Bankwese en die Staat: ʼn korrupte verhouding

Banke

In order to understand a regulated banking system, you must have a conception of what the banking system would look like without government. Free banking may be something like pure capitalism: we’ve never actually seen it. However, we’ve never truly seen free trade either, but we have a conception of what it would look like, and how restrictions like tariffs affect it. To understand how the banking system works with regulation and central banks, you must have a basis for a theory of free banking. It isn’t about libertarianism and things being free for the sake of being free. It’s about knowing how the banking system is affected by regulation and central banks. If a monetary economist wants to preach about central bank policy, ask them about free banking. If they don’t understand what life would be like without central banks and regulations, they literally have no idea what they’re talking about. – – – George Selgin.

Deur: Thorsten Polleit 

“Dit was nou vanselfsprekend dat die varke, wat duidelik slimmer was as die ander diere, oor al die beleidskwessies op die plaas moes besluit, hulle besluite moes net bekragtig word deur ʼn meerderheid stem.” – Orwell, G. (1989 [1945]), Animal Farm, S. 34.

Die begin punt: Aanvang van Beskawing

Die stigter van die Medici-bankdinastie, Giovanni di Bicci de’ Medici (1360-1429), het op sy sterfbed aan sy kinders gesê: “Bly uit die openbare oog uit”[1] Sy woorde bring altyd die vraag mee: Hoeveel weet bankiers omtrent die waarheid van moderne geld en bankdienste? Om betekenisvol hierop te antwoord moet mens teruggaan na die begin van die beskawingsproses.

Beskawing kan beskryf word as die proses waar die mens ʼn bestaanstoestand (ʼn gewelddadige hand tot mond bestaan) verruil vir ʼn toestand van spesialisasie en die verdeling van arbeid (vreedsame, produktiewe samewerking).

In sy meesterstuk, Human Action (1949), pen Ludwig von Mises (1881 -1973) ʼn prakseologiese verduideliking vir die proses van beskawing neer, wat ons help om die ontwikkeling daarvan te verstaan.[2]

Vir Von Mises is twee faktore die kern van die proses van beskawing:

(1) Daar moet ongelykhede tussen mense wees in behoeftes, begeertes en vermoëns. Dit is ʼn noodsaaklike voorvereiste wat mense dan daartoe dryf om onderlinge samewerking na te jaag.

(2) Die mens moet kan raaksien of herken dat hoër produktiwiteit moontlik is deur ʼn verdeling van arbeid. Terwyl von Mises ʼn aanname van minimale intelligensie by mense maak, beskou hy ʼn bereidwilligheid om die verdeling van arbeid prakties in hul alledaagse lewens en tot hul eie voordeel toe te pas, as ʼn noodsaaklike voorvereiste tot beskawing.

Die Ontstaan van Geld – Carl Menger se teorie van die Oorsprong van Geld.

Die ongelykheid van vaardighede en behoeftes, saam met die aanname van ʼn minimale intelligensie, lei mense om betrokke te raak in die verdeling van arbeid en spesialisasie. Dit, op sy beurt, bring die behoefte aan interpersoonlike uitruiling na vore.

Die primitiewe vorm van ʼn ruil-ekonomie is ruilhandel. Ruilhandel het egter beperkings. Ruilgeleenthede hang byvoorbeeld af van ʼn dubbele toeval van begeertes.

Vroeër of later, sal mense (met die aanname van minimale intelligensie) besef dat ʼn indirekte ruilmiddel vir ruiltransaksies ekonomies voordelig is. ʼn Indirekte wyse van ruil verhoog die moontlike geleenthede vir ruil, wanneer die dubbele toeval van behoeftes/begeertes nie meer ʼn voorvereiste vir handel is nie. Die indirekte wyse van ruil wat universeel aanvaar word, word “geld” genoem.

In Principles of Economics (1871), het Carl Menger (1840-1921) geteoretiseer dat geld spontaan na vore kom uit mark aktiwiteite, en dat vryemarkgeld na vore kom uit kommoditeite (soos edelmetale). [3]

Von Mises het later met sy regressie stelling bewys dat dit vir prakseologiese redes inderdaad so moet wees: Geld moes oorspronklik uit die mark na vore gekom het en dit moes begin het as ʼn kommoditeit [4]

Geld berging

Geld is ʼn ekonomiese produk soos enige ander en daarom sal dit nes enige ander produk geëkonomiseer word. Mense sal gerieflike maniere vereis vir die berging en uitruiling van hul kommoditeit-geld.

