Die Onwillige Anargis – Deel 2

417625_424366044311875_301241852_n

Ek het meer as genoeg oor my loopbaan by die tydskrif geskryf, so ek sal myself daartoe beperk om net te sê dat dit aan die einde van meer as twee gelukkige dekades by National Review was dat ek eers begin besef het dat ons nie almal die dieselfde dinge wou hê nie. Toe dit gebeur het, was dit soos om na ʼn lang en kalm huwelik te besef dat jou eggenoot verlief is op iemand anders, en altyd was. Nie dat ek verraai was nie, ek was net blind. Ek het niemand buiten myself om te blameer nie. Dit is nie asof die Buckley “vriendekring” en aanhangers of die konserwatiewe beweging in die algemeen my probeer mislei het nie, nes ek nie probeer het om hulle te mislei nie. Ons het almal aanvaar ons was aan dieselfde kant, terwyl dit nie die geval was nie. Indien daar enige fout vir hierdie misverstand was, was dit my eie.

In die laat 1980’s het ek begin sosialiseer met Rothbardiese libertariërs – hulle het hulself geïdentifiseer met ʼn redelik onvriendelike titel, as “Anargo-Kapitaliste” en ek het die kans gekry om Rothbard persoonlik te ontmoet. Hulle was ʼn briljante klomp, veglustig, vol uitdagende idees en verrassende argumente. Rothbard self het ʼn diepgaande teoretiese intelligensie gekombineer met ʼn foutlose kennis van die geskiedenis. Sy meesterstuk “Man, Economy and State” het die mees ongekwalifiseerde lof in National Review van die gewoonlik meer beskeie Henry Hazlitt ontvang.

Ek kan net van Murray sê wat so baie alreeds gesê het: nog nooit in my lewe het ek so ʼn oorspronklike en energieke denker teëgekom nie. ʼn Kort, stewige New Yorkse Jood met ʼn plofbare, kekkelende lag. Hy was altyd opwindende en vrolike geselskap. Oor die jare het hy dosyne groot boeke en honderde artikels gepubliseer, en ook tyd gevind om (op die ou elektriese tikmasjien wat hy tot die einde toe gebruik het) talle lang, enkel-gespasieerde, nou-beredeneerde briewe aan allerhande soorte mense te skryf. Murray se siening van politiek was skokkend op die punt af: die staat was niks anders as ʼn groot kriminele bende nie. Soveel as wat ek met hom wou saamstem in die algemeen, en so fassinerend as wat sy argumente was, het ek my teëgesit tot sy gevolgtrekkings. Ek wou nog steeds glo dat ʼn grondwetlike regering kan werk.

Murray wou niks hiervan weet nie. Hy het daarop aangedring dat die Philadelphia Konvensie in 1789, waar die grondwet opgestel is, niks anders as ʼn staatsgreep was nie, sowel as die sentralisasie van mag en die vernietiging van die veel meer draaglike reëlings van die Artikels van Konfederasie van 1776. Dit was ʼn direkte ontkenning van alles waarmee ek grootgeword het en wat ek geleer is. Ek het nog nooit gehoor dat iemand voorstel dat die Artikels van Konfederasie verkieslik bo die Grondwet was nie! Maar Murray het nie omgegee wat enigiemand dink nie en ook nie wat almal dink nie. (Hy was, na alles, tot selfs te radikaal vir Ayn Rand). Murray en ek het ʼn liefde vir Mafia films gedeel, en hy het een keer met my geargumenteer dat die Mafia verkieslik bo die staat was, omrede dit oorleef het deur die verskaffing van gewenste dienste. Ek het geantwoord dat die Mafia hulle net soos die staat gedra deur sy eie “belasting” in beskermingsfoefies uit winkeleienaars uit te wurg en daarom ver van “vry” was. Hy het instemmend erken dat ek ʼn punt beet het en ek was trots om ten minste een toegewing van hom af te kon wen.

Murray is ʼn paar jaar gelede oorlede sonder om geheel en al ʼn anargis van my te maak. Dit was oorgelaat aan een van sy briljante studente, Hans-Hermann Hoppe, om my intellektuele studies en oorreding te voltooi. Hoppe het aangevoer dat geen grondwet die staat in toom kan hou nie. Sodra daar legitimiteit aan sy monopolie van mag verleen is, het grondwetlike perke bloot fiksie geword wat geïgnoreer kon word; niemand kan hiernaas die wettige regsaansien hê om daardie limiete af te kan dwing nie. Die staat sou deur dwang self besluit wat die grondwet “beteken” deur geleidelik in sy eie guns regsspraak te lewer en so sy eie mag te vergroot. Dit was ʼn onbetwisbare feit, a priori, en die totaliteit van die Amerikaanse geskiedenis het dit bevestig. Wat as die Federale Regering die Grondwet geskend het, kon state dan van die Unie onttrek? Lincoln het nee gesê. Die Unie was “onoplosbaar” tensy alle lande ingestem het om dit op te los. Die Burgeroorlog het dit as ʼn praktiese saak bevestig. Die Verenigde State (meervoud) was regtig een enorme staat, soos ook blyk uit die nuwe gewoonte om te praat van “dit” eerder as “hulle”. Federalisme met ʼn grondwet wat die staat beperk, het homself as ʼn praktiese eksperiment onwerkbaar bewys.

