Die blywende aard van Subjektiewe waardasie

subjektiewe waardasie

Thomas C. Taylor

Subjektiewe waardasie is onderliggend tot alle ekonomiese aktiwiteite. Geld is nie ʼn maatstaf van waarde nie, inteendeel geld word ʼn subjektiewe waarde toegereken as ʼn middel om ander produkte te besit. Enige subjektiewe waardasie is onmeetbaar en manifesteer slegs in spesifieke keuses en aksies. Enige spesifieke keuse is ʼn aanduiding van die besluitnemer se voorkeur bo alle ander alternatiewe keuses wat hy oorweeg het gedurende die tyd van besluitneming. Die feit dat hierdie voorkeur uit sy aksie uit sigbaar word beteken nie dat enigiets meer as ʼn voorkeur geïmpliseer word nie. Rothbard stel dit as volg, “Ons lei die bestaan van ʼn spesifieke waarde skaal hiervan af op die grondslag van ʼn ware aksie; ons het geen kennis van die waarde skaal wat nie in ʼn werklike aksie sigbaar raak nie.”[1]

Daar is geen manier om die bevrediging wat die besluitnemer met sy keuse vereenselwig, kwantitatief te meet nie. Elke keuse vereis die verwerping van die verwagte bevrediging van ander moontlike keuses, die hoogste geplaasde alternatief wat verbeur word is die koste van enige gegewe besluit. Voordele en kostes is uiteindelik subjektief. Elke besluit berus op die aanname dat die voordele groter sal wees as die voordele van die volgende beste plan van aksie; dit is die agtergrond van elke ruil. Daar is nie so iets soos ʼn gelyke ruil nie. Op die moment van uitruiling beskou beide die koper en verkoper hulself as beter af, as ʼn gevolg van die transaksie. In ʼn stelsel van uitgebreide spesialisasie en verdeling van arbeid, word die meeste goedere geproduseer vir ruil doeleindes. Gespesialiseerde produsente het min, indien enige, direkte gebruik vir die goedere wat hulle produseer, onder die beginsel van dalende grensnut is die marginale nut van ʼn produksie-eenheid feitlik nul so ver as wat produsente betref. Hulle plaas ʼn hoër waardasie op die geld wat hulle kan kry vir hul goedere. Aan die ander kant plaas verbruikers of kopers die waarde van die goedere wat hulle verkry hoër as die geld bestee om dit aan te skaf. Ruil kan alleen geskied wanneer daar verskille tussen die subjektiewe waardasies van die partye in die ruiltransaksie is.

Die onvermoë om hierdie subjektiewe oriëntasie te oorweeg het ongelukkig gelei tot die idee van “die ekonomiese man,” waar elke deelnemer in die mark ekonomie uitgebeeld word as meedoënloos daarop uit om net sy eie monetêre posisie te maksimeer. Hierdie idee is onrealisties, want wat mense eintlik soek in elke aksie is ʼn maksimum psigiese of subjektiewe wins.

Daar is talle voorbeelde van mense wat bykomende monetêre welvaart as geleentheid opgee omrede hulle meen die “koste” regverdig nie die moeite nie. Daar is beleggers wat finansieel lonende beleggings van die hand wys ​​in nywerhede waarvan hulle die produkte aanstootlik of minderwaardig vind. Bemarkers merk ook op dat verbruikers soms faktore oorweeg buiten die produk en die verwante prys. Die beskikbaarheid van parkering en die vriendelikheid van winkel assistente geniet ook aandag in besprekings oor die aanbiedding van handelsware. Ryk entrepreneurs wat voortgaan om betrokke te bly in produktiewe rolle by firmas, selfs op gevorderde ouderdom, word ongetwyfeld gemotiveer in baie gevalle deur iets buiten geld. Mense oorweeg dikwels faktore bykomend tot hul salarispakket in die besluit op ʼn loopbaan of spesifieke werk.

