Ekonomiese Berekening – Deel 2

Ekonomiese Berekening2

Ekonomiese Berekening

Thomas C. Taylor

4) Die Konsep van Kapitaal en Inkomste

Die wese van moderne ekonomiese aktiwiteite is die toewyding van hulpbronne aan die proses van produksie wat lei tot die uitset van verbruikers produkte en dienste. Die entrepreneur-produsent belê fondse om die produktiewe middele te bekom, waarmee hy hoop om sy monetêre welvaart te vermeerder. Deur geld pryse is die produsent in staat om numeries die ekonomiese insiggewendheid van die faktore wat hy aangewend het vir toekomstige produksie doeleindes vas te stel. Die bepaalbare bedrag geld ekwivalent wat toegewy word aan produktiewe aktiwiteite word kapitaal genoem, en die doel om die bedrag ongedeerd in stand te hou word kapitaal instandhouding genoem. Mises definieer kapitaal as volg: 

Kapitaal is die som van die geld ekwivalent van alle bates minus die som van die geld ekwivalent van alle laste soos dit op ʼn definitiewe datum van ʼn definitiewe besigheidseenheid toegewy word aan die verloop van besigheidsoperasies. Dit is van geen belang waarvan daardie bates opgemaak is nie, of dit grond, geboue, gereedskap, debiteure, geld, toerusting, enigiets wat as bate gereken word.[4]

Wanneer produktiewe inspannings netto bates as resultaat oplewer, waarvan die geld ekwivalent die kapitaal toegewy aan daardie inspannings oorskry, kan daar gesê word die besigheid het ʼn inkomste gegenereer gelykstaande aan die oorskot. Die konsep van inkomste is die korrelerende konsep van kapitaal. Inkomste is die bedrag wat verbruik kan word sonder om die kapitaal te verlaag onder die bedrag wat aan die besigheid toegewy was aan die begin van die gegewe periode en enige addisionele beleggings wat gemaak is gedurende die periode. Indien verbruik beperk word tot die hoeveelheid inkomste word kapitaal instandgehou. Indien verbruik inkomste oorskry aan die ander kant word kapitaal nie instandgehou nie; hierdie verskil word na verwys as kapitaleverbruik. Kapitale akkumulasie vind weer plaas wanneer verbruik minder as die beskikbare verbruik is; met ander woorde wanneer alle of ʼn gedeelte van inkomste gespaar word. Indien die besigheid nie daarin slaag om inkomste te genereer nie en ʼn monetêre verlies maak is daar kapitale verbruik en kapitale instandhouding vind dan nie plaas tensy nuwe fondse deur die produseerder belê word nie. Addisionele beleggings, tesame met die uitwerkings wat inkomste en verbruik het bepaal of kapitaal instandgehou, verbruik en of kapitale akkumulasie plaasvind. Soos von Mises dit stel, “ Tussen die baie take wat ekonomiese berekening verrig is die taak wat die omvang van inkomste, besparing en kapitale verbruik vasstel.”

Alhoewel kapitaal beliggaam mag wees in geproduseerde faktore van produksie (wat ook kapitale goedere genoem word), verwys die idee van kapitaal na ʼn konsep wat slegs in die brein van individue bestaan. Die mens is verstandelik bewus van die monetêre insiggewendheid van die middele wat hy vir produktiewe doeleindes aanwend. Die konsep is ʼn element van ekonomiese berekening en verskaf ʼn basis vir evaluasie van die resultate van toekomstige aksies en vir die ordening van stappe van verbruik en produksie deur kapitale instandhouding. Die fisiese kapitale goedere moet uiteindelik uitgeput raak en vergaan, dit is slegs die waarde van die kapitale fonds wat konstant geonderhou of gepreserveer word deur ʼn deeglike rangskikking van verbruik.[5]

Om die uitkoms van vorige aksies vas te stel behels die berekening van kapitaal, beide voor en na die aksie. Die vergelyking van hierdie twee berekenings gee die bepaling van wins(inkomste) of verlies. Die terugwerkende vorm van ekonomiese berekening bied ʼn beginpunt in die beplanning van toekomstige aksies, tot die mate wat die individu die verlede as ʼn aanduiding van toekomstige gebeure ag. Hierdie punt illustreer hoe die kennis probleem wat voorheen uitgewys is, gedeeltelik opgelos word.

Die vasstelling van winste en verliese van historiese aksies bied addisioneel daartoe dat dit as ʼn rigtinggewende aanduiding dien, ook die enigste manier waardeur die individu of instelling wat aksie neem, kan vasstel of die kapasiteit van die besigheidseenheid om in die toekoms te kan produseer, aangetas is al dan nie. Nes almal, is produsente daarin geïnteresseerd om die bevrediging van hul persoonlike begeertes te bereik, en die berekening van wins of verlies openbaar die mate waartoe hulle verbruiksuitgawes kan aangaan sonder om die kapitale basis negatief te beïnvloed sodat dit gebruik kan word op ʼn produktiewe skaal wat verband hou met die verlede. Hierdie berekening mag aantoon dat addisionele beleggings nodig is om enige kwyning van kapitaal tee te werk wat die resultaat van verliese was, of om ʼn beoogde kapitale akkumulasie te bereik. Daarby laat die mees huidige bepaling van kapitaal ʼn verwysingspunt toe vir die berekening van wins of verlies in die voorafgaande periode. Terugwerkende ekonomiese berekening is dus slegs insiggewend omrede dit die beplanning van toekomstige aksies fasiliteer; daarsonder sou dit nuttelose geskiedenis gewees het.

