Die Arbeidsteorie van Waarde

Ek het in die vorige twee plasings kortliks gekyk na Marginale nut en die Subjektiewe teorie van waarde. In hierdie derde deel van die kort reeks wil ek die belangrikheid van die subjektiewe teorie van waarde verduidelik deur na Karl Marx se arbeidsteorie van waarde te kyk en wat verkeerd is met daardie teorie. Ek gaan hiermee Eugen von Böhm-Bawerk se kritiek teen Karl Marx se arbeidsteorie van waarde verduidelik deur grootliks gebruik te maak van Dr. Richard Ebeling se 1988 lesing oor hierdie onderwerp. Die volle video lesing van Dr. Ebeling sal ook onderaan beskikbaar wees. 

Voor die 1880’s het voorstanders van Marxisme daarop aanspraak gemaak dat hierdie arbeidsteorie van waarde sentraal staan en selfs die “hart” van Marxisme is. Dit het dramaties verander na die Oostenrykse ekonoom Eugen von Böhm-Bawerk hierdie teorie deur eenvoudige rasionele deduksie uitmekaar geruk het. Daarna het Marxiste hul teorie van waarde of heeltemal geïgnoreer of slegs as ʼn bysaak aangeraak in hul verdediging van Marxisme. 

Marx het gesê dat die nut en dus aanwending van kommoditeite te uiteenlopend is om waarde vas te stel. Om waarde te verstaan moet daar volgens Marx ʼn algemene deler wees. In die uitruil van twee produkte moet daar ʼn algemene faktor van gelyke hoeveelheid wees. Hy stel dan vas dat hierdie algemene faktor die hoeveelheid arbeid is wat in elke kommoditeit ingegaan het. 

Hoe word die arbeid dan gemeet? Antwoord: In die hoeveelheid tyd wat dit in beslag neem om dit te produseer! Wat van geskoolde arbeid teenoor ongeskoolde arbeid? Volgens Marxiste is dit maklik oorkombaar deurdat geskoolde arbeid net ʼn veelvoud van ongeskoolde arbeid is. ʼn Dokter se arbeid is in effek tien keer ʼn sweiser se arbeid as voorbeeld. 

Volgens Marx is daar noodsaaklike arbeid en surplus arbeid. Noodsaaklike arbeid is die hoeveelheid arbeid wat nodig is om genoeg waarde te produseer om ʼn man en sy familie se lewensmiddele te onderhou, enige ekstra is dan surplus. Dit is hieruit dat hy sy idee put dat werkers deur kapitaliste uitgebuit word. Volgens Marx het arbeiders dan nie toegang tot produksie middele om genoeg waarde vir hul eie oorlewing te produseer nie. Omrede die kapitaliste die produksie middele beheer kan hulle die werkers forseer om meer ure te werk om meer te produseer as hul basiese oorlewingsmiddele en hulle dan slegs genoeg betaal om hulself te onderhou. Daardeur het die kapitalis dan die surplus arbeid toegeëien en trek hy onregmatig voordeel en lewe moeiteloos op ander se arbeid wat ʼn groot ongeregtigheid is. 

Marx sê daar is verskuilde ongerymdhede in die wins van industrieë. Die rede daarvoor is dat daar konstante kapitaal (masjinerie aangekoop vir produksie ens. is) sowel as veranderlike kapitaal (die surplus waarde uitgebuit vanaf die werkers). Hy sê die kapitalis betaal die volle prys vir die konstante kapitaal omdat hy dit aankoop teen die volle waarde vanaf ander kapitalistiese produseerders. Die ander kapitalis verkry die surplus waarde wat hy uit die werkers se arbeid geput het, maar dat daar geen verlies in die ruil transaksie tussen die kapitaliste is nie. Alhoewel twee industrieë dalk dieselfde surplus waarde mag geniet, as die een meer spandeer op sy konstante kapitaal dan is sy algemene wins minder as die ander kapitalis sin wat minder daarop spandeer. 

Hoe sou die mark dit kon verreken? Volgens Marx, verskuif kapitaliste wat hulle produseer as gevolg van kompetisie om ʼn algemene koers van wins te verseker deur die prys van produksie. Met die gevolg dat arbeid die basis van waarde is en kommoditeite moet verhandel in terme van hul arbeidsinsette, en die markte buit werkers uit omrede hulle parasities van die wins van surplus arbeid leef. 

