Sosiale Geregtigheid en die Welsynstaat

Sosiale geregtigheid

Op hierdie blog het ons nou na ʼn paar interpretasies van sosiale geregtigheid gekyk. In die slot van hierdie reeks wil ek terugkeer na die ekonomiese argument en die fokus verskuif na vrywillige welsyn en staatsinmenging, miskien juis omrede baie mense voel dat die aangryp van die term sosiale geregtigheid net gebruik word as ʼn verskoning om die ekonomiese argumente te omseil.

Krotbuurt in Indië

Krotbuurt in Indië

Geen persoon, afgesien van sy sienings oor sosiale aangeleenthede, welsyn, of sy ideologiese en politieke perspektief, wil ʼn wêreld sien waar ʼn klein groepie rykes in weelde leef en die res wegsink in armoede nie. Dit is slegs oor die oorsake en oplossings wat daar verskil word.

Krotbuurte is volop in Brasilië bekend as ʼn “Favela”

Krotbuurte is volop in Brasilië bekend as ʼn “Favela”

Hoe moet hierdie probleme dan aangespreek word? Om mee te begin is die belangrikste om die natuur van die probleem te verstaan. Daar is en was nog nooit ʼn samelewing waarin daar geen armoede bestaan het nie. Indien die oplossing meer vrywillige welsyn behels en heel moontlik ʼn kultuur van mededeelsaamheid, barmhartigheid, welsyn en medemenslikheid, ens –  laat daar ʼn honderdduisend gemeenskapsprojekte opgaan vir elke een wat tans bestaan.

Suid-Afrika Sandton en Alexandria

Suid-Afrika Sandton en Alexandria

Wanneer mense egter die mag van die staat wil gebruik om met dwang veranderinge op die samelewing af te dwing dan moet ons verseker weet wat die oorsake en die oplossing is, anders kan die probleem heel moontlik vererger word. Die blaam word gewoonlik op “kapitalisme” geplaas, maar in geen land is ʼn suiwer vryemarkstelsel al ooit probeer nie, wat mense met kapitalisme bedoel is die gemengde ekonomiese stelsels wat in wisselende vorme bestaan. As die inkomste gapings vanself oor tyd krimp is daar uiteraard nie ʼn probleem nie, maar selfs al groei dit moet die vraag gevra word op watter stadium was die mense wat ons as minder gegoed of armlastig beskryf, dan beter af? Was hulle beter daaraan toe in 1990; 1970; 1950; 1930 of 1910.. ens.? As alle bestaande ekonomiese bedelings ʼn mengsel van vryemark en staat is, dan raak dit van kardinale belang om die rol van die vryemark en die staat te verstaan voordat daar vir meer staatsingryping gevra word.

1) Debat tussen Dr Walter Block en Dr James Rice

Die debat getiteld: Rights and Income Security, is interessant vir verskeie redes al het dit reeds in 1989 plaasgevind. Van die onderwerpe sluit in Regte, Apartheid Suid-Afrika, die doeltreffendheid van welsyn, sowel as die sosiale beleid van Otto von Bismarck wat ter sprake kom, laasgenoemde word dan ook korrek die vader van die oorlog-en-welsyn staat genoem. Die debat fokus dalk op Kanadese sosiale probleme, maar die onderliggende argumente is dieselfde vir enige land.

2) Die rol van die staat en die mark in welsynsdienste

1) Die staat is nie daartoe in staat om welvaart te skep nie, maar kan dit slegs herverdeel. Die staat doen dit deur produktiwiteit te belas en hierdie belasting aan te wend in die minder produktiewe sektore van die samelewing. Die dienste wat die staat lewer is vrygestel van kompetisie en dus altyd swakker en duurder as dienste wat op die vryemark gelewer sou word.

