Drie Sienings van Sosiale Geregtigheid

sosiale geregtigheid4

Dr Walter Block

Op baie universiteitskampusse is daar druk om Sosiale Geregtigheid te bevorder. Daar is drie maniere om “Sosiale Geregtigheid” te definieer.

Eerstens kan die konsep substantief gedefinieer word. Hierdie bedoelling word gewoonlik geassosieer met die sosialiste se analise en voorgestelde politieke oplossings. Om ʼn paar losstaande voorbeelde te noem:

Armoede is die gevolg van ongetemde kapitalisme, en die antwoord daarop is om die mark te reguleer of die impak daarvan te beperk. Rassisme en seksisme is die oorsaak van die relatiewe minder gegoede toestande onder sekere groepe, en die antwoord daarop is om wette daar te stel wat dit verban. Allerlei sosiale probleme verg meer regeringsingryping en steun op die regering as oplossing. Die planeet is in groot ekologiese gevaar as gevolg van die ongeregtige instemming en steun op privaat eiendomsregte. Belasting is te laag en moet verhoog word. Welsyn is ʼn belediging vir arm mense, wat meer moet bekom as ʼn reg. Diversiteit is die kenmerk van ʼn regverdige samelewing. Diskriminasie is die grootste probleem in ons samelewing en die regering moet meer doen om dit te verban. Terminologie wat seksisties of rassisties geïnterpreteer kan word moet as haatspraak verklaar word.

Tweedens kan Sosiale Geregtigheid gesien word, nie as ʼn spesifieke opinie op hierdie temas nie, maar eerder ʼn belangstelling in die studie daarvan met geen vooropgestelde idees nie. Vanuit die perspektief kan geen standpunt dan ingeneem word oor armoede, kapitalisme, sosialisme, diskriminasie, regerings regulasies op die ekonomie of belasting, welsyn en diversiteit, ens. nie. Die enigste aanspraak wat dan gemaak kan word, is dat hierdie temas belangrik is vir die wetenskappe en enige hoëronderwys instelling wat dit ignoreer doen dit tot hul eie nadeel.

Om dan duidelikheid te kry oor die onderskeid sal ʼn voorstander van Sosiale Geregtigheid, wat die eerste konsep aanhang, glo dat vryehandel per definiesie onbetaamlik is, terwyl die voorstander van die tweede konsep slegs glo dat studies om hierdie temas belangrik is.

Moet Sosiale Geregtigheid aangebied of bevorder word in die skoolklaskamer, tegnikon of universiteit? Dit sal in die eerste bedoeling van “sosiale geregtigheid” totaal oneties wees en in die tweede bedoeling totaal onnodig wees. Laat ons dan elk van die twee oorweeg.

Moet ʼn hoëronderwys instelling daarop aandring dat sy fakulteite Sosiale Geregtigheid ondersteun in die substantiewe “Sosialistiese” siening van die woord? Dan sou hulle gewis alle akademiese geloofwaardigheid verloor. Dit sou daarop neerkom dat hulle professors dwing om sosialisme te verkondig en kan nie met akademiese vryheid as idee versoen word nie. Ware kennis vereis ʼn oop gemoed en gevolgtrekkings gebaseer op navorsing, empiriese bewyse en logika, nie vooropgestelde idees nie.

Dit sal byvoorbeeld in die studie van Ekonomie daarop neerkom dat navorsing moet bewys dat minimale loonwette die beste hoop vir ongeskoolde arbeid is en om dit met wetgewing te verhoog is regverdig en gewens; dat vryehandel uitbuitend is en beperk moet word deur belastings, ongeag wat die werklike bewyse oplewer. Dit is ook al opgemerk dat die wat diversiteit se lof die meeste besing soms die minste geduld en toleransie het vir ander mense se diverse idees en gevolgtrekkings wat verskil met hulle sin.

Wat dan van die bevordering van sosiale geregtigheid in die tweede bedoelling; om navorsers aan te spoor om hierdie temas te bestudeer sonder om gevolgtrekkings af te dwing?

In hierdie opsig sou so ʼn poging of onnodig of misleidend wees.

Dit sou misleidend wees in dissiplines soos wiskunde, fisika, chemie, musiek en rekeningkunde, ens, aangesien hierdie dissiplines tipes nie probleme wat verband hou met sosiale geregtigheid aanraak nie. Daar is geen “geregtige” of “ongeregtige” manier om met “T” rekenings of kwadratiese vergelykings of ʼn ekonometriese regressie model te werk te gaan nie. Daar is net korrek en inkorrekte metodes. Om te vra (wat nog van aandring) dat hierdie professies hulself belas met kwessies aangaande rassisme, inkomste gapings of lugbesoedeling is om hulle ver van hul kennisgebied te verwyder. Dit sou net so belaglik wees as om ʼn filosoof te vra om musiek aan te bied en vice versa.

In die geesteswetenskappe en sosialewetenskappe is dit eweneens onnodig, want as lede van hierdie dissiplines nie reeds verwante studies doen wat verband hou met van hierdie temas nie is hulle nalatig in hul pligte. Vir ʼn tersiêre inrigting om slegs sekere nou geselekteerde onderwerpe voor te skryf ten koste van vrydenke en ope navorsing is eweneens gevaarlik. Indien geskiedkundiges, sosioloë, antropoloë, ekonome en filosowe onderwerpe ignoreer soos armoede, werkloosheid, oorlog en ekologie, dan gaan geen vermanings en dissiplinêre verhore, ordentlike wetenskaplikes van hulle maak nie.

Tegnikons en universiteite behoort hulself daarvan te weerhou om hulself te etiketteer deur ideologies gelaaide woorde te probeer bevorder sonder dat behoorlike definisies daaraan gegee word. Dit sou net so inkorrek wees om slegs idees wat verband hou met eiendomsreg en beperkte regering in die teenoorgestelde rigting te bevorder sonder dat enige daarvan ooit empiries getoets word.

Twee ander siening oor Sosiale Geregtigheid kan gerus deur die leser geraadpleeg word buiten my eie: Walter Williams wat gevoel het dat sosiale geregtigheid die beginsel van selfeienaarskap ondermyn dit aan slawerny gelykgestel het:

 

En Michael Novak wat die konsep deurdag aangespreek en aanvaar het solank enige vorm van dwang verwerp word, maar dan praat ons in elk geval van vrywillige welsyn.

Unisa-Sosiale geregtigheidDaar is ʼn derde manier hoe sosiale geregtigheid gedefinieer kan word: om ten gunste van geregtigheid te wees in “sosiale” sfeer eerder as private geregtigheid. Hier sal almal ten gunste wees van hierdie waarde, maar daar skuil egter steeds ʼn probleem daarin. Aangesien dit vir mense wat privaateienaarskap en natuurlike regte as onvervreembare konsepte beskou een betekenis gaan inhou en vir mense wat ʼn meer egalitariese wêreldbeskouing het, iets heeltemal anders. Dit bly daarom problematies as tersiêre instellings, sonder om enige navorsing daaroor te doen, net eensydig besluit om ʼn ongedefinieerde woord as ʼn “waarde” te aanvaar en dit in naïewe blindheid wil bevorder.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Medies/Welsyn, Regte and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.