Eugen von Böhm-Bawerk begin deur basies te kyk of hierdie teorie water hou teen feite en waar die teorie vandaan kom. Hy verduidelik dat twee dinge na gekyk moet word as jy mark-verskynsels wil analiseer, die eerste is metodologiese individualisme en die tweede, metodologiese subjektivisme. As jy wil verstaan hoe ʼn mark werk moet jy verstaan wat daardie mark opmaak en dit is die individu. Elke individu maak besluite en neem aksie. “Alle ekonomiese prosesse begin met ʼn mens en sy doelwitte”. Die individu besluit wat ʼn kommoditeit werd is deur te besluit hoe die spesifieke eienskappe van die kommoditeit sy doelwitte dien. Dit is vir hom totaal irrelevant hoeveel tyd en moeite in die skepping van daardie kommoditeit ingegaan het. Dit is asof Marx abstrak na mark prosesse kyk. 

Veronderstel jy wil ʼn skildery in jou sitkamer hang. Jy kom by die vlooimark op twee af waarvan jy hou, beide baie kunstig geskep. Een is ietwat abstrak maar simplisties en pas by jou meubels en het dalk twee ure geneem om te skep. Die ander een is ʼn pragtige gedetailleerde landskap wat dalk ʼn week in beslag geneem het om te skep. Volgens Marx se teorie moet die landskap portret baie meer werd wees as die abstrakte een, tog besluit jy die abstrakte een pas by jou smaak, en skaf dit dan aan. Maak dit enigsins aan jou saak hoeveel tyd en of arbeid die skepping daarvan in beslag geneem het? Gaan jy die ander stuk koop omdat dit meer arbeid behels? 

skoene vanuit arbeidBöhm-Bawerk wys ook met presiesheid uit wat Marx gedoen het met betrekking tot kommoditeitswaarde, hy konstrueer sy definisie daarvan opsetlik sodat arbeid die enigste moontlike gemene deler kan wees. Hy doen dit deur die dinge wat die natuur aan ons verskaf wat waarde het, te ignoreer en daardeur te verseker dat die resultaat waarna hy soek die enigste oorblywende een sal wees. 

Om net kortliks na een aspek hiervan te kyk: Veronderstel ʼn jongman besluit vars lug en die buitelewe is vir hom baie meer belangrik as ʼn duur meenthuis in ʼn besige stad. Vir hom het ʼn plattelandse bestaan meer waarde as die gejaagde stadslewe al gee hy sekere luukshede op, om hierdie bestaan te voer. Vir hom het ʼn simplistiese rondawel en natuurskoon meer waarde as die lawaaierige, besoedelde en besige stadslewe. Hy gaan nie die stad kies omrede meer arbeid in die konstruksie daarvan ingegaan het nie.

Dieselfde geld vir Marx se idee om geskoolde en ongeskoolde arbeid. Volgens Marx is spesialis of geskoolde arbeid net ʼn veelvoud van ongeskoolde arbeid omrede geskoolde arbeid meer verdien. Daarom is die waarde daarvan ʼn veelvoud van ongeskoolde arbeid. Hy maak die aanname van dít wat hy reeds besluit het om te bewys. In plaas daarvan om te verduidelik hoe mens so ʼn “veelvoud” berekening sou maak, wyk hy af na ʼn analise van hoe markte hierdie verskille genereer, maar hy sê dit slegs omrede hy dink om die grote van die verskille in arbeidsvergoeding uit te wys, sy analise korrek bewys. 

Net soos ons die waarde van kommoditeite evalueer gebaseer op die spesifieke nut wat dit vir ons persoonlike doelwitte inhou, so ook evalueer ons arbeid se waarde. As mense is ons nie geïnteresseerd in arbeid op ʼn abstrakte grondslag nie, maar in die spesifieke eienskappe, kenmerke en kundigheid wat die doelwitte dien wat ons daarin soek. 

Ten opsigte van die teenstrydighede in Marx se uiteensetting van waarde, surplus waarde en hoe dit gelykgestel moet word, maak Böhm-Bawerk die opmerking dat Marx lei aan “metodiese holisme”. Deur abstrakte konsepte wat hy in sy gedagtes verbeel te gebruik as ʼn teoretiese raamwerk vir hoe hy die werklike wêreld verstaan. 

