Geskiedenis van die Oostenrykse Skool – Deel 2

Mises wapen

Menger se boek was ʼn baanbreker in die “marginale rewolusie” in die geskiedenis van ekonomiese wetenskappe. Toe von Mises gesê het dat Menger se werke van hom ʼn ekonoom gemaak het, het hy nie net verwys na Menger se teorie van geld en pryse nie, maar ook sy benadering tot die dissipline self. Net soos sy voorgangers in die tradisie was Menger ʼn klassieke liberaal en metodologiese individualis, deur ekonomie te sien as ʼn wetenskap van individuele keuses. Sy briljante insigte en studies het twaalf jaar later sigbaar geraak in die stryd met die Duitse Historiese Skool wat ekonomiese teorie verwerp het en ekonomie beskou het as die akkumulasie van data in diens van die staat.

Carl_Menger

Carl Menger (1840 – 1921)

As professor in ekonomie aan die universiteit van Weenen, en die privaat onderwyser van die jong troonopvolger Prins Rudolf van die Huis van Habsburg, het Menger ekonomie herstel as die wetenskap van menslike aksie gebaseer op logiese deduksie, en die pad oopgemaak vir latere teoretici om die invloed van sosialistiese denke af te weer. Sy student Friederich von Wieser se werke was inderdaad ʼn groot invloed op F.A Hayek se latere skryfwerk. Menger se werke is steeds ʼn uitstekende inleiding tot ekonomiese denke, en tot ʼn mate het elke Oostenrykse denker sedertdien homself as ʼn student van Menger beskou. 

Friederich von Wieser (1851 - 1926)

Friederich von Wieser (1851 – 1926)

Eugen von Böhm-Bawerk van die Universiteit van Innsbruck, Oostenryk, was ʼn groot aanhanger en volgeling van Menger, hy het Menger se uiteensetting herformuleer en dit toegepas op ʼn uitgebreide reeks probleme aangaande: waarde, prys, kapitaal en rente. Sy boek Geskiedenis en kritiek van rente teorieë [Geschichte und Kritik der Kapitalzinstheorien] het in 1884 verskyn. Dit was ʼn skoonvee van historiese denkfoute en stewige verdediging van die idee dat rentekoerse ʼn integrale deel van mark prosesse is, en nie ʼn kunsmatige konstruksie nie. Dit reflekteer die universele feit van “tydvoorkeur” as ʼn ekonomiese begrip, die neiging van mense om hul behoeftes eerder vroeër as later te wil bevredig (ʼn teorie wat later deur Frank Fetter verdedig en uitgebrei is).

Böhm-Bawerk se PositieweTeorie van Kapitaal[Positive Theorie des Kapitales] het gedemonstreer dat die normale wins koers van sakebedrywighede ʼn rentekoers is. Sakemanne spaar geld, betaal arbeiders en wag tot die finale produk verkoop is, om ʼn wins te maak. Addisioneel hiertoe het hy gedemonstreer dat kapitaal nie ʼn eensydige produk is nie maar ʼn integrale en diverse struktuur wat ʼn tyd demensie het. ʼn Groeiende ekonomie is nie net die gevolg van verhoogde kapitale beleggings nie, maar ook van uitgebreide en langer produksie prosesse.

Böhm-Bawerk het in ʼn uitgerekte stryd met die Marxiste betrokke

Eugen von Böhm-Bawerk (1851 - 1914)

Eugen von Böhm-Bawerk (1851 – 1914)

geraak aangaande hul uitbuitings-teorie van kapitaal, en het die Marxistiese leerstellings van kapitaal en arbeidsteorie van waarde intellektueel weerlê lank voordat die kommuniste in Rusland aan bewind sou kom. Böhm-Bawerk het ook ʼn reeks seminare aangebied wat later die model sou word vir von Mises se eie Weense seminare. 