Die punt van hierdie voorbeelde is om te wys dat mense nie die “ekonomiese man” in die klassieke sin is nie en dat geld nie die uiteindelike basis van waardasie is nie. Selfs by die hantering van geldsake bereken mense nie geld monetêr in uiterste detail elke stap van besluitneming nie. Hulle probeer subjektief maksimeer, en nie in geld waarde nie, want monetêre berekeninge moet opgeoffer word wanneer die vereistes van tyd en energie in ag geneem word. Böhm-Bawerk hanteer hierdie punt as volg:

As iemand daarop sou aandring om elke besluit en aksie, elke ekonomiese daad op ʼn maksimum noulettendheid van ekonomisering te baseer en hy onderneem om elke dag ʼn waarde-oordeel tot in die fynste besonderhede oor die mees onbenulligste goed te fel deur middel van ontvangste of uitgawes, sowel as deur benutting of verbruik, sou so ‘n persoon te besig wees met berekenings en beraadslaging om sy lewe sy eie te noem. Die korrekte grondbeginsel en die een wat in die ekonomiese lewe waargeneem kan word is: “moenie meer akkuraat wees as wat lonend is nie.” In baie belangrike sake wees presies, in matig belangrike sake wees matig presies; en in die magdom tierlantyntjies van die alledaagse ekonomiese lewe, maak die rowwe waardasies wat nodig is.[2]

Die stelling kan wel gemaak word dat mense daarna streef om hul geldelike posisie te maksimeer in hul keuses tussen alternatiewe aksies. ʼn Persoon sal die alternatief kies wat die grootste moontlikheid inhou om sy monetêre posisie te verbeter solank as wat hy afsydig staan ​​teenoor die niemonetêre faktore met betrekking tot die alternatiewe. In ʼn geld-ekonomie, is dit deur die algemene ruilmiddel dat mense in staat is om die meeste van die goedere wat hulle bevrediging gee te verkry. Deur die maksimering van hul monetêre posisie, is hulle in staat om meer goedere en dienste van die mark aan te skaf as wat hulle sou kon met minder geld. Dit moet nie verkeerd verstaan ​​word as om te beteken dat alle individue uiteindelik slegs die maksimum monetêre welvaart najaag nie. Die vurige pleidooie van liefdadigheidsorganisasies by fondsinsamelings, wie se verklaarde doelwitte is om minder gegoedes, kreupeles en blindes te help, is sekerlik nie simptome van geldgierigheid nie. Geld is slegs die middel waardeur veelvuldige gewenste doelwitte bereik kan word.

ʼn Persoon sal slegs ʼn laer as die maksimum monetêre posisie aanvaar in ʼn keuse tussen twee opsies solank as wat die bevrediging wat hy verwag om uit die niemonetêre faktore te verkry meer as vergoed vir die bevrediging wat verband hou met die geld. Of anders gestel die geleentheidskoste wat dan opgegee word in die keuse. Die rol van niemonetêre faktore sal waarskynlik groter wees met besluite rakende loopbaankeuses as met betrekking tot daardie besluite wat betrekking het op investering en verbruiksuitgawes. Beleggers poog in die algemeen om hul finansiële opbrengs op hul belegging te maksimeer; verbruikers in die algemeen wil goedere bekom teen die laagste moontlike pryse.

Dus, ten spyte van die subjektiwiteit van voordele en kostes, is die terme geld inkomste en geld koste sinvolle verwysings na die monetêre-in en uitvloei wat ontstaan ​​in verband met produktiewe aktiwiteite. Ongeag die niemonetêre faktore wat belangrik is vir ‘n gegewe produsent of verbruiker, is sy monetêre posisie of uitkoms ook vir hom belangrik in sover as wat hy wil voortgaan om sekere goedere en dienste te koop. Dit beteken dat hy meer as bloot oppervlakkige aandag sal moet skenk aan geld kostes en geld inkomstes.

Dit moet egter weer beklemtoon word dat hierdie geld berekeninge nie in enige manier metings van waarde in die subjektiewe sin is nie. Rothbard het die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon om die term “waarde” met omsigtigheid te gebruik: “Dit is belangrik om te onderskei tussen die “subjektiewe” gebruik van die term in die sin van ʼn waardasie of voorkeur, en die” objektiewe “gebruik in die sin van koopkrag of prys op die mark. “[3] 

[1] Murray N. Rothbard, Man, Economy, and State (Princeton: Van Nostrand Co,.Inc.), 1, 224

[2] Böhm-Bawerk, Capital and Interest, p.202.

[3] Rothbard, Man, Economy, and State, p.271. Mises has chosen to make the distinction by using the term valuation with the subjective meaning and the term appraisement in the “objective,” monetary sense.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.