Ekonomiese Berekening – Deel 1

Ekonomiese Berekening

Ekonomiese Berekening

Thomas C. Taylor

1) Die rol wat die prysstelsel vertolk 

Soos hier verduidelik is die wese van sosiale samewerking: spesialisasie en die verdeling van arbeid en kennis. Hierdie feit het twee insiggewende implikasies vir die doel van hierdie studie. Eerstens dat sosiale samewerking die produksie van so ʼn wye reeks intermediêre en finale produkte tot gevolg het dat soortgelyke berekeninge nie hulpbronne effektief kan allokeer nie. ʼn Algemene deler is dus noodsaaklik. Tweedens dat die de-gesentraliseerde besluitneming en gepaardgaande sosiale samewerking ʼn middel benodig om individuele planne mee te koördineer, wat gebaseer is op onvolmaakte kennis en inligting. Hierdie twee vereistes word gelyktydig aan voldoen deur die prysstelsel van die markekonomie. Op hierdie punt gaan ons nie die gedetailleerde uiteensetting van die prysstelsel behandel nie, maar eerder kyk na hierdie tweeledige funksie daarvan as ʼn middel tot ekonomiese berekening en gekoördineerde kommunikasie. Soos gedemonstreer sal word, is hierdie twee funksies van ʼn enkele eenheid; hulle spreek dieselfde probleem van hulpbron allokasie aan in ʼn sosiale samewerkingsreëling en in ʼn stelsel van markpryse.

2) Ekonomiese Berekening vs. Tegnologiese Berekening

Ekonomiese berekening is nie ʼn tegnologiese probleem nie. Tegnologie kan kwantitatief die kousale verhouding tussen twee besondere stelle eksterne dinge wat gebruik kan word in verskeie kombinasies bepaal. Voorbeeld: 6a + 4b + 3c…xn kan ʼn resultaat van 8p oplewer, maar tegnologie kan nie vir ons sê of 8p die mees gewenste gebruik van die besondere kwantiteite van hulpbronne a, b, c, is nie, veral nie as dit vergelyk word met hul ander moontlike toepassings as middel tot produksie tot ander enddoelwitte nie. Net so kan tegnologie nie bepaal of die besondere formule tot die produksie van 8p die mees gewenste was nie, aangesien 8p ook geproduseer kan word uit ander formules met ander mengsels van gekombineerde hulpbronne. Mises illustreer die probleem as volg:

Die kuns van ingenieurswese kan bepaal hoe ʼn brug gebou moet word om oor ʼn rivier te staan op ʼn spesifieke punt om gelyktydig ʼn bepaalde vrag te dra. Dit kan nie die vraag beantwoord of die konstruksie daarvan faktore van produksie en arbeid onttrek het uit ander moontlike toepassings daarvan wat meer dringende behoeftes sou bevredig nie. Dit kan ons glad nie help met die vraag of die brug enigsins gebou moes word nie, waar dit gebou moes word nie of hoeveel kapasiteit dit moet kan dra, en ook nie watter van die vele modelle vir die konstruksie daarvan gekies moet word nie.[1]

Max Weber maak dieselde argument in die standpunt:

Die vraag na wat die koste van die gebruik van verskeie moontlike tegniese middele vir ʼn enkele tegniese einddoel is, in vergelykende terme, hang ten einde af van hul potensiële bruikbaarheid as middele tot ander enddoelwitte.[2]

Tegniese berekenings kan slegs soortgelyke berekenings wees. Dit is nie voldoende vir menslike besluitneming nie as gevolg van die afwesigheid van voorkeer in kwaliteit. Voorbeeld: Die teoretiese ingenieur mag dalk reg wees dat ʼn uitstekende tonnel met platinum gebou kan word, maar die monetêre berekening maak die besluit altyd ʼn ekonomiese een en die praktiese ingenieur sal nooit so ʼn taak aanpak solank as wat platinum gebruike het wat as meer belangrik as tonnelkonstruksie geag word nie. Tegnologie is neutraal tot menslike waardasie en vertel ons gevolglik niks omtrent die subjektiewe nutswaarde van die verskeie objektiewe gebruike van hulpbronne nie. Soos Mises gesê het: “ Dit ignoreer die ekonomiese probleem: om beskikbare middele so aan te wend dat begeertes wat dringend gevoel word nie bevredig word nie, omrede die middele wat geskik is vir die verwesenliking daarvan aangewend—vermors—word op die verwesenliking van begeertes wat minder dringend gevoel word.[3]

Die taak van hulpbron allokasie is om dringende menslike begeertes te bevredig en daarom moet hulpbronne toegewy word aan hul belangrikste moontlike aanwendings. Die vraag moet geopper word: hoe die belangrikste begeertes bepaal moet word. Dit wil voorkom of ʼn maatstaf vir die waardasie van dinge noodsaaklik is om hierdie besluite te kan neem, maar dit is nie die geval nie. Daar is nie so iets soos ʼn maateenheid vir waarde nie en die feit beteken dat dit onmoontlik is om die waarde van iets te meet. Waarde is ʼn subjektiewe fenomeen en ontwyk kardinale kwantifisering. ʼn Item se waarde is in die brein van die persoon wat die waardasie maak en die proses van waardasie is nie ʼn saak van meting nie. Aangesien waardasie altyd betrekking het op individuele voorkeur is ordinale nommers die enigste numeriese behandeling wat toegestaan kan word aan die probleem van waardasie.

