Die Heilige Verenigde Landmassa

Uniegebou as afgod

Deur Nico de Wet

Daar was geen heimwee of patriotisme voor 1910 nie.

Voor 1910 was Suid-Afrika in vier kolonies verdeel: Die Kaapkolonie, die Kolonie van Natal, Oranje-Vrystaat en Transvaal.

ʼn Tydjie voor dit was daar net die Kaapkolonie en die Khoi-, San- en Bantoe-stamme wat Suid-Afrika rond en bont bewoon het (oorvereenvoudiging, ek weet, maar dis nie die punt nie). En ʼn tydjie voor dit was daar boggerôl…mense.

Die terme Suid-Afrika en Suid-Afrikaner is dus groentjies. Voor 1910 was Suid-Afrika, soos die term “Suider- Afrika” vandag, slegs ʼn geografiese verwysing. Daar was geen Suid-Afrikaners in die politiek-sosiale sin van die woord nie. Geen heimwee, nostalgie, patriotisme, nasionalisme of enige emosies is deur die terme verwek nie. Selfs met die stigting van die Unie in 1910 was daar min sentiment betrokke. Die 1910-skikking was grotendeels gegrond op (Britse) ekonomiese en administratiewe oorwegings.

Vandag voel ons heeltemal anders oor “Suid-Afrika” en “Suid-Afrikanerskap”. Deur die loop van die afgelope 100 jaar het die terme soveel stertjies bygekry dat dit moeilik is om na 1910 terug te dink sonder om Jesus in vlees by die inlui van die Unie te visualiseer.

Vryhandel en veiligheid is lankal nie meer die enigste funksies van die Unie nie; inteendeel, die Unie het ʼn lewe van sy eie gekry wat meer van ons begin vra het as wat dit aan ons gebied het. Suid-Afrika het sy inwoners begin kategoriseer. Die mense van die land word breedvoerig gedikteer wat om te doen en nie te doen nie; waarvan om te hou en nie te hou nie. Die oortuigings wat hulle moet hê, die tale wat hulle moet praat, die mense waarmee hulle moet assosieer…selfs die ideale wat hulle moet nastreef word deur hierdie Heilige Verenigde Landmassa bepaal.

Dié afgedwonge manipulering is die afgelope 100 jaar so doeltreffend uitgevoer dat die inwoners later die Heilige Verenigde Landmassa se voorkeure as hul eie outomaties begin ag het. Almal wil ʼn traantjie pik wanneer Koos du Plessis die woorde sing:

“maar hier buite sterf die somer
en ek sien die blare val…
en iewers skyn die somerson
op die velde van Transvaal
en êrens dreun die branders
aan die strande van Natal
ek sit soms en ek luister
of ek dalk in die wind
die Vrystaat en die Boland
se stemme terug kan vind.”

Hierdie Suid-Afrikaanse heimwee word nou “natuurlik” verwek al was jy min of glad nie in jou lewe op die velde van Transvaal, op die strande van Natal of in die wind van die Vrystaat nie. Al wat in 1994 verander het, is dat Suid-Afrika – steeds die voorbestemde Heilige Verenigde Landmassa – ʼn persoonlikheidsverandering ondergaan het met ander verwagtinge wat op sy inwoners afgedwing word.

Pleks van wit, moet jou vriende nou swart wees. Pleks van Afrikaans, moet jy nou Engels praat. Rugby is oukei, dit sal verdra word, maar begin eerder nou van sokker hou. Jy beter jouself meer met ʼn Vendasprekende van Musina (Noord-Limpopo) as ʼn Afrikaanssprekende van Keetmanshoop (Suid-Namibië) vereenselwig, al het julle bitter min gemeen en die afstand na Musina (van Stellenbosch) twee keer so ver as die afstand na Keetmanshoop is.

Verwelkom toeriste by die Kaapstad-lughawe met tradisionele Bantoe-tromme, liedjies en kunsbeeldjies. Dit maak nie saak of die Bantoe eers lank ná die Khoi, San en Nederlander in die Kaap aangekom het en nog steeds ʼn minderheid in die provinsie is nie; die Kaap is deel van die Heilige Verenigde Landmassa en dus is sy erfenis dít wat deur die Heilige Verenigde Landmassa vooraf bepaal word.

Beskou ook asseblief witkleurige inwoners van die Kaap as uitheems, desondanks die feit dat hul voorouers lank voor die voorouers van die swartkleurige in die Kaap woonagtig was. Universiteite soos Stellenbosch sal eers waarlik Suid-Afrikaans wees wanneer die meeste van die studente en personeel ʼn swart vel het en Engels praat. Eintlik moet alle instellings en sommer ook private ondernemings die ras-demografie van die hele Heilige Verenigde Landmassa weerspieël, anders is daar iets groots fout.

Die Unie van Suid-Afrika bestaan dus lank nie meer vir bloot ekonomiese en administratiewe doeleindes nie. Suid-Afrika is vandag heilig.

God het met sy eie hand die grense om die landmassa in goud getrek en verklaar dat wie ook al in die Uniegebou in Pretoria sit pous is met die godgegewe reg om die “Suid-Afrikaanse Volk” te bou en te regeer…terwyl almal, van Musina tot Stellenbosch, skouer aan skouer moet staan met ʼn vuis op die bors en ʼn vuvuzela in die hand en luidkeels moet uitbasuin:

“Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra. Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika.”

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Demokrasie, Opinie and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.