Böhm-Bawerk was ten gunste van politieke beleid wat besluitneming so ver as moontlik oorlaat aan die altyd-teenwoordige realiteit van ekonomiese wette. Hy het regeringsinmenging as ʼn aanval op mark kragte geag wat nie langdurig suksesvol kan wees nie. In die laaste jare van die Habsburg monargie het hy drie keer gedien as minister van finansies. Hy het geagiteer vir ʼn gebalanseerde begroting, betroubare geld en die goudstandaard, vryehandel en die herroeping van uitvoer subsidies en ander monopolie voordele. 

Dit was sy navorsing en skryfwerk wat die status van die Oostenrykse skool verseker het as ʼn verenigde manier om na ekonomiese probleme te kyk, en veld te wen in die Engels sprekende wêreld. Een area waar Böhm-Bawerk nie op uitgebrei het nie was Menger se analise van geld, die interseksie tussen die “mikro” en “makro” benaderings. ʼn Jong von Mises, ekonomiese adviseur van die Oostenrykse Handelsinstituut het dié uitdaging opgeneem. 

ʼn jonger Ludwig von Mises (1881 - 1973)

ʼn Jonger Ludwig von Mises (1881 – 1973)

Die resultaat van von Mises se navorsing was Die teorie van geld en krediet [Theorie des Geldes und der Umlaufsmittel] wat in 1919 gepubliseer was. Daarin het hy bewys hoe die marginale nut teorie op geld van toepassing is, en sy “regressie stelling” uiteengesit, wat toon dat geld nie net in die mark ontstaan nie maar altyd in die mark moet ontstaan. Deur te steun op Böhm-Bawerk se teorie van die struktuur van produksie en Knut Wicksell (van die Britse Monetêre Skool) se teorie van rentekoerse, het von Mises die breë uiteensetting van die Oostenrykse teorie van die besigheidsiklus daar gestel. ʼn Jaar later was hy aangestel by die ekonomiese fakulteit van die Universiteit van Weenen, die Böhm-Bawerk seminaar het in die tyd ʼn volle twee semesters spandeer aan debatte rondom von Mises se boek. 

Von Mises se loopbaan was vir vier jaar onderbreek met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Hy het drie van die vier jaar spandeer as ʼn artillerie offisier en een as stafoffisier in ekonomiese intelligensie. Met die einde van die oorlog het hy Nasiestaat en ekonomie[Nation, Staat, und Wirtschaft] in 1919 gepubliseer. Daarin het hy geargumenteer vir ekonomiese en kulturele vryheid van minderhede in die toe verbrokkelde Oostenrykse Empaaier, hy het ook ʼn teorie daarin uiteengesit van oorlogsekonomie. Intussen het von Mises se monetêre teorie begin aandag trek in die V.S.A. deur die werk van Benjamin M. Anderson Jr, ʼn ekonoom van Chase Nasional Bank. Von Mises se boek was, interessant genoeg, afgeskiet deur John Maynard Keynes, wat later erken het dat hy dit nie gelees het nie omrede hy nie Duits verstaan het nie. 

In die politieke chaos na die Eerste wêreldoorlog het Marxiste na die verkiesing in ʼn koalisie regering ingegaan. Hul hoof teoretikus en lewenslange Marxis, Otto Bauer, het as jongman van Böhm-Bawerk se seminare bygewoon in ʼn futiele poging om te leer hoe om Marx se arbeidsteorie van waarde te “red” van Böhm-Bawerk  se kritiek. Dit is hier waar hy en von Mises mekaar ontmoet het, en hy ook aan von Mises erken het dat hierdie teorie van Marx nie gered kan word nie.

Met die vooruitsig dat Bauer Oostenryk sal stuur na geharde bolsjewistiese styl politiek, het von Mises aand na aand gesit en ekonomie aan Bauer verduidelik en uiteindelik daarin geslaag om hom sover te kry om daarvan af te sien. Die Oostenrykse sosialis het hom nooit hiervoor vergewe nie en op ʼn agterbakse wyse probeer om hom uit sy pos as professor te laat verwyder en die twee mans het nooit weer met mekaar gepraat nie. 

