Ekonomiese Berekening – Deel 3

Ekonomiese Berekening3

Ekonomiese Berekening

Thomas C. Taylor

6) Die Brose aard van Ekonomiese Berekening

Aangesien alle afwagtende ekonomiese berekeninge handel met ʼn onsekere toekoms, is alle sulke berekenings broos, onseker en nie definitief nie. Omrede geen entrepreneur weet wat die toekoms inhou nie, is foutiewe verwagtings onafwendbaar en sukses of winste kom die toe wie se voorafkennis die minste foutief of naaste aan korrek was. Selfs die kapitaal wat tot stand kom uit die resultate van historiese gebeure en transaksies en wat gebruik word in die bepaling van rekeningkundige winste is slegs ʼn tussentydse vlak van welvaart, aangesien dit nie permanent verseker kan word in die aangesig van ʼn onsekere toekoms nie. Mises beskryf hierdie brose aard van syfers wat in besigheidsfinansiëlestate gerapporteer word as volg:

Die belangrikste ding in balansstate en wins-en-verlies state is die evaluering van bates en laste wat nie in kontant vergestalt is nie. Alle sulke balanse en state is in praktyk interim balanse en interim state. Dit beskryf so goed as moontlik die toestande op ʼn gekose, gegewe oomblik in tyd, terwyl die lewe en aksies voortgaan en nooit stop nie…[12]

Monetêre berekening mag ontbreek aan presiesheid en sekerheid, maar dit beteken nie dat dit nie ʼn belangrike taak as gids vir toekomstige aksies vervul nie, volgens wat die produsent se vooruitsig is aangaande wat toekomstige behoeftebevrediging van ander mense sal wees. Dit is nie ʼn ontbrekende eienskap van ekonomiese berekening dat onsekerheid in berekening bestaan nie. Die onsekerheid moet noodsaaklik tot stand kom omdat menslike aksie altyd in die aangesig van ʼn onsekere toekoms plaasvind. Onder ʼn sosiale stelsel met uitgebreide verdeling van arbeid het produsente ʼn berekeningsmiddel nodig op die grondslag van ʼn algemene deler. Alhoewel dit nie definitief of seker is nie, verskaf monetêre berekening hierdie middel. Hulpbronne word toegeken tot daardie gebruike wat die eienaar die belowendste en lonend ag deur sy geldberekening. Monetêre berekening is slegs moontlik in ʼn markekonomie waar die produksiefaktore met geldpryse in verband met mekaar gebring kan word. Daar kan geen monetêre berekening in ʼn suiwer ruil-ekonomie of op Robinson Crusoe se eiland wees nie. Selfs sosialistiese teoretici het erken dat die allokasie van produktiewe hulpbronne in ʼn sosialistiese ekonomie die daarstel van geld pryse deur die sentrale owerhede sal vereis om verskille tussen vraag en aanbod reg te stel.

7) Die effek van Monetêre Berekening as Rasionaliseerder

Die erkenning van die insiggewendheid van ekonomiese berekening is nie beperk tot Oostenrykse ekonome nie. Max Weber het aan monetêre berekening as ʼn instrument toegereken: die dominante rasionaliseerinde invloed in die tegnologiese ontwikkeling van Westerse kapitalisme:

…dit is een van die fundamentele eienskappe van ʼn individualistiese kapitalistiese ekonomie dat dit gerasionaliseer word op die grondslag van nougesette en aanhoudende berekenings, wat met insig en versigtigheid op ekonomiese sukses gerig word. Dit is in sterk kontras met die hand-tot-mond bestaan van die bestaansboer en met die bevoorregte tradisionalisme van die vakman-gulde, en met die avonture van die waag-kapitalis wat georiënteer is tot uitbuiting, politieke opportunisme en irrasionele spekulasie.[13]

Geld en monetêre berekening as instrument is die middele waardeur uiteenlopende en diverse hulpbronne rasioneel geallokeer kan word tot die bevrediging van dringende begeertes. Die vooruitgang van tegnologie is afhanklik van die begeleiding wat sulke middels bied. Die voordele wat die verdeling van arbeid bied kon nie gerealiseer het sonder die berekenings nie, berekenings wat slegs moontlik gemaak word deur ʼn algemene ruilmiddel en die korrelerende geldpryse. Soos Mises dit staaf: “Ekonomiese berekening is die fundamentele kwessie ter begryping van alle probleme wat ekonomie genoem word.”[14]

Tog is ekonomiese berekening nie sonder sy beperkings nie. Daardie dinge wat nie gekoop of verkoop kan word nie is buite die veld van monetêre berekening. ʼn Man se toewyding aan goeie karakter of aan ʼn ander persoon kan hy as nie-te-koop beskou en geen prys op sy geloof of integriteit toelaat nie. In ʼn samelewing wat slawerny verbied kan geen prys op menslike lewens geplaas word nie. ʼn Persoon kan iets besit wat hy vir die mooiheid daarvan of sentimentele redes vir geen prys sal verhandel nie. Sulke aangeleenthede kan nie tot ʼn verhouding met geldpryse gebring word nie. Die bestaan van sulke uitsonderings verhinder egter nie die doeltreffendheid van geldpryse as ʼn begeleidende gids in die benutting van groot hoeveelhede goedere en dienste wat nie buite die veld van mark aktiwiteite val nie.

