Wat is Inflasie?

Inflasie

Deur Jaco Kleynhans

Wat is inflasie? Die praktyk van inflasie is so oud soos die berge. Tog sukkel Suid-Afrikaners steeds om die kloutjie by die oor kry wanneer dit by die warm onderwerp van inflasie kom.

Inflasie is nie stygende pryse nie

Arms word wild rond geswaai en vingers word gewys na alles en almal toe behalwe die ware sondebokke, naamlik:

  • Die Regering,
  • Die Suid Afrikaanse Reserwe Bank en
  • Die Banke.

Definisies van inflasie bokspring van die een woordeboek na die ander woordeboek en van die een ekonoom na die ander ekonoom. Geen wonder mense pluk verward nie. Die oorsaak van die inflasie konsternasie is egter eenvoudig.

Die karretjie word voor die perd gespan deur voor te hou dat ʼn algemene styging in die prys van goedere inflasie is. Vra jy jouself ooit die vraag, “Wat het dit veroorsaak?” Iets moet tog veroorsaak dat pryse in die algemeen styg. Nou kom ons gaan kyk na die karretjie.

Die Verbruikers Prys Indeks (VPI) word gebruik om prysbewegings in die mark vas te stel. Die VPI meet slegs die prysbeweging van ʼn mandjie van verbruikers goedere soos saamgestel deur Statistiek SA. Dit is dus net ʼn indeks, maar is nie inflasie self nie.

Die VPI is egter problematies a.g.v. die volgende redes:

  • Geadministreerde pryse, bv. Elektrisiteit, tolgelde ens.
  • Prys skokke soos bv. skerp olieprys stygings a.g.v. tekorte.
  • Buitensporige loon verhogings.
  • ʼn Verswakkende of versterkende geldeenheid.
  • Skommeling in die VPI goedere mandjie vir politiese doeleindes.

Die bogenoemde redes is NIE inflasie nie. Hoekom sê ek so?

Dink aan die eenvoudige som van 2 + 2 = 4. Maak nie saak hoe jy die syfers skommel nie, die antwoord sal altyd in balans bly.

Jy het twee appels en Koos het twee appels. Piet kom en druk ʼn rollie teen jou kop. Hy vat een van jou appels en gee dit vir Koos. Nou het jy net een appel en Koos drie. Saam het julle nog steeds net vier appels. Kry jy die prentjie?

Elektrisiteit verhogings, prys skokke, loon verhogings ens. skyf slegs geld van die een ou na die ander ou. Die hoeveelheid geld in omloop het nie vermeerder nie. Hoe gaan dit dus veroorsaak dat pryse styg? Al wat gaan gebeur is dat jy minder geld gaan hê om te spandeer en Koos meer. 

Wat de duiwel is inflasie dan?

Inflasie, orals en altyd, is hoofsaaklik en opsetlik die vermeerdering in ʼn land se voorraad van geld en krediet.

Die eenvoudige waarheid is dat ons land se huidige en vorige politieke leiers inflasie veroorsaak het, en nog steeds doen, a.g.v. hulle monetêre en fiskale beleid. Suid Afrika is nog steeds besig om die swaar prys te betaal vir die krediet partytjie van die laaste dekades. Die slim menere noem dit ʼn resessie.

Die erge algemene prys verhogings wat ons waargeneem het, was die simptome van inflasie, en nie inflasie self nie. Dink bv. aan huise en ander verbruikers goedere se pryse wat die hemel ingeskiet het

Hoe word inflasie bewerkstellig?

Inflasie gebeur op twee gebiede. Die een is die regering wat meer spandeer as wat hy invorder deur belasting. Hy oorskry sy begroting deur skuld aan te gaan deur skuldbriewe te verkoop.

Suid Afrika se staatskuld het bv. in die 2011/2012 finansiële jaar vir die eerste keer die R1 Triljoen kerf oorskry. Die rente op die skuld sal teen 2014 +/- R66 Biljoen per jaar beloop.

Die ander manier is deur die banke. Banke werk “wettiglik” op ʼn 10% reserwe wat hulle in staat stel om bv. R900 uit te leen vir elke R100 in aanvraag deposito. Aanvraag depositos is geld wat daagliks gedeponeer en ontrek kan word. (Tyd depositos is jou langtermyn depositos)

Dink mooi oor daai ene. Die geld wat wys in jou rekening bestaan nie regtig nie. Elektronies wel ja, maar nie fisies nie. Dit is hoekom banke vou as mense snuf in die neus kry van die wettige bedrogspul en hardloop om hulle geld te ontrek.

Dink aan ʼn onderstebo piramiede. Die Engelse noem dit Fractional Reserve Banking (FRB).