Elke produktiewe onderneming word begelei deur die berekening van verwagte toekomstige kostes en inkomstes wat van die projek of aktiwiteit as resultaat verwag word. Die bepaling van vorige inkomstes en kostes kan van groot hulp wees in die vooruitskatting van toekomstige resultate. Vir die meeste entrepreneur-produsente sal slegs daardie aksies gevolg word wat die moontlikheid van ʼn monetêre uitset inhou wat voldoende groter is as monetêre insette, insluitende kapitale kwyning wat nodig is om die operasies uit te voer.[6] Hulpbronne word dan deur middel van die pro-aktiewe berekening, wat op verwagte pryse van verskeie goedere en dienste gegrond is, na hul mees winsgewende aanwendings gerig. Mises het die deurslaggewende belangrikheid van monetêre berekening duidelik gemaak:

Monetêre berekening is die rigtinggewende aanwyser tot aksie onder ʼn sosiale stelsel van arbeidsverdeling. Dit is die kompas van die man wat ʼn produktiewe proses van stapel stuur, hy bereken om te kan onderskei tussen lonende en nie-winsgewende produksielyne, tussen dies wat die soewereine verbruiker waarskynlik sal verkies en dies wat hulle waarskynlik sal afkeur. Elke enkele stap van entrepreneuriese aktiwiteite geskrutineer hy deur monetêre berekening. Die voorafgaande oorweging van beplande aksie word kommersiële voorafberekenings van verwagte kostes en opbrengste en die terugwerkende vasstelling van die uitkomste van voorafgaande aksies word rekeningkundige winste of verliese.[7]

Dit moet herhaal word dat ekonomiese of monetêre berekening nie ʼn proses van meting is nie. Monetêre nommers verskaf geen standaardeenheid van waarde nie. Die oneindige moontlike gebruike van produktiewe hulpbronne dikteer dat keuses of voorkeure (nie meting nie) die natuur van die ekonomiese probleem karakteriseer. Monetêre berekenings deur vorige en verwagte markpryse, dui die voorkeure en die relatiewe belangrikheid van alternatiewe aksies aan.

5) Risiko en Onsekerheid

Daar is geen presiesheid in ekonomiese berekening nie, omrede die toekoms waarop alle aktiwiteite gemik is, onseker is. Voorspelde toekomstige kostes en inkomstes word verwagtinge aan die kant van die entrepreneur-produsent, wat oor geen bonatuurlike magte beskik om te weet wat die toekoms inhou nie. Hierdie onsekerheid beïnvloed die terugwerkende berekening van wins en verlies geensins minder nie, omrede die mees onlangste berekening van kapitaal heel kwesbaar gebaseer is op ʼn geld ekwivalent wat nie noodwendig toekomstig ondersteun gaan word nie. ʼn Individuele besluitnemer is nie in staat om presies te weet wat die toekomstige voorkeure van verbruikers gaan wees nie, die toekoms verander tegnologies en die toekomstige planne van ander produseerders verander, sowel as die oneindige hoeveelheid ander eksterne gebeure wat in die toekoms kan of sal plaasvind. Die insamel van empiriese data in die daarstel van aktuaris-tabelle is nie voldoende vir die proses van entrepreneuriese aktiwiteite in die markekonomie nie. Die aktuariële wetenskap berus op die bepaling van groeperings van homogene gebeure. Elke groep word opgemaak uit groot hoeveelhede van gelyksoortige vorige gebeure wat onderwerp word aan statistiese analise wat die persentasie van voorvalle openbaar waarin ʼn gegewe gebeurtenis plaasgevind het. Die oorheersende oorwegings van die entrepreneur-produsent se aksies is egter nie van ʼn homogene aard nie. In sover as wat die entrepreneur homself wel bekommer met gebeure wat ʼn aktuaris uiteensit, wend hy hom tot versekering as erkenning van die moontlike koste van moontlike negatiewe gebeure. Meeste van die probleme en aangeleenthede wat die entrepreneur se aandag verg en wat hom kwel is so spesifiek tot sy eie produktiewe inspanning dat dit te seldsame van gebeure is om in klasse of groepe-van-gebeure te kategoriseer om statistiese moontlikhede mee te bereken.

Frank Knight het die idee ontwikkel om te onderskei tussen risiko en onsekerheid.[8] Risiko is numeries berekenbaar, gebaseer op statistiese data wat verband hou met ʼn groot hoeveelheid soortgelyke gebeure waarvan die toeval daarvan verwag word.

