Die Eeu van Oorlog

Eeu van Oorlog

Deur John V. Denson

Die mees akkurate beskrywing vir die twintigste eeu is: die eeu van oorlog en welsyn. Dit was die bloeddorstigste eeu in die hele geskiedenis met meer as 170 miljoen mense wat vermoor is deur regerings. Tien miljoen het gesterf in die Eerste Wêreldoorlog en 50 miljoen in die Tweede Wêreldoorlog. Ten opsigte van die 50 miljoen wat gedood is in die Tweede Wêreldoorlog, is dit insiggewend dat byna 70% onskuldige burgerlikes was, hoofsaaklik as gevolg van ondiskriminerende bombardering(carpetbommings) van Duitse burgerlike stede deur Amerika en Groot-Brittanje.

Hierdie getal van 50 miljoen sterftes sluit nie die beraamde ses tot twaalf miljoen Russe in wat deur Stalin vermoor is voor die Tweede Wêreldoorlog nie, en ook nie die paar miljoen mense wat hy vermoor het na die oorlog beëindig is nie. George Crocker se uitstekende boek Roosevelt’s Road to Russia beskryf die vredeskonferensies, soos Jalta, in detail en wys uit hoe Roosevelt en Churchill kommunisme in Rusland en China versterk het deur onnodige toegewings te maak wat ʼn derde van Europa aan Stalin oorhandig het.

Dit bly vir baie mense moeilik om te verstaan hoe Amerika so onkrities vir Stalin as ʼn bondgenoot kon aanvaar. Dit was na alles ook Amerikaanse steun en toegewings tydens die oorlog wat Sowjet-Rusland in ʼn militêre mag help omskep het wat vir die volgende 45 jaar soveel gevaar vir die vryewêreld sou inhou. Dit het China ook aan die kommuniste uitgelewer deur die doelbewuste marginalisering van Tsjiang Kai-sjek in die onderhandelingsprosesse.

Die verskrikking van die twintigste eeu kon in die negentiende eeu nouliks voorspel word, daardie eeu het die agtiende eeu agtergelaat met die Amerikaanse Rewolusie wat die wêreld se eerste klassieke liberale regering tot stand gebring het. ʼn Regering wat gebaseer was op ʼn bloudruk in ʼn geskrewe grondwet, wat weinig min magte aan die sentrale staat oorgelaat het en voorsiening gemaak het vir privaateiendomsreg, vryheid van spraak en selfs direkte belasting verbied het. Uit die staanspoor is ʼn buitelandse beleid aanvaar wat gebaseer was op nie-inmenging en neutraliteit in die sake van ander lande en dit was die dominante politieke idee vir meer as ʼn honderd jaar.

Hierdie idees van klassieke liberalisme het vinnig na Europa toe uitgebrei maar losgebars in ʼn ander soort revolusie in Frankryk, alhoewel ook ʼn revolusie in die naam van liberalisme. In die Franse Revolusie het “gelykheid” as ideaal ʼn totaal ander rol gespeel as in die Amerikaanse eweknie, hulle wou poog om alle vorme van monargie met geweld af te skaf en sommiges wou sonder skroom dit regoor Europa deurvoer. Die idees van klassieke liberalisme is hierdeur verdraai en verwrong, en nie vir die laaste keer nie, nogtans het dit versprei deur die hele Europa. In gedeeltes van Duitsland in besonder, wat onder die beleg van ʼn konskripsie Franse leër was, was liberalisme niks minder as ʼn skelwoord nie.