Omdat mense verskil in hul individuele tydsvoorkeure, sal daar spaarders/beleggers wees (wat meer geld voorraad hou) en entrepreneurs (wat meer geld voorraad benodig as wat hulle besit) [5]. Dit is teen hierdie agtergrond dat die twee tipes geld-besighede in die vryemark na vore sal kom: depositobankwese (of geld pakhuise) en lening/kredietbankwese. [6]

Depositobanke bied bewaring, beveiliging en verdiskonteringsdienste aan geldeienaars. Geldeienaars kan byvoorbeeld hul kommoditeit-geld deponeer by ʼn depositobank teen die ontvangs van ʼn geldsertifikaat (banknoot of deposito bewys). Met ander woorde privaat reserwebanke.

Kredietbanke sal hulself herfinansier deur die verkryging van ware besparings, d.w.s. deur die uitreiking van rentedraende effekte. Beleggers sal graag hul gespaarde geld ruil vir rentedraende effekte.

Die markrentekoers sal bepaal word deur die vraag en aanbod na geld, en so sal ʼn markrentekoers tot stand kom wat neig na mark-ewewig wat die deelnemers in daardie mark se tydsvoorkeure weerspieël. Met ander woorde in ʼn suiwer vryemarkstelsel sal daar ʼn beroep bestaan wat ons “bankiers” kan noem: sommige in die geldberging besigheid (of depositobank), en sommiges in kredietbanke bedryf, maar dit sal twee afsonderlike industrieë wees.

Die Aansporing tot Aggressie

In ʼn vryemarkekonomie is daar slegs drie maniere om eiendom te bekom (die nie-aggressiewe maniere): Tuistevesting (wat impliseer eerste gebruiker = eienaar), produksie en vrywillige handel.

Franz Oppenheimer het daarop gewys dat “Daar twee fundamenteel teenoorgestelde maniere is waardeur ʼn man, wat lewensmiddele nodig het vir oorlewing, verplig word om die nodige hulpbronne te bekom vir die bevrediging van sy begeertes en behoeftes. Dit is werk en roof, ʼn mens se eie arbeid en die dwangmatige toeëiening van ander se arbeid.”[7]

Die logika van menslike aksie verduidelik dat daar ekonomiese aansporings is en moet wees vir die mens om ander mense se eiendom aggressief te probeer bekom. Twee interafhanklike prakseologiese insigte verduidelik dit.

Eerstens weet ons verseker dat vroeëre bevrediging van begeertes verkies word bo latere bevrediging van behoeftes, maar ons weet ook verseker dat ʼn bevrediging van behoeftes wat verband hou met ʼn lae koste verkies word bo ʼn bevrediging van behoeftes wat verband hou met ʼn hoë koste. Met ander woorde, individue probeer om hul doelwitte te bereik met so min as moontlik insette en in die kortste tyd moontlik.

Tweedens, dat die proses van beskawing nie die mens se geneigdheid tot aggressie tot niet maak nie. Daar kan verwag word dat individu A aggressie teen B (of sy eiendom) sal inisieer, as en indien hy daarmee sou kon wegkom. Met ander woorde sou die verwagte voordele wat uit die eiendomsregskending spruit hoër wees as die verwagte koste/risiko wat hy moontlik sal moet dra in die uitvoering daarvan.

Dat daar ekonomiese aansporings vir die individu is om aggressie teen ander mense (of hul eiendom) te inisieer, is ook die saadjie van die oorsprong van wat ons gewoonlik “regering” noem.

ʼn Staat kan tipies verstaan word as ʼn territoriale monopolis van dwang: ʼn instelling wat betrokke is by geïnstitusionaliseerde eiendomsregskending en -uitbuiting in die vorm van onteiening, belasting en regulasies van privaateiendom eienaars.[8] Om dan die vraag te antwoord: Hoeveel weet bankiers omtrent die waarheid van moderne geld en bankdienste?, is dit ook belangrik om ondersoek in te stel na die verskeie vorme van regering.

