Die Subjektiewe Teorie van Waarde

Subjektiewe teorie van waarde

Thomas C. Taylor

Die verduideliking vir alle ekonomiese aktiwiteite wat in ʼn mark ekonomie plaasvind, steun uiteindelik op die subjektiewe teorie van waarde. Die waarde van verskillende verbruikersgoedere en -dienste bestaan nie objektief of intrinsiek in die items self nie, aangesien dit nie verwyder is van die individu wat die waardasie maak nie. Die individu se waardasie is ʼn subjektiewe aangeleentheid, dit bestaan uit die voorkeur vir ʼn bepaalde hoeveelheid van een item of diens bo ʼn bepaalde hoeveelheid van ʼn ander wat beskikbaar is. Die uitkoms van sy waardasie is ʼn rangorde van sy voorkeure in definitiewe kwantiteite van goedere en dienste waarin hy belangstel vir die doel om ʼn besluit te maak en aksie te neem.

Om die natuur van menslike waardasies te verstaan en verduidelik moet teorie terugval op die hipotetiese konsep van waardeskale. Die rangskikking van alternatiewe doelwitte word bepaal deur die persoon se verwagte bevrediging van elke spesifieke keuse wat hy maak op enige gegewe oomblik van besluitneming. Hy sal onvermydelik die besluit maak, wat hy glo, hom die meesste bevrediging verskaf.

Die subjektiewe teorie van waarde steun op die natuur van bevrediging – bevrediging is subjektief en nie toeganklik tot wiskundige meetbaarheid nie. Die mate waartoe dinge bevrediging gee is altyd persoonlik. Mense verkry bevrediging van verskillende goedere en dienste en alle mense is verskillend in hul keuses van daardie goedere en hul rangorde daarvan. Ondervinding demonstreer ook dat ʼn persoon se voorkeure kan verander van tyd tot tyd en sy rangorde van alternatiewe keuses kan op enige gegewe tydstip verander deur toevoeging of verwydering van goedere en dienste.

eilandVoorbeeld: Veronderstel jy is ʼn skipbreukeling alleen en verslete gestrand op ʼn eiland en ʼn golf spoel drie duidelik gemerkte groot koffers verby die eiland, maar jy sal slegs die krag hê om een van hulle te kan insleep op die eiland. 1) Biltong 2) Ysskaatse 3) Diamante.

Jy gaan tien teen een die Biltong kies, en dis maklik om te verstaan, dis nie op grond van ʼn intrinsieke waarde of produksie koste of arbeids waarde waarmee jy die besonderse keuse uitoefen nie. Dis uit en uit ʼn subjektiewe saak. Gestel nou daar is ʼn ekstra drie koffers om van te kies 4) Selfone 5) Visstokke 6) klere. Van die verwagting/onsekerheid kan dalk wees: (a) Is die selfone nie dalk nat en stukkend nie? (b) Is die biltong nie dalk vrot nie (c) Hoe lank gaan ek nog hier wees voor hulp opdaag? (d) Verwag ek koue nat weer? Duidelik sal risiko, tydsvoorkeur, onsekerheid en verwagtinge by die individu ʼn rol speel in die subjektiewe keuse wat gemaak word.

Wat gebeur as ons die model verander en veronderstel dat jy 2 koffers kan uitduik. Onmiddellik oorweeg elkeen van ons al 6 keuses van voor af en as ons veronderstel dat 3 koffers gered kan word, raak daardie diamante dalk net die eerste koffer wat uitgeduik word.

Om waardasie te stel as ʼn verhouding met die individuele persoon, is nie te sê dat elke persoon slegs belangstel in die bevrediging van net sy eie smake en voorkeure nie. ʼn Persoon mag dalk bevrediging daarin vind om ʼn ander persoon te help. Bevrediging kan en word dikwels verkry deur altruïstiese sowel as “selfsugtige” motiewe. Die punt bly egter dat ongeag die vorm wat die bevrediging aanneem, elke keuse steeds vanaf ʼn subjektiewe waardasie spruit by die persoon wat die besluit maak. Die onsekerheid wat hy wil verwyder is in sy gedagtes, of die onsekerheid betrekking het op ʼn onmiddellike probleem van sy eie of by ʼn geliefde. Sy keuse spruit uit die voorkeur wat hy het vir die verwydering van een besonderse onsekerheid bo ʼn ander probleem of onsekerheid, waaraan hy dan sy aandag kan gee.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.