Waarde en Ruilwaarde

Ruilwaarde

Thomas C. Taylor

In ʼn moderne ekonomie is die doel van produksie om goedere en dienste te skep wat deur ander mense gebruik word buiten die produsent self. Dit is in beginsel die wese van spesialisasie en die verdeling van arbeid. In ʼn ontwikkelde samelewing oorskadu produksie vir die doel van uitruiling die produksie vir die doel van onmiddellike verbruik. As gevolg hiervan het eenhede van goedere en dienste ʼn ruilwaarde addisioneel tot die nutswaarde wat dit vir die produsent mag inhou. Met die oorweldigende klem op produksie vir ruil doeleindes, is die ruilwaarde van geproduseerde goedere die waarde wat van ware belang en relevansie is vir die meeste produsente, terwyl gebruikswaarde van goedere die betekenisvolle waardasie vir verbruikers is.

Dit mag voorkom of die konsep van ruilwaarde ʼn afwyking van die subjektiewe teorie van waarde is, maar dit is nie die geval nie. ʼn Eenheid van ʼn produk of diens verkry sy ruilwaarde vanuit die subjektiewe waarde wat geïdentifiseer word met die produk, item of bedrag wat opgegee word om dit in die ruiltransaksie te verkry. Ongeag of die produk direk verruil word vir ʼn ander produk en of dit indirek verruil word vir ʼn sekere hoeveelheid geld. Mense wil goedere, insluitende geld, verkry, omrede hulle ʼn subjektiewe waarde koppel aan die verkryging daarvan. Die waarde van ʼn produk as uitruilmiddel is gebaseer op die grootste bevrediging wat die eienaar verwag om daaruit te kry deur een item vir ʼn ander op te offer. Die subjektiewe waarde van die mees gesogte goed wat verkry kan word in die ruil is die basis van die waarde toeskryfbaar aan die goed wat na die ruil besit sal word. Anders gestel, die geleentheidskoste van dit wat opgegee word vorm die bewysbare basis van die waardasie.

Gevolglik neem enige besondere produk of diens beide ʼn gebruikswaarde en ʼn ruilwaarde aan. Elk van die waardes reflekteer die bevrediging wat verwag word om uit die aanwending daarvan verkry te word. Die produk kan direk aangewend word of as ʼn ruilmiddel gebruik word om ʼn ander produk te bekom. Die beherende waardasie in die besluit om aksie te neem is altyd die hoogste van die twee alternatiewe bevredigings. As die produk se gebruikswaarde in direkte gebruik hoër is as die ruilwaarde sal die produk eerder aangewend word of gehou word vir aanwending op ʼn latere tydstip, die ruilwaarde word dan as ʼn geleentheidskoste opgegee. As die verwagting is dat die ruilwaarde egter hoër is as die nutswaarde sal die produk verruil word of gehou word vir ʼn moontlike ruil transaksie in die toekoms.

Dit moet verstaan word dat ruilwaarde hier verwys na die subjektiewe waardasie wat die eienaar op die goedere plaas as ʼn handelsmiddel. Die uitdrukking “ruilwaarde” word algemeen gebruik in die sin van ʼn geld prys wat verkry word deur die handelstransaksie. In die konteks van subjektiewe waarde word hierdie objektiewe geld waarde egter subjektief waardeer, op dieselfde manier as enige ander nie-geld produk wat deur handel verkry sou word.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.