8) Gekoördineerde Kommunikasie deur Markpryse

Addisioneel tot die behoefte vir ʼn algemene deler vir berekeningsdoeleindes het ons ook gesien dat ʼn ander vereiste van sosiale samewerking wat gebaseer is op spesialisasie en die verdeling van arbeid en kennis ʼn middel benodig waardeur die magdom individuele planne en aksies in ʼn vaste patroon gekoördineer word. Die integrale verhouding van gespesialiseerde aktiwiteite vereis ʼn stelsel van evaluerende besluitnemers van verandering, relevant tot hul aktiwiteite. Elke gedesentraliseerde planmaker kan nie slegs streng volgens sy eie observasie en onmiddellike omgewing besluite maak nie, sy besluite moet geharmoniseer word met ander planmakers, sodat die groter ekonomiese stelsel so glad en doeltreffend as moontlik werk.

Geldpryse is die middel waardeur noodsaaklike inligting gekommunikeer word om die aksies van individuele beplanners doeltreffend te koördineer. Soos Hayek uitwys het elke afsonderlike besluitnemer nie nodig om van al die feite wat verband hou met die verandering in hulpbron benutting kennis te dra nie. Wat relevant is tot elkeen is “hoeveel meer of minder dringend word die alternatiewe dinge wat hy kan produseer of verbruik benodig.”[15] Die ekonomiese vraag is altyd een na die relatiewe belangrikheid van spesifieke dinge wat beskikbaar is vir die bevrediging van menslike begeertes. Elke besluitnemer het gewoonlik nie nodig om te weet waarom die relatiewe belangrikheid van die items wat hy gebruik of produseer, verander het nie. Wat hy wel nodig het, is een of ander aanduiding van die omvang van die relatiewe belangrikheid van die verandering. Die kritiese doelwit van sulke inligting is om toe te sien dat elke individuele besluitnemer aksie neem met veranderings in die relatiewe belangrikheid van dinge wat relevant is tot hom. Markpryse reflekteer ter enige tyd die mees huidige relatiewe belangrikheid toeskryfbaar aan goedere en dienste wat op die markgrense verhandel. Veranderinge in die relatiewe belangrikheid van goedere en dienste word gereflekteer in hul geldpryse.

Die koördineringsfunksie wat die prysstelsel uitvoer kan die beste geïllustreer word deur ʼn skielike tekort aan een of ander hulpbron te verbeel. Die mense wat die probleem uiteindelik oplos het nie nodig om die oorsaak te verstaan nie. Die prys van ʼn eenheid van die hulpbron sal opwaarts gedruk word deur die wat dit in die mees noodsaaklike toepassings gebruik, dit wil sê die skepping van produkte wat die hoogste winsgewendheid inhou sal die aanbotte van produsente wat minder winsgewende produkte vervaardig oortref. Die tekort het beteken dat die marginale gebruike van die hulpbron wat voor die tekort verskaf kon word nie aan voorsien kan word vir minder belangrike gebruike vir die duur van die tekort nie. Die hoër prys beperk op ʼn suksesvolle wyse die minder noodsaaklike aanwending van die hulpbron volgens sy marginale nut. Hayek het die rol van die prysstelsel insiggewend verwoord:

…die wonder is dat in ʼn geval van skaarsheid van ʼn rou materiaal, sonder dat enige bevel uitgereik word , en sonder dat enigeen behalwe ʼn handjie vol mense bewus is van die oorsake, honderde duisende mense wie se identiteit nie vasgestel sou kon word deur maande van ondersoeke, aangespoor word om die materiaal of produkte daarvan spaarsamig te benut, die beweging is dus in die regte rigting… Ek is oortuig dat as dit die uitkoms van doelbewuste menslike ontwerp was, en mense wat hul gedrag aanpas by prysveranderings verstaan het dat hul besluite betekenisvolle waarde het ver buite hul onmiddellike doelwitte, hierdie meganisme se lof besing sou word as die enkel grootste uitvinding van die menslike verstand. Die groot jammerte is ʼn dubbele een, dit is nie die produk van menslike uitvinding nie en die mense wat daardeur begelei word om hul aksies te verander weet gewoonlik nie waarom hulle (afgesien van onmiddellike redes) hul aksies verander nie.[16]

