Die Definiëring van Sosiale Geregtigheid

sosiale geregtigheid3

Deur Michael Novak

Frederich August Hayek het, saam met sy vele ander intellektuele bydraes tot die twintigste eeu, meer bygedra as enige ander persoon om die gebruik van die term “sosiale geregtigheid” intellektueel te weerlê. Ek het nog nooit ʼn skrywer teëgekom, religieus of filosofies, wat direk antwoorde kon bied op sy kritiek nie. Om sosiale geregtigheid te verstaan is daar geen beter plek om te begin, as met die man wat in sy eie intellektuele lewe die “deug” wat sommige mense met die woord verbind, uitgeleef het.

Die probleem met “sosiale geregtigheid” begin met die betekenis van die term. Hayek wys daarop uit dat baie boeke en lang verhandelings daaroor geskryf word sonder om eens ʼn behoorlike definisie daaraan te gee. Die term word toegelaat om in die lug rond te sweef asof almal dit meteens sal herken as dit tot stand kom. Asook dat hierdie vaagheid van die term noodsaaklik is vir die voortbestaan daarvan. Die oomblik as mens sosiale geregtigheid probeer definieer loop jy jou vas in ʼn intellektuele verleentheid. Dit word meestal ʼn kunsmatige term met die operasionele betekenis: “Ons het ʼn wet vir of teen dit of dat nodig”. Met ander woorde die term word ʼn instrument van ideologiese intimidasie vir die doel om mag te gryp oor ander se ekonomiese hulpbronne.

Hayek wys ʼn ander tekortkoming uit in die twintigste eeu se teorieë van sosiale geregtigheid. Meeste skrywers maak daarop aanspraak dat hulle die term gebruik as ʼn deug( ʼn morele opregtheid volgens hul aansprake). Die beskrywing wat hulle egter daaraan gee het betrekking op onpersoonlike sake – “hoë werkloosheid”, “ongelyke inkomste” of “ lae inkomste” as voorbeelde van sosiale geregtigheid wat nie aangespreek is nie. Hayek slaan toe op die kern van die probleem: sosiale geregtigheid is of ʼn “deug” of dit is nie een nie. As dit is, kan die term slegs behoorlik gebruik word ter nabetragting of refleksie op die doelbewuste aksie van ʼn individuele persoon.

Die probleem is die term word amper nooit so aangewend nie maar eerder om ʼn sosiale stelsel te beskryf. Hulle gebruik “sosiale geregtigheid” om ʼn wetlik regulerende orde te beskryf, gevolglik is die fokus nie deugsaamheid nie maar die vergryping van mag.

Die term “sosiale geregtigheid” se eerste gebruik was in 1840 deur ʼn Sisiliaanse priester genaamd Luigi Taparelli d’ Azegilio, en het prominensie gekry deur die gebruik deur Antonio Rosmini–Serbati in La Costitutione Civile Secondo la Giustizia Sociale in 1848. John Stuart Mill het later met hierdie antropomorfiese benadering tot sosiale vraagstukke bykans super status verwerf onder moderne denkers in Utilitarianisme:

Society should treat all equally well who have deserved equally well of it, that is, who have deserved equally well absolutely. This is the highest abstract standard of social and distributive justice; towards which all institutions, and the efforts of all virtuous citizens, should be made in the utmost degree to converge.

Mill verbeel ʼn samelewing wat kan deugsaam wees op dieselfde manier as wat ʼn persoon kan wees. In hoogs verpersoonlike samelewings van die antieke soort mag dit dalk moontlik en selfs gewens wees waar een persoon al die kritiese sosiale besluite neem – soos onder konings; tiranne en stamhoofde. Eienaardig genoeg het die aandrang op “sosiale geregtigheid” nie te voorskyn gekom tot en met die moderne era nie, waar meer komplekse samelewings bestaan onder onpersoonlike reëls wat met “dwang en gelykheid” op almal afgedwing word onder wat bekend staan as die “rule of law”.

Die geboorte van die konsep sosiale geregtigheid was samehangend tot twee ander verskuiwings in die menslike bewussyn; Nietzsche se “die dood van God” en die opkoms van die ideaal van ʼn beheerde ekonomie. Mense het hul vertroue verskuif met die spreekwoordelike “dood van God” na ʼn trots in menslike wetenskaplike rede en die oorambisieuse poging om te doen “wat God nie kon nie” – om ʼn eties regverdige sosiale orde daar te stel. Die verheerliking van hierdie wetenskaplike rede het sy grootste deurslag gevind in die sentraal gekommandeerde ekonomie, in ʼn wetenskaplike sosialisme waar die wetenskap in beheer is en mense kollektivisties sou volg (of so het hulle altans gedink). In praktyk was slegs die wreedaard en die magsugtige aangetrokke tot daardie mag en sou hulle dan ook in praktyk heers.

