“Warlords” sal mos Oorneem!

Warlords sal mos Oorneem

Meeste mense kan rasioneel verstaan dat die vryemark beter antwoorde bied op kwessies soos onderwys, gesondheidsorg en hordes ander probleme waar die staat slegs inmeng om probleme óf te vererger óf te veroorsaak. Tog sal hulle ongehinderd argumenteer dat ons net altyd ʼn ander groep, klas, etniese, ideologiese, gelowige, vernuftige, eerlike mense in die regering kry, dan – dié keer sal dit anders wees!  Wat hulle daarvan weerhou om die ooglopende raak te sien, is daardie laaste vrees wat hulle as onbekend beskou, en dit is: Wie sal sekuriteit verskaf as daar geen staat is nie? Die staat se verskaffing van sekuriteit is egter swak en duur, omrede dit dieselfde inherente monopolistiese tekortkomings het wat alle monopolieë het. 

In ʼn gesprek met ʼn vriend noem ek dat as mense kan verstaan dat beide privaat welsyn en privaat sekuriteit meerderwaardig is tot dit wat die staat aanbied, anargie onafwendbaar is. Sy neef wat saam kom kuier het se oë rek groot en hy antwoord: “Linkse ekstremiste sal jou ‘uithaal’”. Ek kon nie help om by myself te lag en te wonder in hoeveel ander lande is die vrees nie dalk dat: “Regse ekstremiste jou sal ‘uithaal’” nie. Bygesê moet mens wonder, wat presies dink hulle is die ANC, die ou NP, V.S.A. se Republikeinse party of hul Demokratiese party, ons DA, of enige ander groep met staatsmag?  Dit is niks minder as ʼn klomp ekstremiste wat allerhande halfgebakte idees het nie.  Verder is dit vir my onverstaanbaar waarom mense wat vrees dat privaat beskermingsagentskappe teoreties ʼn monopolie kan vorm dan eerder ʼn absolute monopolie in sekuriteit verkies. 

Groot Empaaiers kom altyd tot ʼn val deur hul eie onvolhoubaarheid, net soos Napoleon nie regtig Rusland sou kon beheer nie, Amerika uiteindelik uit Afghanistan en die Midde-Ooste gaan moet ontrek, die NP met meerderwaardige militêre vermoë nie eens die territoriale gebied bekend as Suid-Afrika kon behou sonder publieke ondersteuning nie en die Engelse S.A nooit sou kon inlyf nie, selfs al sou hulle wou. Om dit ʼn stap verder te vat was die beste teenstand teen die Engelse die Gorilla fase van die Anglo-Boereoorlog, lank nadat die staat geval het – dit is niks minder as anargistiese militêre weerstand nie. 

Die teenkanting tot my stelling kan dalk wees dat die Engelse uiteindelik in die Anglo-Boere oorlog gewen het, en tog word geen ideologie reg of verkeerd bewys word deur oorlog self nie. Mense verkies nie monargisme bo klassieke republikanisme omdat die Engelse met hul Staandemag die Boere met hul Burgermag oorwin het nie. Oorlog bewys seker maar net een ding, en dit is wie die effektiefste massamoordenaars is.

Amerika is ʼn goeie voorbeeld van hoe uiters swak ʼn staat sekuriteit aan sy burgers verskaf:

Amerikaanse basise om Iran

Die sterretjies toon Amerikaanse militêre basisse om Iran aan. Tong in die kies wil mens uitroep “kyk net hoe dreigend tree Iran op teen al hierdie militêre aktiwiteite op sy grense deur vreedsame Amerikaanse soldate in Turkye, Pakistan, Saoedi-Arabië, Oman, UAE, Oezbekistan, Kirgistan, Afghanistan, Irak, Turkmenistan, Koeweit, Eritrea, ens”. Hulle is orals (meer as 150 lande) behalwe in Amerika. Verder lok hierdie gedrag aanvalle op hul burgers uit.

Die Amerikaners gaan nes elke ander Empaaier hulself tog uiteindelik ondergrawe met te veel oorlogsfronte op te veel plekke, te veel regering en te min produksie. Dit kan 50 jaar vat of dit kan 200 jaar vat, die eindbestemming bly egter onafwendbaar.

Die vryemark idee is dat indien een versekeringsmaatskappy of privaat beskermingsagentskap oormatig aggressief wil optree, hy sy maandelikse premies sal moet verhoog om daardie aggressie te finansier. In die proses word die ondersteuners egter aangespoor deur die koste implikasie om oor te skuif na firma B en firma A sal onafwendbaar ondersteuning verloor terwyl B groei. Addisioneel hiertoe is daar geen rede waarom mense nie vrywillige burgermagte kan hê waar dit nodig is nie. Suid-Afrika het vier keer soveel privaat sekuriteitpersoneel as wat die weermag en polisie saam het. Die idee dat privaat sekuriteit onvoldoende sal wees, is so belaglik soos dit:

Privaat polisieering

In ʼn vrye samelewing hoef dit nie een spesifieke vorm aan te neem nie, die koste kan by jou versekeringspremies ingesluit wees op sommige plekke sal die koste by jou munisipale rekening ingesluit kan word, op ander kan dit dalk selfs deel van jou meenthuisheffings opmaak. Dit sal afhang van wat nodig is vir die behoud van vrede. Anders as ʼn besigheid wat ʼn wins/verlies analise het wat aandui of hulle die regte diens teen die regte koste lewer, het ʼn staat geen benul van wat mense werklik benodig nie. In Suid-Afrika het ons gesien hoe daar duikbote aangekoop word terwyl daar ʼn veel groter behoefte aan landelike veiligheid is. Dit help ook nie om die blaam net op ANC onbevoegdheid te pak nie, die ou NP het in die 1970’s en 1980’s miljarde rande spandeer om geweld in naburige state aan te hits en dan verbaas gestaan toe onwettige immigrante onophoudelik oor die grense stroom. Dis ook nie noodwendig net ʼn Suid-Afrikaanse probleem nie.

privaat sekuriteit

Die een is ʼn professionele sekuriteitsfirma wat sekuriteit aan sy kliente verskaf, die ander is ʼn dom goewerment advertensie

Mens kan land vir land vat en opnoem hoe geld of wanaangewend word of swak geallokeer word en dit is sonder om die gevalle waar die staat sy monopolie op verdediging teen sy eie inwoners gebruik in ag te neem. Met ander woorde ons ignoreer die meer as 100 Miljoen mense wat deur hul eie staat se weermag van kant gemaak is. Dit maak nie saak wie beheer oor die sentrale staat het nie, in terme van wat nodig is vir sekuriteit kan hulle maar net raai – en niemand behoort raai skote te aanvaar as dit by sekuriteit kom nie. 

Een opmerking wat enigeen wat al ooit anargie as ʼn stelsel aan mense probeer verduidelik het as teenargument gekry het is die volgende: Maar waar het dit nou al ooit gewerk? 

Ons gaan by ʼn ander geleentheid op die blog terugkeer na oorlogvoering en die geskiedenis daarvan. In die kort reeks wat hierop gaan volg, gaan ons kyk na ʼn gevallestudie, ʼn historiese milieu waarin die staat weinig of geen reikwydte gehad het nie. Die idee is nie om tegnologie of modernisme op te gee nie, maar slegs om hul sosiale organisasie in staatsafwesigheid te bestudeer.

Die oorspronklike stuk “But Wouldn’t Warlords take over” deur Robert P. Murphy met heelwat addisionele argumente: Hier te vinde

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Sekuriteit, Video and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.