Soortgelyke Berekeninge in ʼn Gevorderde Ekonomie

Gevorderde Ekonomie

Sosiale samewerking en Hulpbron Allokasie

 Thomas C. Taylor

Soortgelyke Berekeninge in ʼn Gevorderde Ekonomie

Oor die eeue het ʼn alternatief tot ekonomiese selfversorging ontwikkel om die probleem van skaarsheid aan te spreek. Hierdie alternatief is eenvoudig bekend as: samelewing. So te sê alle mense verkies ʼn vorm van samelewing bo geïsoleerde ekonomiese selfversorging. Die enorme toenames in produktiwiteit wat spruit uit spesialisasie en die verdeling van arbeid het geleidelik die proses van voorsienning deur selfversorging ondermyn. Tog, ten spyte van die vergelykende oorvloed van goedere en dienste wat spruit uit die proses van sosiale samewerking, staan die ekonomiese probleem rotsvas: Behoeftes oorskry die middele of hulpbronne ter verkryging van goedere en dienste. Die volhoubare probleem van skaarsheid beteken dat selfs in ʼn moderne, hoogs ontwikkelde en produktiewe samelewing, besluite gemaak moet word aangaande die rigting van aanwending van skaars hulpbronne ter bevrediging van die mees dringende behoeftes van die lede van daardie samelewing.

Hierdie besluite is moeiliker in ʼn gevorderde samelewing as in ʼn primitiewe toestand van ekonomiese selfversorging. Die hulpbronne kan nie net vinnig en fisies geskrutineer word vir alle moontlike gebruike nie. Die groot verhogings in produktiwiteit as gevolg van spesialisasie en die verdeling van arbeid, vergroot die buigsaamheid van opsies waartoe hulpbronne benut kan word. Die “vrugte” van sosiale samewerking laat die toewyding van die oorgrote meerderheid van die oorspronklike hulpbronne, grond en arbeid oor aan die produksie van kapitale sowel as intermediêre goedere, wat sal lei tot die opkoms van uitgebreide verbruikersgoedere en -dienste wanneer dit gekombineer word met addisionele inkremente van arbeid en hulpbronne. Hierin lê ʼn kritiese onderskeid tussen ekonomiese selfversorging en sosiale samewerking: Die kompleksiteit en veelvoud van ingewikkelde ondeliggende aksies in hulpbronaanwending in ʼn moderne ekonomie verg veel meer besluite en meer komplekse besluite as wat Robinson Crusoe op sy eiland te doen gestaan het.

Die toename in kompleksiteit van ekonomiese besluite is ook toe te skryf aan die onsettende verskeidenheid verbruikersgoedere en -dienste wat ʼn hoëvlak ekonomie in staat is om te genereer. Keuses moet gemaak word oor watter produkte geproduseer moet word en in watter hoeveelheid sowel as kwaliteit, hoe groter die hoeveelheid alternatiewe, hoe moeiliker raak die besluite wat geneem moet word. Besluite aangaande doelwitte is egter nie die enigste kritiese besluite wat gemaak moet word nie. Nes Robinson Crusoe, moet mense in die samelewing besluite maak wat hulpbronne in verhouding bring met enddoelwitte waarop besluit is. Hoe gaan die hulpbronne gebruik word? Wat hierdie vraag so moeilik maak om te beantwoord is dat ekonomiese hulpbronne in ʼn gevorderde ekonomie so veelsydig en divers is. Hul veelsydigheid kan gekoppel word na die wye reeks gebruike waarvoor hierdie hulpbronne aangepas kan word danksy die vooruitgang in tegnologie en produktiewe spesialisasie. Tegnologiese vooruitgang en spesialisasie is op hul beurt die resultaat van die verdeling van arbeid. Hierdie talle aanpassings behels die omskakeling van die oorspronklike produksiefaktore na ʼn diverse hoeveelheid van geproduseerde hulpbronne en daardeur word ontelbare tipes spesifieke hulpbronne geskep.

Dit is duidelik dat met so ʼn oneindige verskeidenheid stappe wat geneem kan word in die rigting van die finaal geproduseerde produkte en dienste, die mees ekonomiese of voordeligste keuses nie gemaak kan word met ʼn eenvoudige oorsig soos wat die geval is met “soortgelyke berekeninge” nie. Die oorvloed hulpbron soorte maak dit onmoontlik om die oorspronklike produksiefaktore rasioneel te allokeer en toe te ken om optimaal verfynde produksiemiddele te bewerkstellig sonder ʼn grondslag waarop die alternatiewe resultate vergelyk kan word.

Yster kan byvoorbeeld gebruik word in die vervaardiging van treine, trekkers en heinings tot vensterrame, mynmasjinerie en derduisende ander aanwendings. Die probleem word veelvoudig moeiliker as in gedagte gehou word dat baie aanwendings substitute het. Koper, tin en aluminium kan in verskillende komponent onderdele, in verskillende grade, yster vervang. Die probleem verbreed nog verder soos die volle reeks van hul aanwendings en substitute ook oorweeg word. Besluite om hulpbron allokasie en verbruik sou ʼn saak van totale verwarring gewees het as slegs soortgelyke berekeninge in gebruik was.