Om te begin moet mens onderskei tussen regerings met ʼn lae tydsvoorkeur en regerings met ʼn hoë tydsvoorkeur.

Aan die een kant van die spektrum het ons (om ʼn metafoor van Mancur L. Oslon te leen) die “Roving Bandit” of dan die “Swerwende Bandiet”.[9] Die Swerwende Bandiet verteenwoordig ʼn vorm van regering wat beperkte belange in die welsyn van die samelewing het en as ʼn gevolg daarvan sal sy diefstal tipies so na aan die 100 persent merk van die samelewing se inkomste kom as waarmee hy kan wegkom.

Die Swerwende Bandiet hoef nie te deel in die skade wat sy aggressie die samelewing aanrig nie (in terme van verlore inkomste). Die tydsvoorkeur van die Swerwende Bandiet is daarom relatief hoog. Hy neem van sy slagoffer soveel as wat hy kan, en daar is geen ekonomiese aansporing om hom van hierdie gedrag te weerhou nie.

Aan die ander kant van die spektrum is daar die Gevestigde Bandiet. Soos die Swerwende Bandiet, hou hy ook die monopolie van dwang oor sy slagoffers. Die Gevestigde Bandiet het dus ʼn deelnemende belang in die samelewing se welsyn, hy sal sy slagoffers so produktief as moontlik probeer hou: hoe meer sy slagoffers produseer en hoe meer daar van hulle is, hoe meer is daar vir die Gevestigde Bandiet om te onteien.

Deurdat hy ook deel het aan enige verliese in die samelewing sal die Gevestigde Bandiet sy diefstal redelik beperk hou. Hoe hoër die verliese in produksie as gevolg van die onteiening, hoe laer sal die vlak van aggressiewe onteiening wees waarteen die Gevestigde Bandiet homself verryk. Die Gevestigde Bandiet se tydsvoorkeur sal dus laer wees as die tydsvoorkeur van die Swerwende Bandiet.

Om dit dan in politieke stelsels te verwoord, die Gevestigde Bandiet kan beskou word as die private eienaarskap van regering (feodalisme / monargie/ privaat dorp) en die Swerwende Bandiet as die openbare eienaarskap van regering (demokrasie/ republikanisme). [10]

Die opsigter oor ʼn privaatregering maksimeer die huidige waarde van die totale inkomste van sy onteiende buit. ʼn Koning wat byvoorbeeld ʼn monopolie van onteiening oor sy slagoffers hou, se tydsvoorkeur sal, te danke aan sy samevallende en omvattende belange in wat hy as sy eiendom beskou, relatief laag wees.

In teenstelling hiermee sal die opsigter van ʼn regering in openbare besit eerder sy huidige inkomste maksimeer. Sy tydsvoorkeur sal dus relatief hoog wees.

Openbare eienaarskap van die regering beteken noodgedwonge verkiesings waar die meerderheid besluit wie as die tydelike opsigter van die openbare eienaarskap van regering sal dien. Die gemiddelde kieser sal politici ondersteun van wie verwag word (reg of verkeerd) om die kieser se ekonomiese situasie te verbeter. ʼn Kieser het elke ekonomiese-aansporing om op hierdie manier op te tree, ongeag van die feit dat enige voordele wat hy op hierdie manier verkry die resultaat van onteiening van sy medeburgers se besittings is.

Die opsigter van die regering in openbare besit het op sy beurt ʼn aansporing om die meerderheid van die kiesers se ondersteuning te kry. Hy sal dus ten gunste wees van ʼn beleid van onteiening ten koste van die (tipies klein groep) hoë inkomste produsente en tot voordeel van die (tipies groot groep) minder produktiewe of onproduktiewe mense. Die openbare eienaarskap van regering sal dus lei tot ʼn voortdurende erosie van die meerderheid mense se omvattende belange in die markinkomste van die samelewing, met ander woorde, die samelewing se tydsvoorkeur gedrag sal verhoog.

