Die Vloek van Masjinerie

die vloek van masjinerie

Deur Henry Hazlitt

Een van die mees lewenskragtigste ekonomiese mistastings is die oortuiging dat masjiene op netto balans werkloosheid skep. Hierdie denkfout is al ʼn duisend keer intellektueel verwoes net om ʼn duisend keer weer uit die as uit op te staan, so gevaarlik en lewenskragtig as ooit. Wanneer daar ook al langdurige werkloosheid heers, kry masjiene opnuut weer die skuld. Hierdie denkfout vorm steeds deels die basis van sekere vakbondpraktyke. Die publiek verduur maar hierdie praktyke omrede hulle óf glo dat die vakbonde in wese reg is, óf hulle is te verward in die warboel van ekonomiese teorieë om die redes te besef waarom dit verkeerd is.

Dit is belangrik om hierdie aspek af te handel omrede daar altyd weer ʼn “briljante” ekonoom of politikus sal opdaag om ons te red van masjiene. Die geloof dat masjiene werkloosheid veroorsaak lei na absurde gevolgtrekkings as dit vergelyk word met enige logiese redenasie. Dit beteken dat ons nie net werkloosheid veroorsaak met elke tegnologiese verbetering of uitvinding wat ons maak nie, maar dat die primitiewe mens al reeds werkloosheid moes veroorsaak het met sy eerste pogings om die lewe vir homself te vergemaklik.

Laat ons dan kyk na Adam Smith se Wealth of Nations, gepubliseer in 1776. Die eerste hoofstuk van hierdie merkwaardige boek heet “Of the Division of Labour,” en op die tweede bladsy van die eerste hoofstuk vertel die outeur vir ons dat ʼn vakman wat onkundig is met die gebruik van masjinerie wat spelde maak “skaars een speld per dag kan vervaardig, en definitief nie meer as 20 vervaardig nie,” maar met die gebruik van hierdie masjinerie kan hy 4 800 spelde per dag maak. So helaas, alreeds in Adam Smith se tyd het masjiene vanaf 240 tot 4800 speld-makers uit werk uit gesit vir elke een wat hul werk behou het. In die speld-vervaardigings industrie was daar reeds in 1776, as masjiene mense werkloos gemaak het, 99,98 persent werkloosheid. Kon dinge enigsins erger wees?

Dinge kon erger, want die Industriële Revolusie was net in sy kinderskoene. Kom ons kyk na sommige van die voorvalle en aspekte van daardie revolusie. Kom ons kyk, byvoorbeeld, wat gebeur het in die kous-brei bedryf. Nuwe kousbreirame is deur die ambagsmanne vernietig soos wat hulle bekend gestel is (meer as 1,000 in ʼn enkele betoging), huise is afgebrand, die uitvinders is gedreig en verplig om te vlug vir hulle lewens, en orde is uiteindelik eers herstel toe die weermag ingeroep is en die voorbokke óf verwyder óf gehang is.

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat sover die oproeriges aan hul eie onmiddellike of selfs verdere toekoms gedink het, was hul teenkanting teen die masjiene rasioneel. William Felkin, in sy History of the Machine-Wrought Hosiery Manufactures (1867), vertel ons dat die grootste gedeelte van die 50,000 Engelse kousbreiers en hul gesinne nie ten volle herstel het van die honger en ellende wat meegebring is deur die bekendstelling van die masjiene vir die volgende veertig jaar nie. Maar in so ver as wat die oproeriges geglo het, soos die meeste van hulle ongetwyfeld geglo het, dat die masjien mense permanent vervang het, was hulle verkeerd, want voor die einde van die negentiende eeu het die sykous industrie minstens 100 mense in diens gehad vir elke een wat in diens was aan die begin van daardie eeu.

Arkwright het sy katoen-spinnende masjinerie in 1760 uitgevind. Op daardie tydstip was dit beraam dat daar in Engeland 5,200 spinners was wat van spinwiele gebruik gemaak het en 2,700 wewers – altesaam 7,900 persone wat betrokke was by katoen tekstiel produksie. Die bekendstelling van Arkwright se uitvinding is teëgestaan op grond daarvan dat dit die bestaan van die werkers bedreig het, en die gewelddadige opstande moes met geweld onderdruk word. Teen 1787 – sewe-en-twintig jaar na die uitvinding verskyn het, het ʼn parlementêre ondersoek getoon dat die aantal persone wat werklik betrokke was in die spin en weef van katoen van 7,900 tot 320,000 gestyg het, ʼn toename van 4,400 persent.

