Politokrasie: Staatlikheid

Staatsamptenaar

politokrasieDeur Prof Koos Malan

Toe Thomas Hobbes teen die middel van die sewentiende eeu oor die staat geskryf het, het hy met groot ontsag daarna as Leviatan en die sterflike god verwys. Op daardie stadium was die staat egter maar nog in sy kinderskoene. Later sou die staat oneindig kragtiger raak as wat ooit voorsien kon word. Mettertyd het dit duidelik geword dat die aliasse Leviatan en sterflike god geen melodrama was nie, maar ʼn paslike beskrywing vir die staat wat later — en tans — so dominant in die lewens van individue en gemeenskappe geword het. Hierdie staat het ook ’n eie ideologie ontwikkel waarmee dit sy stempel op ons almal afdruk, afhanklikheid van die staat aankweek en geloof en getrouheid in hom inprent en afdwing. Hierdie werk handel juis met die staat en meer in die besonder met hierdie staatsideologie, wat ek hier staatlikheid noem. Wanneer van staatlikheid gepraat word, kom veral twee sake ter sprake:

Eerstens is daar die treffende verskynsel wat tans bykans ʼn universele gegewe is dat die staat die hoofbepaler van individue se openbare identiteit is. Die individu se openbare identiteit is staatsbepaald en is gevolglik dié van staatsburger. Individue het weens hulle geankerdheid in, hulle verbintenis met en lidmaatskap van ’n verskeidenheid van gemeenskappe en groepe ʼn variasie van ander kulturele, taal, godsdienstige, etniese, regionale en dergelike ander identiteite maar, dit alles is in finale instansie vanuit die oogpunt van staatlikheid nouliks meer as blote private identiteite. Die staat alleen is die eksklusiewe opeiser en afdwinger van ʼn staatlike openbare identiteit. Potensieel mededingende aanspraakmakers op openbare identiteit word konsekwent en energiek uit die openbare sfeer geweer. Gepas beskryf Bikuh Parekh hoe die staat ’n staatlike identiteit afdwing en ander identiteite marginaliseer wanneer hy sê:

All its citizens are expected to privilege their territorial over their other identities; to consider that they share in common as citizens far more important than what they share with other members of their religious, cultural and other communities; to define themselves and relate to each other as individuals to abstract away their religious, cultural and other views when conducting themselves as citizens; to relate to the state in an identical manner; and to enjoy an identical basket of rights and obligations. In short, the state expects of all its citizens to subscribe to an identical way of defining themselves and relating to each other and the state. This shared political self-understanding is its constitutive principle and necessary presupposition. It can tolerate differences on all other matters but not this one, and uses educational, cultural, coercive and other means to secure that all its citizens share it. In this important sense it is a deeply homogenizing institution.[1]

Hier in Suid-Afrika het ons ook met die moeisame inprent van ʼn staatlike identiteit te kampe. Veral sekere minderhede is hieraan blootgestel. Uit die bespreking later in hierdie boek blyk dit duidelik dat dit ’n wydlopende verskynsel is wat homself al op baie plekke voltrek het. Die inprent van ’n staatlike identiteit is die een sy van staatlikheid wat in hierdie werk behandel word.

