Koos Malan se Politokrasie

politokrasie

Deur Piet le Roux 

Koos Malan laat sy lesers lus voel om hul ID-boekies te verbrand. Amper soos wat sommige vrouens vroeër bra’s verbrand het, of miskien meer soos wat mense pasboekies onder Apartheid verbrand het.

In Politokrasie: ʼn Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop sny Malan tot op die been van die staat as “jaloerse God” wat waak oor die lojaliteite van sy onderdane. Met die deeglikheid van die regsman wat hy is gaan hy te werk om velle van die gevestigde gebruike van ons oë te skil. Die siekte, diagnoseer hy, is ons paradigma van staatlikheid.

Waarom is dit, vra hy, dat mense hulself vandag so geredelik identifiseer as eerstens burgers van ʼn land – soos hy skryf:

“die treffende verskynsel wat tans bykans ʼn universele gegewe is dat die staat die hoofbepaler van individue se openbare identiteit is.”

“Die inprent van ʼn staatlike identiteit is die een sy van staatlikheid wat in hierdie werk behandel word.”

Ek kon nie help om aan Nico de Wet se uitstekende artikel te dink nie: Wat is daar aan die arbitrêre grense van lande dat mense so graag optree asof God dit self in goud getrek het?

Binne hierdie grense, gaan Malan dan verder, word die wetenskap in diens gestel van die instandhouding van die territoriale staat volgens dié se neergelegde reëls.

“Die fokus van hierdie aspek van staatlikheid is dat daar ter wille van die beveiliging en voortsetting van die huidige staatlike orde en van staatlike identiteit voorskrifte, reëls en parameters vir geldige wetenskapsbeoefening en intellektuele aktiwiteit binne sekere dissiplines neergelê en afgedwing word, by name in die politieke teorie, die politieke wetenskap en die regswetenskap. Deur die aktiwiteite van die beoefenaars van verskeie wetenskaplike dissiplines word ʼn ortodokse wetenskap beoefen wat op die beveiliging en voortsetting van die bestaande staatlike orde afgestem is. Ofskoon hierdie paradigma ’n besonder kragtige rol speel, is dit versweë.”

Om die paradigma van staatlikheid te verduidelik, gaan haal Malan die ontwikkeling daarvan in die puinhope van die ineengestorte Roomse Ryk. En uit die kerklike ordening van die vroeë Middeleeue volg hy die ontwikkeling van die territoriaal-staatlike Leviatan: eers afsydig en dan – soos wat die afguns van “die jaloerse God” groei – hoe die staat al indringender word totdat dit die punt van vandag bereik waar partikuliere identiteite en assosiasies met gemeenskap, taal, kultuur, streek en dies meer onderwerp word aan die skyn van ʼn neutrale gemene deler – die staat.

Malan se Politokrasie – die alternatiewe bedeling tot die staatlikheid wat hy in gedagte het – is tentatief en help om die idee van alternatiewe samelewingsordening vir die leser verbeelbaar te maak. Dit behels in beginsel die afwenteling van mag na vele laer vlakke en kleiner gemeenskapseenhede as wat die bestaande staatlike hiërargie toelaat. Een spanning daarin bly egter skynbaar onopgelos: as Malan wil ontsnap aan die dwanglogika van die territoriale staat, hoe gaan Politokrasie daaraan ontsnap as dit nie op ʼn beginsel van individuele, vrywillige aansluiting berus nie? Spruit die dwanglogika van die territoriale staat nie uit die wortel van die kwaad – die sogenaamde sosiale kontrak – nie? Ek kon nie met sekerheid vasstel of daar nie binne Politokrasie steeds elemente van ʼn sosiale kontrak is waaraan die individu nie sal kan ontsnap tensy hy die logika van die Politokrasie verwerp nie.

Maar as mens moet kies tussen Politikrasie en die territoriale staat, wen Politokrasie loshande.

Malan se werk volg konsentrasie om by te bly. Daar is baie inligting, dis vars, daar is insiggewende voetnote en veral plaas dit jou voorveronderstellings voortdurend onder hewige druk. Dis nie ligte leesstof nie, maar dis die mees omvattende bevraagtekening van die staat wat ek nog in Afrikaans teëgekom het en op peil met van die beste wat ek al in ander tale geraadpleeg het. Dit brei die Afrikaanse gedagtepoel wesenlik uit op ʼn baie noodsaaklike vlak in ʼn hoogs akute tyd.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Demokrasie, Opinie and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.