As die leser ʼn boek soos Recent Economic Changes, deur David A.Wells, wat in 1889 gepubliseer is, sou raadpleeg, sou hy paragrawe vind wat, behalwe vir die datums en absolute bedrae wat betrokke is, geskryf kon gewees het deur tegnofobe (as ek ʼn noodsaaklike woord kan munt). Ek haal ʼn paar aan:

During the ten years from 1870 to 1880, inclusive, the British mercantile marine increased its movement, in the matter of foreign entries and clearances alone, to the extent of 22,000,000 tons . . . yet the number of men who were employed in effecting this great movement had decreased in 1880, as compared with 1870, to the extent of about three thousand (2,990 exactly).What did it?

The introduction of steam-hoisting machines and grain elevators upon the wharves and docks, the employment of steam power, etc. . .

In 1873 Bessemer steel in England, where its price had not been enhanced by protective duties, commanded $80 per ton; in 1886 it was profitably manufactured and sold in the same country for less than $20 per ton. Within the same time the annual production capacity of a Bessemer converter has been increased fourfold, with no increase but rather a diminution of the involved labour. . .

The power capacity already being exerted by the steam engines of the world in existence and working in the year 1887 has been estimated by the Bureau of Statistics at Berlin as equivalent to that of 200,000,000 horses, representing approximately 1,000,000,000 men; or at least three times the working population of the earth.

Mens sou dink dat hierdie laaste getalle Mr. Wells rede tot nadenke moes gee en laat wonder hoekom daar nog enige werksgeleenthede in die wêreld van 1889 oor was; maar hy het slegs tot die gevolgtrekking gekom, met beheersde pessimisme, dat “onder sulke omstandighede mag industriële oorproduksie…. kronies word.” 

Tydens die depressie van 1932 het die speletjie om werkloosheid op masjinerie te blameer weer van voor af begin. Binne ʼn paar maande het die leerstellings van ʼn groep wat hulself die Tegnokrate genoem het soos ʼn veldbrand deur Amerika versprei. Ek sal nie die leser belas met die resitasies van die buitensporige syfers wat deur hierdie groep as “bewyse” daargestel is  en dan weer die regstellings daarby van wat die ware syfers was nie. Dit is voldoende om te sê dat die Tegnokrate teruggekeer het na die fout in sy naïewe oorsprong, dat masjiene mense permanent sal vervang – behalwe dat, in hulle onkunde, het hulle hierdie fout voorgegee as ʼn nuwe en rewolusionêre “uitvinding” van hul eie. Dit was eenvoudig net nog ʼn illustrasie van Santayana se slagspreuk wat lui dat diegene wat nie die verlede kan onthou nie, verdoem is om dit te herhaal.

Die Tegnokrate was uiteindelik net uitgelag tot hulle ondergegaan het; maar die basis denkfout van hul leerstelling leef voort. Dit leef voort in die honderde werkskeppingskemas en wat in Amerika bekendstaan as “feather-bed practices” deur arbeid unies; hierdie reëls en gebruike word geduld en tot selfs goedgekeur omrede die verwarring hieroor ook in die publieke sienswyse voortleef.

In getuienis wat gelewer is deur Corwin Edwards namens die Verenigde State se Departement van Justisie voor die TNEC (Temporary National Economic Committee) in Maart 1941, het hy ontelbare voorbeelde van sulke gebruike aangehaal.

A)Die elektriese werkersunie in New York stad was aangekla omrede hulle geweier het om elektriese toebehore wat buite New York vervaardig is te installeer tensy die toebehore uitmekaargehaal en weer inmekaargesit word op die werkperseel self.

B) In Houston Texas, het meester loodgieters en die loodgietersunie ooreengekom dat pypstelsels wat vooraf vervaardig was vir installasie slegs geïnstalleer sou word indien die skroef van die een kant van die pyp afgesny word en ʼn nuwe skroef op die werkperseel daarvoor gesny word.

C) Ook in Texas het verskeie plaaslike lede van die verwersunie beperkings voorgeskryf op die gebruik van sproeispuite, beperkings wat in talle gevalle bloot ontwerp was om net meer werk te maak deur te vereis dat die proses van aanwending van verf met ʼn kwas plaasvind en dus stadiger was.