Tweedens verwys staatlikheid na neergelegde reëls van wetenskapsbeoefening — wetenskapsbeoefening aan die hand van die behoeftes van die staat en ter wille van die handhawing van die bestaande staatlike orde. Dit is wetenskapsbeoefening aan die hand van wat ek ’n staatlike paradigma noem. Die fokus van hierdie aspek van staatlikheid is dat daar ter wille van die beveiliging en voortsetting van die huidige staatlike orde en van staatlike identiteit voorskrifte, reëls en parameters vir geldige wetenskapsbeoefening en intellektuele aktiwiteit binne sekere dissiplines neergelê en afgedwing word, by name in die politieke teorie, die politieke wetenskap en die regswetenskap. Deur die aktiwiteite van die beoefenaars van verskeie wetenskaplike dissiplines word ’n ortodokse wetenskap beoefen wat op die beveiliging en voortsetting van die bestaande staatlike orde afgestem is. Ofskoon hierdie paradigma ʼn besonder kragtige rol speel, is dit versweë. Daar word nie daaroor gepraat of gereflekteer nie. Dit word as ’n normale en vanselfsprekende gegewe van die werklikheid beleef en hanteer, byna asof dit ’n natuurlike gegewe is. Dit is natuurlik nie die geval nie. Dit is ’n historiese en dus ’n tydelike verskynsel. Dit het gekom en dit kan weer gaan, maar omdat dit as natuurlik beleef word — as ʼn gereïfiseerde gegewe — word die verganklikheid daarvan nie oorweeg nie. Dit is juis die indruk van natuurlikheid en onverganklikheid wat die staatlike paradigma so gedug maak, want met die gevestigde wanindruk is daar per slot van sake net een realistiese reaksie daarop. Dit is om jou daarby neer te lê, dit te aanvaar en dus gelate aan die hand van sy voorskrifte op te tree.

Daar is voortdurend ’n noue wisselwerking tussen hierdie twee aspekte van staatlikheid, dit wil sê tussen staatlike identiteit en die staatlike paradigma. Wetenskaplike arbeid ingevolge die staatlike paradigma word aangewend om staatlike identiteit te verskans en te bevorder, om potensieel mededingende identiteite te bestry, asook om individuele en groepsafhanklikheid van die staat te verstewig.

Die patroon van wetenskapsbeoefening kragtens die staatlike paradigma is dus funksioneel omdat dit aangewend word om die bestaande orde te dien en teen verandering te beskerm. Waarmee ons hier te doen het, is dus ’n wesenlik konserwatief geneigde vorm van wetenskapsbeoefening, aangesien dit gemik is op die instandhouding van die staatlike status quo. Die oomblik wanneer ’n begrip soos konserwatief ter sprake kom, duik die vraag op of ons dan werklik met wetenskap te doen het en of ons ons nie eerder hiermee op die terrein van die politiek en ideologie begeef nie. Die antwoord is dat albei gelyktydig voorhande is: wetenskap sowel as ideologie. Ons het inderdaad met ’n grys veld, selfs ’n volledige konkurrensie van wetenskap en ideologie, te make. Dit is juis daarom dat ek staatlikheid as staatsideologie beskryf.

Die staat in gedrang

Dit mag vreemd voorkom dat dit nodig is om op staatlikheid te fokus, aangesien die staat tans toenemend in die gedrang is en die staat se posisie as sentrale politiek-juridiese instelling toenemend betwis word. Trouens, een van die gewildste — selfs opwindende — temas van ons tyd is om te fokus op die verskeidenheid van kragte wat die staat onder druk plaas.

Die staat se gesag, so word gesê, het opwaarts, sywaarts en afwaarts weggesyfer.[2] Die staat verkeer onder druk van die politiek van kulturele identiteit, dié van nuwe nasionalisme aan die een kant[3] en van internasionale ekonomiese integrasie — globalisering — aan die ander kant.[4] Die staat het soveel aan ekonomiese soewereiniteit ingeboet dat daar soms twyfel uitgespreek word of dit die hoofbousteen van regering sal bly.[5] Die tradisionele beginsel van staatlike soewereiniteit en die verbod op inmenging in die huishoudelike aangeleenthede van state, wat in artikel 2(7) van die Handves van die Verenigde Nasies vervat word, word deur sommiges as tans niks meer nie as ’n juridiese fiksie beskou.[6] Ook word die mening gehuldig dat die verwering van die staat so ver gevorder het dat die konsep van staatlike (nasionale) identiteit ’n anachronisme geword het.[7]

