiting en dollar-imperialisme. 

Ten slotte, die toenemende konsentrasie en die sentralisering van die uitbuitende magte lei tot ekonomiese stagnasie en skep sodoende die objektiewe toestande vir die uiteindelike ondergang van hierdie magte, deur ʼn massiewe hoeveelheid sesessie bewegings en opeenvolgende sesessie bewegings en die vestiging van ʼn klaslose samelewing wat in staat is om ongekende ekonomiese welvaart te skep. 

In teenstelling met Marxistiese verwagtinge, sal hierdie samelewing nie die gevolg wees van enige historiese wette nie. Inteendeel daar bestaan nie sulke dinge soos onverbiddelike historiese wette soos wat Marxiste dink nie. Dit sal ook nie die gevolg wees van ʼn afwaartse neiging van winspersentasies, met ʼn verhoogde organiese samestelling van kapitaal (ʼn toename in die verhouding tussen konstante en veranderlike kapitaal), soos wat Marx gedink het nie. Net soos die arbeidsteorie van waarde onherstelbaar vals is, net so is die marxistiese wet van “die neiging van winspersentasies om te daal”, wat daarop gebaseer is, vals. Die bron van waarde, rente en wins is nie uitsluitlik die arbeidsuitgawe nie. Dit is die gebruik van skaars hulpbronne in die nastrewing van subjektiewe doelwitte deur individuele rolspelers wat beperk word deur tydvoorkeur en onsekerheid (onvolmaakte kennis). Daar is dus geen rede om te veronderstel dat veranderinge in die organiese samestelling van kapitaal enige sistematiese verhouding tot veranderinge in rente en wins moet hê nie. 

In plaas daarvan verhoog die waarskynlikheid van krisisse wat die ontwikkeling van ʼn hoër graad van klassebewussyn stimuleer (dit wil sê die subjektiewe toestande vir die omverwerping van die regerende klas), as gevolg van – om een van Marx se gunsteling terme te gebruik – die “dialektiek” van uitbuiting wat ek al vroeër aangeraak het: uitbuiting vernietig welvaart skepping. In die kompetisie tussen uitbuitende state, is minder uitbuitende of meer liberale state dus geneig om die meer uitbuitende state uit te kompeteer omdat hulle in beheer is van meer hulpbronne. Die proses van imperialisme het aanvanklik ʼn relatief bevrydende effek op samelewings wat onder die beheer daarvan kom. ʼn Relatief meer kapitalistiese sosiale model word uitgevoer na die relatief minder kapitalistieste (meer uitbuitende) samelewings. Wanneer ʼn relatief meer primitiewe samelewing ter sprake is kan dit selfs tydelik voordelig voorkom. Die ontwikkeling van produktiewe magte word gestimuleer, ekonomiese integrasie word bevorder, die verdeling van arbeid word uitgebrei, en ʼn werklike wêreldmark word gevestig. In reaksie hierop verhoog bevolkingsyfers en die ekonomiese verwagtinge oor die toekoms bereik ongekende hoogtes. 

Soos wat uitbuitende dominasie egter posvat, en interstaat kompetisie verminder of selfs verdwyn in ʼn proses van imperialistiese ekspansionisme en soos die uitskakeling van kleiner state voorkom, verdwyn die eksterne magsbeperkings op uitbuiting en onteienings vermoëns van die dominante staat geleidelik. Interne uitbuiting, belasting en regulering begin toeneem sodra die heersende klas naderkom aan die uiteindelike doelwit van wêreldoorheersing. Ekonomiese stagnasie skop dan in en die wêreldwye hoër verwagtinge raak gefrustreerd. Hierdie hoë verwagtinge en ʼn ekonomiese werklikheid wat al minder voldoen aan die verwagtinge is die klassieke situasie vir die ontwikkeling van revolusionêre potensiaal. ʼn Desperate behoefte aan ideologiese oplossings vir die opkomende krisisse ontstaan, saam met ʼn meer wydverspreide erkenning van die feit dat staatsbeheer, belasting, en -regulasies – ver daarvan om so ʼn oplossing aan te bied – eintlik die probleem is wat oorkom moet word. As daar in hierdie situasie van ekonomiese stagnasie, krisisse, en ideologiese teleurstellings ʼn positiewe oplossing aangebied kan word in die vorm van ʼn sistematiese en omvattende Libertariese filosofie tesame met sy ekonomiese eweknie, die Oostenrykse ekonomiese denkskool, en as hierdie ideologie gepropageer word deur ʼn aktivistiese beweging, sal die vooruitsigte vir die ontsluiting van die revolusionêre potensiaal vir aktivisme oorweldigend positief en belowend wees. Druk teen die staat sal opbou en ʼn onweerstaanbare neiging veroorsaak om die mag van die regerende klas en die staat as sy instrument van uitbuiting af te breek. 

In teenstelling met die Marxistiese model; indien en in sover dit sal gebeur, sal dit egter nie beteken dat daar sosiale eienaarskap van die faktore van produksie sal wees nie. Inteendeel is sosiale eienaarskap nie net ekonomies ondoeltreffend soos reeds verduidelik nie, maar onverenigbaar met die idee dat die staat “weg kwyn” of verwelk. As produksiemiddele gesamentlik besit word, en as daar realisties aanvaar word dat nie almal se idees oor hoe om hierdie produksiemiddele te laat saamspan om produksie te bemiddel dieselfde is nie (asof dit selfs met ʼn wonderwerk moontlik is), – dan is dit juis die sosiale besit van die faktore van produksie wat voortgesette staatsoptrede vereis; dit wil sê, ʼn instelling wat doelbewus een persoon se wil op ʼn ander s’n afdwing. In plaas daarvan, sal die wegkwyning van die staat, en daarmee saam die einde van uitbuiting en die begin van vryheid en ongekende ekonomiese welvaart, vereis dat ʼn suiwer privaateiendom samelewing gevestig word wat deur niks behalwe privaatreg gereguleer word nie.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Marxisme and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.