Die Beginsel van Dalende Grensnut

Marginale grensnut

Thomas C. Taylor

Waardasie is altyd verwysend na ʼn definitiewe hoeveelheid van ʼn spesifieke produk of diens. Menslike keuses en aksies weerspieël nie ʼn belang in die totale aanbod van enige goedere of dienste nie.

Hierdie marginale oriëntasie was afwesig in die werke van klasieke ekonome, hulle was geneig om pryse te verduidelik in breë en abstrakte goedere, hulle het nie gepraat van eenhede van katoen of vleis nie. Hierdie probleem het ʼn paradoks laat ontstaan, ʼn paradoks wat bekend geword het as “die paradoks van diamante en water”. Hulle kon byvoorbeeld nie verduidelik hoe brood wat ʼn groter gebruikswaarde het as diamante dan soveel goedkoper is nie. Waarom is dit dat die uitruilwaarde van diamante soveel hoër is as ʼn kilogram brood? Omrede klasieke ekonome slegs gedifferensieer het tussen klasse goedere, het sommiges gedink dat die waarde van diamante hoër is omdat dit meer kos om ʼn diamant te produseer (neig tot ʼn kosteteorie van waarde en /of arbeidsteorie van waarde), in vergelyking met brood of water en hulle was redelik tevrede met daardie soort verduidelikings.

Die sleutel tekortkoming was egter dat hulle ekonomie verstaan het in terme van die winste en verliese wat die sakeman maak, maar sonder om in te sien dat daardie prosesse sy ontstaan in die smake en voorkeure van die verbruiker het. Sommiges het die paradoks van water en diamante probeer oplos deur goedere in twee klasse te verdeel – Geproduseerde goedere waarvan die pryse gedryf word deur die koste van produksie, wat hulle genoem het rariteitsgoedere en – Geproduseerde goedere soos ornamente en portrette waar die pryse slegs bepaal word deur vraag en aanbod, wat hulle genoem het monopolie goedere.

Slegs deur die beginsel van dalende marginale nut kon hierdie paradoksale dilemma opgelos word. Elke addisionele eenheid van ʼn besondere produk word geallokeer tot gebruike wat minder belangrik en dringend is as wat die vorige geallokeerde eenheid was.

Om die beginsel vas te stel is dit nie nodig om terug te val op sielkundige of fisiologiese verduidelikings van versadiging nie. Die beginsel dat ʼn persoon altyd ʼn gegewe eenheid van enige goed sal aanwend tot die mees noodsaaklikste behoefte wat hy daaraan kan verbind is inherent in die konsep van doelgerigte aksie(Praxeologie). Aangesien elke persoon meer bevrediging bo minder bevrediging verkies sal elke addisionele eenheid wat hy verkry aangewend word vir al minder en minder belangrike doelwitte, gegewe sy waardeskaal op daardie tydstip.

Van die beginsel van dalende marginale nut word ʼn belangrike wet afgelei aangaande die waarde van ʼn eenheid van enige ekonomiese item wat besit word en in enige besondere hoeveelheid. Die waarde van ʼn eenheid van ʼn gegewe hoeveelheid van ʼn besondere produk word bepaal deur die bruikbaarheid van die laagste nut wat daaruit geput kan word. Anders gestel, die waarde van enige eenheid van vele eenhede van ʼn gegewe produk wat besit word, is gelyk aan die bevrediging wat opgeoffer sou word, as een eenheid verlore sou gaan.

Graanboer

Hiermee boots ons Böhm-Bawerk se voorbeeld[1] na en veronderstel ʼn bestaansboer het vyf groot sakke graan geoes. In die fynbeplanning oor presies hoe hy sy kosvoorrade gaan aanwend, sal hy eerstens die nut daarvan raaksien om ʼn sekere hoeveelheid eenkant te hou om hom lewend te hou tot die volgende oes. Hiertoe allokeer hy een sak graan. ʼn Tweede sak sal daartoe bydrae dat hy sy volle krag en gesondheid behou. ʼn Derde sak sal verseker dat hy bietjie variasie in sy dieet kry deur ʼn klompie hoenders daarmee te voer. Hy besluit om whiskey te brou met die vierde sak, en met die vyfde sak voer hy twee apies wat hy aanhou omrede hul parlementere gedrag hom laat skaterlag.

Die voorbeeld illustreer die beginsel van dalende marginale nut in aksie. Die boer se planne vir die sakke graan volg vanaf die belangrikste aanwending tot die minste belangrike gebruik. Die waarde van elke sak graan is gelyk aan die bevrediging wat die boer verwag om te verkry uit die voer van die apies. Dit is die bevrediging wat hy moet opgee as een sak graan verlore sou gaan. Aangesien sy sakke graan ʼn homogene kommoditeit is, hoef hy nie sonder enige van die ander vier belangriker gebruike te gaan as gevolg van sy verlies nie. Hy sal net eenvoudig die minste belangrikste aanwending kies as die gedeelte van sy beplanning wat nie deurgevoer kan word nie. Die waarde van ʼn eenheid word bepaal deur die marginale nut of bevrediging wat daaraan verbind kan word.