Ekonomiese globalisering het tot gevolg dat kapitaal in so ’n mate mobiel geraak het dat ’n terugkeer na valutabeheer nouliks denkbaar is.[8] Sommige multinasionale korporasies benut hierdie vrye vloei van kapitaal so doeltreffend deur wêreldwyd te investeer dat hulle beswaarlik meer gesien kan word as behorende tot ’n bepaalde staat. Hulle het tewens staatloos geraak[9] en daarmee gepaardgaande lyk die topbesture van hierdie korporasies ook toenemend na ’n staatlose elite.[10]

Globalisering bring ook ’n markgedwonge eendersheid van nasionale ekonomiese beleid mee. Alle state beleef die noodsaak vir belegging van multinasionale maatskappye en is almal gevolglik genoop tot fiskale, monetêre en arbeidsbeleid wat dergelike beleggings aantrek.[11] Dit verswak die beleidsvryheid van state en bring ook mee dat nasionale wetgewers slegs beperkte beweegruimte het met betrekking tot die formulering van ekonomiese beleid.[12] Globalisering het ook tot gevolg dat tegnologiese, rekeningkundige en handelsregtelike standaarde wat eers volledig nasionaal vasgestel is, nou toenemend op globale of regionale skaal geharmonieer word,[13] wat opsigself ’n verdere verwerende uitwerking op staatlike soewereiniteit het.[14]

Benewens globalisering, wat die staat op verdediging het, is daar die kragtige verskyning van die politiek van identiteit wat sigself al hoe sterker laat geld. Nuwe partye en bewegings wat die klem op partikuliere identiteit, hetsy ten aansien van taal, kultuur, godsdiens, gebied of watter ander partikuliere identiteit ook al plaas, is oral besig om veld te wen.[15] Die politiek van identiteit het inderdaad die ou ideologiese kategorieë van links na regs op ’n ideologiese spektrum heeltemal ontwrig[16] en plaas tegelyk ook baie state onder die druk van middelpuntvliedende kragte. Dienooreenkomstig het die afgelope twee dekades ’n beduidende toename in die ontstaan van nasiestate wat uit toenmalige multinasionale state ontstaan het, waargeneem.

Ofskoon die staat onder druk verkeer, is die era van die staat klaarblyklik nog nie ’n gedane saak nie. Soos in hoofstukke 6 tot 9 verduidelik word, bied die staat steeds hardnekkig en grootliks suksesvol weerstand teen nie-staatlike uitdagers. Die staatlike paradigma ondergaan deurlopend verfyning wat daarop gemik is om sekere konsepte en strominge wat die staatlike orde mag bedreig, te domestiseer — mak te maak — en dan tot voordeel van die staatlike orde aan te wend.

Die staat is steeds die enkele konsep wat die politiek oorheers. Politiek is daar waar die staat is.[17] Op ’n praktiese vlak is dit heeltemal ondenkbaar om die lewe sonder die staat voor te stel. Die staat is steeds die voorste afdwinger van openbare identiteit en vir die individuele persoon is daar steeds geen heenkome buite en sonder die staat nie.[18] Die staat vervul so ’n sentrale rol in die daaglikse menslike bestaan dat ’n behoorlike begrip daarvan krities belangrik is vir die verstaan van die denke en politieke praktyk van die negentiende en twintigste eeue en van die huidige era. Die staat is die vertrekpunt vir bykans alle politieke en juridiese teoretisering. Konsepte soos die reg, regte, verpligtinge, vryheid, gesag en soewereiniteit is almal staatsverwant. Bykans alle probleme van die politiek en van die mees sentrale probleme van die reg is heg met die staat ineengestrengel en werk nolens volens met die staat as die uitdruklike of versweë grondslag en vertrekpunt.[19]

Voor die staat

Die staat het natuurlik nie altyd hierdie dominante posisie beklee nie. Dit is voorafgegaan deur die rykskerklike wêreldgeheel van Middeleeuse Wes-Europa: die godsdienstige geheel georganiseer binne die Rooms-Katolieke Kerk en die gelyklopende politieke (wêreldlike) geheel georganiseer binne Heilige Romeinse ryk. Almal was lede van hierdie Republica Christiana.[20] Openbare identiteit is bepaal deur lidmaatskap van die Republica Christiana en nie deur burger te wees van ’n staat soos vandag nie. Binne hierdie godsdienstig bepaalde orde was politiek nie staatsgedrewe nie maar trouens ’n blote onderdeel van die teologie.[21]