Ons ondersoek hier was na die tydsvoorkeur- en aansporings-gedrag van die vorm van regering en nie ʼn goedkeuring van monargie of diktators nie. Indien so ʼn regering met uitgang bedreig word, soos so baie in die geskiedenis al gebeur het, is hulle bereid om so te sê alles te vernietig vir die behoud van hul belange.

Regering bring bedrog in bankwese mee

Die styging in die samelewing se tydsvoorkeur is die sentrale verduidelikende faktor vir die opkoms van korrupte bankwese, wat deur ʼn suiwer fiat geld regime verpersoonlik word.

Vir die versorgers van regering in openbare besit om hulpbronne vanaf die publiek te onteien, kan dit die gerieflikste gedoen word deur (1) die verkryging van beheer oor geldproduksie, (2) die vervanging van kommoditeit geld met Fiat geld, en (3) die geldproduksie deur middel van krediet uitbreiding.

Die bankindustrie is dus die natuurlike bondgenoot vir die regering se beplande swendelary. In werklikheid sal die regeringsamptenare en die bankiers saamspan vir die stigting van ʼn suiwer fiat geldstelsel soos dit ook histories altyd gebeur het.

Bankiers besef dat hulle bykomende inkomste kan verdien, indien en wanneer hulle toegelaat word om deur middel van kredietuitbreiding nuwe geld kan skep deur meer uit te leen as die hoeveelheid kommoditeit-geld tot hul beskikking. Hulle verstaan ​​dat so ʼn fraksionele reserwe bank ʼn redelik winsgewende onderneming is en dus sal die deposito- sowel as die leningbanke ten gunste wees van ʼn samesmelting tussen depositobank en leningsbank dienste.

Die tydelike opsigters van die regering in publieke besit is ook meestal ten gunste van fraksionele reserwe praktyke. Deur ʼn eerste ontvanger van die nuwe geld te wees kan die regering hulpbronne so te sê ongesiens van die natuurlike eienaars onteien. Aangesien die staat reeds ʼn monopolie op die reg het, is dit relatief maklik om fraksionele reserwe praktyke te wettig.

Om by fraksionele reserwe praktyke betrokke te raak is egter riskant vir die bank. Hy weet dat as, of wanneer, sy vervalsing ontdek word ʼn bank moontlik uit besigheid gedwing sal word, of erger. Vir die regering is bankmislukkings ook redelik ongewens omrede dit ernstige politieke en ekonomiese probleme meebring. Die regering sal dus met ondersteuning van die bankiers ʼn sentrale bank oprig wat banke in staat sal stel en aanmoedig om die hoeveelheid geld in ʼn gesamentlike poging te vermeerder. Selfs met ʼn sentrale bank in plek is die risiko van ʼn bankstormloop(die grootskaalse onttrekking van deposito’s) nie heeltemal uitgesluit nie. Wat dan nodig is, is vir die sentrale bank om ʼn monopolie op die produksie van geld te hê.

Dit is die rede waarom kommoditeit-geld vroeër of later altyd vervang sal word deur onherstelbare papier, of fiat-geld waaraan wetlike voorreg toegestaan ​​word. Om dit te bereik sal die regering dit wettig maak vir bankiers om die behoorlike aflosbaarheid van uitstaande geldsertifikate vir kommoditeit-geld op te skort.

Kollektiewe Korrupsie

Mens kan wonder hoe die regering en bankiers hiermee wegkom? Dit is tog ʼn  bedrieglike wyse waarop hulle hulpbronne van produsente en kontrakteurs via die uitreiking van inflasionêre geld onttrek? Is dit ʼn gebrek aan kennis van die wat aan die verloorkant van die skema is? Of is die koste van opstand te gevaarlik en duur vanuit individu se oogpunt?

ʼn Redelike ekonomiese antwoord op hierdie vraag kan gevind word in wat kollektiewe korrupsie genoem word. [11] Sodra die regering begin om in te gryp in die samelewing se (monetêre) sake, sal individue toenemend ʼn ingesteldheid ontwikkel om inbreuk te maak op ander se eiendomsregte.