D) ʼn Plaaslike lid van die transport-unie het vereis dat elke trok wat die New York se Metro binnegaan, addisioneel tot die bestuurder wat reeds in diens was, ook ʼn plaaslike medebestuurder moes hê.

E) In verskeie stede het die elektriesiteit werkersunie vereis dat as daar enigsins van kragopwekkers gebruik gemaak gaan word op ʼn konstruksie perseel, daar ʼn voltydse instandhoudingselektrisiën, wat nie toegelaat sou word om enige elektriese konstruksiewerk te doen nie, in diens moet wees. Dit het meestal daarop neergekom dat ʼn elektrisiën heeldag sit en kaart speel volgens Mnr. Edwards.

ʼn Mens kan voortgaan om selfs meer eienaardige werkskeppingspraktyke op te noem in verskeie ander velde. In die spoorwegindustrie het die unies daarop aangedring dat brandweermanne aangestel word op lokomotief tipes wat hulle nie nodig het nie. In teaters het unies daarop aangedring op die aanstel van “prop-verskuiwers” tot selfs in opvoerings waar geen dekor gebruik was nie. Die musikant-unie het “in-staan” musikante vereis en selfs hele orkeste moes aangestel word, in baie gevalle waar slegs ʼn digitale opname nodig was.

2

ʼn Mens kan berge vol syfers bymekaarmaak om te wys hoe verkeerd die tegnofobe van die verlede was, maar dit sal van geen nut wees tensy ons duidelik verstaan hoekom hulle verkeerd was nie. Statistiek en geskiedenis is nutteloos in ekonomie tensy dit vergesel word van ʼn basiese deduktiewe begrip van die feite – wat in hierdie geval ʼn begrip is van waarom die verlede se gevolge van die bekendstelling van masjinerie en ander arbeidsbesparende toestelle moes plaasvind. Andersins sal die tegnofobe beweer (soos hulle in werklikheid beweer wanneer jy hulle daarop wys dat die profesieë van hul voorgangers absurd was): “Dit was alles goed en wel in die verlede, maar vandag is toestande fundamenteel anders; en nou kan ons eenvoudig nie meer bekostig om arbeidsbesparende masjinerie te ontwikkel nie.” So laat as 1945 skryf die Amerikaanse presidentsvrou Eleanor Roosevelt in ʼn nasionale koerant: “Ons het vandag ʼn punt bereik waar arbeidsbesparende toestelle slegs ʼn goeie ding is wanneer hulle nie die werker van sy werk ontsê nie.”

As dit werklik die waarheid is dat die bekendstelling van arbeidsbesparing masjinerie die oorsaak is van voortdurende en toenemende werkloosheid en ellende, dan is die logiese afleiding wat gemaak moet word werklik revolusionêr, nie net in die tegniese veld nie, maar vir die hele konsep van beskawing. Ons sal nie net alle toekomstige tegnologiese ontwikkeling moet sien as ʼn ramp nie, maar ons sal alle tegnologiese vooruitgang van die verlede as ʼn soortgelyke gruwel moet beskou.

Elke dag is elkeen van ons in ons eie kapasiteit besig om te probeer om die moeite wat dit verg om by ʼn gegewe eindpunt uit te kom, te verminder. Elkeen van ons probeer sy eie arbeid spaar, om op die mees ekonomiese manier moontlik sy eindpunt bereik. Elke onderneming klein en groot, streef altyd daarna om resultate vinniger en meer ekonomies te bekom – en dit is deur arbeid te bespaar. Elke intelligente werker probeer om die nodige arbeid tot ʼn minimum te hou om sy toegeskrewe werk te doen. Die meer ambisieuse van ons probeer meedoënloos om die resultate te verbeter wat ons in ʼn spesifieke tyd aanpak. Die tegnofobe, as hulle logies en konstant was, sou al hierdie vooruitgaan en innovasie moes verwerp as, nie net nutteloos nie, maar ook venynig. Hoekom sal vragte goedere van Kaapstad tot Pretoria met treine vervoer word as ʼn enorme aantal mans dit op hulle rûe kan dra?