Vanuit bostaande denke volg dit dat “sosiale geregtigheid” sy natuurlike einde sou vind in ʼn sentraal beplande ekonomie waar individue deur “ingeligte planne” voorgeskryf sou word presies wat en hoe om te produseer, sodat dit altyd moontlik sou wees om die wat verantwoordelik is vir foute te identifiseer en hulle verantwoordelik te hou daarvoor. Hierdie denke voorveronderstel dat mense gelei word deur spesifieke eksterne rigtinggewers eerder as interne persoonlike reëls van gedrag. Verder impliseer dit dat geen individu verantwoordelik gehou kan word vir sy relatiewe sosiale posisie nie, want om hom verantwoordelik te hou, is om die “slagoffer te blameer”. Dit is die funksie van “sosiale geregtigheid” om iemand anders te blameer, hetsy “die stelsel”, “kapitaliste” of een of ander groep wat misterieus als beheer. Leszek Kolakowski, verduidelik (in sy drie volume geskiedenis van Marxistiese denke) dat die fundamentele paradigma van die kommunistiese ideologie gewaarborg is om wye aanklank te vind:

You suffer; your suffering is caused by powerful others; these oppressors must be destroyed.

Hayek maak die opmerking dat ons as mense voel dat ons iemand verantwoordelik moet hou, selfs al weet ons dat so ʼn betoog eintlik absurd is. Hayek gee toe dat ons nie verkeerd is om waar te neem dat die effek van individuele keuses en oop prosesse in ʼn vrye samelewing nie verdeel is volgens enige herkenbare beginsel van geregtigheid nie. Die talentvolle bevind hom in tragiese omstandighede, die boosdoener kom soms bo uit en goeie planne werk soms net nie uit nie en die wat daarin belê het verloor soms selfs die hemde wat hulle aan gehad het. ʼn Stelsel wat waarde heg aan toets-en-tref(trial & error) en vrye keuses is in geen posisie om uitkomste vooraf te waarborg nie. Daarbenewens kan geen individu (en sekerlik geen staatsdepartement, komitee, regering of politieke party) reëls skep wat elkeen behandel volgens sy meriete of selfs sy behoeftes nie. Niemand het perfekte kennis van alle relevante persoonlike besonderhede nie, en soos die filosoof Kant skryf “no general rule has a grip fine enough to grasp them”.

Hayek het ʼn skerp onderskeid getref tussen waar geregtigheid faal omrede reëls waarop ooreengekom is, verbreek is ( reëls wat verband hou met regverdigheid en ordentlikheid) en waar dit bestaan of tot stand kom uit die natuur, of waar niemand dit ontwerp het of kon voorsien nie. Die eerste soort het sy sterkste morele veroordeling op die hals gejaag. Niemand moet morele reëls breek nie want vryheid dwing ʼn hoë morele verpligting op ons af. Sover as wat die tweede soort voortspruit uit geen moedswillige of doelbewuste dade nie, het hy dit as ʼn morele saak beskou maar ʼn onafwendbare toedrag van sake in alle beskawings en deel van die natuur self. Wanneer hierdie ongelukkige toedrag van sake as “sosiale ongeregtigheid” bestempel word en dan gebruik word as aanval op ʼn vrye samelewing, met die doel om dit na ʼn meer sosialistiese ekonomie toe te beweeg het Hayek die term ten sterkste geopponeer. Die geskiedkundige rekords van die beheerde en begeleide ekonomieë onder naziïsme en kommunisme het sy afsku daarin geregverdig.

Hayek het ook ingesien dat die term “sosiale geregtigheid” teen die einde van die negentiende eeu, toe dit meer prominent geword het, gebruik was as ʼn beroep op die welaf burgers om hulp te verleen aan die nuwe armlastige massas wat met min of geen ekonomiese middele begin verstedelik het. Hierteen het hy geen beswaar gehad nie, waarteen hy beswaar aangeteken het, is onverskillige denke. Onverskillige denkers wat vergeet dat geregtigheid per definisie sosiaal is. Sulke onverskilligheid word gevaarlik as die term “sosiaal” nie meer die produk van deugsame optrede van vele individue aandui nie, maar eerder ʼn utopiese doel word wat deur alle instellings en mense deur die dwangmatige staat daargestel moet word. In so ʼn geval verwys die “sosiaal” in “sosiale geregtigheid” nie na iets wat organies en spontaan uit vrye individue onder regverdige reëls uit spruit nie, maar ʼn abstrakte ideaal wat van bo af afgedwing moet word.

Dit mag vreemd voorkom, gegewe Hayek se sterk argument teen die term, dat ek dan daarop aanspraak maak dat hy sosiale geregtigheid beoefen het, selfs al voeg mens noodgedwonge by: “Sosiale geregtigheid korrek verstaan”. Nogtans het Hayek in sy loopbaan as ekonoom en denker duidelik sy lewe beskou as ʼn diens aan sy medemens. Om ander te help om die intellektuele sleutels tot ʼn vry en kreatiewe samelewing te vind, is om hulle ʼn groot geskenk te gee. Hayek se intellektuele werk was nie slegs ʼn saak van beperkte selfbelang nie, maar gemik op – verbeterde kennis van die menslike samelewing . Sy werke was dus ʼn werk van geregtigheid in die sosiale demensie – met ander woorde ʼn produk van deugsaamheid. Om te verstaan wat Hayek gedoen het moet ons dus ʼn konsep van sosiale geregtigheid hê, wat Hayek dalk nooit oorweeg het nie.