In hierdie voor-staatlike era was die taak om die politiek-sosiale kohesie en eenheid in stand te hou grootliks ’n godsdienstige funksie. Lojaliteit en verpligtinge is deur ’n goddelik geïnspireerde gemeenskaplike Christelike burgerskap aangekweek.[22]

Vanaf die vyftiende eeu het ’n nuwe soort politieke assosiasie toenemend sy verskyning in Wes-Europa begin maak.[23] Dit was egter ’n gestadigde proses. Die Kerkhervorming — die onherroeplike skeuring in die Republica Christiana — het die proses egter gefinaliseer en onomkeerbaar gemaak. Selfs aan die begin van die sewentiende eeu het lidmaatskap van die Christelike orde egter nog voorrang bo lojaliteit aan die nuwe state geniet.[24] Teen die einde van die sewentiende eeu is die tydvak van die Republica Christiana finaal tot die verlede toevertrou en het die era van staatlikheid aangebreek. Ons is vandag steeds in die staatlike tydvak.

Die oorgang van ’n universele godsdienstige Republica Christiana na staatlikheid is treffend gedemonstreer met die ooreenstemmende wisseling van benamings vir Europa. Teen 1600 het Wes-Europa steeds as Christendom bekend gestaan.[25] Die begrip Europa is daarenteen met die verskynsels van sekularisering, soewereine state en godsdiensvryheid verbind en het daarmee saam ook die teenpool van ’n uniforme Christelike politieke orde versinnebeeld. Teen 1680 was die ideaal van ’n universele monargie en ’n verenigde algemene Christendom egter reeds in so ’n mate van die baan dat dit deur die meer paslike begrip Europa vervang is.[26]

Die staat wat sy verskyning in hierdie tyd maak en teen die einde van die sewentiende eeu goed gevestig was, was ’n entiteit wat tot op daardie stadium ongekend was. Dit was ’n onpersoonlike, abstrakte en permanente konstitusionele entiteit wat beheer oor ʼn gekonsolideerde grondgebied uitgeoefen het.[27] Dit was onpersoonlik en abstrak in die sin dat die staat na dese, anders as in die verlede, nie die verganklike vors aan wie persoonlike lojaliteit verskuldig was in die sentrum plaas nie; nee, die staat voer nou ’n outonome en blywende bestaan los van die tydelikheid en sterflikheid van die vors.[28] Die staat word onderskei van sy regeerders en sy amptenare wat tydelik met gesag beklee is, maar word ook onderskei van die samelewing of gemeenskap waaroor dit beheer uitoefen. Quentin Skinner stel dit soos volg:

Rather the state must be acknowledged to be an entity with a life of its own, an entity which is at one distinct from both rulers and ruled and is able in consequence to call upon the allegiance of both parties.[29]

Die nuwe politieke entiteit van die staat bring mee dat die ou benaminge wat aangewend is om die Middeleeue en Renaissance se politieke entiteite te beskryf heeltemal verouderd geraak het. Vroeër is begrippe soos realm (ryk), body politic, commonwealth, common weal, civitas en republiek aangewend[30] as benaminge vir die talle Middeleeuse en Renaissance koninkrykies en klein republieke — almal klein politieke entiteite van beperkte tydruimtelike omvang.

