Geskiedenis van die Oostenrykse Skool – Deel 1

Mises wapen

Tu ne cede malis, sed contra audentior ito

Die verhaal van die Oostenrykse skool begin in die vyftiende eeu, toe volgelinge van Sint Thomas Aquinas, wat aan die Universiteit van Salamanca in Spanje geskryf en onderrig gegee het, probeer het om die volle omvang van menslike handeling en maatskaplike struktuur te verklaar.

Hierdie Laat Skolastici het opgemerk dat daar ekonomiese wette bestaan, onontkombare kragte van oorsake en gevolge wat soortgelyk aan ander natuur wette gewerk het. In die verloop van

Sint Thomas Aquinas(1225 - 1274)

Sint Thomas Aquinas(1225 – 1274)

verskeie geslagte het hulle die wette van vraag en aanbod, die oorsprong van inflasie, die werking van wisselkoerse en die subjektiewe aard van ekonomiese waarde, ontdek en verklaar – alles redes waarom Joseph Schumpeter hulle as die eerste ware ekonome vereer het.

Die Laat Skolastici was voorstanders van eiendomsreg en die vryheid om te kontrakteer en handel te dryf. Hulle het die bydrae van die sakewêreld tot die samelewing verwelkom en vasberade weerstand teen belastings, prysbeheer en regulasies wat ondernemerskap ondermyn het gebied. As morele teoloë het hulle regerings aangemoedig om etiese beperkinge teen diefstal en moord te eerbiedig. En hulle het eer laat geskied aan Ludwig von Mises se grondreël: die eerste taak van ‘n ekonoom is om aan regerings te sê wat hulle nie kan doen nie.

Handtekening van Richard Cantillon (1680-1734) (geen portret bestaan)

Handtekening van Richard Cantillon (1680-1734) (geen portret bestaan)

Die eerste algemene ekonomiese verhandeling, “opstel oor die Aard van Handeldrywing”, is in 1730 deur Richard Cantillon [en nie Adam Smith met “The Wealth of Nations” in 1776, soos dikwels aanvaar word nie] geskryf, ‘n man onderrig in die skolastiese tradisie. Hy is in Ierland gebore en het later na Frankryk geëmigreer. Vir Cantillon was ekonomie ‘n selfstandige veld van ondersoek en hy het prysvorming met behulp van die “denk-eksperiment” verduidelik. Hy het die mark as ‘n entrepreneuriese proses begryp en ‘n Oostenrykse teorie van geldskepping gehandhaaf: dat nuwe geld die ekonomie stapsgewys binnekom en pryse verwring soos dit deur die ekonomie versprei.

Cantillon is opgevolg deur Anne Robert Jacques Turgot, die pro-mark Franse aristokraat en minister van finansies onder die ancien regime. Sy ekonomiese skrywes was min, maar diepgaande. Sy artikel,

Anne Robert Jacques Turgot (1727-1781)

Anne Robert Jacques Turgot (1727-1781)

“Waarde en Geld”, het die oorsprong van geld en die aard van ekonomiese keuse uiteengesit: dat dit die subjektiewe rangskikking van ‘n indiwiduele persoon se voorkeure verteenwoordig. Turgot het die bekende diamant-water-paradoks, wat latere klassieke ekonome sou verbluf, opgelos; die wet van afnemende meeropbrengs geformuleer; en rentewette gekritiseer (‘n probleem wat die Laat Skolastici nog bygebly het). Hy was ten gunste van ‘n klassiek-liberale benadering tot ekonomiese beleid en wou dat alle spesiale voorregte aan regeringsverbonde industrieë teruggetrek word.

Turgot was die intellektuele vader van ‘n lang lyn van groot Franse ekonome uit die agtiende en negentiende eeu, waarvan die mees prominente Jean Baptiste Say en Claude-Frédéric Bastiat. Say was die eerste ekonoom om deeglik oor ekonomiese metodiek te dink. Hy het besef dat ekonomie nie oor die opgaar van data gaan nie, maar eerder oor die woordelikse ontsluiting van universele feite (byvoorbeeld, begeertes is onbeperk, middele is skaars) en hul logiese implikasies.

Say het verskeie ontdekkings gemaak: die produktiwiteitsteorie van hulpbronprysing, die rol van kapitaal in die verdeling van arbeid, en “Say se Wet” – daar kan nooit ‘n volgehoue “oorproduksie” of

Jean-Baptiste Say (1767-1832)

Jean-Baptiste Say (1767-1832)

“onderverbruik” op die vrye mark wees nie, solank pryse toegelaat word om aan te pas. Hy was nes Bastiat ‘n verdediger van laissez-faire en die industriële revolusie. As ‘n vryemarkjoernalis het Bastiat aangevoer dat niemateriële dienste aan dieselfde ekonomiese wette as materiële goedere onderwerp is. In een van sy vele ekonomiese allegorieë het Bastiat die “gebreekte ruit-denkfout” uiteengesit, soos later gepopulariseer deur Henry Hazlitt.

Ten spyte van die teoretiese sofistikasie van die ontwikkelende pre-Oostenrykse tradisie, het die Britse skool [met lede soos Adam Smith en andere] van die laat agtiende en negentiende eeue geseëvier – meestal vir politieke redes. Hierdie Britse tradisie (gebou op die objektiewe koste-  en arbeidproduktiwiteitsteorie van waarde) sou uiteindelik lei tot die opkoms van die Marxistiese leerstelling van kapitalisitiese uitbuiting.

Carl Menger

Carl Menger (1840-1921)

Die dominante Britse tradisie het voor sy eerste werklike uitdaging in jare te staan gekom toe Carl Menger se “Beginsels van Ekonomie” in 1871 gepubliseer is. Menger, die oprigter van die Oostenrykse Skool, het die Skolasties-Franse benadering laat herrys en op vaster fondamente geplaas.

Saam met sy tydgenote, skrywers soos Leon Walras en Stanley Jevons het Menger die subjektiewe basis van ekonomiese waarde uiteengesit en vir die eerste keer die teorie van grensnut verduidelik (hoe groter die aantal eenhede van ‘n item wat ‘n persoon besit, hoe minder sal hy enige gegewe eenheid waardeer).

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie, Geskiedenis and tagged , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.