Daar word soms gepraat van die marginale rewolusie omrede dit nie net ʼn rewolusie in ekonomiese denke was nie, maar ook in intellektuele geskiedenis van denke. Die marginale rewolusie kan gedefinieer word as die kort periode waarin drie ekonome onafhanklik van mekaar in ʼn relatiewe kort periode tot dieselfde gevolgtrekking gekom het. Carl Menger in Oostenryk, Stanley Jevons in Brittanje en Léon Walras in Switserland. Dit het die basis gevorm waarvan realistiese prysteorie afgelei kon word. Jevons het dit “final utility” genoem, Walras het dit “rarité” genoem en Menger het dit nie ʼn naam gegee nie, dit was sy student, Von Weiser wat dit in Duits “Grenznutzen” genoem het – wat dan later in al die ander tale vertaal is as: Grensnut.

3.142857 Nutseenhede?

3.142857 Nutseenhede?

Die ander twee ekonome het aan nut gedink as ʼn kwantiteit van eenhede wat vergelyk kan word tussen mense. Hulle het dit ook foutiewelik probeer onderwerp aan wiskundige manipulasie. Menger het geensins daaraan gedink as iets wat gemeet kan word nie en ook nie as iets wat vergelyk kan word tussen verskillende mense nie. Nut is die gevolg van ʼn individu se subjektiewe oordeel oor hoe ʼn gegewe eenheid van goedere sy behoeftes bevredig. ʼn Glas water gee jou byvoorbeeld nie ʼn numeriese vyf eenhede van nut nie, ons oordeel net hierdie glas water op hierdie oomblik in tyd aan hierdie individu en dit is dus nie meetbaar nie. Daar is dus nie iets soos “nuteenhede” wat bereken kan word nie en daar is ook nie iets soos negatiewe nut nie. Die enigste logiese voorbeeld wat soms probeer word om dit te bewys is waar ʼn addisionele eenheid medisyne skadelik is. Die voorbeeld skiet egter tekort aangesien ʼn addisionele eenheid geberg kan word vir latere gebruik of ontslae van geraak sal word in welke geval dit geen verdere nut het nie.

Die beginsel van verminderde marginale nut en sy komplimenterende wet van waarde los die paradoksale vraagstuk tussen die prys van water en diamante op. Die element van skaarsheid wat die mate waartoe enige gegewe kommoditeit aangewend kan word beheer, is die sleutel tot die vraagstuk. Die relatiewe oorvloed van water in vergelyking met diamante beteken, elke inkrementele eenheid water kan toegewy word aan minder en minder belangrike gebruike as wat die beperkte hoeveelhede diamante in teenstelling aan gewy kan word. Niemand is ooit in die onmoontlike posisie om te kies tussen al die water en al die diamante nie; daarom is daar geen betekenisvolle paradoks nie. Pryse kom tot stand in verhouding met definitiewe hoeveelhede van ʼn produk en nie die hele kommoditeit in die breë sin nie.

Ninja

As ʼn Ninja drie van ons graanboer se sakke graan steel, is sy waarde verlies nie gelyk aan drie keer die waardasie of bevrediging wat hy uit die onderhoud van sy apies sou put nie. Hy is nie in ʼn situasie waar hy sy waardasie op een sak graan maak nie. Hy sal die drie minste belangrikste gebruike opgee en die oorblywende graan aanwend tot sy noodsaaklike voedsel behoeftes. Die waarde van ʼn “eenheid” van drie sakke graan is gelyk aan die totale bevrediging wat hy daarvan verwag het, nl. die voer van hoenders, verbrouing van whiskey en voer van apies. Dit is die marginale bevrediging van die drie sakke graan wat hy verloor.

Die grote van die eenheid is nie belangrik vir die funksionering van waardeteorie nie. Mens kan insien dat as jy in die onmoontlike situasie kon wees om al die water en al die diamante in ʼn rangorde te plaas, mens die eersgenoemde eerste sou plaas en daar dan geen paradoks van waarde sou wees nie. Dit volg logies dat as die aanbod van ʼn besondere produk so groot is dat sekere eenhede nie in gebruik geneem word nie, die marginale nut van daardie goed nul is, geen waarde sal in so geval aan enige besondere eenheid geheg word nie. Ook neem die mens nie beheer van sekere items nie en behoort dit daarom nie tot die ekonomiese veld nie. Ons voer in ons persoonlike kapasiteit nie beheer uit oor die lug wat ons asemhaal nie, dit is soos sonskyn ʼn natuurgawe en net soos onkruid en siektes nie ʼn produk in die veld van ekonomie nie.

[1] Eugene von Böhm-Bawerk, Capital and Interest, vol. 2, book 3 (South Holland: Libertarian Press: 1959), pp. 143-145.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.