Die petisie van die kersmakers

kersmakers

In 1845 het Bastiat ʼn beroemde petisie aan die Franse regering geskryf, waarin hy ʼn handelsboikot teen die son versoek het: die petisie van die kersmakers. Dit was ekonomiese satire op sy beste.

Bastiat het die argumente van die proteksioniste in die regering op ʼn baie slim manier téén hulle gedraai. As hulle konsekwent wou wees in die sogenaamde beskerming van plaaslike nywerhede, het Bastiat uitgewys, sou hulle die mense van Frankryk moes belet om van die son se gratis lig gebruik te maak, omdat gratis lig kwansuis skadelik vir die plaaslike ligvervaardigingsbedryf, soos kersmakers, sou wees.

Frédéric Bastiat

Frédéric Bastiat (1801-1850)

Deur Frédéric Bastiat

ʼn Petisie

Vanaf: Die vervaardigers van kerse, waakkerse, lanterns, stokke, straatlampe, kerssnuiters, en blussers en die produsente van kersvet, olie, hars, alkohol en enigiets wat met beligting te make het.

Aan: Die Agbare lede van die [Franse] Kamer van Afgevaardigdes.

Menere,

Julle is op die regte spoor. Julle verwerp abstrakte teorie het weinig erg aan oorvloed en lae pryse. Julle hou julleself besig met die lot van die vervaardiger. Julle wil hê dat hy vry moet wees van internasionale mededinging: die plaaslike mark moet vir plaaslike nywerheid gereserveer bly.

Ons kom om julle te help met ʼn wonderlike geleentheid vir – hoe sal ons dit noem? Julle teorie? Nee, niks is verder van die waarheid as teorie. Julle leerstelling? Julle stelsel? Julle beginsel? Maar julle hou nie van leerstellings nie, julle het ʼn hekel aan stelsels en wat beginsels betref ontken julle dat daar so-iets in politieke ekonomie bestaan; daarom sal ons praat van julle praktyk – julle praktyk sonder teorie en sonder beginsel.

Ons lei onder die vernietigende kompetisie van ʼn mededinger wat oënskynlik sy sake bedryf onder toestande wat soveel meer voordelig is as ons s’n vir die produksie van lig dat hy besig is om die plaaslike mark daarmee te oorspoel teen ʼn ongelooflik lae prys. Die oomblik as hierdie mededinger verskyn, hou ons verkope op, al die verbruikers draai na hom toe en ʼn vertakking van die Franse nywerheid wat op ontelbare wyses met die ekonomie verweef is word eensklaps tot stilstand geruk. Hierdie mededinger – niemand anders as die son nie – voer so ʼn genadelose oorlog teen ons dat ons vermoed dat hy aangemoedig word deur Brittanje, aangesien hy duidelik veel meer respek aan daardie hoogmoedige eiland as aan ons betoon [deur veel minder daar te skyn].

Ons versoek u om so goed te wees as om ʼn wet uit te vaardig wat die toemaak vereis van alle vensters, dakvensters, ligkoepels, hortjies binne en buite, gordyne, oopslaanvensters, loergate, blindings – in kort, alle openinge, gate, skrefies en krake waardeur die lig van die son geneig is om huise binne te kom, tot nadeel van die regverdige nywerhede waarmee, ons is trots om te kan sê, ons die land bedeel het – ʼn land wat nie, sonder om ondankbaar te wees, ons in die steek kan laat by so ʼn ongelyke stryd nie.

Wees so gaaf, agbare afgevaardigdes, om ons versoek ernstig op te neem, en moet dit nie verwerp sonder om ten minste die redes wat ons aanvoer aan te hoor nie.

Ten eerste, as u so veel toegang as moontlik tot natuurlike lig stopsit, en daarmee ʼn vraag vir kunsmatige lig skep, watter nywerheid in Frankryk sal nie gestimuleer word nie?