Marx sê byvoorbeeld om die ekonomie te verbeel as ʼn enkele firma. Ons kan dan die hoeveelheid winste wat elke individuele maatskappy met mekaar maak (in elke industrie) uitkanselleer, en dan dieselfde doen vir elke industrie, en dan gelykop teruggee aan elke divisie van die ekonomie vanaf ʼn sentrale regering. Die probleem daarmee is dat die ekonomie nie ʼn abstrakte kollektivistiese eenheid is nie. Individuele besluite en aksies verander onophoudelik en stuur aanvraag in een of ander rigting en stuit dit weer op ʼn ander. Daar is geen verhouding met elke individuele firma wat op ʼn effektiewe manier gemanipuleer kan word nie. Wat nog te sê van deur ʼn staatsamptenaar voorspel, verstaan en gemanipuleer kan word. Dit is nie ʼn teorie van hoe die ekonomie werklik funksioneer nie. Dit is wel ʼn teorie van hoe Marx dink ʼn ekonomie kan funksioneer sonder om enige realistiese waarneming van die individue in daardie ekonomie in ag te neem. 

Die een ding wat Marx en ander Sosialiste nooit in ag neem nie, is wat Ludwig von Mises genoem het “Praxeologie” – Die studie van menslike gedrag. Dit is presies die gedrag wat die dryfveer van ekonomie is. Geen staatsamptenaar kan dit voorspel of die kompleksiteit daarvan beplan nie en in die meeste gevalle selfs verstaan nie. Elke individu maak sy eie individuele besluite op grond van wat hy nodig het, wil hê, en waaraan hy waarde heg, dit is wat inligtingseine (deur ons aankope) aan die mark stuur oor waarvoor daar aanvraag is. Dit stuur die mark om hulpbronne op die mees effektiefste basis moontlik te allokeer en aan te wend, sodat wanneer daardie vraag verander die hulpbron allokasie op die vinnigste moontlike manier aanpas om dit te gemoed te gaan, anders gaan die maatskappy in daardie mark oortollige vermorsing hê, m.a.w. verliese.

Laastens is dit volgens Marx onregverdig dat produseerders, werkers huur en hulle een koers betaal en dan omdraai om hul produkte vir meer te verkoop. Die waarde van die produk is inderdaad meer as wat hy die werker betaal om dit te produseer, so hy buit die werker uit deur sy surplus waarde te steel. 

Böhm-Bawerk verduidelik dat Marx verkeerd gegaan het deur ʼn baie belangrike aspek van alle menslike aksies buite rekening te laat, en dit is die element van tyd en ons evaluasie daarvan. Die produseerder betaal die werker in effek nou (in goedere) in ruil vir goedere wat die produseerder dink hy eers in die toekoms gaan kry. Die werker verruil wat hy in die toekoms kan kry as hy vir homself produseer vir betaling in goedere in die huidige tyd. Dit werk ietwat soos ʼn lening deurdat die produsent die werker nou betaal en dít plus rente in die toekoms terug ontvang as hy die goedere verkoop. Vir die arbeider is goedere nou subjektief meer belangrik as goedere in die toekoms. 

Vir die meeste van ons is die voordeel om ʼn kar nou te kry, (al betaal jy die kapitale gedeelte plus ʼn groot som rente in die toekoms), van meer waarde as die tyd om te spaar om daardie voertuig kontant te koop. Tyd het ʼn baie belangrike waarde. As jy enige item op skuld koop of duurder betaal om ʼn diens onmiddellik te verkry, plaas jy in effek ʼn waarde op tyd. 

As gevolg van hierdie eenvoudige realiteit kan daar nie aanspraak gemaak word dat die verdiskonteerde prys wat ʼn arbeider in die huidige tyd aanvaar vir produksie wat eers in die toekoms gaan vrugte afwerk onregverdig is nie, tensy jy die waarde van tyd ignoreer. Om die verhouding daarbenewens as “onregverdig” te beskryf sal jy die moeite, risiko en innovasie van entrepeneurskap moet ignoreer.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie, Marxisme and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.