Von Mises het hom nie laat afskrik nie en sy aandag na die probleem van sosialisme self gedraai en ʼn uitstekende opstel in 1921 daaroor geskryf en oor die volgende twee jaar het hy dit uitgebrei na ʼn boek getiteld: Sosialisme. Sosialisme laat geen privaat eiendom of die uitruil van kapitale goedere toe nie, gevolglik is daar geen manier vir hulpbronne om geallokeer te word aan gebruike waaraan die meeste waarde geheg word nie. Von Mises het voorspel dat as sosialisme ingevolge die teorie daarvan toegepas word, die resultaat chaos en die einde van enige beskawing sal beteken.

Von Mises het die sosialiste uitgedaag om in ekonomiese terme te verduidelik presies hoe hul stelsel sou werk, ʼn uitdaging wat geen sosialis ooit met hom opgeneem het nie. Die debatte tussen sosialiste en Oostenrykers het vir die volgende dekades voort gegaan tot die ineenstorting van sosialisme in 1989, nadat akademici vir lank oortuig was dat die stryd gewonne was in die sosialiste se guns.

Intussen het von Mises se argumente vir ʼn vryemark ʼn klompie ex-sosialistiese kampvegters se aandag getrek, insluitende F.A Hayek, Wilhelm Roepke, en Lionel Robbins. Von Mises het begin om privaat seminare in sy kantoor aan te bied by die Kamer van Handel, die was bygewoon deur denkers van regoor Europa en onder andere Fritz Machlup, Oskar Morgenstern, Gottfried von Haberler, Alfred Schutz, Richard von Strigl, Eric Voegelin en Paul Rosenstein-Rodan.

Gedurende die 1920’s en 30’s was von Mises ook gewikkeld in ʼn stryd op twee ander akademiese fronte. Terwyl hy die laaste uitklophoue aan die Duitse Historiese Skool gegee het in ʼn reeks opstelle wat logiese deduksie in ekonomie verdedig het, wat hy later Praxeologie of die logika van aksie sou noem. Hy het ook die Oostenrykse Instituut vir Besigheidsiklus Navorsing gestig, en sy student Hayek aan die hoof daarvan geplaas.

Friedrich August Hayek ( 1899 - 1992)

Friedrich August Hayek ( 1899 – 1992)

In die tyd het Hayek en von Mises saam aan baie navorsing gewerk aangaande die besigheidsiklus en gewaarsku teen die gevare van kredietuitbreiding, en die komende valutakrisis voorspel. Dit is hierdie werk wat die Nobelprys komitee erken het in 1974 toe hulle die prystoekenning vir ekonomie aan Hayek gemaak het. Terwyl Hayek in Engeland en Amerika gewerk het, het hy later die hoof opponent van die Keynesiaanse ekonomie geword, met boeke oor wissel koerse, kapitaalteorie, en monetêre hervorming. Sy populêre boek Road to Serfdom het gehelp om die klasieke liberale beweging in Amerika te laat herleef na die New Deal en die Tweede wêreldoorlog. Sy reeks skrywes Law, Legislation, and Liberty het voortgebou op die laat skolastiese benadering tot reg, en het dit toegepas om egalitarisme en politieke stokperdjies soos sosiale geregtigheid te kritiseer.

In die wêreldwye depressie van die 1930’s was die Nazi oorname van Oostenryk dreigend en F.A Hayek het reeds in 1931 Londen toe vertrek op von Mises se aandrang. In 1934 het von Mises vertrek vir Geneva Switserland om te skryf en onderrig te gee by die internasionale instituut vir gegradueerde studies en later van daar Amerika toe geëmigreer. Met die Nazi oorname van Oostenryk het die Gestapo von Mises se woning bestorm en al sy notas wat nog daar was gekonfiskeer. Ironies was dit ook tot ʼn mate von Mises se idees wat in die periode na die oorlog deur die werke van Wilhelm Roepke, verantwoordelik was vir Duitsland se naoorlogse ekonomiese hervormings en herstel. In 1992 is von Mises se gesteelde notas eers ontdek in die argiewe in Moskou, die kommuniste het dit daarheen vervoer na hul oorname van Berlyn.

