Nut en Ruilwaarde in die Mark-ekonomie

ruilwaarde in markekonomie

Thomas C. Taylor

Onder ʼn stelsel van sosiale samewerking is ʼn belangrike eienskap van die gebruik van kommoditeite, insluitende geld, dat die individu in die produktiewe proses nie net besorg is met sy eie bevrediging of voorkeure nie. Die rede is dat hy betrokke is by die skepping van goedere en dienste wat gebruik sal word deur ander mense, daarom hang die uitruilwaarde van die kommoditeite af van die relatiewe voorkeure van ander mense na die voltooiing van die produksieproses. Die hoeveelheid geld wat die produsent verwag vir sy produktiewe pogings sal uiteindelik afhang van sy persepsie van die waardes van ander persone.

In ʼn wêreld van sekerheid sou daar geen probleme gewees het by die waardasie van die aangewende goedere en dienste nie. In die werklike wêreld is sekerheid seldsaam, in enkele gevalle van gewaarborgde of gekontrakteerde verkope is die geldelike uitkoms van sekere aangewende hulpbronne relatief seker. Tog, selfs in daardie gevalle is die hulpbronbelegging gewoonlik van so ʼn omvang dat meer geproduseer word as wat nodig sou wees om die kontraktuele verpligtinge na te kom, wat aandui dat die produsent staat maak op die verwesenliking van die verkope. Die hele taak van produksie vir die behoeftes en voorkeure van ander mense, in die aangesig van ʼn onsekere toekoms, is die hart en siel van entrepreneurskap.

In die markekonomie, wat gekenmerk word deur die produksie van goedere en dienste vir die daaropvolgende ruil deur ʼn gemeenskaplike medium van geld, kan dit waargeneem word dat beide gebruikwaarde en ruilwaarde ʼn belangrike deel is van die ekonomiese proses. Vir die eindverbruikers van goedere en dienste is die bevrediging wat voortspruit uit die verbruik die bron van waarde, terwyl produsente die uitruilwaarde hoër sal ag. Die belangrike punt om in gedagte te hou in die onderskeid tussen hierdie twee waardes is dat die ruilwaarde van enige gegewe produk geneig is om verband te hou met die gebruikswaarde wat die verbruikers aan die eindproduk heg. Die hoeveelheid geld wat verbruikers sal allokeer hou sterk verband met hul subjektiewe voorkeure. Dit is hierdie verwagte geld invloei wat die basis vorm van die ruilwaarde van goedere en dienste wat toegewy word aan produksie.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , . Bookmark the permalink.