Die Probleem van Kennis en Koördinasie

kennis

Sosiale samewerking en Hulpbron Allokasie

Thomas C. Taylor

Die Probleem van Kennis en Koördinasie

Die oortreffende verskil tussen produksie vir selfversorging en produksie op die grondslag van sosiale samewerking is dat onder die laasgenoemde mense in staat is om oorweldigend meer voordele daaruit te put met spesialisasie en die verdeling van arbeid. Addisioneel hiertoe, terwyl ʼn selfversorgende produsent alleenlik goedere produseer vir sy eie bevrediging bring sosiale samewerking ʼn reeks vrywillige ooreenkomste mee wat produsente aanmoedig om vir die bevrediging van ander mense te produseer. Bykans alle mense in ʼn moderne ekonomie wy hul vaardighede en energie aan hoogs gespesialiseerde aktiwiteite wat produkte en dienste voorsien aan mense buiten hulself. Dit sou ʼn jammerlike toestand wees as almal ewe skielik slegs vir hulself moes produseer.

Steun op die elemente van spesialisasie en die verdeling van arbeid, bemoeilik die probleem van doeltreffende hulpbron allokasie omrede dit tot ʼn mate die vereniging of koördinasie van verskillende planne en pogings van verskeie aksienemers, noodsaak. Wat dan onderliggend is tot die probleem van die verdeling van arbeid, is wat Hayek noem “die verdeling van kennis”, wat beskryf kan word as “die ware sentrale probleem van ekonomie as ʼn sosiale wetenskap.” Hayek verduidelik die probleem as volg:

Hoe kan die kombinasie van fragmente van kennis wat bestaan in die verstand van verskillende mense die resultate te weeg bring wat, as dit doelbewus beplan moes wees, kennis van die rigtinggewende verstand vereis waaroor geen enkele persoon moontlik kan beskik nie? Dit wil vir my voorkom asof die spontane aksies van individue, onder omstandighede wat ons kan bepaal, die verspreiding van hulpbronne te weeg bring, wat verstaan kan word asof dit uit ʼn enkele plan uit voortspruit, alhoewel niemand dit beplan het nie, as antwoord tot die probleem wat soms metafories beskryf word as die van die “sosiale verstand”[4]

Die erns van die probleem van kennis moet nie onderskat word nie. ʼn Stelsel waar arbeid verdeel is, het duidelik die potensiaal vir chaos en verwarring. Om te werk moet daar ʼn middel wees wat individuele besluite en aksies regdeur die ekonomie sinkroniseer. As die meerderheid verbruikers byvoorbeeld meer hout soek vir die produksie van behuising as vir die produksie van papier produkte, dan moet daar ʼn sein wees wat doeltreffend gekommunikeer word om die verskuiwing in hulpbron allokasie te weeg te bring. Anders gaan ʼn skaars hulpbron oneffektief aangewend word, of dan ter bevrediging van minder dringende behoeftes.

Tog ignoreer die sogenaamde perfekte kompetisie model, met sy aannames van volmaakte kennis, geheel en al die taak van sinkronisasie van besluitneming. Die model neem aan dat kennis aangaande voorkeure, tegnologie ens ʼn gegewe is, en alle individuele planne word verbeel as so konsekwent met mekaar soos ogiesdraad. Kennis word uitgebeeld as data, dieselfde as wat feite in die fisiese wetenskappe gebruik sou word, maar die sienning misken die natuur van kennis in die sosiale wetenskappe. Die kennis wat onderliggend is tot menslike besluite en aksies is uiters onvolmaak, juis omdat ʼn insiggewende deel van die “kennis” wat elke individu oor beskik, bestaan uit veronderstellings oor die toekomstige besluite en aksies van ander mense. Hierdie veronderstellings is subjektiewe persepsies wat ontneem is van enige sekerheid, en sekerheid is tog kenmerkend van die feite wat gebruik word in die fisiese wetenskappe.