Die probleem om waarde te meet word aangedui deur die feit dat mense nie net verskillende waardes aan dieselfde item sal heg nie, maar dat dieselfde persoon dieselfde item verskillend sal waardeer op verskillende tye. Gesamentlik hiertoe sal elke persoon ook elke addisionele eenheid van ʼn gegewe produk laer waardeer as die voorafgaande eenheid se waarde in lyn met die wet van dalende marginale nut. Indien waarde meetbaar en kwantifiseerbaar was sou daar ʼn standaard maateenheid gewees het wat onveranderlik was en dit is duidelik dat daar geen so ʼn onveranderlike meeteenheid bestaan nie.

Waardasie word noodsaaklik gemanifesteer in die aksie van keuse of voorkeur. ʼn Man kan sê hy heg meer waarde aan A as aan B of C, maar hy is nie daartoe in staat om kwantitatief te sê hoeveel hy A bo B of C verkies nie. Hy mag dalk kwantitatief kan aandui dat sy voorkeur vir A bo B meer intensief is as sy voorkeur vir A bo C. In die geval sal hy dus ʼn rangorde van voorkeure hê van: A, C, en B, maar sy rangorde is die ordinale gebruik van nommers en nie kardinale gebruik nie. Die allokasie van skaars hulpbronne kan nie gebaseer word op enige beweerde maatstaf van waarde nie; die aanwending van spesifieke inkremente van hulpbronne kan slegs beslis word deur elke inkrementele keuse oor ʼn ander alternatiewe gebruik van dieselfde of ander hulpbronne te oorweeg. Aangesien hulpbronne middele is tot verbruikersgoedere verkry hul hul rangorde van die relatiewe belangrikheid van die finale produkte wat daaruit vervaardig word. Vir ʼn meer gedetailleerde uiteensetting sien die Augustus 2013 reeks oor die onderwerp.

3) Ekonomiese Berekening deur Geld Pryse

Dit is deur die prysproses van die mark dat die relatiewe belangrikheid van verskeie hulpbronne en verbruikersprodukte verwerk word na algemene terme in geld pryse. Geld maak dit vir mense moontlik om ekonomiese berekeninge te maak omrede dit die algemene ruilmiddel is. Alle goedere en dienste wat op die mark gekoop en verkoop word, word uitgeruil vir ʼn bedrag geld. Hierdie geld pryse is nie ʼn maatstaf van waarde nie. Geld pryse is ruil-verhoudings wat ʼn uitdrukking is van die rangorde van waardasie wat die deelnemers aan die ruil op inkremente van produkte plaas op ʼn gegewe oomblik. Geld pryse is onderworpe aan volgehoue verandering omdat mense se subjektiewe waardasies en die uitruilbaarheid van daardie waardasies konstant verander, asook die konstante verandering in die aanbod van die bepaalde goedere en dienste. Die neiging van mense om verandering te verwag wat hulle as verbeterings ag in hul manier van dinge doen en in die middele waardeur hulle bevrediging verkry, voorkom die totstandkoming van permanent stabiele pryse in die markekonomie.

Ekonomiese of monetêre berekening is in wese ʼn kwessie van die daarstel van ʼn vergelyking tussen inset en uitset, tussen opofferings en resultate, vir voormalige en huidige oorweegde lyne van hulpbron benutting. Soos gedemonstreer, is soortgelyke berekeninge (wat noodwendig gekarakteriseer word deur tegnologiese berekenings) nie voldoende vir die taak van hulpbron allokasie nie. Geld pryse wat in verband gebring word met bepaalde hoeveelhede goedere en dienste laat die vasstelling van geld kostes en geld inkomstes toe, en daardeur word lig gewerp op die wenslikheid al dan nie van bepaalde hulpbron aanwendings.

Ekonomiese berekening sluit beide terugwerkende en prospektiewe monetêre berekenings in. Terugwerkende berekening is die vasstelling van historiese winste en/of verliese, met ander woorde inkomste wat die resultaat was van aksies reeds geneem en dit dien twee doelwitte: (1) tot die mate wat mense die aanname maak dat die verlede ʼn aanduiding van die toekoms is, het dit ʼn rigtinggewende waarde, en (2) die bepaling van monetêre inkomste toon die mate waartoe die toekomstige kapasiteit om te produseer volhou kan word nadat huidige inkomste onttrek is. Hierdie laaste funksie bied vanuit die komplimenterende konsepte van kapitaal en inkomste die uiteindelike verstandelike gereedskap van ekonomiese berekening, wat in die volgende insetsel bespreek sal word. Prospektiewe berekening, wat wel beïnvloed kan word deur terugwerkende berekenings van kapitaal en inkomste, is ʼn aangeleentheid van afwagting vir die geldelike wins of verlies wat verwag word van ʼn spesifieke aksie wat oorweeg word. Alle ekonomiese berekenings is gemik op die toekoms, aangesien alle aksie bedoel word om ʼn voordelige verandering te weeg te bring en aksie is altyd toekomsgedrewe, of dit vir die volgende uur, dag, jaar of langer is. Elke stapsgewyse gebruik van hulpbronne het ʼn prospektiewe oriëntasie.

Bronne

  • [1] Ludwig von Mises, Human Action (Chicago: Henry Regnery Company, 1966), p. 208.
  • [2] Max Weber, The Theory of Social and Economic Organization (New York: Oxford University Press, 1947), p. 162.
  • [3] Mises, Human Action, p. 207.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.