Dus is die mense daartoe gebind om die regering te gehoorsaam, selfs wanneer die heersers hulle eed verraai om die Grondwet te onderhou. Die deur om te ontsnap is toegesluit. Lincoln het in effek beweer dat dit nie ons regte is wat onvervreembaar is nie, maar die staat wat “onvervreembaar” is, en het dit deur die mag van wapens bevestig. Geen oortreding van die Grondwet kan die V.S.A. se geërfde legitimiteit benadeel nie. Sodra die staat ingestel of geskep word op spesifieke en beperkte terme is die staat vir ewig, selfs as dit weier om te hou by daardie terme. Soos Hoppe redeneer is dit die fout in die denke dat die staat beperk kan word deur ʼn grondwet. Sodra dit toegestaan ​​word, word staatsmag absoluut en gehoorsaamheid ʼn een-rigting straat. In teorie skep die beroep op “Ons die Burgers” of “Ons die Volk” die staat en spesifiseer die mag wat dit oor ons kan uitoefen; die leiers sweer voor die aangesig van God dat hulle die grense wat ons op hulle deur ʼn grondwet afdwing sal respekteer; maar wanneer hulle hierdie limiete vertrap, bly ons verplig om gehoorsaam te wees aan hulle.

Sekere gewetensbesware het selfs vir ʼn wyle na die Oorlog van Noordelike Aggressie (Amerikaanse Burgeroorlog) oorleef aangesien Amerikaners nog steeds in beginsel ooreengestem het dat die Federale Regering nuwe magte kon verkry slegs deur grondwetwysiging. Die na-oorlogse wysigings tot die grondwet het gevolglik die woorde ingesluit “Kongres het die bevoegdheid om” hierdie of daardie wetgewing deur te voer. Maar teen die tyd wat die “New Deal” wetgewing deurgevoer was, was alle morele gewetensbesware teen magsentralisasie so te sê uit die weg geruim. Franklin Roosevelt en die Hooggeregshof het die “Commerce Clause” (wat die Federale regering die mag gee om handel tussen die state te reguleer), so wyd vertolk dat feitlik enige Federale eis gemagtig was, en die Tiende Wysigingswet op so eng wyse dat dit ontneem was van enige mag om beperkings daar te stel. Vandag is hierdie dwalings so sterk gevestig onder politici dat die Amerikaanse Kongres selde vra of ʼn voorgestelde wet gemagtig of verbode is volgens die Grondwet.

Die Amerikaanse grondwet is in realiteit ʼn dooie rol toiletpapier. Dit was dodelik gewond in 1865 en die lyk kan nie weer lewend gemaak word nie. Dit het vir my moeilik gebly om dit te erken, en selfs nou pynig dit my om dit te sê.

Ander dinge het ook bygedra om my van opinie te verander. R.J Rummel van die Universiteit van Hawaii het bereken dat, in die twintigste eeu alleen, state oor die 162 miljoen van hul eie onderdane vermoor het. Hierdie syfer sluit nie die miljarde buitelanders in wat hulle gedurende oorloë gedood het nie. Hoe kan ons dan sê state “beskerm” hulle mense? Geen hoeveelheid privaat misdaad kon so ʼn tol geëis het nie. Wat oorlogvoering betref beeld Paul Fussell se boek Wartime die stryd met so ʼn verskriklike aanskoulikheid uit dat (alhoewel dit nie sy voorneme was nie) ek begin twyfel het of enige oorlog geregverdig kan word.

My mede-Christene het aangevoer dat die staat se gesag goddelik daargestel is. Hulle noem Christus se opdrag “betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom” en Paulus se woorde “die magte wat deur God ingestel is”. Maar Christus het nie gesê watter dinge – indien enige – aan die keiser behoort nie. Sy dubbelsinnige woorde is ver van ʼn opdrag om die keiser te gee wat hy vereis. Dit is ook opvallend dat Christus nooit aan sy dissipels gesê het om óf ʼn staat te skep óf betrokke te raak in politiek nie. Hulle sou die Evangelie verkondig, en indien hulle verwerp of verban word, aan beweeg. Dit blyk ten minste uit die skrif dat hy nooit as plan ingesien het dat die staat iets is wat hulle kon of moes aanwend in hul guns nie.

