Waarheid omtrent die Atoombomaanval op Hirosjima

Atoombom

Deur John V. Denson

Vir dekades al is die Amerikaanse media en selfs politici lief daarvoor om gedurende die eerste twee weke van Augustus koerant opskrifte te haal met die “patriotiese” politieke mite dat die twee atoombomme wat in Augustus 1945 op Japan neergereën het, die lewens van tussen 500,000 en 1,000,000 Amerikaanse soldate gered het. Die rede? Omdat dit daarom nie vir hulle nodig was om die eilande te verower nie. Meningsopnames oor die afgelope vyftig jaar toon dat Amerikaanse burgers oorweldigend (tussen 80 en 90%) hierdie vervalste geskiedenis glo, wat hulle natuurlik beter laat voel oor die moord op honderde duisende Japannese burgers, meestal vroue en kinders.

In my opinie is die beste boek om hierdie mite te ontbloot, The Decision to Use the Bomb deur Gar Alperovitz, omdat dit nie net die werklike redes vir gebruik van die bomme verduidelik nie, maar ook die gedetailleerde geskiedenis weergee van hoe en waarom die mite geskep is, naamlik dat dit hierdie slagting van onskuldige burgerlikes regverdiging gee, en dus moreel aanvaarbaar maak. Die grootste probleem begin met Franklin Roosevelt se beleid van onvoorwaardelike oorgawe, wat redelik onwillig deur Churchill en Stalin aanvaar was, en wat later ook deur Truman aanvaar was nadat hy in April 1945 by Roosevelt oorgeneem het. Hanson Baldwin was die hoof korrespondent vir The New York Times wat die Tweede Wêreldoorlog gedek het en hy het ʼn belangrike boek onmiddellik na die oorlog geskryf getiteld, Great Mistakes of the War. Baldwin het tot die slotsom gekom dat die onvoorwaardelike oorgawe beleid miskien die grootste politieke fout van die oorlog was …. Onvoorwaardelike oorgawe was ʼn ope uitnodiging tot onvoorwaardelike weerstand, dit het waarskynlik die oorlog verleng en lewensverliese veroorsaak, en gehelp om tot die huidige opgeskorte vredesverdrag te lei.

Die harde werklikheid was dat die Japannese leiers, beide militêr en burgerlik, insluitend die Keiser, bereid was om in Meimaand van 1945 oor te gee as die keiser sy posisie kon behou en kwytgeskeld word van enige aanklag van oorlogsmisdade na die oorlog. Hierdie feit was al so vroeg as Mei van 1945 aan Truman bekend. Die Japannese monargie was een van die oudstes in die hele geskiedenis en dateer terug na 660 vC. Deel van die godsdiensoortuiging van Japannese was onder andere dat al die Keiserlike heersers direkte afstammelinge van die songodin, Amaterasu was. Die heersende Keiser Hirohito was 124ste in ʼn direkte lyn van afkoms.

Die bomme was op Japan laat val op 6 en 9 Augustus 1945 en hulle het kort daarna oorgegee. Die Japannese was toegelaat om hul keiser op die troon te behou, en hy was nie onderworpe aan ʼn verhoor vir enige oorlogsmisdade nie. Keiser Hirohito het sy posisie vanaf 1926 toe hy die troon bestyg het behou tot en met sy dood in 1989. Aangesien president Truman in effek die voorwaardelike oorgawe wat in Mei 1945 deur Japan aangebied was aanvaar het, moet die vraag gestel word: “Waarom is die bomme dan laat val?”

Die skrywer Alperovitz gee vir ons die gedetailleerde antwoord op die vraag wat net hier opgesom kan word:

Alperovitz skryf: “Ons het in Switserland kennis geneem van ʼn reeks voelers wat die Japannese uitsteek om die moontlikheid van vrede en die hoof van die Amerikaanse intelligensiediens(OSS), William Donovan het dit in Mei en weer in Junie van 1945 aan Truman gerapporteer.”