Hieronder is ʼn voorbeeld van hoe FRB in die praktyk werk. Die voorbeeld gebruik 20% as ʼn reserwe. Dit beteken dat banke krediet sal kan skep vier keer die oorspronklike deposito. Dit is geld wat geskep word uit die nuut uit….”Like Magic!”

Dit is dus ironies dat mense die oorsprong van inflasie in Zimbabwe kan verstaan, maar nie in Suid Afrika nie.

So, wat gebeur onder inflasie. Wanneer die geld voorraad vermeerder word, het mense meer geld om te offer teen goedere. As die produksie van goedere nie vermeerder saam met die geld voorraad wat vermeerder nie, dan begin die pryse van goedere styg. M.a.w. die huidige geld voorraad word verwater omrede daar nou meer geld in omloop is.

Dus sal daar dan meer geld opgeoffer word teenoor ʼn brood of ʼn koerant as voorheen. Let wel, hoër ingevoerde pryse is a.g.v. ʼn kombinasie van Amerikaanse (Quantitive Easing of Kwantitatiewe Verslapping) en SA inflasie. Kommoditeite word in Dollar geprys en dan weer terug geprys in Rand.

Dink aan inflasie as ʼn half-vol glas lemoensap. Wat gaan gebeur as jy die glas vul met water? As jy gaan aanhou om nog water by te voeg, dan gaan die lemoensap naderhand so verdun wees, dat jy nie eers gaan kan sien dit lemoensap was nie.

Dit is dieselfde met geld. As jy genoeg “druk”, of fisies of deur die krediet markte, dan gaan dit aanhou waarde (of koopkrag) verloor. Indien geld aan bome gegroei het, dan sou dit so waardevol gewees het soos herfsblare. Zimbabwe kan getuig van die feit!

Die prys van ʼn produk is die wisselkoers verhouding tussen geld en die produk. Sodra mense meer Rande het om te spandeer, waardeer hulle elke Rand minder. Produkte se pryse begin dan te styg, nie omdat daar ʼn tekort aan produkte is nie, maar ʼn ooraanbod van geld.

Die selfde reël geld anders om en is bekend as deflasie. Sodra mense minder geld het om te spandeer, dan is daar ʼn onderaanbod van geld. Geld se waarde begin dan te styg en die pryse van goedere begin te daal. Let wel dat prysveranderinge nie oornag gebeur nie. Net soos ʼn ooraanbod van geld tyd vat om deur die ekonomie te spoel, so vat dit tyd vir die oortollige geld om op te droog.

Stygende pryse kan veroorsaak word deur die vermeerdering van die geld voorraad, of deur ʼn tekort aan goedere, of gedeeltelik deur beide. Koring se prys kan bv. styg a.g.v. die voorgenoemde redes. Daar word egter selde gevind, selfs in tye van oorlog, dat pryse in die algemeen styg a.g.v. ʼn algemene tekort aan goedere.

Die klug dat pryse styg slegs a.g.v. ʼn “tekort aan goedere” is ontsettend hardnekkig. As mens bv. kyk na Duitsland in die 1920′s, nadat pryse biljoene kere gestyg het, het regerings amptenare en miljoene van die bevolking steeds die blaam geplaas op ʼn tekort aan goedere, en dit terwyl buitelanders Duitsland binnegestroom en goedere gekoop het met goud, of hul eie geldeenheid, teen pryse laer as die ekwivalente produk in hul eie land. Tekorte onder sulke omstandighede word veroorsaak deur die regering wat probeer pryse vasstel.

Inflasie, om dus op te som, is die vermeerdering van ʼn land se geld voorraad en bank krediet in verhouding met sy beskikbare goedere. Die praktyk is skadelik want:

  • dit verminder die waarde van jou geld,
  • dit verhoog jou lewens koste,
  • dit belas in effek die armste mense (sonder uitsluitsel) teen so hoë ʼn koers soos belasting op die rykstes,
  • dit wis jou spaargeld uit,
  • dit ontmoedig besparing,
  • dit herverdeel rykdom en inkomste moedswillig,
  • dit beloon en moedig spekulasie en dobbelary aan ten koste van spaarsamigheid en produktiwiteit,
  • dit ondermyn vertroue in die vryemark stelsel,
  • dit veroorsaak die verval van ʼn land se morele waardes,
  • en dit moedig wanbeleggings aan deur ondernemers.

Die oplossing vir die inflasie probleem, soos meeste oplossings, behels die verwydering van die oorsaak. Die oorsaak van inflasie is die vermeerdering van geld en krediet. Die oplossing vir inflasie is dus vir die Reserwe Bank (en Banke) om op te hou om die geld voorraad en krediet “op te pomp” soos ʼn ballon.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.