Die (nie So Wilde) Wilde Weste: ʼn Eksperiment in Anargo-Kapitalisme – Deel 1

deur Terry L. Anderson en P. J. Hill

Wilde WesteDie groei van die staat gedurende die vorige eeu het die aandag van menige denkers gevestig op verduidelikings vir hierdie groei en voorstelle van hoe om dit te beperk. As ʼn resultaat van hierdie aandag het die publieke belangstelling in literatuur aangaande die teorie van anargisme en die implikasies daarvan op moontlike sosiale organisasie ʼn toename ervaar.

Die werke van Robert Nozick, Anarchy, State and Utopia (1977),  twee volumes geredigeer deur Gordon Tullock, Explorations in the theory of Anarchy (1972), en ʼn boek deur David Friedman, The Machinery of Freedom: Guide to Radical Capitalism (1971), verskaf voorbeelde van die grondlegging van hierdie idees. Die doelwitte van die literatuur het gevarieer tussen die daarstel van ʼn konseptuele raamwerk vir die vergelyking van Leviátan(die staat) en sy teenoorgestelde ekstreem, en die aanbieding van geformuleerde instellings vir die funksionering van die samelewing in ʼn toestand van anargie. Tog het omtrent al hierdie werke een gedeelde aspek; dit verken die “teorie van anargie”.

anargie staat en utopiaDie doel van hierdie referaat is om ons van die teoretiese wêreld van anargie te verskuif na ʼn gevallestudie in die toepassings daarvan. Om hierdie taak te bewerkstellig sal ons eers bespreek wat met “Anargo-Kapitalisme” bedoel word en ook verskeie hipotese verskaf verwant aan die aard van sosiale organisasie.

Hierdie hipotese sal dan getoets word in die konteks van die Amerikaanse Wilde Weste gedurende sy vroegste vestiging. Ons doelwit is om die totstandkoming van eiendomsreg en beskermingsdienste onder vrywillige organisasies soos privaat beskermingsorganisasies, vigilantes, ossewa-treine en vroeë mynkampe te ondersoek. Alhoewel die vroeë Weste nie heeltemal anargisties was nie, glo ons dat die regering as ʼn legitieme agentskap van dwang, vir ʼn lang genoeg tydperk afwesig was om insig te gee in die werking en lewensvatbaarheid van eiendomsreg in anargistiese toestande. Die aard van kontrakte in die voorsiening van “openbare goedere” en die evolusie van die Westerse “wette” vir die tydperk van 1830 tot 1900 sal die data verskaf vir hierdie gevallestudie.

Die moderne siening van die Wilde Weste gedurende hierdie tydperk word veral geassosieer met toestande van groot chaos, met weinig respek vir lewe of eiendom. Ons navorsing dui egter aan dat dit nie die geval was nie; eiendomsregte was beskerm en burgerlike orde het geseëvier. Private agentskappe het die nodige basis vir ʼn geordende samelewing voorsien waar eiendom beskerm en geskille opgelos was. Hierdie agentskappe het baie keer nie gekwalifiseer as regerings nie omrede hulle nie ʼn wettiglike monopolie besit het op die “behoud van orde” nie. Hulle het gou uitgevind dat “oorlogvoering” ʼn duur manier was om konflik op te los en goedkoper metodes van skikking (arbitrasie, howe, ens.) het daaruit voortgespruit. Hierdie opstel argumenteer dat dit inkorrek is om die Amerikaanse Weste te karakteriseer as chaoties.

Anargie: Orde of Chaos?

Alhoewel die eerste woordeboekdefinisie van anargie “ ʼn toestand van regeringloosheid” is, glo baie mense dat dit die derde definisie is, nl. “verwarring en chaos in die algemeen”, wat meer gepas is aangesien dit vir hulle ʼn noodwendige gevolg van die eerste definisie is.

As ons ernstig oorweging daaraan wil skenk om die grote van die staat af te skaal, sal die politieke ekonoom geen tekort vind aan staatsdepartemente om te elimineer nie. Tog, as die afskaling voortgaan sal die keuses meer en meer moeisaam raak, met die laaste “publieke goedere” waarmee weggedoen moet word waarskynlik die departemente wees wat ontwerp is om eiendomsregte te definieer en af te dwing.

Oorweeg die volgende twee kategorieë van reaksies tot hierdie probleem.