Op hierdie spesifieke tydstip was die Amerikaanse aandrang op onvoorwaardelike oorgawe moontlik steeds die enigste ernstige struikelblok vir ʼn vredesverdrag. Sentraal tot die verhaal is Allen Dulles (latere hoof van die CIA) wat toe hoof van die intelligensiediens bedrywighede in Switserland was. In sy 1966 boek The Secret Surrender, skyf Dulles:

“In opdrag van Washington het ek op 20 Julie 1945 na die Potsdam-konferensie gegaan en daar aan die Sekretaris van Oorlog, Stimson, gerapporteer wat ek vanuit Tokio te hore gekom het – hulle wou oorgee as hulle die keiser en hulle grondwet as ʼn basis vir die handhawing van dissipline en orde in Japan kon behou, indien die verwoestende nuus van oorgawe bekend sou word het aan die Japannese volk”.

Dit is deur Alperovitz gedokumenteer dat Stimson dit direk aan Truman rapporteer het. Alperovitz lig verder die dokumentêre bewys in detail uit, wat staaf dat elke top presidensiële adviseur, burgerlik en militêr, met die uitsondering van James Byrnes, saam met die top Britse militêre leierskap, insluitende Churchill homself, daarop aangedring het dat Truman die onvoorwaardelike oorgawe beleid hersien deur die Japannese toe te laat om hul keiser te behou. Al hierdie advies was aan Truman weergegee voor die Potsdam Proklamasie wat plaasgevind het op 26 Julie 1945. Dit was hierdie proklamasie wat weereens Japan se onvoorwaardelike oorgawe geëis het met die dreigement van dramatiese nagevolge.

Nog ʼn verrassende feit oor die militêre verbinding met die atoombom aanval is dat kennis oor die bestaan en beplande gebruik daarvan nooit met generaal MacArthur, wat die leidende militêre rol vir Amerika in die Stille Oseaan vertolk het, gedeel is nie. Alperovitz skryf:

MacArthur het tot op die laaste nippertjie niks van die gevorderde planne om atoombomme te gebruik geweet nie. Hy was ook nie persoonlik in beheer nie, bevele het direk vanaf Washington gekom. Die oorlogsdepartement het tot vyf dae voor die bomaanval op Hirosjima gewag om hom in kennis te stel oor die bestaan van atoombomme.

Alperovitz maak dit baie duidelik dat die belangrikste persoon waarna Truman geluister het terwyl hy al die burgerlike en militêre raad geïgnoreer het, James Byrnes was, dieselde man wat Truman aan die begin van sy presidentskap feitlik beheer het. Byrnes was een van die mees ervare politieke figure in Washington, hy het vir meer as dertig jaar diens in beide die Huis en die Senaat gehad. Hy het ook gedien as ʼn regter in die Hooggeregshof, en op die versoek van Roosevelt bedank hy uit daardie pos en het hy die bestuur van die plaaslike ekonomie(Office of Economic Stabilization) in die Roosevelt-administrasie aanvaar. Byrnes het Roosevelt vergesel na die Jalta konferensie en was daarna die verantwoordelikheid opgelê om die Amerikaanse Kongres en bevolking van die ooreenkomste wat by Jalta onderteken is, te oortuig.

Toe Truman in 1935 ʼn senator geword het, het Byrnes onmiddellik sy mentor en vriend geword. Byrnes het verwag om as vise-presidentskandidaat genomineer te word en was teleurgesteld toe Truman aangestel was om Wallace te vervang, maar hy en Truman het ten spyte daarvan vriende gebly. Truman het na sy aanstelling as president onmiddellik ʼn beroep op Byrnes gedoen om sy nommer twee man in die nuwe administrasie te word. Byrnes was ook baie naby aan Roosevelt, terwyl Truman die meeste van die tyd in die donker gehou was deur Roosevelt. Dit was ook Byrnes wat Truman ingelig het oor die atoombom toe hy president geword het, selfs as vise-president het Truman geen kennis daarvan gedra nie. Truman het Byrnes in April van 1945 onmiddellik gevra om sy minister van buitelandse sake (Secretary of State) te word, maar hulle het die amptelike aanstelling tot 3 Julie 1945 vertraag om nie die bestaande ampsdraer aanstoot te gee nie.