Teorieë so vals soos die word nooit met logiese konstantheid gehuldig nie, maar hulle verrig steeds groot skade deurdat hulle enigsins gehuldig word. Laat ons dus probeer om presies te sien wat gebeur wanneer tegniese verbeteringe en arbeidsbesparende masjinerie in gebruik geneem word. Die besonderhede sal verskil in elke geval, afhangende van die spesifieke situasies wat bestaan in ʼn gegewe industrie en/of tydsperiode. Ons sal daarom ʼn voorbeeld gebruik wat die belangrikste moontlikhede sal insluit.

Veronderstel dat ʼn klerevervaardiger van ʼn masjien te hore kom wat mans en dames baadjies kan vervaardig teen helfte van die arbeidsinsetkoste. Hy koop die masjien aan en dank die helfte van sy arbeiders af.

Met die eerste oogopslag wil dit soos ʼn duidelike verlies van werksgeleenthede voorkom, maar die masjien self het immers arbeid vereis om tot stand te kom. Die klerevervaardiger sou ook net die masjien aangekoop het as dit óf beter baadjies vir helfte die arbeidsinsetkoste kon maak, óf dieselfde kwaliteit baadjies teen ʼn heelwat laer koste. As ons laasgenoemde aanvaar, kan ons nie aanneem dat die hoeveelheid arbeid wat dit sou verg om die masjiene te vervaardig so groot is in terme van loonkoste, as die hoeveelheid arbeid wat die kleremaker hoop om op die lang duur te bespaar deur die aankoop van die masjien nie. As dit meer arbeid sou verg om die masjien te vervaardig as wat mense daarmee kon spaar sou dit nie ekonomies sin gemaak het nie.

Daar is dus steeds ʼn netto verlies van werksgeleenthede waarvoor ons antwoorde moet bied. Daar moet ten minste die moontlikheid ingedagte gehou word dat masjiene jare kan neem “om vir hulsels te betaal”, en op daardie grondslag kan die produksie van die masjiene self ʼn vermeerdering in werksgeleenthede tot gevolg hê.

Nadat die masjien ekonomies genoeg geproduseer het om die koste daarvan te regverdig, het die klerevervaardiger meer winste as voorheen. (Ons sal hier maar aanneem dat hy die klere verkoop teen dieselfde prys as voorheen en geen poging aanwend om marksegment te bekom deur die winste na die verbruiker aan te gee deur prysverlagings nie.) Op hierdie punt sal dit nog steeds voorkom of arbeidsgeleenthede ʼn netto verlies gehad het, terwyl net die entrepreneur bevoordeel is. Dit is egter presies uit hierdie addisionele winste waaruit die netto voordele moet kom. Die vervaardiger kan die ekstra winste op ten minste een van drie maniere aanwend (en dit kan altyd al drie wees). (1) Hy sal die ekstra winste gebruik om sy besigheid uit te brei deur nog masjiene aan te koop; of (2) hy sal die ekstra winste belê in ʼn ander industrie; of (3) hy sal die ekstra winste spandeer op verbruikersgoedere vir homself. Ongeag die keuse wat hy maak, die gevolg daarvan sal ʼn verhoging in arbeidsgeleenthede wees, of in sy eie besigheid of in iemand anders sin.

Elke Rand wat hy gespaar het deur meer ekonomies te werk te gaan, betaal hy indirek uit aan die arbeiders wat die nuwe masjiene vervaardig, of aan arbeiders in ander industrieë. Tensy hy ʼn maltrap is wat sy geld sonder rente inkomste onder sy matras wegsteek, gee hy indirek net soveel uit aan lone as wat hy direk sou uitgee het.

Indien hierdie entrepreneuriese vervaardiger aansienlik meer winste maak as sy kompetisie, sal hy of sy besigheid ten koste van hulle uitbrei, of hulle sal ook die masjiene aankoop. Nog meer werksgeleenthede sal dan geskep word in die vervaardiging van die masjiene, maar goedkoper produksie sal begin om die prys van die produkte af te dwing soos kompetisie toeneem. Die marginale wins koers wat ʼn produsent uit die aankoop van ʼn nuwe masjien kan put, sal dus begin daal. Die besparing word dan oorwegend aan die verbruikers oorgedra.

