Ekonomiese handel is wen wen transaksies

wen wen stransaksie

ʼn Ruk gelede maak iemand tydens ʼn gesprek die opmerking dat die vryemark ʼn konstruksie is, ek was ietwat laat vir ʼn ander afspraak en moes vertrek voor ek behoorlik kon kapsie maak. Ek dink dit is daarom belangrik dat ons vinnig na ʼn verstaanbare definisie kyk.

Vryemark: ʼn opsommende term vir ʼn reeks ruiltransaksies wat in die samelewing plaasvind. Elke ruil word onderneem as ʼn vrywillige ooreenkoms tussen twee mense of groepe mense deur ʼn verteenwoordiger. Hierdie twee individue (of hul verteenwoordigers) ruil twee ekonomiese goedere, hetsy tasbare kommoditeite of ontasbare dienste met mekaar.[1]

Indien die vryemark ʼn konstruksie was sou iemand sekerlik die Nobelprys vir die uitvinding van alle uitvindings rondgedra het of sy naam verewig het in een of ander antieke klip hiërogliewe, in ieder geval sou almal van sy naam bewus gewees het.

Kapitalisme is ʼn alternatiewe term wat soms gebruik word vir die vryemark, die term word ook vir ʼn reeks ander ekonomiese bedelings gebruik, wat in sommige gevalle selfs totaal teenstrydig is met wat die meeste mense onder die term vryemark verstaan.

Dit is belangrik om te noem dat hierdie verhouding met welvaartskepping en samewerking bestaan ongeag of die twee individue of hul verteenwoordigers in dieselfde dorp woon of in twee verskillende dorpe, provinsies, lande of kontinente. Vanselfsprekend, sou jy dink, tog is dit op hierdie laaste punt waar die misverstand so moeilik is om die nekslag toe te dien. Keer op keer kom politici met “planne” vorendag om hul land, provinsie, dorp en industrieë teen mededinging te beskerm. Deur invoerbelastings slaag hulle slegs daarin om die produk duurder te maak en die natuurlike markproses te verwrong.

Hierdie denkfout in proteksionisme lê so diep dat sommige mense selfs dink dat sanksies Suid-Afrika bevoordeel het. Soos verwoord in Bastiat se briljante Petisie van die Kersmakers, werk dit nie, ʼn probleem wat hy in 1845 aan die Franse regering probeer demonstreer het. Sedert 1845 tot en met vandag kon geen ekonoom daarin slaag om dit aan enige regering te verduidelik nie. Dit is soms baie moeilik vir mense om dinge te verstaan as hul salaris afhang van die feit dat hulle dit nie verstaan nie. Indien dit enigsins tot ekonomiese voordele kon lei sou ons tolhekke opgerig het voor elke provinsie, elke dorp, elke plaasopstal en elke huis.

[1] Murray N. Rothbard “Free market”, The Concise Encyclopedia of Economics, referenced 2012-08-12

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie, Video and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.