Byrnes het daarbenewens ook ʼn posisie aanvaar op die tussentydse komitee wat beheer gehad het oor die atoombom-beleid, en daarom het hy in April 1945 Truman se hoof buitelandsebeleid raadgewer geword. Dit was Byrnes wat Truman aangeraai het om die Potsdam-konferensie uit te stel sodat hulle tydens die konferensie kon weet of die atoombom toetslopie suksesvol was. Terwyl die Potsdam-konferensie onderweg was het die eksperimente suksesvol afgeloop en het Truman vir Stalin op die konferensie ingelig dat Amerika oor ʼn nuwe vernietigende wapen beskik, wat Byrnes gehoop het Stalin sou laat afsien van enige buitensporige eise of aktiwiteite in die naoorlogstydperk.

Terwyl Truman op pad terug was na Amerika het hy in die geheim op 25 Julie 1945 die bevel gegee dat die bomme in Augustus gebruik moet word. Op 26 Julie het hy die Potsdam proklamasie en ultimatum aan Japan uitgereik om onvoorwaardelike oor te gee. Beide Truman en Byrnes het vas geglo dat die terme deur die Japannese van die hand gewys sou word.

Die gevolgtrekkings wat onmiskenbaar uit die getuienis wat aangebied is gemaak kan word, is dat Byrnes die man is wat Truman oortuig het om die onvoorwaardelike oorgawe beleid te behou en ook nie Japan se oorgawe te aanvaar nie. Die bomme is laat val nie om ʼn oorlog te wen nie maar om aan Rusland te demonstreer dat Amerika ʼn nuwe magtige leier is en die Russe af te skrik van ʼn aggressiewe buitelandse beleid wat later bekend sou word as die Koue Oorlog. ʼn Sekondêre rede was om die groot finansiële uitgawes wat in die geheim aan die Manhattan-projek toegewy is te regverdig deur te wys dat die bomme werk en Amerika in staat is om die mees magtigste militêre land in die wêreld te word.

As die oorgawe wat die Japannese aangebied het tussen Mei en die einde van Julie 1945 aanvaar was, en die keiser sy posisie kon behou, soos wat in elk geval na die atoombomaanval die geval was, sou dit Rusland in elk geval uit die oorlog gehou het. Rusland het by Jalta ooreengekom om vir drie maande te wag na Duitsland se oorgawe voor hulle by die Japannese oorlog betrokke raak. Duitsland het op 8 Mei 1945 oorgegee, en Rusland het op 8 Augustus (presies drie maande daarna) aangekondig dat die neutraliteit beleid teenoor Japan laat vaar gaan word om in die oorlog teen Japan betrokke te raak. Rusland se toetrede tot die oorlog vir slegs ses dae het hulle toegelaat om geweldige mag en invloed in China, Korea, en ander belangrike gebiede in Asië te kry. Die Japannese was doodbang vir kommunisme en indien die Potsdam proklamasie aangedui het dat Amerika die voorwaardelike oorgawe aanvaar waar die keiser sy posisie behou, kon die oorlog maklik geëindig het en selfs as die Japannese ingelig was oor die moontlikheid van Russiese toetrede, sou dit sekerlik verseker het dat die Japannese vinniger sou oorgee.