Ook kan mense wat dalk voorheen nie die baadjies kon bekostig nie, dit nou aankoop. Dit beteken dat alhoewel dit minder mense vat om ʼn baadjie te vervaardig daar aansienlik meer vervaardig word. Indien die aanvraag na baadjies elasties is, met ander woorde ʼn verlaging in die prys het ʼn proporsioneel groter hoeveelheid aankope van die produk tot gevolg as vantevore – dan kan dit heel moontlik tot gevolg hê dat heelwat meer mense in die industrie aangestel word as vantevore. Dit is dan ook presies wat histories gebeur het met die tekstiel industrie.

Die nuwe werksgeleenthede hang nie van die elastisiteit van aanvraag van die besondere produk af nie. Veronderstel die prys van baadjies was bykans halveer vanaf R500 na R300 – en nie ʼn enkele ekstra baadjie is verkoop nie. Die resultaat hiervan sal wees dat, terwyl verbruikers steeds van baadjies voorsien was, elke koper R200 gespaar het wat hulle nou op ander produkte kan spandeer wat dan weer ʼn toename in werksgeleenthede in daardie industrieë tot gevolg het.

Op ʼn netto balans veroorsaak masjinerie, tegnologiese verbeterings en verbeterde effektiwiteit nie werkloosheid nie.

3

Nie alle uitvinding of ontdekkings is natuurlik altyd arbeid-besparend nie. Sekere masjiene verbeter byvoorbeeld slegs presiesheid of kwaliteit en nuwe materiale soos nylon en plastiek, verbeter produk gehalte of maak nuwe produkte moontlik. Uitvindings soos die telefoon, rekenaars en vliegtuie verrig funksies wat menslike arbeid nie kan verrig nie, en nuwe produkte en dienste word sodoende geskep wat nie andersins sou bestaan nie. Daarom het ons juis in die voorafgaande voorbeeld na ʼn tipe masjien gekyk wat die tegnofobie mense sou bekommer.      

Die argument word soms gemaak dat masjinerie meer werk skep as wat andersins sou bestaan het en in die meeste gevalle is dit waar. Masjiene kan onsettend baie meer geleenthede skep in sekere industrieë. Die syfers van die 18de eeu se tekstiel bedryf dien as goeie voorbeeld. Hul moderne eweknieë is geensins minder indrukwekkend nie. In 1910 was daar in Amerika 140,000 mense werksaam in die nuwe motorindustrie. In 1920 was die produk verbeter en die koste verminder en die industrie het 250,000 mense in diens gehad. Teen 1930 het die industrie 380,000 mense in diens gehad na nog verbeterde masjinerie en koste verlagings. Teen 1940 het dit opgegaan na 450,000. In 1940 was daar net 35,000 mense in die VSA werksaam in die produksie van yskaste en 60,000 in die produksie van radio’s. Verkope het dramaties gestyg soos produkte meer bekostigbaar raak met verbeterde masjien gedrewe produksie en baie meer mense is in diens geneem.

Daar is ook ʼn absolute sin waarin gesê kan word dat masjiene bygedra het tot die hoeveelheid werksgeleenthede. Die populasie van die aarde is vandag veel groter as in die middel van die agtiende eeu voor die Industriële rewolusie tot sy reg gekom het. Mens kan sê dat masjiene tot ʼn mate aan daardie populasie ontploffing geboorte geskenk het, aangesien die wêreld nie daardie populasie sou kon onderhou sonder masjiene nie.

Dit sal egter ʼn miskonsepsie wees om te dink dat die primêre funksie van masjiene is om werk te skep, die resultaat van verbeterde tegnologie is verhoogde produksie, verhoogde lewenstandaarde tot verhoogde ekonomiese welsyn. Dit is geen kuns om almal in diens te hê nie veral in die mees primitiefste van ekonomieë. Volle indiensneming, lang onophoudelike rugbrekende handearbeid is die karaktereienskap van die mees agterlike wêrelddele. Waar volle indiensneming reeds bestaan, kan nuwe masjiene en uitvindings natuurlik nie lei tot verhoogde indiensneming nie, tot daar ʼn verhoging in populasie is. In so geval sal nuwe masjiene lei tot laer indiensneming (maar hierdie keer praat ek van vrywillige en nie gedwonge werkloosheid) omrede mense sal kan bekostig om minder ure te werk en kinders en ou mense nie hoef te werk nie.