Mense wat vêr verwyderd is van die oorsprong van die tekort word instruktief daarna begelei om te beplan en aksie te neem in ooreenstemming met die feit dat die aanbod van ʼn bepaalde faktor van produksie verminder het. Die hoër prys stuur nie net die sein uit vir die aanpassing in die kwantiteite in die aanvraag nie; dit spoor ook die verskaffer aan om die hoeveelhede van die hulpbron wat hy beskikbaar stel te verhoog. In so ver as wat die verskaffer se poging of soektog na die hulpbron suksesvol is, val die prys weer ooreenstemmend, wat dan aandui dat die produk beskikbaar is vir aanwending in produksielyne van ʼn laer winsgewende rangorde. Die prysstelsel funksioneer op dieselfde manier as ʼn rigtinggewende gids vir die aksies van verbruikers in hul aankope van goedere en dienste. Hayek beskryf die doeltreffendheid van die prysstelsel as ʼn kommunikasiemiddel om inligting te versprei aan verspreide besluitnemers as volg:

…Die insiggewendste feit omtrent die stelsel is die ekonomie-van-kennis waarmee dit funksioneer, of hoe min die individuele markdeelnemer nodig het om te weet om hom in staat te stel om op die beste aksie moontlik te besluit. In verkorte vorm of simbool-($/R) word slegs die noodsaaklikste inligting oorgedra en ook oorgedra aan slegs die op wie dit van toepassing is… ʼn telekommunikasie stelsel wat individuele produsente in staat stel om slegs die beweging van ʼn paar markaanwysers dop te hou…om hul aktiwiteite aan te pas by veranderings waarvan hulle nooit sou geweet het as dit nie in prysbewegings gereflekteer was nie. Veranderinge waarvan hulle geen kennis dra behalwe dat ʼn eenvoudige prys verander het nie. [17]

Die feit dat die doeltreffende werksaamhede van die prysstelsel deur politieke inmenging ondermyn kan word moet nie geïgnoreer word nie. Veral historiese probleme in olie en gas voorsienning kan direk gekoppel word aan regerings se onwilligheid om die mark sonder politieke inmenging te laat funksioneer. Die pryse wat vasgestel word deur OPEC en een of ander departemente van energie verteenwoordig nie markpryse nie en die versteurings in vraag en aanbod wat daardeur veroorsaak word, is dus nie die tipiese uitkoms van oop markprosesse nie. Prysbeheer pen die prys teen ʼn punt vas wat die koper frustreer omrede dit hom mislei om te dink dat sy aanvraag tegemoed gekom sal word teen daardie prys. Dieselfde pryskontrole verhoed die aansporings vir olie produsente om hul soektog na nuwe hulpbronne uit te brei en dan meer petroleum op die mark beskikbaar te stel. Inmenging met die prysstelsel vererger net enige bestaande tekorte of oorskotte.

Geld pryse vervul gelyktydig die rol van algemene deler vir berekenings doeleindes en ʼn proses waardeur die individuele besluite van verspreide mense gekoördineer kan word. Pryse wat op die mark ontstaan vervul die koördinatiewe rol juis omdat dit ʼn hoof faktor is wat in oorweging geneem word in die ekonomiese berekenings wat onderliggend is tot die aksies van verskeie besluitnemers. Pryse in die onmiddellike verlede dien as bruikbare middele waarmee ons ons verwagting van pryse in die nabye toekoms vorm. Mense se persepsies van geleenthede vir winsgewende verandering van hul ekonomiese aktiwiteite, loods daardie aksies wat die uiteindelike verandering in toekomstige pryse beïnvloed. Deur sulke veranderings in die pryse word addisionele inligting na ander markdeelnemers gekommunikeer. Die probleem van kennis word verder verlig deurdat hierdie prys-seine nou die nuwe besluite reflekteer en ander aanspoor om hul eie aksies op maniere aan te pas wat konsekwent is met die nuwe mark-data. Die neiging van afsonderlike besluite om konsekwent met mekaar te wees, was die natuurlike gevolg van die totstandkoming van ʼn ruilmiddel wat ʼn algemene deler vir ekonomiese berekening aan almal verskaf. Sonder ʼn algemene deler sou die behoefte vir die koördinasie van verskeie mense se planne nie so groot gewees het nie. Deur slegs op soortgelyke berekening te steun sou die ontwikkeling van spesialisasie en die verdeling van arbeid streng beperk gewees het. Handel sou beperk wees tot suiwer ruilhandel transaksies. Die rasionele allokasie van skaars hulpbronne in ʼn stelsel van intensiewe en voordelige sosiale samewerking is die groot voordeel wat voortspruit uit ʼn markekonomie en sy komplimenterende monetêre berekenings.

Bronne

  • [12] Mises, Human Action, pp. 214.
  • [13] Max Weber, The Protestant Ethic and The Spirit of Capitalism (New York: Charles Scribner’s Sons, 1958), p. 76.
  • [14] Mises, Human Action, p. 199.
  • [15] F.A. Hayek, “The Use of Knowledge in Society,” Individualism and Economic Order (Chicago: University of Chicago Press, 1948), p. 87.
  • [16] F.A. Hayek, “The Use of Knowledge in Society,” p. 87.
  • [17] F.A. Hayek, “The Use of Knowledge in Society,” p. 87.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.