Terwyl von Mises in Geneva was, het hy sy meesterstuk [Nationalökonomie] geskryf, hy het dit na sy aankoms in die V.S.A. herskryf en uitgebrei as Human Action wat in 1949 verskyn het. Sy student Murray N. Rothbard het dit genoem “Von Mises’s greatest achievement and one of the finest products of the human mind in our century. It is economics made whole”. Die verskyning van Human Action was die sentrale verenigende faktor van die Oostenrykse Skool, en dit bly die ekonomiese verhandeling wat die Skool definieer. Dit was egter nie so gunstig ontvang deur die ekonomiese professie nie, wat toe reeds ʼn beslissende wending na Keynesiaanse ekonomiese denke gemaak het.

Henry Hazlitt ( 1894 - 1993)

Henry Hazlitt ( 1894 – 1993)

Alhoewel von Mises nooit die soort lonende akademiese pos beklee het wat hy verdien het nie, het hy heelwat studente om hom versamel. Selfs nog voor von Mises in Amerika gearriveer het, was die ekonomiese joernalis Henry Hazlitt sy grootste spreukbuis, deur resensies van sy boeke vir die New York Times en Newsweek te skryf. Hazlitt het ook bygedra met sy eie populêre boek Economics in One Lesson. Hazlitt sou later sy eie bydrae tot die Oostenrykse Skool maak deur die tyd te neem om ʼn lyn vir lyn kritiek op Keynes se General Theory te skryf. Daarin het hy die veel ouer skryfwerk van Jean-Baptiste Say verdedig en hom in ere herstel in Oostenrykse makro-ekonomiese teorie. Hazlitt het von Mises se voorbeeld gevolg in sy onbuigsame getrouheid aan beginsels, en was as ʼn resultaat daarvan uitgestoot uit vier hoë-profiel joernalistieke posisies.

Von Mises se New York seminaar het voortgegaan tot twee jaar voor

Murray Newton Rothbard ( 1926 - 1995)

Murray Newton Rothbard ( 1926 – 1995)

sy dood in 1973. gedurende daardie jare was Rothbard sy briljantste student. Rothbard se boek Man, Economy and State (1963) het inderdaad in die styl van Human Action gevolg, en in sekere velde – monopolie teorie, nut en welsyn, sowel as die teorie van die staat, het hy von Mises se idees stywer getrek en versterk. Rothbard se benadering tot die Oostenrykse Skool het gevolg in die tradisie van die laat Skolastiese denkers deur die ekonomiese wetenskappe toe te pas binne ʼn raamwerk van natuurlike-regs teorie van eiendom. Die resultaat was ʼn volwaardige verdediging van die vryemark en ʼn staatlose sosiale orde, gebaseer op eiendomsreg, vryheid van assosiasie en kontrakte.

Rothbard het sy ekonomiese verhandeling opgevolg met navorsing oor die groot depressie, en het Oostenrykse besigheidsiklus teorie toegepas om te wys hoe die ineenstorting van die aandelebeurspryse en die ekonomiese insinking die resultaat was van krediet uitbreiding deur die sentrale bank wat dit voorafgegaan het. Hiernaas het hy hom toegespits op ʼn reeks studies van regeringsbeleid, hy het ʼn teoretiese raamwerk daar gestel om die effek van alle tipes regeringsinmenging in die mark te toets.