Die verhoogde produksie en lewensstandaarde wat masjiene te weeg bring vind plaas op een van twee maniere. Deur produkte goedkoper te maak vir verbruikers soos in ons verduideliking vroeër, of deur lone te verhoog omrede hulle die produktiwiteit van arbeiders verhoog. Masjiene verhoog dus die lone in Rand waarde, of deur ʼn verlaging in pryse verhoog dit die hoeveelheid produkte wat lone kan koop. Soms doen hulle albei maar wat werklik gebeur sal ook afhang van die monetêre beleid wat die staat najaag.

4

ʼn Waarskuwing is noodsaaklik voordat ons hierdie onderwerp agter laat. Die klassieke ekonome het, tot hul eer, altyd uitgekyk vir sekondêre gevolge van enige ekonomiese beleid of ontwikkeling op die hele gemeenskap en op die langtermyn. Dit was ook ongelukkig soms hul swakpunt, deur altyd net op die langtermyngevolge te fokus het hulle die korttermyn gevolge agterwee gelaat. Hulle was te geneig om die onmiddellike gevolge van ekonomiese ontwikkeling op spesifieke groepe as onbelangrik te ag of heeltemal te ignoreer. Ons het byvoorbeeld gesien hoe die kousbreiers in Engeland ʼn werklike tragedie deurgegaan het met die bekendstelling van nuwe breiraam-masjiene in die vroeë dae van die Industriële Rewolusie.

Sulke feite en hul moderne eweknieë het egter daartoe gelei dat sommige skrywers tot die teenoorgestelde ekstreem oorgaan, en slegs fokus op die onmiddellike gevolge van enige gegewe ekonomiese gebeurtenis op net sekere groepe. Jannie Koorsblaar is uit sy werk uit omrede ʼn nuwe masjien gebou is wat daardie funksies vinniger en goedkoper kan verrig. Hierdie skrywers dring daarop aan: “Hou jou oog op arme Jannie Koorsblaar”. Wat hulle dan egter doen is om te vergeet dat Gerhard Drostoon nou werk het in die vervaardiging van die masjiene en Phillip Skoorsoek het nou werk gekry as operateur van die masjien, en hulle vergeet van Nadia Pretfoon wat nou kan truie koop vir al vyf haar kinders teen helfte die prys as voorheen. Maar helaas omrede hulle slegs fokus op Jannie Koorsblaar, propageer hulle kortsigtige politieke oplossings.

Ja, ons moet ʼn oog hou op Jannie Koorsblaar. Die arme man het sy werk verloor omrede hy deur ʼn masjien vervang is. Miskien kan hy gou weer ʼn ander werk kry, dalk selfs ʼn beter een. Dit is ook moontlik dat hy jare van sy lewe aan die vaardighede wat hy ken gewerk het, waarvoor die mark nou geen nut het nie. Hy het sy belegging in homself verloor, hy het dit in vaardighede verloor soos sy vorige werkgewer dalk sy belegging verloor het in masjiene en prosesse wat nou skielik verouderd is. Hy was ʼn geskoolde vakman wat oornag, nie net sy werk verloor het nie, maar boonop nou tel as ongeskoolde arbeid. Ons kan nie en moet nie vir Jannie Koorsblaar vergeet nie. Sy verhaal is een van persoonlike tragedie, maar wat soos ons gesien het, inherent is tot alle industrieë en ekonomiese vooruitgang self.

Om te vra presies watter aksie ons moet neem, indien enige, aangaande Jannie Koorsblaar, of hy werkloosheidsversekering moet kry en of hy op staatsonkoste nuwe vaardighede moet aanleer, dra ons verby die onderwerp voor hande. Die les hier is dat ons moet probeer om al die gevolge raak te sien wat deur ekonomiese beleid en ontwikkeling geraak word – die onmiddellike gevolge, die spesifieke belangegroepe sowel as die langtermyn gevolge op almal.

As ons aansienlike spasie aan hierdie onderwerp gewy het, is dit omdat ons gevolgtrekkings aangaande die effek van nuwe masjinerie, uitvindings en ontdekkings op produksie, werkloosheid en welsyn, krities is. As jy verkeerde opvattings daaroor het, gaan daar min dinge in ekonomie wees waaroor jy waarskynlik reg gaan wees.

_______________________________________________________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 7 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek Ekonomie in Een Les gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 6

Hoofstuk 8

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.