Die Onwillige Anargis – Deel 1

Joseph Sobran (1946 – 2010)

My onlangse bekering (as te ware) tot filosofiese anargisme het sommige van my konserwatiewe en Christen vriende ontstel. Trouens, dit verbaas my ook siende dat dit teen my eie inklinasies gaan.

As kind het ek ʼn diepe respek vir gesag gehad en ʼn weerstand teen chaos. In my geval was die twee dinge saamgeweef met die onsekerheid van my bestaan na my ouers se egskeiding, toe ek van een huishouding na ʼn ander rondgeval het vir ʼn paar jaar en dikwels tussen vreemdelinge moes leef. Stabiliteit en gesag was iets waarna ek gesmag het. Intussen het my openbare skoolopvoeding my gevul met die soort patriotisme wat aangemoedig was in alle kinders in daardie dae. Ek het groot geword met die wete dat as daar een ding is waarop ek kon vertrou en staatmaak, was dit die regering. Ek het geweet dit was magtig en mense goedgesind, al het ek nie veel meer daarvan geweet nie. Die idee dat sommige mense – Kommuniste byvoorbeeld – dalk die regering sou wou omverwerp het my met afgryse vervul.

G.K. Chesterton het een keer (met sy gewone sagte vermetelheid) vir Rudyard Kipling gekritiseer vir sy “gebrek aan patriotisme”. Aangesien Kipling bekend was vir die verheerliking van die Britse Ryk kon dit voorkom as een van Chesterton se “paradokse”, maar dit was nie, behalwe in die sin dat dit die idee van patriotisme soos die meeste van sy lesers dit beskou het as duidelik en onweerlegbaar, ontken het. Chesterton was ʼn “Little Engländer” en teenstander van die Britse Ryk en het deur die volgende stelling verduidelik wat verkeerd was met Kipling se siening: “Hy bewonder Engeland, maar is nie lief vir haar nie; want ons bewonder dinge met redes, maar is lief vir hulle sonder rede. Hy bewonder Engeland omdat sy magtig is, nie omdat sy Engels is nie.” Wat beteken daar sou niks wees om haar voor lief te hê as sy swak was nie. Chesterton was natuurlik korrek. Jy is lief vir jou land soos wat jy vir jou moeder lief is – bloot omdat dit “joune” is, nie as gevolg daarvan dat dit meerderwaardig bo ander is nie en veral nie meerderwaardigheid in mag nie.

Hierdie kom nou as vanselfsprekend vir my voor, maar het my tot nadenke verplig toe ek dit die eerste keer gelees het. Ek was ʼn Amerikaner en Amerikaanse patriotisme word gewoonlik maar oordrewe uitgedruk. Amerika is die vryste, magtigste, rykste, in kort, die “beste” land in die wêreld, met die beste vorm van regering – die mees demokratiese. Miskien het die arme mense van Finland of Peru ook hulle lande lief, maar die hemel alleen weet hoekom – hulle het dan so min om op trots te wees, so min “redes.” Amerika is ook die land wat die meeste “beny” word in die wêreld. Wens alle mense nie skelmpies dat hulle Amerikaners was nie? Dit was die soort patriotisme wat in my ingekerker was as seun, en ek was baie tipies in daardie opsig. Dit was die patriotisme van meerderwaardigheid. Amerika het nooit ʼn oorlog verloor nie – ek was selfs trots daarop dat Amerika die atoombom ontwerp het (gelukkig ook net betyds om die Japannese te vermorsel) – en dit is waarom die Viëtnamese oorlog so bitter frustrerend was. Nie die oorledenes nie, maar die nederlaag. Die einde van die geskiedenis se grootste segetog!

Soos ek ouer geword het, het my patriotisme van vorm verander, iets wat my lank geneem het om te besef was dat dit in teenstryd met ʼn patriotisme van mag was. Ek het ʼn konserwatiewe wêreldbeskouing gehad met ʼn sterk Libertariese inslag. Ek het in regering geglo, maar dit moes ʼn “beperkte” regering wees – beperk tot ʼn paar geldige doelwitte, soos verdediging, polisiëring en regsdienste. Onder die invloed van skrywers soos Ayn Rand en Henry Hazlitt, wie se boeke ek gedurende my universiteit jare gelees het, het ek dit as regmatige regeringsfunksies beskou maar bitter min ander funksies. Alhoewel ek nie van Ayn Rand se ateïsme gehou het nie (op daardie stadium was ek ongodsdienstig maar nie antigodsdienstig nie), het ek snaaks genoeg ʼn aantrekking tot haar siening vanuit my Christelike wêreldbeskouing gehad. Ek het genoeg Thomas Aquinas(1225-1274) gelees om op haar Aristoteliese mantras van “rasionele perke” te kon reageer. Alles het sy eie aard en perke, insluitende die staat. Die idee van ʼn staat wat voortdurend groei met geen grense nie, wat eindelose eise aan sy burgers stel, het my vervul met afsku en vrees. Dit kon slegs in tirannie eindig.