Deur gebruik te maak van die regering se dwangaksies, kan ʼn individu die voordele van aggressie teen die eiendom van ander verkry, terwyl hy slegs ʼn fraksie van die skade wat sy optrede die gemeenskap aandoen hoef te dra. Die individu het elke aansporing om so op te tree, want hy sal nie verder self die verliese van die eiendomsregskendings hoef te dra nie.

Wanneer ʼn suiwer fiat geldstelsel eers operasioneel is, sal dit lei tot gesamentlike korrupsie op die grootste skaal. Die staat betaal altyd disproporsioneel goed aan dié wat hulle ondersteun, soos met kontrakte aan maatskappy wat hulle nie in die vryemark sou verkry nie. Ook staan meeste kritiese denkers in werklikheid reeds( ten minste in hul aansporing) tot interpretasie en gevolgtrekkings ten gunste van enige gegewe heersende staat, aangesien alle universiteite deur die staat befonds word. Met groeiende staatstoelaes sal ʼn groeiende aantal mense en besighede ekonomies en sosiaal afhanklik word van die voortsetting (of selfs ʼn verdere uitbreiding) van die regering se aktiwiteite.

Hul aansporing tot enige weerstand teen verdere regeringsuitbreiding en die fiat geld regime – wat noodwendig verdere skending van individue se eiendomsregte beteken – daal. Dit is duidelik dat bankiers ʼn belangrike rol speel in hierdie verspreiding van kollektiewe korrupsie. Mense belê soms ʼn leeftyd se spaargeld in hul fiat-gedenomineerde bankdeposito’s en effekte en selfs wanneer dit nie meer moontlik is nie en die banke net as ʼn interim maatreël gebruik word vir die verskuiwing van hul spaargeld na ander kommoditeite toe, word hulle ondersteun.

Vroeër of later sal mense dan altyd belangstelling toon in die ondersteuning van die regering en die handhawing van die fiat-geld regime – ten alle koste.

Dit moet in hiperinflasie eindig

Wanneer kollektiewe korrupsie wydverspreid raak, moet dit uiteindelik lei tot hiperinflasie – ʼn versnelde toename in die hoeveelheid geld, wat die koopkrag van die fiat-geld verminder of selfs die totale vernietiging daarvan.

Natuurlik het diegene in die regering en die bankiers ʼn gemeenskaplike belang in die voorkoming van hiperinflasie. Hulle verkies ʼn soort inflasie wat basies ongesiens voortgaan en nie buite beheer raak nie.

Sodra kollektiewe korrupsie egter so wydverspreid voorkom dat die finansiële gesondheid van die banke en die regering interafhanklik van mekaar raak is die hele stelsel gerat vir sy eie ondergang deur hiperinflasie.

ʼn Onophoudelike uitbreiding van die kwantiteit fiat-geld moet in ʼn ekonomiese depressie eindig en pogings om dit te probeer vermy deur dit óf uit te voer óf na die volgende generasies toe oor te probeer dra(soos in die video’s uitgebeeld) stel slegs die onafwendbare uit en verhoog die mark korreksie wat daarop moet volg.

Hoe reageer mense op so naderende krisis? Op die rangorde van eerste ontvangers van die nuutvervaardigde geld (wie die meeste voordeel uit die kollektiewe korrupsie trek), blyk die antwoord voor die hand liggend te wees. Die mensdom vir wie die staat sinoniem met beskawing geword het, verkies so te sê enige skema wat daardie paradigma in stand hou en verkies enige politikus wat beloof om die stelsel in stand te hou. Onder so ʼn aansporingsstruktuur moet die fiat-geldstelsel eindig in hiperinflasie.

Vanuit die bogenoemde kan ons aflei dat: (1) Indien en wanneer openbare eienaarskap van regering tot stand kom, kommoditeit-geld vervang sal word deur fiat-geld. (2) Fiat-geld sal lei tot kollektiewe korrupsie. En (3), sodra kollektiewe korrupsie wydverspreid genoeg voorkom, sal die fiat-geld regime vernietig word deur hiperinflasie.

Dit volg logies dat wanneer ʼn fiatgeldstelsel tot stand gebring word, banke en bankiers willens en wetens en sommige dalk selfs onwetend aansluit by die groot kriminele onderneming bekend as die staat.