Die nuwe staat met sy outonome, permanente en onpersoonlike en abstrakte karakter verskil so drasties van sy voorgangers dat al hierdie terme mettertyd weens hulle ontoereikendheid om die nuwe entiteite te beskryf in onbruik verval. Daar was behoefte aan ’n nuwe begrip om die nuwe entiteit te beskryf. Die nuwe term is staat, (state/etat). Dit word vir die eerste maal in 1538 deur Thomas Starkey gebruik, maar vind nog nie werklik inslag nie. Later word dit gebruik deur Raleigh, Francis Bacon asook in die Engelse vertaling vroeg in die sewentiende eeu van Jean Bodin se werk.[31] Dit is egter veral by Thomas Hobbes dat begrip vir die koms van die nuwe politieke entiteit terminologies uitdruklik verreken word. Ofskoon Hobbes soms nog ander terme aanwend, behandel hy die staat eksplisiet as onpersoonlike, outonome en soewereine entiteit — die staat in sy nuwe gedaante.[32]

Die territoriale staat

Hobbes gaan uit sy pad om die nuwe entiteit paslik te benoem. Hierdie kunsmatige, orde-stigtende en orde-handhawende entiteit is in Hobbes se oë die sterflike god, die staat, of waarvoor Hobbes by uitnemendheid bekend is, die Leviatan. Hierdie Leviatan, die staat, is sedert die dae van Hobbes die meesternaamwoord, die meesterkonsep van die openbare diskoers,[33] die inspirasie vir die staatlike paradigma sowel as die bron en afdwinger van staatlike identiteit.

Daar word vandag algemeen na die staat as die nasionale staat of die nasiestaat verwys. Dit is ’n verwarrende maar goedgevestigde wanbenaming. Dié wanbenaming gaan uit van die aanname dat state hulself onderskei deur die eiesoortige nasies wat in die verskillende state gehuisves word, oftewel dat dit ’n besondere eienskap van elke staat is dat elkeen deur ’n eiesoortig onderskeibare nasie bewoon word. Dit is natuurlik allermins die geval. Vir ’n entiteit om as staat te kwalifiseer, word nie vereis dat dit die politieke ordening van ʼn bepaalde nasie moet wees nie. Om die staat dus juis as nasiestaat te beskryf, is misplaas en misleidend.

Die wanbenaming is te wyte aan die vereenselwiging van nasie met staat. Die vermaarde historikus Hugh Seton-Watson lig hierdie wanbenaming en voortspruitende verwarring toe wanneer hy sê:

The belief that every state is a nation, or that all sovereign states are national states, has done much to obfuscate human understanding of political realities. A state is a legal and political organization, with the power to require obedience with loyalty from its citizens. A nation is a community of people, whose members are bound together by a sense of solidarity, a common culture, a national consciousness. Yet in the common usage of English and other modern languages the two distinct relationships are frequently confused.[34]

Met die oog daarop om die huidige staat meer korrek te beskryf, behoort meer gepaste terme dus gebruik te word. Een alternatiewe moontlikheid is dié van soewereine staat,[35] maar die soewereiniteitsverlies waarna hierbo verwys is, diskwalifiseer dié benaming. Will Kymlicka se gebruik van die benaming multinasiestaat in plaas van nasiestaat het meriete omdat dit die valsheid dat ’n bepaalde nasie telkens sy eie staat bewoon eweneens aan die lig bring.[36] Micheal Walzer se keuse van putatiewe nasionale staat[37] stel die onkritiese foutiewe gebruik van nasiestaat eweneens aan die kaak en is om daardie rede ook verdienstelik.

In hierdie werk word nie by die wanbenaming nasiestaat gehou nie. Verskeie ander terme is meer gepas. Daar is verskeie teoretici wat oortuigend eerder die begrip territoriale staat verkies.[38] Ek vind die begrip aantreklik, aangesien dit die aard van die staat veel getrouer raakvat as die begrip nasiestaat. Dit is ’n soewereine politieke organisasie binne ’n vasgestelde gebied, ongeag bevolkingshomogeniteit of heterogeniteit en ongeag of daar enige kulturele, linguistieke, godsdienstige of etniese gemeenskaplikheid of binding by die staatsbevolking aanwesig is. ’n Alternatiewe begrip wat nou by die term territoriale staat aansluiting vind, is dié van burgerstaat.[39] Die begrip gee te kenne dat die enigste gemeenskaplike faktor van die persone wat in ’n staat woon, hulle gemeenskaplike abstrak-juridiese verhouding met die staat is en dui nie op enige bykomende gemeenskaplikheid, byvoorbeeld uit hoofde van kultuur, taal, godsdiens of etnisiteit nie. Anders as nasiestaat wat verkeerdelik suggereer dat die hedendaagse staat gekenmerk word deur die gemeenskaplike kulturele aard van die persone wat die staat bewoon, is hierdie benaming vry van hierdie wanvoorstelling. Vir redes wat veral uit hoofstuk 6 blyk, verkies ek territoriale staat as die mees korrekte beskrywing en gebruik dit hierna deurlopend.