Ludwig von Mises in sy oudag

Ludwig von Mises op sy oudag

In sy latere jare het von Mises die begin van die herlewing van die Oostenrykse Skool gesien wat dateer vanaf die verskyning van Man, Economy, and State. Dit was Rothbard wat die Oostenrykse Skool stewig gevestig het in die VSA, veral na die publikasie van Conceived in Liberty, sy vier-volume geskiedenis van koloniale Amerika en die sesessie vanaf Brittanje. Die hereniging van natuurlike-regs teorie en die Oostenrykse Skool het voortgevloei uit sy filosofiese werk in The Ethics of Liberty, terselfde tyd het hy ook aan ekonomiese probleme aandag geskenk in ʼn reeks navorsingstukke wat opgeneem is in die twee-volume Logic of Action, gepubliseer in Edward Elgar se Economists of the Century, reeks.

Hierdie invloedryke werke dien as die kritiese skakel tussen die Mises-Hayek generasie en die Oostenrykers wat tans werk om die tradisie uit te bou. Sonder Rothbard se bereidwilligheid om die intellektuele tendense van sy tyd uit te daag, sou vooruitgang van die Oostenrykse skool inderdaad tot stilstand gekom het. Dit was sy diep en wye studies, vrolike persoonlikheid en optimistiese lewensuitkyk, wat tallose studente geïnspireer het om hul aandag te verskuif na die tema van vryheid.

Alhoewel Oostenrykse ekonome nou in ʼn meer prominente posisie is as enige tyd sedert die 1930’s, het Rothbard, nes Mises voor hom, nie die akademiese erkenning gekry wat hy verdien het nie. Alhoewel Rothbard ʼn professorale pos in sy latere jare beklee het by die Universiteit van Nevada, het hy nooit onderrig gegee in ʼn posisie wat hom toegelaat het om studie verhandelings te dirigeer nie. Nogtans het hy daarin geslaag om aktiewe interdissiplinêre volgelinge vir die Oostenrykse Skool te werf.

Die stigting van die Ludwig von Mises Instituut in 1982, met die hulp van Margrit von Mises, F.A Hayek, Henry Hazlitt en Lew Rockwell het verskeie geleenthede geskep vir beide Rothbard en die Oostenrykse Skool. Met ʼn deurlopende stroom akademiese konferensies, opleidings seminare, boeke, referate, nuusbriewe, studies en selfs film het Rothbard en die von Mises Instituut die Oostenrykse Skool vorentoe gedra in die post-sosialistiese era in.

Die eerste uitgawe van die Review of Austrian Economics onder Rothbard se redaksie het in 1987 verskyn, in 1991 het dit ʼn halfjaarlikse publikasie geword en ʼn kwartaalblad in 1998 as: The Quarterly Journal of Austrian Economics. Die von Mises instituut se leersame vakansieskool “summerschool” word elke jaar sedert 1984 gehou. Baie van hierdie jare het Rothbard sy navorsing in die geskiedenis van ekonomiese denke voorgelê. Die resultaat daarvan was sy twee-volume: An Austrian perspective on the History of Economic Thought, wat die geskiedenis van die dissipline verbreed het.

Deur die von Mises instituut se studente genootskap, Studieverhandelings, bibliografieë en konferensies het die Oostenrykse Skool wel daarin geslaag om op sekere vlakke tot op byna elke departement van die sosiale en ekonomiese wetenskappe in Amerika deur te dring, sowel as in ander lande. Die jaarlikse Oostenrykse vakkundige konferensie by die Auburn Universiteit van Texas lok studente en belangstellendes van reg oor die wêreld, om deel te neem aan debatte, besprekings en die toepassing van die wye Oostenrykse tradisie.

Die fassinerende geskiedenis van hierdie groot skool van denkers, deur al sy kinkels en nadraaie, lief en leed, is die verhaal van hoe groot denkers die wetenskappe kan bevorder en boosheid teenstaan met kreatiwiteit en dapperheid. Vandag staan die Oostenrykse Skool as die vaandeldraer vir ʼn vrye samelewing. Dit is te danke aan die heldhaftige en briljante denkers wat die familie geskiedenis van die Skool opmaak, asook die wat die tradisie en erfenis deur die Ludwig von Mises instituut vorentoe dra.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie, Geskiedenis and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.