2) Die staat kan ook nie werk skep nie. Juis omdat die staatskas uit belasting befonds word, beteken dit dat werksgeleenthede by die produktiewe sektore verlore raak. Ek sou dalk drie werknemers in diens kon neem, maar omdat ek 40% belasting moet betaal, kan ek net een bekostig. Die werksgeleenthede word gevolglik slegs van die privaat sektor na die staatsektor verskuif. Vir elke werksgeleentheid wat deur sosiale werkskepping geskep word, word meer as een uit die private sektor geëlimineer (meer as een, want die staatsamptenare betrokke by die program moet ook nog betaal word).

3) Belasting is opsigself oneties en immoreel. Selfs die mees filantropiese doelwit (soos om armes te help met mediese sorg) is nie genoeg om hierdie inherent immorele praktyk te regverdig nie. Niemand sal met my verskil as ek sou sê dit is immoreel om ʼn bende gewapende rowers te huur om die rykes in die dorp te beroof en so vir my werklose sieklike niggie se hospitaalkostes te betaal nie. Tog sukkel mense om dit in te sien dat dit net so oneties en immoreel is vir die armes om met hul getalle en die gebruik van opportunistiese en populistiese politici wetgewing daar te stel wat die produktiewe mense belas en met geweld dreig (tronkstraf, ens.) as hulle nie sou betaal nie, om dan so die armes se mediese sorg te betaal. Die feit dat sommige produktiewe mense hiertoe instem, beteken ook nie nou dat dit nou reg is om hierdie maatreël teen alle produktiewe mense in te stel nie. Netsoos Piet Poggenpoel nie kan toestem dat my bende ook vir Sannie Verwey kan beroof nie, netso kan hy ook nie toestem dat ek hom en haar belas nie. Dit is liefdadigheid om geld uit jou eie sak te haal en dit vir die armes te gee. Om geld uit iemand anders se sak te haal en dit vir die armes te gee is diefstal.

4) Die idee dat die vryemark verantwoordelik is vir enige sosiale ongelykhede is uiteindelik gebaseer op ʼn valse aanname omrede die vraag nooit gevra word in vergelyking waarmee nie? Daar is geen mensgemaakte stelsel waarin daar inkomstegelykheid bestaan nie.

5) Aangesien alle handeltransaksies gebaseer is op ʼn wen-wen grondslag kan die mark nie ongelykhede skep nie, en verreken die mark slegs dit wat reeds bestaan. Die vryemark is nie iets wat beheer word nie maar ontelbare vrywillige transaksies, en as dit nie wen-wen transaksies was nie, sou niemand handel gedryf het nie. Die aandag moet daarom eerder gevestig word op die staatssektor en die inherente onreëlmatighede in welvaartherverdeling wat die staat onderneem. In herverdelingskemas wat deur die staat behartig word is dit selde die armes wat die geld of voordele kry, maar eerder welgestelde staatsamptenare en hul vennote na wie die geld gekanaliseer word. 

6) Met privaat welsyn is die aansporing altyd om mense terug op hul voete te kry teen die laagste insetkoste moontlik en so die las te verlig, met die staat se betrokkenheid bly die aansporing, ongeag party of ideologie, altyd om herverkies te word. So is daar dan ook ʼn ingeboude aansporing vir die staat en politici om ʼn permanente afhanklike onderklas met goedkoop omkoopbeloftes te vertroetel.

7) Ekonomiese berekeninge is altyd beter as soortgelyke berekeninge. Dit is ʼn ekonomiese konsep wat in die geval van welsyn (ongeag hoe hoog of laag die welsyn is) daarop neerkom dat dit altyd meer voordelig is vir minder gegoede lede van die samelewing om die voordele in kontant eerder as in dienste te ontvang. Ook is die armes in werklikheid beter af met die geld as met die dienste wat die regering verskaf (dit is ook ontsettend paternalisties om aan te neem dat die regering van beter weet bloot omdat dit ʼn monopolie is)  – hierdie dienste is in elk geval ook nie verniet nie. Die enigste manier om te bepaal of die regeringsdienste hul sout werd is, is om te vra of die mense dieselfde dienste sou koop indien hulle die vryheid gegun is om die geld by ʼn diensteverskaffer van hul eie keuse te spandeer.