Soos die beperkings van selfversorging gelig word en soos produksie vir ruildoeleindes algaande gevorderd raak, so kom die behoefte vir meer presiese berekeninge en hierdie probleem word dan tegemoetgekom deur die einste faktor wat wydverspreide ruil toelaat: Geld, die ekonomie se ruilmiddel. Monetêre berekeninge voorsien ʼn onontbeerlike middel waardeur ʼn moderne ekonomie die ontelbare fisiese hulpbronne en hul moontlike uitsette kan omskakel na ʼn verstaanbare algemene deler. Dit is hierdie monetêre algemene deler wat die grondslag verskaf vir inset/uitset analise, ʼn kapitaal/Inkomste berekening wat krities is vir die allokasie van skaars hulpbronne. Die berekening is noodsaaklik omrede die skaarste van middele die noukeurige vergelyking tussen kostes en voordele, of in-en uitvloei in die produksieproses, vereis.

Dit word algemeen aanvaar dat soortgelyke berekeninge te beperkend is as grondslag vir hulpbron allokasie in ʼn moderne ekonomie. ʼn Baie kort beskrywing van hoe die sosialiste die probleem van soortgelyke berekeninge probeer oplos het, help ons om die noodsaaklikheid van geld as ʼn gemene deler vir die doel van hulpbron allokasie te verstaan.

In 1920 het Ludwig von Mises die teorie van sosialisme uitgedaag toe hy aangevoer het dat sosialisme onwerkbaar is in ʼn gevorderde ekonomie as gevolg van die onwerkbaarheid van soortgelyke berekeninge.[1] Hy het die sosialistiese teoretici daarvan beskuldig dat hulle die kritiese taak van hulpbron allokasie in ʼn moderne ekonomie uit die pad uit geïgnoreer het. Hulle het dit geïgnoreer in hul ekstatiese geloof dat sosialisme onafwendbaar was en dus ook werkbaar. Nie een voorstander van sosialisme het ooit die moeite gedoen om teoreties te verduidelik hoe hierdie probleem van rasionele besluitneming aangaande skaars hulpbronne opgelos sou word in sosialisme nie. Die Russiese Rewolusie het reeds in 1917 uitgebreek, maar met die opstande en interne burgeroorloë is die Unie van Sowjet Sosialistiese Republieke (USSR) eers in 1922 uitgeroep. Al hul voorafgaande konferensies en teorieë het die organisatoriese aspek van sosialisme probeer uitstryk sonder om ooit daaraan te dink dat hulpbron allokasie onmoontlik is in die afwesigheid van pryse. Nou was hulle geforseer om op die teoretiese probleem van berekeninge te antwoord, aangesien geloof in sogenaamde onafwendbare geskiedenis-wette, geen plek het in ware wetenskaplike gesprekke en navorsing nie.

Leidende sosialistiese teoretici van die tyd het gevolglik saamgestem dat hul teorieë om hierdie punt ʼn antwoord moes verskaf. Hulle het begin om te verduidelik hoe hulle glo die proses van allokasie deur ʼn sentrale staat behartig kan word, in die afwesigheid van bestaande kompeterende markpryse. Waarop hierdie verduidelikings neergekom het, was die erkenning dat staatsamptenare ʼn metode sou benodig om die effek van alternatiewe ekonomiese aksies te bereken.[2] Hulle het saamgestem dat Mises korrek was dat hulle nie daarin geslaag het om die aspek in al hul vorige werke aan te spreek nie. Hulle was nou oortuig dat soortgelyke berekeninge nie voldoende sal wees vir ʼn moderne ekonomie nie. Hul antwoorde was hoofsaaklik dat die sentralestaat “pryse” kon toewys aan produkte deur ʼn toets-en-tref grondslag wat deur oor- en onderproduksie van goedere begelei sou word tot ʼn antwoord. Dat die “pryse” dan verder uitgedruk kan word in geldterme wat dan sou dien as bakens in die taak van hulpbron allokasie. Hul idee was dat tekorte dan opwaartse aanpassings sou veroorsaak en oorskotte weer die teenoorgestelde totdat ewewig bereik sou word. Ook dat hulpbronne in sosialisme rasioneel aangewend kan word, deur monetêre gidse wat deur die prys- en beplanningsoutoriteite uitgeryk sou word.

Oostenrykse teorie is nogtans onwrikbaar in die betoog dat ekonomiese berekeninge in ʼn suiwer sosialistiese samelewing onmoontlik is. Sonder ware markpryse word edikte deur die sentrale staat patetiese pogings om markkragte te probeer naboots. [3]

  • [1] Ludwig von Mises, Economic Calculation in the Socialist Commonwealth,” geherpubliseer in Engels as Collectivist Economic Planning, ed. F. A. Hayek (London: G. Routledge & Sons, Ltd., 1935), pp. 87-130.
  • [2] Fred M. Taylor, “The Guidance of Production in a Socialist State,” American Economic Review, no. 1 (March 1929): 1-8; ook Oskar Lange, “On the Economic Theory of Socialism,” Review of Economic Studies, IV, nos. 1 and 2 (Oktober 1936): 53-71 en (Februarie 1937): 123-42.
  • [3] Sien Ludwig von Mises, Human Action: A Treatise on Economics (Chicago: Henry Regnery Company, 1966), pp. 698-715. Die feit dat sosialistiese samelewings vandag gebruik maak van pryse wat vanaf vryemark samelewings gekopieer word moet nie misgekyk word nie. Sosialistiese besluite aangaande hulpbron allokasies kan nie in ʼn suiwer geïsoleerde sosialistiese omgewing tot stand kom nie.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.