Die tweede vraag wat Alperovitz beantwoord in die laaste helfte van sy boek is hoe en waarom die mites om Hirosjima dan geskep is. Die verhaal van die mite begin met ʼn persoon genaamd James B. Conant, die president van Harvard Universiteit. Hy wat ʼn prominente wetenskaplike nadat hy aanvanklik sy merk gemaak as ʼn chemikus met sy werk aan gifgasse tydens die Eerste Wêreldoorlog. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy voorsitter van die National Defense Research Committee vanaf die somer van 1941 tot aan die einde van die oorlog en was hy een van die sentrale figure wat toesig sou hou oor die Manhattan-projek. Conant het bekommerd begin raak oor sy toekomstige akademiese loopbaan, sowel as moontlike poste in die privaatsektor nadat verskeie mense die redes vir die gebruik van die bomme begin bespreek het.

Op 9 September 1945, was admiraal William F. Halsey, bevelvoerder van die Amerikaanse Derde vloot, openlik aangehaal terwyl hy omvattend verklaar het dat die atoombom gebruik is omdat die wetenskaplikes ʼn “speelding gehad het, en hulle wou dit uit probeer ….” Hy het verder gesê: “Die eerste atoombom was ʼn onnodige eksperiment …. Dit was ʼn fout om dit te laat val.”

Albert Einstein, sekerlik toe die wêreld se voorste wetenskaplike en ʼn belangrike persoon in verband met die ontwikkeling van atoomenergie, het teen die gebruik van die bom gereageer. Sy woorde was die opskrif in The New York Times “Einstein Veroordeel Gebruik van Atoombom.” Die storie het berig dat Einstein gesê het dat “die oorgrote meerderheid van wetenskaplikes gekant was teen die skielike gebruik van atoombomme”. In Einstein se oordeel was die gebruik van die bom ʼn politieke en diplomatieke besluit eerder as ʼn militêre of wetenskaplike besluit.

Vanuit ʼn militêre oogpunt was die persoon wat waarskynlik die naaste aan Truman was, voorsitter van die Joint Chiefs of Staff, admiraal William Leahy, en daar was gesê dat hy ook oor die gebruik van die bom ontevrede was. Hy het Truman voor die tyd sterk aangeraai om dit nie te gebruik nie, sowel as om afstand te doen met die onvoorwaardelike oorgawe beleid. Leahy se siening is later in ʼn onderhoud met Hanson Baldwin geopenbaar waarin hy verklaar het “dat die kwessie oor die erkenning van die keiser se posisie ʼn detail was wat maklik opgelos kon word.” Leahy se sekretaresse, Dorothy Ringquist, het ook geopenbaar dat Leahy op die dag toe die bom op Hirosjima laat was vir haar gesê het, “Dorothy, ons gaan nog spyt wees oor hierdie dag. Amerika gaan boet hiervoor, want oorlog is nie veronderstel om teen vrouens en kinders gevoer te word nie.”

Nog ʼn belangrike stem uit die vloot, die bevelvoerder en hoof van die Amerikaanse vloot Ernest J. King, het gesê dat die vloot blokkade en die Maart 1945 aanslag teen Japan, die Japannese hulpeloos gelaat het en dat die gebruik van die atoombom daarna onnodig en immoreel was. Die mening van die vloot admiraal Chester Nimitz W. word berig in ʼn perskonferensie op 22 September 1945: “Die admiraal het van die geleentheid gebruik gemaak om sy stem te laat geld saam met diegene wat van mening was dat Japan verslaan was voor die atoom bombardement en Rusland se toetrede tot die oorlog.” In ʼn daaropvolgende toespraak by die Washington Monument op 5 Oktober 1945, het admiraal Nimitz gesê “Die Japannese het in werklikheid reeds gevra vir vrede voor die vernietiging van Hirosjima waardeur die wêreld van die atoom-era ingelig is en voor die Russiese toetrede tot die oorlog.”