Dit is die natuur van aktuariële moontlikhede. Onsekerheid hou verband met situasies wat uniek is; elke situasie is ʼn aangeleentheid opsigself, eerder as ʼn lid van ʼn klas of groep van homogene gebeure en omstandighede. Onsekerheid is nie numeries berekenbaar nie as gevolg van die tekort aan historiese ondervinding wat verband hou met die besonderse stel omstandighede wat oorweeg word.[9] Omsigtige empiriese data is nie beskikbaar in die variërende klassifikasies wat noodsaaklik is om die moontlikheid van sukses te bereken vir elk van die ontelbare entrepreneuriese aksies wat ter enige tyd in proses is nie. Knight verduidelik die probleem as volg:

Die geskatte laste van foute of geskatte foute moet radikaal onderskei word van die waarskynlikheid of kans van beide tipes (a priori en statisties), want daar is geen moontlikheid om op enige manier groepe van gevalle te vorm wat voldoende saamhangend is om ʼn kwantitatiewe bepaling van ware waarskynlikheid te vorm nie. Besigheidsbesluite handel byvoorbeeld met situasies wat in die algemeen so uniek is dat geen soort statistiese tabulasie van hulp kan wees nie. Die konsep van ʼn objektiewe meetbare moontlikheid of kans is eenvoudig nie van toepassing nie….[10]

Onsekerheid is die oorweldigende hindernis wat elke entrepreneur-produsent in die gesig staar in die markekonomie, en sy poging om die toekoms te voorsien is ʼn subjektiewe aangeleentheid wat wiskundige vergelykings en formules vryspring. Die sakeman handel nie met voorwerpe waarvan die gedrag voorspel kan word soos vir fisici of ingenieurs nie. Die voorwerp van die produsent se aandag is die begeertes van ander mense en die planne van ander produsente; dit is onmoontlik om te weet watter veranderinge hulle sal ondergaan. Die onvoorsiene innovasies en toegepaste uitvindings van die kompeterende produsente het al vele male die ondergang van minder innoverende besighede beteken. Die veranderlikheid van kliente se voorkeure en die beskikbare hulpbronne is ʼn volgehoue probleem wat produsente konfronteer. Die onsekerheid is primêr as gevolg van die onvoorspelbaarheid van die aksies van ander mense. Dit is die sentrale tema van hierdie opmerking deur von Mises:

In die regte wêreld word die aksienemende man gekonfronteer met die feit dat sy medemens ook aksie neem tot hul eie doelwitte nes hy. Die noodsaaklikheid om aanpassings hiervoor te maak in sy aksies tot ander mense se aksies, maak van hom ʼn spekuleerder vir wie sukses en mislukking afhang van sy vermoë, goed of sleg, om die toekoms te verstaan. Elke aksie is spekulasie. Daar is in die verloop van menslike gebeure geen stabiliteit en gevolglik geen veiligheid nie. [11]

Dit beteken nie dat die toekoms so onseker is dat elke besigheidsaksie dobbel is nie, of dat elke situasie so ongewoon is dat daar geen basis bestaan vir beplande aksie nie. Ondervinding voorsien ʼn kosbare gids vir aksie. Vorige pryse is die beginpunt vir die voorspelling van toekomstige pryse. Vir die probleme van die entrepreneur-produsent is ondervinding egter te divers en kompleks om hom in staat te stel om die moontlikheid van sukses van alternatiewe aksies te kwantifiseer. In die markekonomie is daar geen vasgestelde verhoudings nie. Die produsent se steun op vorige ondervinding is noodwendig kwalitatief en ʼn saak van oordeel.

Bronne

  • [4] Mises, Human Action, p. 262.
  • [5] Mises, Human Action, p. 261.
  • [6] Hierdie klem op winsgedrewe gedrag verhoed geensins aksies wat monetêre verliese as ʼn verwagte resultaat sal hê nie. Vanuit die entrepreneur se oogpunt kan nie-geldelike voordele wat verwag word as regverdiging vir monetêre verliese dien. Waarde is uiteindelik altyd persoonlik en subjektief. Monetêre berekenings is egter steeds betekenisvol selfs onder sulke omstandighede.
  • [7] Mises, Human Action, p. 229.
  • [8] Frank A. Knight, Risk, Uncertainty and Profit (New York: Augustus M. Kelley, 1964).
  • [9] Sogenaamde “subjective probability” is ʼn eufemisme wat altyd die gebruik van getalle behels om ʼn waardeskatting of die waarskynlikheid van ʼn gegewe resultaat se toevalling uit te druk. Die naam daarvan is ongelukkig ʼn misbruik van woorde in sover as wat dit enigiets onafhanklik berekenbaar of wetenskaplik uitdruk.
  • [10] Mises, Human Action, pp. 226, 231.
  • [11] Mises, Human Action, p. 113.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.