As Frankryk meer kersvet verbruik, sal daar meer beeste en skape moet wees, en, gevolglik, sal ons ʼn toename sien in verboude grond, vleis, wol, leer en veral mis, die fondament van alle landbouwelvaart.

As Frankryk meer olie verbruik, sal ons ʼn toename sien in die kweek van papawer, olyf en raapsaad. Hierdie ryke dog grond-uitputtende plante sal op net die regte tyd kom om ons in staat te stel om die bykomende vrugbaarheid wat die veeteelt vir die lande sal meebring te benut.

Ons velde sal oordek word met harsgewende bome. Talryke byswerms sal in die berge die geurige skatte versamel wat vandag verlore gaan, soos die blomme waaruit dit kom. Dus, daar is nie een tak in die landbou wat nie ʼn groot uitbreiding sal ondergaan nie.

Dieselfde geld vir skeepsvaart. Duisende vaartuie sal in walvisjag betrokke wees, en binnekort sal ons ʼn vloot hê wat die eer van Frankryk hoog kan hou en wat die patriotiese aspirasies van die ondergetekende kersmakers, kandelaarmakers, ensovoorts kan bevredig.

Maar hoe gemaak met die spesialiteite van die Paryse vervaardiging? Dink u maar in al die goudwerk, brons, en kristal in kershouers, in lampe, in kandelare en in staankandelare wat almal flonker in winkels so luuks dat vandag s’n sommer na stalletjies lyk.

Daar is geen behoeftige harsversamelaar op die kruin van sy sandduine nie, of geen arme mynwerker in die dieptes van sy donker skag, wat nie hoë lone sal ontvang en groter rykdom sal geniet nie.

ʼn Bietjie nadenke, Menere, is al wat nodig is om oortuig te word daarvan dat daar waarskynlik nie een Fransman, van die ryke aandeelhouer van die Anzin-maatskappy tot die nederigste vuurhoutjieverkoper, wie se toestand nie met die sukses van ons petisie bevorder sal word nie.

Ons voorsien u besware, Menere; maar daar is nie ʼn enkele een van hulle wat u nie uit die muwwe ou boeke van die vryehandel-voorstanders opgetel het nie. Ons daag u uit om ʼn woord teen ons te spreek wat nie onmiddellik ook teen uself en teen die beginsel agter elke beleid van u sal geld nie.

Sal u aan ons sê dat, selfs al sou ons dalk uit proteksionisme voordeel trek, Frankryk egter nie sal baat vind nie, omdat die verbruiker die koste sal dra?

Ons het ons antwoord gereed:

U het nie meer die reg om u op belange van die verbruiker te beroep nie. U het hom tot dusver opgeoffer elke keer wanneer u sy belange in botsing met die van die verbruiker gevind het. U het dit gedoen om nywerheid aan te moedig en indiensname te verhoog. Vir dieselfde rede behoort u dit hierdie keer weer te doen.

Sowaar, u het self hierdie beswaar voorsien. Wanneer u vertel word dat die verbruiker ʼn belang het by die vrye toegang na yster, steenkool, sesam, koring en tekstiel [en hoender],  antwoord u “Ja, maar die produsent het ʼn belang in hul uitsluiting.” Goed en wel, dit is sekerlik so dat as verbruikers ʼn belang by die toelating van natuurlike lig het, en produsente ʼn belang by hul verbod het.

“Maar,” sou u verder kon gaan, “die produsent en die verbruiker is een en dieselfde persoon. As die vervaardiger by die proteksionisme baat sal hy die boer ryk maak. Omgekeerd, as die landbousektor goed vaar, sal die markte vir vervaardigde goedere oopmaak.” Nou goed, as u ons ʼn monopolie gee oor die produksie van lig gedurende die dag, sal ons eerstens groot voorrade kersvet, steenkool, olie, hars, was, alkohol, silwer, yster, brons en kristal koop om ons nywerhede te bevoorraad; en sal, boonop, ons en ons veelvuldige verskaffers, wat nou ryk geword het, heelwat meer verbruik en welvaart versprei na alle uithoeke van die plaaslike industrie.