Met die eerste oogopslag blyk Paulus meer positief te wees in bevestiging van die gesag van die staat. Maar hy self het soos die ander martelare gesterf a.g.v. hulle verontagsaming van die staat, en ons eer hom daarvoor; bygevoeg het hy op een geleentheid uit die tronk uit ontsnap ook. Klaarblyklik is die gedeelte in Romeine verkeerd gelees. Dit was waarskynlik geskryf tydens die bewind van Nero, nie die mees stabiele van heersers nie, maar dan het Paulus ook slawe aangeraai om hul meesters te gehoorsaam en niemand beskou dit as ʼn aanmoediging tot slawerny nie. Hy kon bedoel het dat die staat en slawerny daar was vir die afsienbare toekoms, en dat Christene ter wille van vrede nie tot geweld as oplossing moet keer nie. Nooit sê hy dat dit vir ewig is nie.

Augustinus(354 – 430 na-Christus) het ʼn negatiewe siening van die staat gehad as ʼn straf vir sonde. Hy het gesê dat ʼn staat sonder geregtigheid niks anders as ʼn groot bende rowers is nie, terselfde tyd het hy twyfel gelaat dat enige staat ooit iets anders kon wees. Thomas Aquinas het ʼn gunstige siening gehad, met die argument dat die staat nodig sou wees selfs as die mens nooit die sondeval deurgemaak het nie, maar hy stem saam met Augustinus dat ʼn onregverdige wet geen wet is nie, ʼn leerstelling wat op sig self die legitimiteit van alle state kwes. Die kern van die staat is die wettige monopolie op geweld en dwang-mag. Maar geweld is onmenslik; in die woorde van Simone Weil “Dit wat ʼn mens in ʼn ding verander – of lyk of slaaf”. Dit mag dalk soms ʼn noodsaaklike euwel wees ter selfverdediging of die verdediging van onskuldiges, maar niemand kan geregtig wees op dit wat die staat eis nie: ʼn eksklusiewe reg om dit te gebruik.

Dit is heeltemal moontlik dat state soos ons dit in die moderne sin verstaan altyd hierdie wêreld sal regeer, en ons ten beste ʼn keuse tussen euwels sal hê. Sommige state is ook erger as ander op voor die handliggende wyses: enigiemand by sy volle verstand sou verkies om eerder in ʼn Switserland te lewe as onder ʼn Stalin of ʼn Hitler. Maar om te sê ʼn ding is onvermydelik, of dat dit minder afskuwelik is as iets anders, is nie dieselfde as om te sê dat dit goed is nie. Vir die meeste mense is “anargie” ʼn ontstellende woord, wat dui op chaos, geweld, wetteloosheid (antinomianisme) – dinge wat hulle hoop die staat kan beheer of verhoed. Die term “staat”, ten spyte van sy bloedige geskiedenis, pla hulle nie. Tog is dit die staat wat in werklikheid chaoties is, want dit beteken die oppergesag van die mees uitgeslape, sterkste en magsugtige. Hulle dink dat anargie natuurlik sou eindig in die heerskappy van kriminele. Maar eenvoudige bandiete kan nie aandring of beweer dat hulle ʼn alleenreg het om te regeer nie. Slegs die staat, met sy propaganda apparatus, kan dit doen. Dit is wat “legitimiteit” beteken. Anargiste kort duidelik ʼn meer verleidelike etiket.

Waarmee sal jy die staat vervang? Die vraag toon ʼn onvermoë om die menslike samelewing sonder die staat in te dink. Tog wil dit voorkom asof ʼn instelling wat 200 miljoen lewens binne ʼn enkele eeu kan neem skaars nodig het om “vervang” te word. Christene is lank reeds deur hul voorspoed mislei oor hierdie kwessies. Sedert die omskakeling van Rome na ʼn Christelike Ryk was die meeste Westerse heersers min of meer geïnhibeer deur Christelike moraliteit (maar dikwels nie so dat jy sou agterkom nie), en selfs oorlogvoering het ietwat beskaafd geword vir ʼn eeu of twee, maar dit was bowenal die verchristeliking van die staat wat die aanname geskep het dat die staat nie noodwendig ʼn kwaadwillige instelling is nie. Maar soos daardie Christelike moraliteit sy kulturele greep op die staat verloor, iets wat stadig besig is om te gebeur, sal hierdie verwarring ontbind. Ons kan al hoe meer verwag dat die Leviátan staat sy naakte natuur openbaar.

Vir my is hierdie nie ʼn gelukkige gevolgtrekking nie. Ek mis die rustigheid van die geloof dat ek onder ʼn goeie regering leef, oordeelkundig ontwerp, mensliewend en welwillend in sy operasie, maar soos Paulus dit in die Bybel stel kom daar ʼn tyd om die dinge van kind wees agter te laat.

Oorlog-Joseph Sobran

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Opinie and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.