In praktyk het die negentiende eeu hoofsaaklik onveranderd gebly, ʼn eeu van individuele vryheid, materiële vooruitgang en relatiewe vrede, wat groot ontwikkeling en vooruitgang in die wetenskappe, tegnologie en industrie moontlik gemaak het. Vanaf die middel van die negentiende eeu het al meer denkers kollektivisme as ʼn rooskleurige toekoms gesien. Na die kort Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1871, het Bismarck die eerste ware welsynstaat tot stand gebring, terwyl hy die Duitse nasiestaat realiseer deur die konfederasie van state om te skakel tot ʼn enkele staat en het daardeur alle Duitse stam lojaliteite finaal uitgewis, nie veel anders as wat Abraham Lincoln in Amerika gedoen het nie. Van hierdie punt af tot en met die Eerste Wêreldoorlog het die meeste Duitse denkers ook begin om kollektivistiese idees aan te hang en die staat te verheerlik. Hulle het ʼn enkele stem in Duitsland geïgnoreer, ʼn digter met die naam van Johann Christian Friedrich Hölderlin, wat in 1843 gesterf het. Hy het die bekende standpunt gemaak: Wat die staat ʼn hel op aarde gemaak het is dat die mens dit hul hemel probeer maak het.[1]

Die groot tragedie

Uiteindelik het die grootste tragedie van die Westerse beskawing losgebars met die Eerste Wêreldoorlog in 1914. Dit mag dalk die mees sinnelose, onnodige en vermybare ramp in die menslike geskiedenis gewees het. Die idees van Klassieke liberalisme is daardeur vermoor en het bykans verdwyn en is vervang met staats-kollektivisme wat beide intellektueel en in praktyk vir die res van die twintigste eeu sou heers. Die verskillende regerings van die wêreld het na die Eerste Wêreldoorlog die idees van sosialisme op allerlei wyses begin regverdig en nastreef.

Terwyl ek talle politieke en intellektuele leiers van die twintigste eeu kan aanhaal, som die woorde van een wat ʼn dominante rol sou speel in die denke van politici in die twintigste eeu als op. Hy was die vader van fascisme en het in 1922 in Italië aan bewind gekom. Benito Mussolini verklaar in 1927:

Fascisme… glo nie in die moontlikheid of die nut van langdurige vrede nie… Alleenlik oorlog bring tot sy hoogste inspanning alle menslike energie en plaas die stempel van adel op die volke wat die moed het om te ontmoet… Dit kan verwag word dat hierdie ʼn eeu van outoriteit sal wees, ʼn eeu van die linkses, ʼn eeu van fascisme. Want die negentiende eeu was ʼn eeu van individualisme, dit kan verwag word dat hierdie ʼn eeu van kollektivisme sal wees, en dus die eeu van die staat… Vir fascisme is die groei van die Ryk, dit wil sê, die uitbreiding van die staat, die essensiële manifestasie van lewenskragtigheid, en die teendeel daarvan ʼn teken van agteruitgang en die dood.[2]

Basiese Beginsels

Mussolini se verklarings vra nadere studie omdat dit soveel van die basiese beginsels van die twintigste eeu dramaties staaf:

  1. Dit bepaal dat langdurige vrede nie moontlik of gewens is nie.
  2. In plaas van vrede is oorlog gewens en oorlog is nie bloot ʼn edele aktiwiteit nie, maar openbaar die ware moed van die mens, dit ontsluit kreatiewe energie en veroorsaak voortuitgang. Verder is oorlog die primêre aktiwiteit om die staat te verhef en te verheerlik. Oorlog is die prinsipale metode waardeur kollektiviste hulle doel sal bereik van beheer deur die min oor die baie. Hulle sal poog om oorloë te begin vir hierdie einste doel.
  3. Individualisme, die filosofie wat beoefen is in die negentiende eeu, moet afgeskaf word en kollektivisme moet ideologies oor die twintigste eeu heers.
  4. Fascisme word erken as ʼn variasie van ander vorme van kollektivisme, wat alles deel vorm van die linkse politieke spektrum eerder as regs. Dit was eers met die Rooi Dekade van die 1930’s en die opkoms van Hitler dat linkse denkers en die media begin het om fascisme op die politieke spektrum na regs te verskuif, sodat die “goeie vorme” van kollektivisme dit kan teenstaan as “regse ekstremisme”.