Sal u sê die lig van die son is ʼn gratis geskenk van die Natuur, en dat om sulke geskenke te verwerp sou wees om rykdom self te verwerp onder die voorwendsel van die bevordering van die moontlikheid om dit te verwerf?

Maar as u hierdie standpunt inneem, dan gee u die doodsteek aan u eie beleid; onthou dat u tot nou toe altyd buitelandse goedere uitgesluit het omdat en in verhouding tot hoe nader hulle aan oorvloedige geskenke gekom het. U het slegs helfte so ʼn goeie rede om met die eise van ander monopoliste akkoord te gaan as om ons petisie, wat in volkome ooreenstemming met u bestaande beleid is, toe te staan; en om ons eise te verwerp juis omdat hulle beter begrond is as enigiemand anders s’n sou wees soos om die vergelyking + x + = – te aanvaar; met ander woorde dit sou wees om absurditeit op absurditeit te laai.

Arbeid en Natuur werk saam in wisselende verhoudings, afhangende van die land en die klimaat, om ʼn kommoditeit te vervaardig. Die deel wat die Natuur bydra is altyd verniet; dit is die deel wat deur arbeid bygedra word wat waarde daarstel en waarvoor betaal word.

As ʼn lemoen van Lissabon vir die helfte van die prys van ʼn lemoen van Parys verkoop, dan is dit omdat die natuurlike hitte van die son, wat, natuurlik, gratis is, vir eersgenoemde doen wat laasgenoemde aan kunsmatige hitte te danke het, wat natuurlik op die mark gekoop moet word.

Dus, wanneer ʼn lemoen ons vanaf Portugal bereik, kan ʼn mens sê dat dit halfpad verniet aan ons gegee word, of, anders gestel, teen halfprys vergeleke met lemoene uit Parys.

Nou, dit is juis op grond van die lemoen se halfgratis (verskoon die woord) wat u volhou dat die lemoen vanaf Portugal uit Frankryk weggehou moet word. U vra: “Hoe kan Franse arbeid die mededinging van buitelandse arbeid weerstaan wanneer eersgenoemde al die werk moet doen, maar laasgenoemde slegs helfte van die werk?” Maar as die feit dat ʼn produk halfpad gratis is daartoe lei dat u dit van mededinging uitsluit, hoe kan die feit dat ʼn produk totaal en al gratis is u dan sover bring om dit met plaaslike produkte te laat meeding? Óf u is nie konsekwent nie, óf u moet, nadat u dit wat halfpad verniet is verbied het omdat dit skadelik vir die plaaslike nywerheid sou wees, ook dit wat volledige gratis uitsluit met soveel meer rede en met dubbeld die ywer.

Om ʼn ander voorbeeld te neem: Wanneer ʼn produk – steenkool, yster, koring, of tekstiel – van oorsee af na ons toe kom, en wanneer ons dit vir minder arbeid kan bekom as wanneer ons dit self sou vervaardig, dan is die verskil ʼn gratis geskenk wat aan ons oorgedra word. Die grootte van die geskenk is proporsioneel tot die omvang van die verskil. Dit is ʼn kwart, ʼn helfte of ʼn driekwart van die waarde van die produk as die buitelander ons slegs ʼn driekwart, ʼn helfte of ʼn kwart van die prys vra. Dit is so volledig soos kan kom wanneer die skenker, soos die son wat ons van lig voorsien, niks van ons vra nie. Die vraag – en ons stel dit uitdruklik – is of dit wat u vir Frankryk wens die voordeel van gratis verbruik is of die beweerde voordele van moeisame produksie. Maak u keuse, maar wees logies; want vir so lank as wat u, soos tans, buitelandse steenkool, yster, koring, en tekstiel verban in die verhouding dat hul prys na nul neig, hoe inkonsekwent sal dit nie wees om die lig van die son toe te laat nie, waarvan die prys die hele dag lank nul is!

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.