Die hoofstukindeling sien vervolgens soos volg daaruit:

In hoofstuk 2 word die voorganger van die era van staatlikheid, die Republica Christiana, bespreek. Dié bespreking verhelder ’n begrip van die besonderse aard van die huidige staatlike tydvak.

In hoofstuk 3 word die wegbereiding na die tydvak van staatlikheid bespreek. Hierin word die filosofiese en politieke erosie van die universele Christelike orde toegelig en word daar aangedui hoe ’n variasie van kragte en uiteindelik die Kerkhervorming — ’n epogmakende rewolusionêre politieke gebeurtenis — die Republica Christiana finaal onbestaanbaar gemaak het en die era van staatlikheid aangekondig het.

In hoofstuk 4 word op die denkarbeid van die pioniers van staatlikheid gefokus. Daar is talle van hulle, maar pertinent onder bespreking is veral Jean Bodin, Thomas Hobbes, John Locke en Hugo de Groot.

Hoofstuk 5 handel eerstens oor wat met die begrip paradigma bedoel word. Daarna word die parameters en die dissiplines van die staatlike paradigma in die besonder blootgelê. Hoofstuk 6 tot 9 fokus op verskeie aspekte van die staatlike paradigma en identiteit.

Hoofstuk 6 behandel staatsbou (nasiebou) as grondliggende strategie van staatlike identiteit en toon aan hoe juridiese kategorieë vir die doel aangewend word.

Hoofstuk 7 fokus op demokrasie en demokratiese teorie en toon aan hoe demokrasie wat die vermoë het om die bestaande staatlike orde onder druk te plaas deur teoretisering volgens die staatlike paradigma kragteloos gemaak is en uiteindelik in diens van staatlike identiteit geplaas is.

In hoofstuk 8 kom menseregte aan die beurt. Daarin word aangetoon dat hoewel menseregte voorgee om die staat — in die vorm van die regering — aan bande te lê, dit uiteindelik meewerk tot die versterking van die staat en die bestendiging van individuele en groepsafhanklikheid van die staat.

Hoofstuk 9 fokus op twee algemene regskonsepte wat tekenend is van hoe die regswetenskap die staatlike orde dien. Daar is talle regskonsepte en regsfigure van die aard maar in hoofstuk 9 word stilgestaan by twee van die treffendste daarvan — een op die huishoudelike terrein en die ander op die gebied van die internasionale reg. Gevolglik word eerstens stilgestaan by hoogverraad en dan by die internasionaalregtelike regsposisie rakende territoriale integriteit en die beperkings op selfbeskikking en sesessie.

Daar word egter nie volstaan met ’n beskrywing en toeligting van die staatlike paradigma en die dwang van territoriaalstaatlike identiteit nie, want daar is ook ’n aantreklike ruimte anderkant die noutes van die territoriale staat. Waarvan hier gepraat word, is nie net van die globalisering nie, maar van ’n politiek-juridiese orde. Dit is waarna ek as politokrasie of dan ’n politokratiese orde verwys. Die besonderhede van politokrasie word in hoofstuk 10 toegelig.