Aangesien ʼn persoon sy besluite en aksies sal aanpas soos hy addisionele ondervinding opdoen vanaf beide eksterne objektiewe feite en ander mense se besluite en aksies, is die persepsie dat alle afsonderlike planne en aksies by mekaar inkoppel om ʼn statiese langdurige ewewig tot gevolg te hê, totaal onrealisties. Deur perfekte kennis as aanname te aanvaar, misluk die model daarin om te fokus op die probleem van die “verdeling van kennis”. Die model is dalk ʼn bruikbare analitiese konstruksie om teoretici te help om die logiese gevolge van ʼn atomistiese ekonomiese proses waarin onvoorsiene veranderinge verdwyn het te verstaan. Dit is egter ʼn konstruksie wat met omsigtigheid gebruik moet word sodat die element van onsekerheid nie foutief uit die studie van die werklike wêreld weggelaat word nie.

Die taak van rasionele allokasie is dus nie so ʼn eenvoudige saak van bloot benutting “gegewe perfekte kennis” in die proses van ekonomiese besluitneming en aksies nie. Die kennis wat bestaan is “gegewe” slegs in ontelbare verbrokkelde stukkies, nie in die verstand van een persoon nie. Elke individu het unieke inligting aangaande sy besonderse omstandighede van tyd en plek, en ander trek voordeel uit die aksies wat geneem word deur elke ander individu omrede hy besonders goed ingelig is oor sy persoonlike beperkende situasie. Omrede sy besonderse inligting slegs van toepassing is op sy beperkende situasie, kan hy egter sy kennis gebruik op maniere wat selfs teenstrydig is met die planne van ander individue. Sosiale samewerking vereis dus ʼn metode waarmee daardie gedeelte van elke persoon se besondere kennis wat relevant tot die beplanning van ander, so wyd as moontlik versprei word. Die metode moet verder aanlopend kennis versprei in die aangesig van meedoënlose veranderinge. Soos Hayek verduidelik,”…ekonomiese probleme kom altyd slegs tot stand in die nagevolge van verandering. So lank as wat dinge voortgaan soos voorheen of ten minste soos wat die verwagting was, is daar geen ekonomiese probleem wat ʼn besluit of nuwe plan verg nie.” [5]

Die koördinasie probleem is onafwendbaar verbind met die feit dat alle data wat relevant is tot ekonomiese aksies nooit ʼn gegewe is, soos konvensionele prys-teorie modelle wat tydrowend sloer om toestande van mark-ewewig, ons sou wou laat glo nie. Markkragte, as die versamelde besluite van markdeelnemers – die verbruiker, entrepreneur-produsente en hulpbron eienaars – verander toestande in die mark onophoudelik. Wat ondersoek moet word, is nie statiese toestande van ewewig nie, maar die dinamiese natuur van die markproses wat onophoudelik na mark-ewewig toe streef. Besluite word gemaak sonder perfekte kennis, wat beteken dat die onderliggende data ontwykend en vaag is, eerder as gegewe, en beskikbaar slegs deur ontdekking en waarneming. Die markproses is in wese ʼn voortdurende proses van kreatiewe vernietiging, ʼn toets-en-tref meganisme soos die deelnemers hul planne en aksies verander ingevolge hul persepsies en waarnemings.

Die dryfkrag in die markproses is die produserende-entrepreneur wat winsgewende geleenthede sien in potensiële verbeterings van sy mark aktiwiteite. Die markproses is ʼn voortdurende een as gevolg van die meedoënlose soeke na wins en die gevolglike alterasie in die mark, wat deur kompeterende produsent-entrepreneurs veroorsaak word. Terwyl ander mark deelnemers min of meer passief, onbewus of dalk selfs ongeïnteresseerd is in geleenthede wat met wins verband hou, is die entrepreneur-produsent besig om potensiaal uit te soek en winsgeleenthede uit te buit. Die data wat hulle bespeur en dan op reageer kan ook foutief wees, en die realisasie van foute manifesteer in monetêre verliese wat verdere alterasies in die mark veroorsaak. Wanneer die toestand van onperfekte kennis ingereken word verander die normale uitbeelding van die mark drasties. Die rol van entrepreneuriese winste en verliese sal later in meer detail behandel word.[6] 

  • [4] F. A. Hayek, “Economics and Knowledge,” Individualism and Economic Order (Chicago: University of Chicago Press, 1948), p. 54.
  • [5] Hayek, “The Use of Knowledge in Society,” p. 82.
  • [6] 6. Vir ʼn dieper analise van die markproses, die logiese afleidings daarvan en kompeterende entrepreneuriese aktiwiteite, lees Israel M. Kirzner, Competition and Entrepreneurship (Chicago: University of Chicago Press, 1973).

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.