8) Die Salvation Army het byvoorbeeld bereken dat ongeveer 3% van hul invorderings aan administratiewe kostes bestee word en die oorblywinde 97% direk aan armes gaan. Dit is ook in lyn met meeste privaat welsynsorganisasies. Die staat is as instelling so ondoeltreffend dat dit onwaarskynlik is dat meer as 10% van invorderings behoeftiges ooit bereik.

9) Wanneer sosialiste argumenteer vir meer belasting probeer hulle baie keer om dit wat as luukshede voorkom eerste te belas, of argumenteer dat die gedeelte wat die staat vat op luukshede spandeer sou word. Die wet van dalende grensnut is toepaslik op geld, maar dit is nie net luukshede wat uit daardie geld gekoop sou word nie, dit is ook geld wat sou dien as beleggings waarmee groter ekonomiese groei moontlik sou wees en ook geld wat uit vrye wil vir liefdadigheid geskenk kon gewees het. Uiteraard is dit ook voor die hand liggend dat die produksie van luukse items self ook bydra tot die groei van die ekonomie en werkskepping.

10) Die proses van beskawing is die oorgang van soortgelyke berekening na ekonomiese berekening. Nie een van die mense op die foto’s se voorouers het ʼn honderd of tweehonderd jaar terug meer besit as hulle nie, en die mark kan dus nie verantwoordelik gehou word nie. Inkomste-gapings word eers sigbaar wanneer welvaart gevorm word. Niemand het al ooit die Voortrekkers as ʼn klomp agtergeblewe armlastiges beskryf nie. Met die toename in mynbou en industrialisasie verstedelik groot hoeveelhede bestaansboere in baie wêrelddele en skielik is daar ʼn “armoede” probleem. Die rede is dat die verskil sigbaar raak en niemand wat daarop wil aanspraak maak sal kan bewys hoeveel kapitaal hulle voorheen besit het nie, omdat dit slegs as soortgelyke berekeninge bestaan het.

Bestaansboere in Tanzania 2012. Indien hulle verstedelik is hul finansiële toestand nie die skuld van imperialisme, die vryemark, rasisme of apartheid nie

Bestaansboere in Tanzania 2012. Indien hulle sou verstedelik is hul finansiële toestand nie die skuld van imperialisme, die vryemark, rasisme of apartheid nie

11) Laastens moet monetêre beleid genoem word, dit is ʼn gewigtige tema wat later op die blog meer breedvoerig behandel sal word. Geld – die ruilmiddel van die mark word nie deur die mark gekies of vervaardig nie maar deur ʼn monopolie wat daardie reg vanaf die staat ontvang. Alle ekonomieë is gevolglik inflasionêre ekonomieë as gevolg van fraksionele bankdienste. Dit beteken dat geld oor tyd altyd minder werd word – die aansporings wat dit skep is verbruik in plaas van besparing. Die rede waarom dit genoem moet word is dat dit onder sulke omstandighede sinneloos is vir ʼn ryk man om aan ʼn arm man wat van hand tot mond leef te sê: spaar geld. Daar kan niks meer bevrydend vir arm mense wees nie as om in ʼn suiwer vryemarkekonomie te leef, waar egalige deflasie plaasvind en besparing vir almal moontlik is, waar hulle hulself met eie sweet en vermoëns kan ophef.

Armoede is geensins ʼn ligte saak nie, daar is niks romanties of aantreklik aan armoede nie en die lewe soos in die foto’s op hierdie blogplasing sal vir vele lesers ondenkbaar wees. Dit is mense waarvan ons praat, mense met drome, hoop, lewens en probleme, maar dit help nie om emosies op te wek net om vals verduidelikings te gee nie.

Is there a greater tragedy imaginable than that, in our endeavour consciously to shape our future in accordance with high ideals, we should in fact unwittingly produce the very opposite of what we have been striving for? - F.A Hayek

Is there a greater tragedy imaginable than that, in our endeavour consciously to shape our future in accordance with high ideals, we should in fact unwittingly produce the very opposite of what we have been striving for? – F.A Hayek

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Medies/Welsyn, Regte and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.