1) Ons sal die eerste denk-groep die “minargis” of “sosiale kontrak” skool noem. Die belangrike vraag vir hierdie groep is : Hoe kom regte tot stand en verkry daardie reg addisioneel menslike instemming daartoe? Hoe verskyn “regte” en dra dit ʼn algemene respek wat legitimiteit daaraan verleen?[1] Hierdie minargis posisie laat ons nie toe om uit die staanspoor oor die hele kaboedel kwessies wat betrokke is in die definiëring van regte van persone en eiendom te spring nie.[2]

Daar word dan kollektiewe aksie geneem as ʼn noodsaaklike stap in die vestiging van ʼn sosiale kontrak of grondwetlike kontrak wat hierdie regte spesifiseer. In so ver as wat regte perfek gedefinieer kan word, sal die enigste rol van die staat wees om daardie regte te beskerm, aangesien die wet ontwerp is vir die beskerming daarvan as die enigste openbare goedere.

As regte nie perfek gedefinieer kan word nie sal daar ʼn produktiewe rol vir die staat ontstaan.  Hoe hoër die mate waartoe privaat regte nie perfek gedefinieer kan word nie, hoe meer sal kollektiewe aksie gedompel word in die “ewige dilemma van ʼn demokratiese regering”. Om dit ʼn stap verder te neem, “hoe kan ʼn regering wat opsigself net ʼn refleksie van sy eie selfsugtige belange is, die legitieme grense van self-belange instel, en hoe kan dit omgekeerd daardie areas van inmenging skep wat wel sosiaal beskermend en kollektief bruikbaar is?”[3]

Die kontraktuele oplossing tot hierdie dilemma is die stigting van ʼn oppergesag van die reg of ʼn grondwet wat die beskermende en produktiewe rol van die regering uiteensit. Aangesien die produktiewe rol a.g.v. die “freerider” probleem, noodwendig afdwinging behels sal die regering ʼn monopolie gegee word m.b.t. die gebruik van dwang. As dit nie so was nie, sou sekere individue kies om nie te betaal vir dienste nie waarvan hulle wel voordele kry.

2) Die tweede skool kan ons die “Anargo-kapitalis” of “privaat eiendoms anargis” noem. In sy uiterste vorm sal die skool die voorstaander wees vir die eliminering van alle vorme van kollektiewe staatsaksies aangesien alle regeringsfunksies vervang kan word deur individue in besit van privaat regte om te kontrakteer in die vryemark. Alle transaksies sal onder hierdie sisteem vrywillig wees, behalwe insover as wat die beskerming van individuele regte en die toepassing van kontrakte dwang benodig. Die fundamentele vraag wat hierdie skool moet beantwoord is hoe kan reg en geregtigheid, wat ʼn mate van dwang vereis, voorsien word sonder om op die uiteinde te verval in een enkele verskaffer van die dienste wat dan in besit sal wees van ʼn monopolie op dwang, en as resultaat sal hê – regering.

As ʼn vryemark beskermingsdiens of assosiasie, dominant na vore tree nadat vrywillige uitruilings in die mark plaasgevind het, sal ons die minimale staat hê soos dit deur Nozick gedefinieer is en sou ons dan vanuit anargie terug wees in die wêreld van die “minargiste”. Die privaateiendoms-anargis se aanspraak dat markte privaat beskermingsdienste kan voorsien is soos volg opgesom:

Die winsmotief sal daartoe lei dat die doeltreffendste verskaffers van hoë kwaliteit arbitrasie tot bo sal styg en dat ondoeltreffende verskaffers en polisie wat deur omkopery georiënteer word hulle werk verloor. Die mark is dus in staat om geregtigheid te voorsien teen die goedkoopste prys. Volgens Rothbard is die aanklag dat hierdie dienste “openbare goedere” is en daarom nie aan individue verkoop kan word teen wisselende pryse nie, ʼn stelling wat geen basis in enige werklikheid het nie.[4]

Gevolglik plaas die anargo-kapitaliste hulle vertroue in die winsgedrewe entrepreneurs om die optimale grootte en tipe beskermingsdienste te verkry, sowel as in kompetisie om te verhoed dat die stigting van ʼn monopolie sal plaasvind in die voorsiening van hierdie dienste.