Politokrasie is ʼn moet lees vir enigeen geïnteresseerd in staatsleer en word uitgegee deur PULP uitgewers bestelvorm hier beskikbaar 

  • [1] B Parekh Rethinking multiculturalism: Cultural diversity and political theory (2000) 185.
  • [2] S Strange ‘The defective state’ (1995) 125 Daedalus 56.
  • [3] V Cable ‘The diminished nation state: A study in the loss of economic power’ (1995) 125 Daedalus 23.
  • [4] Cable (n 3 hierbo).
  • [5] Cable (n 3 hierbo).
  • [6] Strange (n 2 hierbo) 66.
  • [7] B Turner ‘Outline of a theory of citizenship’ in C Mouffe (red) Dimensions of Radical Democracy (1992) 58.
  • [8] Cable (n 3 hierbo) 27.
  • [9] Cable (n 3 hierbo) 30; VA Schmidt ‘The new world order incorporated’ (1995) 125
  • Daedalus 79.
  • [10] Cable (n 3 hierbo) 36.
  • [11] Cable (n 3 hierbo) 40.
  • [12] Schmidt (n 9 hierbo) 76.
  • [13] Cable (n 3 hierbo) 34.
  • [14] Vgl in die algemeen TL Friedman The world is flat: The globalized world in the twenty first century (2005).
  • [15] Cable (n 3 hierbo) 44.
  • [16] Cable (n 3 hierbo) 46; sien ook in die algemeen SP Huntington The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order (1996).
  • [17] A Vincent Theories of the State (1987) 5; FC Field Political Theor Methuen (1963) 54.
  • [18] Vincent (n 17 hierbo) 2; JR Strayer On the medieval origins of the modern state (1970) 1.
  • [19] Vincent (n 17 hierbo) 3 en 5.
  • [20] Vincent (n 17 hierbo) 15.
  • [21] Vincent (n 17 hierbo) 15.
  • [22] JR Morral Political thought in medieval times (1958) 10; C Brooke Europe in the Central Middle Ages 962-1124 (1987) 39.
  • [23] KHF Dyson The State Tradition in Western Europe (1980) 25.
  • [24] H Kohn The idea of nationalism (1944) 187.
  • [25] DH Pennington Seventeenth Century Europe (1970) 21; JM Roberts The Penguin History of Europe (1996) 172.
  • [26] HD Schmidt ‘The establishment of Europe as a Political Expression’ (1966) 9 The Historical Journal 172.
  • [27] Dyson (n 23 hierbo) 28; D Held et al ‘The State’ in T Ball et al (reds) States and Societies (1985) 1; Q Skinner Political innovation and conceptual change (1989) 112.
  • [28] Skinner (n 27 hierbo) 112.
  • [29] Skinner (n 27 hierbo) 112.
  • [30] Skinner (n 27 hierbo) 121; Dyson (n 23 hierbo) 36.
  • [31] Skinner (n 27 hierbo) 120; Dyson (n 23 hierbo) 36.
  • [32] Skinner (n 27 hierbo) 121.
  • [33] Skinner (n 27 hierbo) 123.
  • [34] H Seton-Watson Nations and States (1977) 1.
  • [35] Seton-Watson (n 34 hierbo) 2.
  • [36] W Kymlicka Liberalism, community and culture (1991) 239.
  • [37] M Walzer ‘Pluralism: A political perspective’ in W Kymlicka The Rights of Minorities (1995) 140.
  • [38] Sien bv. die Engelse regshistorikus, W Holdsworth A History of English Law (1937)
  • Vol VIII 310 asook R Falk ‘The Rights of Peoples (In particular indigenous peoples)’
  • in J Crawford The rights of peoples (1988) 26; S Strange (n 2 hierbo) 70; JN Figgis
  • Political thought from Gerson to Grotius, 1414-1625 (1960) 72; AB Bozeman
  • Conflict in Africa (1976) 131; J Habermas ‘Law and Morality’ in M Mc Currin
  • Stanley (red) The Tanner Lectures on Human Values Vol VIII (1988) 260; H Spruyt
  • The sovereign state and its competitors: An analysis of systems change (1994) 3;
  • HJ Berman Law and Revolution: The formation of the Western Legal Tradition (1983).
  • [39] NGS van der Walt Die Republikeinse Strewe (1969) 18-19.ss

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Demokrasie and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.