Omdat bankiers mense is wat in eie belang optree, nes die res van ons, moet van hulle sekerlik verstaan dat daar inherente probleme in die monetêre stelsel is. In die lig van ʼn taamlik droewige monetêre geskiedenis, sou so ʼn gevolgtrekking baie ver gaan om Giovanni di Bicci de’ Medici se laaste woorde aan sy kinders te verduidelik: “Bly uit die openbare oog uit.”

Bronne

  • [1] Parks, T. (2006), Medici Money, Banking, Metaphysics and Art in Fifteenth-Century Florence, Profile Books Ltd, London, p. 3.
  • [2] “As en so ver as arbeid onder ʼn verdeling daarvan meer produktief is as geïsoleerde arbeid, en as en sover as wat die mens daartoe in staat is om dit te besef sal menslike aksie neig tot samewerking en assosiasie; die mens word ʼn sosiale wese nie deur opoffering van sy eie belange in diens van een of ander mitiese baal-samelewing nie, maar vir die doel om sy eie welstand te verbeter. Ondervinding leer ons dat hierdie toestand van hoër produktiwiteit wat onder ʼn verdeling van arbeid bereik word teenwoordig is as gevolg van die ingebore ongelykheid van mense en die ongelyke geografiese verspreiding van natuurlike faktore van produksie. Daarom is ons in ʼn posisie om die rigting van sosiale evolusie te verstaan.” Mises, L. v. (1996), Human Action, 4th ed., p. 160-1.
  • [3] Sien Menger, C. (2007 [1871]), Principles of Economics, Hoofstuk 8, pp. 257 – 285, esp. 261 – 262: “Die oorsprong van geld … is, soos gedemonstreer, ʼn natuurlike verskynsel en vertoon dus slegs in uitsonderlike gevalle ʼn invloed wat spruit uit wetgewing. Geld is nie ʼn uitvinding van die staat nie en nie ʼn produk van wetgewing nie. Nie eens is politieke wil of edikte nodig vir die bestaan daarvan nie. Sekere kommoditeite word op ʼn natuurlike wyse geld as resultaat van ekonomiese verhoudings wat onafhanklik is van die mag van die staat.”
  • [4] Sien Mises, L. v. (1996), Human Action, p. 408 – 410; Mises, L. v. (1953), The Theory of Money and Credit, pp. 97 – 123.
  • [5] Om die aspek van tydsvoorkeur sien  Mises, L. v. (1996), Human Action, 4th ed., pp. 483 – 490; ook Hoppe, H.-H. (2006), “On Time Preference, Government, and the Process of Decivilization”, in: Democracy, The God That Failed, pp. 1 – 43.
  • [6] In hierdie konteks sien byvoorbeeld: Hoppe, H.-H. (2006), “How is Fiat Money Possible? – or, The Devolution of Money and Credit”, in: The Economics and Ethics of Private Property, Studies in Political Economy and Philosophy, 2nd ed., pp. 175 – 204.
  • [7] Oppenheimer, F. (1922), The State, p. 24.
  • [8] Sien Hoppe, H.-H. (2006), “On Monarchy, Democracy, and the Idea of Natural Order”, in :Democracy, The God That Failed, p. 45; ook Rothbard, M. N. (2002 [1973]), For a New Liberty, Hoofstuk 3, “The State”, pp. 45.
  • [9] Sien Olson, M. (2000), Power and Prosperity, Outgrowing Communist and Capitalist Dictatorships, Basic Books, esp. pp. 1 – 24.
  • [10] In hierdie konteks sien Hoppe, H.-H. (2006), “On Monarchy, Democracy, and the Idea of Natural Order”, in: Democracy, The Gold That Failed, pp. 45 – 76, esp. 46 – 48. Oor demokrasie sien Rothbard, M. N. (2004 [1970]),Power and Markets, Government and the Economy, 4th ed., Hoofstuk 2, 2.B., pp. 19 – 21, and pp. 233 – 245.
  • [11] Sien Polleit, T. (2011), Fiat Money and Collective Corruption, in: The Quarterly Journal of Austrian Economics, Vol. 14, No. 4, pp. 397 – 415.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.