Daar is fundamenteel twee verskille tussen die twee skole hierbo bespreek. Eerstens is daar die empiriese vraag of kompetisie werklik beskermingsdienste kan voorsien? Aan die Anargo-kapitaliste se kant is daar die geloof dat dit kan. Aan die grondwetlike of “minargiste” se kant is daar die volgende argument:

Konflik mag dalk plaasvind, en een agentskap sal wen. Persone wat voorheen kliënte was van agentskappe wat verloor het sal voortaan hulle beskermingsdienste koop vanaf die agentskappe wat gewen het. Op hierdie manier sal ʼn enkele beskermingsagentskap of assosiasie naderhand die mark domineer vir polisiëringsdienste oor ʼn gebied. Onafhanklike persone wat weier om beskerming van enigiemand te koop sal buite die diens van die dominante agentskap kan bly, maar sulke onafhanklikes mag nie toegelaat word om kliënte van die agentskap op hul eie te straf nie. Hulle moet gevolglik gedwing word om nie te straf nie. Om legitimiteit aan hierdie dwang te verleen moet hierdie persone gekompenseer word, maar slegs tot die mate wat hul verliese dit regverdig.[5]

Die tweede kwessie is meer abstrak as empiries, en kan dus nie heeltemal deur observasie opgelos word nie. Hierdie kwessie draai om die vraag hoe regte in die eerste plek bepaal word; hoe kry ons ʼn beginpunt met al die gewenste karaktereienskappe van waar die spel gespeel kan word. Buchanan, ʼn vooraanstaande grondwetlike minargis, kritiseer Friedman en Rothbard, twee vooraanstaande privaateiendoms-anargiste, omrede hulle volgens hom “bo-oor” die hele rits kwessies wat betrokke is by die definiëring van die regte van ʼn persoon “spring”.[6]

Vir die grondwetlike minargis is die Lockean konsep om arbeid met hulpbronne te kombineer om by ʼn “natuurlike reg” tot privaat eiendom uit te kom, net nie voldoende nie. Die grondwet kontrak benadering stel voor dat die beginpunt bepaal moet word deur die aanvanklike onderhandelingsproses wat uitloop in die grondwetlike kontrak.

Debatte oor hierdie kwessie sal ongetwyfeld voortgaan, maar tot selfs Buchanan stem saam dat “as die toerekening van regte aan mense (regte om goed te doen, beide met respek vir ander mense sowel as fisiese dinge) beslis kan word, kan ons daar vanaf voortgaan. Behalwe vir verskille op sekere spesifieke kleiner besonderhede (wat dalk belangrik mag wees, maar relatief oop is vir analise, bv., die effektiwiteit van vryemark reëlings vir die behoud van interne en eksterne vrede), sal ek baie van die gedetailleerde hervormings wat hierdie passievolle kampvegters voorstel aanvaar.”[7]

Ons doel met hierdie stuk is om van die belangrikste kwessies wat Buchanan beskryf as “oop” of toeganklik, te analiseer in ʼn historiese konteks. Ons is nie van plan om die kwessie te debatteer aangaande oorsprong regte nie, maar om die effektiwiteit van vryemark reëlings te oorweeg vir die behoud van interne vrede.[8]

Dit blyk asof daar ʼn verdeling van regte was in die tydsperiode en geografiese ligging wat ons ondersoek, wat aanvaar was óf deur algemene instemming tot seker basiese konsepte van natuurlike regte, óf omrede die inwoners van die Amerikaanse Weste uit ʼn samelewing gekom het waarin sekere regte gedefinieer en afgedwing was.

Die Strategie van KonflikDaar word na so ʼn beginpunt as ʼn Schellingpunt verwys, ʼn punt van gemeenskaplikheid wat bestaan in die gedagtes van die deelnemers van ʼn sekere sosiale situasie.[9] Tot selfs in die afwesigheid van enige dwangmeganisme het meeste lede van die Wilde Weste samelewing saamgestem dat sekere regte vir die gebruik en bestuur van eiendom wel bestaan. Wanneer ʼn myner dus geargumenteer het dat ʼn stuk afgepende myn-grond syne was omrede hy “eerste daar was,” het daai eis meer gewig gedra as wanneer hy dit sou stel dat dit syne was bloot omrede hy die sterkste was. Smaak, kultuur, etiek en vele ander invloede gee Schellingpunt-eienskappe aan sekere eise, maar nie aan ander nie. Die lang tydperk van konflik tussen die Inheemse Indiane en die setlaars kan toegeskryf word aan ʼn tekort van sulke Schellingpunte.

In hierdie referaat beskryf ons die private afdwinging van regte in die Wilde Weste tussen die tydperk 1830 tot 1900. Hierdie verduideliking laat mens toe om in ʼn beperkte mate sommige van die hipoteses te toets oor hoe Anargo-Kapitalisme kan funksioneer.

