Die Gebruike van Geld

gebruike van geld

Thomas C. Taylor

In die meeste moderne ekonomieë, is geld hoofsaaklik fiat geld en die gebruikswaarde daarvan, in die sin dat dit vir ander doeleindes gebruik kan word, is feitlik nul. Waar kosbare metale egter as geld gebruik word, kan geld ʼn aansienlike hoeveelheid gebruike hê. Goud en silwer kan byvoorbeeld gesmelt word vir juweliersware, versiering, industriële gebruike en tandheelkunde. Voorvalle waar geld na bruikbare produkte toe omgeskakel word is seldsaam in moderne ekonomieë; geld word byna altyd gewaardeer vir die uitruilbaarheid daarvan. Geld se groot voordeel is dat dit die probleem van dubbeletoeval van behoeftes, wat in ruilhandel moet bestaan vir die partye om te kan handel dryf, oorbrug.

Daar is drie maniere waarop ʼn spesifieke hoeveelheid geld onmiddellik in gebruik geneem kan word. Die eerste is dat dit gebruik kan word om goedere of dienste vir verbruikdoeleindes te bekom. Tweedens kan dit bestee word in die aanskaffing van ander goedere of dienste om dit weer in die produktiewe proses aan te wend. Selfs groot- en kleinhandelaars wat geen fisiese verandering aan goedere self bewerkstellig nie, beïnvloed goedere deur dit op ʼn meer toeganklike en gerieflike plek te plaas en dus word waarde toegevoeg. Hulle is dus betrokke by die produktiewe proses omrede geld bestee word om voorraad aan te skaf vir produksie eerder as verbruik.

Die derde gebruik is om geld tot mens se kontantbalans te voeg vir toekomstige ruiltransaksies. Die feit dat ʼn persoon ʼn sekere bedrag geld op ʼn gegewe oomblik het dui daarop dat hy die geld hoër waardeer as die goedere wat hy in ruil daarvoor kon kry. Die feit dat ‘n bedrag geld op ʼn gegewe oomblik gehou word verander nie die feit dat geld waardeer word vir die uitruilbaarheid daarvan nie. Dit dui slegs aan dat die individu toekomstige ruiltransaksies hoër ag as onmiddellike transaksies. Die bevrediging wat uit ʼn verhoogde kontantreserwe voortspruit word dikwels gemanifesteer in ʼn gevoel van verhoogde sekuriteit. Hierdie waardasie spruit uit die oortuiging dat hy in die toekoms beter in staat sal wees om sy behoeftes te bevredig deur die besteding van sy opgehoopte kontantbalans. Dat ʼn geldbate ʼn diens lewer of bevrediging gee en dus nie steriel en onproduktief is nie –  word al aanvaar in die studie van ekonomie sedert die dae van Aristoteles – soos verduidelik deur prof W.H Hutt. [1]

Die beginsel van dalende marginale nut is net so van toepassing op geld as op enige ander kommoditeit. Eenhede van geld word so gebruik dat die mees dringendste doelwitte eerste aangespreek word. As gevolg van die maklike deelbaarheid van geld, word sodanige toekennings gemaak in meer inkrementele stappe as wat dit in die geval van enige ander kommoditeit gemaak kan word. Die marginale nut van geld is dus gelyk aan die laagste gebruik wat aan ʼn gegewe eenheid toegeskryf kan word. Net soos in die voorbeeld van die boer se vyf sakke graan, is die bevrediging wat verkry word uit ʼn eenheid van geld gelyk aan die bevrediging wat opgeoffer sou word as ʼn eenheid verlore sou gaan. Die uitwerking van die verlies sal altyd verbind word met die mees onbelangrikste gebruik wat daarmee verbind kan word. ʼn Persoon sal dus sy geld allokeer tussen verbruik, produksie, en ʼn verhoging in sy kontantbalans in terme van sy waardeskaal van voorkeure.

[1] Sy opstel “The Yield from Money Held,” in On Freedom and Enterprise, ed. Mary Sennholz (Princeton: Van Nostrant Co.,inc.1956) pp. 196-216

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.