Ek was ook sterk aangetrokke tot die idees van Bill Buckley, ʼn uitgesproke Katoliek wat dieselfde Aristoteliese noot by my getref het. Tydens sy 1965 wedloop om die burgermeester van New York te word, het hy ʼn digterlike stelling aan die kiesers aangebied: “die interne kalmte wat kom met die kennis dat daar rasionele perke is tot politiek”. Hierdie mag dalk die mees nuttelose politieke veldtog belofte van alle tye gewees het, maar dit sou my stem gewen het! Dit was in realiteit hierdie Aristoteliese sin van “rasionele perke” eerder as bepaalde leerstellings wat my konserwatisme gedefinieer het. Ek was ook verbly om dieselfde rasionaliteit in sommige Engelse skrywers se werke te vind – Chesterton, en natuurlik ook, Samuel Johnson, Edmund Burke, George Orwell, C.S. Lewis en Michael Oakeshott.

In werklikheid het ek ʼn letterkundige introspektiewe konserwatisme verkies bo die aktivis soort wat behep was met onmiddellike politieke kwessies. Ek het verwag dat ek die Reagan Administrasie jare (1981-1989) opwindend sou vind, maar was tot die dood toe verveeld deur aanbodkant-ekonomiese argumente, “enterprise zones” argumente, die kamstige “privatisering” van welsyn programme en soortgelyke beginsel-ontwykende foefies. Ronald Reagan het die ekonomie gestimuleer deur belasting te verlaag, maar nooit die grootte van die staatsadministrasie gesny nie, met die gevolg dat alles gefinansier moes word deur staatskuld, ʼn praktyk wat nog nie einde gekry het nie en waarvan die gevolge nog moet kom. Wat ek misluk het om waar te neem was dat die konserwatiewe beweging minder geïnteresseerd was in beginsels as in Republikeinse oorwinnings. Tot die mate wat ek dit wel gesien het, het ek misluk om die volle omvang daarvan te verstaan. Steeds, die laaste ding wat ek verwag het was om ʼn anargis te word. Vir baie jare het ek nie eens geweet dat ernstige filosofiese anargiste bestaan nie. Ek het nooit gehoor van Lysander Spooner of Murray Rothbard nie. Hoe kon die samelewing oorleef sonder ʼn staat?

Ek het begin om ietwat meer krities van die Amerikaanse regering te word. Ek het ingesien dat die welsynstaat, hoofsaaklik die nalatenskap van Franklin Rooseveldt se New Deal, die beginsels van ʼn beperkte staat oorskry het en uiteindelik afgetakel moes word. Maar ek het met ander konserwatiewes saamgestem dat die dringende globale bedreiging van Kommunisme intussen gestop moes word. Aangesien ek “verdediging” as een van die toepaslike take van die staat gesien het, het ek die Koue Oorlog as ʼn noodsaaklikheid beskou – as ʼn tipe oorhoofse koste van vryheid, gegewe die bedreiging wat ek in kommunisme gesien het. As die Sowjet bedreiging ooit tot ʼn einde sou kom (die vooruitsig was by tye baie negatief), kon ons bekostig om die militêre begroting te sny en terugkeer na die taak om die welsynstaat af te takel. Iewers, aan die einde van die reënboog, sou Amerika terugkeer na die konstitusionele beginsels van haar skepping. Die staatsdiens sou stelselmatig gekrimp word, wette sou min wees en belasting minimaal. Dis wat ek gedink het, of dalk eerder gehoop het.

Ek het gretig konserwatiewe en vryemark-literatuur gedurende daardie jare gelees, met die veronderstelling dat ek as te ware met ʼn soort inhaal proses besig was. Ek het dit as vanselfsprekend aanvaar dat ander denkers in die konserwatiewe beweging reeds dieselfde boeke gelees en ter harte geneem het. Natuurlik wou ons almal op die ou einde dieselfde dinge hê – die wete dat daar rasionele perke tot politiek was. Goeie ou Aristoteles. Ek was positief en ʼn sprong vanaf Aristoteles na Barry Goldwater het daardie tyd vir my soos ʼn maklike haalbare taak voorgekom. Ek het as ʼn jong man vir Buckley by National Review gaan werk en later ʼn baie gewilde rubriekskrywer geword, sodoende het ek my nis gevind in die konserwatiewe joernalistiek as ʼn kritikus van Hooggeregshof uitsprake oor aborsie, pornografie, vryheid van spraak en politieke aspekte rondom die Amerikaanse Grondwet.