Dit het ook aan die lig gekom dat ongeveer of op 20 Julie 1945, Generaal Eisenhower, Truman in ʼn persoonlike besoek sterk aangemoedig het om nie die atoombom te gebruik nie. Eisenhower het agterna sy mening gelig “Dit was nie nodig om hulle met daardie aaklige ding te tref nie… die atoombom, om burgerlikes so te terroriseer en te dood sonder om eens te probeer [onderhandel], was ʼn dubbele misdaad.” Eisenhower het ook gesê dat dit nie vir Truman nodig was om te “swig” voor al Byrnes se menings nie.

Met al hierdie nuusmedia openbarings en besprekings het James Conant tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn belangrike figuur in die staatsadministrasie vir die publiek moes uitwys dat die gebruik van die bomme ʼn militêre noodsaaklikheid was wat die lewens van honderde duisende Amerikaanse soldate gered het. Hy nader toe Harvey Bundy en sy seun McGeorge Bundy. Dit is deur hulle ooreengekom dat die belangrikste persoon wat hierdie mite kon skep Oorlogs-sekretaris Henry Stimson was. Daar is toe besluit dat Stimson ʼn lang artikel sou skryf en wyd sou versprei in ʼn vooraanstaande nasionale tydskrif. Hierdie artikel is herhaaldelik deur McGeorge Bundy en Conant hersien voordat dit gepubliseer is in Harper se tydskrif in Februarie 1947. Die lang artikel was net na publikasie die onderwerp van ʼn voorblad-artikel en hoofartikel in The New York Times en in die redaksie was dit soos volg gestel:

“Daar kan geen twyfel wees dat die president en mnr. Stimson reg is wanneer hulle sê dat die gebruik van die bomme vir die Japannese oorgawe verantwoordelik was nie.”

President Truman het later, in 1959, hierdie spesifieke gevolgtrekking beaam, insluitende die idee dat dit die lewens van ʼn miljoen Amerikaanse soldate gered het. Hierdie mite word sedertdien jaarliks hernu deur die nuus media en verskeie politieke leiers. Dit word baie pertinent genoem in die memoirs van Henry Stimson genaamd On Active Service in Peace and War, waar hy beweer, “Ongelukkig het ek al lank genoeg geleef om te weet dat die geskiedenis dikwels nie is wat werklik gebeur het, maar wat aangeteken is as sodanig.”

Ma en kind, Hirosjima October 5, 1945

Oorlewendes: Ma en kind, Hirosjima October 5, 1945

Om hierdie saak meer in fokus te bring vanuit die menslike tragedie wat dit was, beveel ek ʼn boek aan getiteld: Hiroshima Diary: The Journal of a Japanese Physician, August 6, September 30, 1945″, deur Michihiko Hachiya. Hy was ʼn oorlewende van Hirosjima en het ʼn dagboek gehou en daaglikse inskrywings gemaak oor die vroue, kinders en ou mense wat hy in die hospitaal behandel het. Die dokter was self ernstig beseer maar het genoeg herstel sodat hy ander kon help, en sy belewenis van die persoonlike tragedies van onskuldige burgerlikes wat erg verbrand was, of gesterf het kon oordra. Dalk ook om ons te help om die morele kwessie omtrent die gebruik van atoombomme in ʼn duidelike perspektief te plaas.

Nou dat ons in die kern-era lewe en daar genoeg kernwapens regoor die wêreld versprei is om alle beskawings te vernietig, moet ons die feit dat Amerika die enigste land is wat hierdie verskriklike wapen ooit gebruik het en dat dit onnodig was, erken. As mense die waarheid sou erken, eerder as die mite, kan dit dalk net ʼn morele opstand veroorsaak waar ons die leiding kan help neem in anti-oorlog bewusmaking, sodat mense verstaan dat oorloë altyd teen byna alle koste vermy moet word. Dit was nie ons kennis van die wetenskappe wat buite beheer geraak het nie, maar eerder ons onvermoë om versigtig met politieke mag te werk te gaan.

Atoombom3

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.