“Sosiale geregtigheid korrek verstaan” is die spesifieke gesteldheid en gebruike van geregtigheid wat “sosiaal” is op twee maniere. Eerstens die vaardighede wat benodig word om te inspireer, organiseer en saam met ander te werk om ʼn werk van geregtigheid te laat geskied. Hierdie is die elementêre vaardighede van die burgerlike samelewing om vir hulself (dit is, sonder om na die regering te draai vir hulp) te doen wat nodig is om geregtigheid te laat geskied. Mense wat aan gemeenskapsprojekte deelneem verduidelik hul pogings as “om terug te gee aan die gemeenskap” vir al die voordele wat hulle daaruit geput het. Die feit dat hierdie aktiwiteite uitgeoefen word saam met ander is een rede om dit as ʼn tipe geregtigheid te beskryf; dit benodig ʼn wyer veld van vaardighede as dade van individuele geregtigheid.

Die tweede karaktereienskap van “sosiale geregtigheid korrek verstaan” is dat dit ʼn gesonde gemeenskap en nie ʼn enkele instelling verteenwoordig nie. Burgers kan vrywillig saamspan om ʼn skool of brug te bou; hulle kan ʼn koekverkoping reël ten bate van enige behoeftige groep wat dit nodig het; hulle kan vrywillig help om besoedelde gebiede skoon te maak of skoon te hou en miljoene ander doelwitte wat hul verbeelding toelaat. Gevolglik is die manier van die gebruik van “sosiale geregtigheid” dus sosiaal omrede die primêre doelwit die welsyn van ander is.

Een gunstige karaktereienskap van die definisie van “die deug van sosiale geregtigheid” is dat dit ideologies neutraal is. Dit moet dus toeganklik vir gebruik wees by mense van beide die politieke regse en linkse spektrum. Die aktiwiteitsvelde mag literêr, wetenskaplik, religieus, ekonomies, polities, kultureel ensovoorts wees, oor die hele spektrum van vrywillige menslike sosiale aktiwiteite. Die deug van sosiale geregtigheid laat welwillende mense toe om tot (selfs opponerende) praktiese gevolgtrekkings te kom oor die materiële konteks van “publieke belang”. Sulke verskille is die basis van politiek. Bygesê is daar baie voorstanders van “sosiale geregtigheid” vir wie politiek die eerste en enigste voertuig van optrede is, mense wat hierdie oortuiging deel moet daarop bedag gemaak word dat vrywillige welsyn die enigste ware voertuig van sosiale geregtigheid moet wees, daar kan na geen stelsel of menslike eienskap verwys word as “geregtig” of “deug” as dit met die dreigement van geweld (belasting) op ander afgedwing word nie.

Ons moet die gebruik van die woord “sosiale geregtigheid” wat nie die optrede van deugsame individue aan die term heg nie, verwerp. Sosiale geregtigheid is ʼn deugsame karaktereienskap van individue, indien dit nie is nie, is dit ʼn ideologiese bedrogspul. Dan moet daar ook bygevoeg word, dat as Tocqueville korrek was, dan is vrye assosiasie die eerste wet van demokrasie (en enige wetgewing wat die individu se keuses hiervan beperk, is lynreg in stryd met hierdie beginsel), dan kan daar gesê word dat sosiale geregtigheid (as dit korrek verstaan word) die eerste deug van demokrasie is. Omrede dit die gewoonte is waarmee die beginsel van vrye assosiasie in daaglikse praktyk realiseer. Hayek het egter gewaarsku dat om dit te verwaarloos, morele gevolge het:

Dit is een van die grootste swakhede van ons tyd dat ons tekort skiet aan die geloof en die geduld om vrywillige organisasies op te bou vir die verbetering van ons samelewing (die idees wat almal hoog ag) en eerder van die regering verwag om met dwang enigiets wat begeerlik mag voorkom vir groot hoeveelhede politieke kiesers daar te stel. Niks kan uiteindelik ʼn meer vernietigende effek op werklike vrywillige burgerlike samewerking hê as wanneer die staat, in stede daarvan om die minimale raamwerk vir spontane groei te wees, eerder monolities probeer om alles aan almal te voorsien nie.

Sosiale misdaad

Miskien is bostaande foto wat in Pretoria geneem is die rede vir ons hoë misdaadsyfers – die polisie hang sosiaal rond by sosiale geleenthede opsoek na sosiale misdadigers.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Medies/Welsyn, Regte and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.