Ons kwalifiseer die toets met “beperk” omrede ʼn noodsaaklike eienskap van so ʼn stelsel die afwesigheid van ʼn monopolie op dwang is.[10] Verskeie dwangagentskappe sal bestaan, maar geen een sal ʼn legitieme monopolie besit op die gebruik daarvan nie. Die probleem in die hantering van so ʼn proposisie vir die Wilde Weste is voor die hand liggend. Alhoewel daar vir ʼn lang periode nie formele regeringsbeskermingagentskappe vir die beskerming van regte aanwesig was nie, het sulke agentskappe nogtans altyd in die agtergrond bestaan. Daarom het geen van die privaat dwangagentskappe heeltemal onafhanklik van die regering bestaan nie.

Bygesê, mens moet versigtig wees om privaatagentskappe altyd asmasjienerie van vryheid “nie-regering” te beskryf, want tot die mate wat hulle ontwikkel na agentskappe van legitieme dwang, so begin hulle ook kwalifiseer as “regering”. Alhoewel daar vele beskrywings van sulke privaatagentskappe bestaan, is dit baie keer moeilik om vas te stel wanneer hulle kompetisie vermeerder of verminder.

Ten spyte van die bogenoemde slaggate bly die Wilde Weste ʼn handige toetsgrond vir verskeie hipoteses oor hoe Anargo-Kapitalisme kan werk. Ons gebruik David Friedman se The Machinery of Freedom as ons basis vir die formulering van ons hipotese oor hoe Anargo-Kapitalisme werk, omrede dit beslis nie-utopies is nie, en stel in ʼn taamlik spesifieke vorm voor, vir die instellings en hul bedrywighede onder ʼn stelsel van nie-regerings- beskermingsagentskappe.

Die hoof proposisies is:

  1. Anargo-Kapitalisme is nie chaos nie. Eiendomsregte sal beskerm word en burgerlike orde sal seëvier.
  2. Privaatagentskappe sal die noodsaaklike funksies vir ʼn orderlike samelewing voorsien.
  3. Private beskermingsagentskappe sal gou agterkom dat “oorlogvoering” ʼn duur manier is om geskille op te los en metodes om te skik wat minder kos (arbitrasie, howe, ens) sal die resultaat wees.
  4. Die konsep van “geregtigheid” is nie ʼn onveranderbare konsep wat net ontdek moet word nie. Individue se voorkeure van welke reëls hulle verkies om mee te lewe verskil, sowel as die prys wat hulle bereid is om te betaal vir sulke reëls. Dus is dit moontlik dat daar merkbare verskille sal bestaan tussen verskeie lokalistiese gemeenskappe onder Anargo-Kapitalisme.
  5. Daar is nie betekenisvolle genoeg “ekonomieë van skaal” in misdaad om makro “Mafia” organisasies te ontwikkel wat die samelewing kan domineer nie.
  6. Kompetisie tussen beskermingsagentskappe en lokalistiese regsinstellings sal dien as gesonde kontroles op ongewensde gedrag. Verbruikers sal beter inligting hê as onder ʼn regering en sal dit gebruik om hierdie agentskappe se gedrag deur finansiële ondersteuning, al dan nie, te oordeel.

Bronne

  1. James M. Buchanan, “Before Public Choice,” in G.Tullock, ed., Explorations in the Theory of Anarchy(Blacksburg, Va.: Center for the Study of Public Choice, 1972), p. 37.
  2. James M. Buchanan, “Review of David Friedman, The Machinery of Freedom: Guide to Radical Capitalism,” The Journal of Economic Literature, Vol. X11, No.3 (1974), p. 915.
  3. E.A.J. Johnson, The Foundations of American Economic Freedom (Minneapolis: University of Minnesota Press, 1973), p. 305.
  4. Laurence S. Moss, “Private Property Anarchism: An American Variant,” in G.Tullock, ed., Further Explorations in the Theory of Anarchy (Blacksburg, Va.: Center for the Study of Public Choice, 1974), p. 26.
  5. James M. Buchanan, Freedom in Constitutional Contract (College Sta., Tex.: Texas A&M University Press, 1977), p. 52.
  6. Buchanan, “Review of Machinery of Freedom,” p. 915.
  7. Ibid., emphasis added.
  8. Ibid.
  9. For a longer discussion of Schelling points, see Thomas C. Schelling, The Strategy of Conflict (Cambridge: Harvard University Press, 1960), pp. 54–58; Buchanan, “Review of Machinery of Freedom,” p. 914; and David Friedman, “Schelling Points, Self-Enforcing Contracts, and the Paradox of Order,” (unpublished MS, Center for the Study of Public Choice, Virginia Polytechnic Institute).
  10. David Friedman, The Machinery of Freedom: Guide to Radical Capitalism (New York: Harper & Row, 1973), p. 152.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Geskiedenis and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.