Geleidelik het ek tot die sienswyse gekom dat die uitdaging wat die konserwatiewe beweging in die V.S.A. het om neoliberalisme op ʼn regsleer en korrekte interpretasie van die grondwet uit te daag, op ʼn “loose construction”( elke saak en aspek afsonderlik) nie suksesvol sal wees nie. Byna alles wat die neoliberale wou hê moes deur die federale regering daar gestel word en meeste daarvan was ongrondwetlik. Die sleutel tot die probleem was die Tiende Wysigingswet wat die federale regering verbied om enige bevoegdhede op te neem wat nie uitdruklik in die Grondwet aan hom opgedra is nie. Maar die Tiende Wysigingswet is in ʼn soort koma sedert die “New Deal”, waartydens Roosevelt en die Hooggeregshof dit feitlik versnipper het. Dit het beteken dat byna alle federale wetgewing van die “New Deal” tot die “Great Society”, en als wat daarop sou volg, in werklikheid ongrondwetlik was. In plaas daarvan dat Konserwatiewes die neoliberale beleid stuksgewys probeer teenstaan, kon Konserwatiewes die hele lot van hulle ondermyn deur aan te dring op die grondwet se oorspronklike en ware betekenis. Neoliberalisme se suksesse het, na alles, afgehang van ʼn lang reeks ongrondwetlike magsoornames.

Om en by die tyd van Regter Robert Bork se bitterlik omstrede (en verslaande) nominasie as regter van die Hooggeregshof in 1987, het die konserwatiewe beweging baie energie spandeer aan die argument rondom die “oorspronklike bedoeling” van die Grondwet en dat die “bedoeling” beslissend tot regsuitsprake moet wees. Hulle het hierdie beginsels egter slegs toegepas op ʼn paar dubbelsinnige frases en paragrawe wat op spesifieke warm kwessies van die dag, soos die doodstraf byvoorbeeld, van toepassing was. Ek was van mening dat die “algemene” betekenis van die Grondwet geen ruimte vir twyfel gelaat het nie. Die beginsel dat alles wat die federale regering nie gemagtig is om te doen volgens die grondwet nie, uitdruklik daardeur verbied is. Dit alleen sou die Federale welsynstaat ongeldig maak en byna alle neoliberale wetgewing ook. Ek het dit moeilik gevind om die meeste konserwatiewes hiervan te oortuig en Regter Bork self was van mening dat die Tiende Wysigingswet onafdwingbaar was. As hy reg was, was die hele Grondwet as dokument nutteloos van die begin af. Ek het nooit gedink dat ʼn grondwetlike Renaissance maklik sou wees nie, maar ek het gedink dat dit ʼn onmisbare rol in die ondergang en geldigheid van neoliberalisme sou speel. Sekere hooggeplaastes in die konserwatiewe beweging het beleefd na my argumente geluister, maar sonder veel entoesiasme. Hulle het ʼn beroep op die Grondwet as verwaand en as ʼn praktiese poging, nutteloos beskou asook van bitter min hulp in die politieke stryd.

Natuurlik is hulle in ʼn sekere sin korrek. Selfs al sou dit moontlik wees om konserwatiewe howe demokraties te wen met politieke aanstellings soos dit maar in die V.S.A. gaan, sou hulle nie radikaal genoeg wees om die hele neoliberale erfenis op een slag uit te gooi nie. Maar ek het oortuig gebly dat die konserwatiewe beweging neoliberalisme moes aanvat op die grondslag van grondwetlike korrekte interpretasie. Op ʼn manier het ek my patriotisme oorgedra vanaf ʼn Amerika soos dit toe was na ʼn Amerika soos dit was toe die Grondwet nog iets beteken het. Aanvanklik het ek gedink die groot korrupsie het plaasgevind toe Franklin Roosevelt die federale regsbank ondermyn het; later het ek tot die besef gekom dat die deurslaggewende gebeurtenis die Burgeroorlog was, wat die state se reg om van die federale regering af te stig vernietig het. Maar dit was ʼn minderheid opinie onder die konserwatiewes, selfs by National Review, waar ek die enigste een was wat dit gehuldig het.

292648_390382421005449_522090284_n

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Opinie and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.