Die vader van fascisme het duidelik besef dat al hierdie kollektivistiese idees, dit wil sê, sosialisme, fascisme en kommunisme, aan die linkerkant van die politieke spektrum hoort en mens kan deesdae sosiale-demokrate(neo-liberale) hierby bytel, en dat hulle almal teen individualisme is.

Indien Amerika dan gestig was op idees wat presies die teenoorgestelde was van dit wat deur Mussolini en ander kollektiviste gepredik was, waarom het Amerika dan nie in die twintigste eeu ʼn teenstander daarvan geword nie? Hoekom het die idees van die Amerikaanse stigters nie die twintigste eeu oorheers en dit ʼn eeu van vrede en vooruitgang gemaak nie – en Amerika dan eerder verander na die toonbeeld van die oorlog en welsyn staat? Die mislukking van hierdie eksperiment in beperkte regering was nie te danke aan ʼn militêre nederlaag van buite nie, maar ʼn oorlog van binne.

Die Amerikaanse Ryk

Die ware redes waarom Amerika die beginsels van sy stigting laat vaar het en deel geword het van hierdie tragedie moet verstaan word. Daar moet vasgestel word waarom politieke konsepte wat idees van ʼn magtige staat bevat lei tot idees van emperialisme en staatverheerliking. Hoe het Amerika vanaf ʼn stryd vir selfregering ontvorm tot ʼn Empaaier en militêre intervensionis in beide die 1ste en 2de Wêreldoorloë en die eeu van oorlog en welsyn help skep?

Ons kan begin deur ʼn aanhaling te ondersoek uit een van die belangrikste leiers van Amerika in die negentiende eeu en die antwoord sal gou duidelik word. Hierdie stelling is gemaak deur ʼn redelik onbekende(op daardie tydstip) Amerikaanse politikus in 1838:

By watter punt moet ons die nadering van gevaar verwag? Op watter manier moet ons daarteen fortifiseer? Sal ons een of ander transatlantiese militêre reus verwag wat oor die oseaan stap en ons met ʼn enkele slag vergruis? Nooit! Al die weermagte van Europa, Asië en Afrika gekombineer met al die skatte van die aarde kan nie met geweld ʼn slukkie uit die Ohio rivier neem, of ʼn spoor op Blue Ridge los nie, nie in ʼn veldtog van ʼn duisend jaar nie.[3]

Abraham Lincoln was die skrywer van hierdie woorde en hy het dit afgesluit met die volgende:

As vernietiging ons lot moet wees, moet ons self die outeur en uitvoerder daarvan wees. As ʼn nasie van vrye mans, moet ons leef deur alle tye, of sterf deur selfmoord.[4]

Abraham Lincoln het homself reg bewys deur uiteindelik die hoof aanhitser van Amerika se selfmoord te word. Dit was nie ʼn buitelandse vyand nie maar dit was ʼn oorlog, selfs ʼn “seëvierende” oorlog, wat die drome van die stigters van Amerika beëindig het.

Deur die Amerikaanse burgeroorlog voor te hou as ʼn edele oorlog wat uitsluitlik gevoer is om slawerny te beëindig en daarom 650,000 duisend mense se lewens as koste werd was, is om die ware redes te verbloem. Dit was in der waarheid ʼn oorlog om die idees van ʼn beperkte staat omver te werp en het Amerika se pad na imperialisme verseker.

Wanneer mens na ou foto’s van Lincoln aan die einde van die oorlog kyk dan sien jy meer as net tekens van erge stres, en ek het al gewonder of hy nie begin besef het wat die gevolge van sy aksies sou wees nie. Aan die einde van die oorlog maak hy hierdie standpunt:

“As gevolg van die oorlog is korporasies bekroon en ʼn era van korrupsie in hoë plekke sal volg, en die geldmag van die land sal probeer om sy bewind te verleng deur te werk op die vooroordele van die mense totdat rykdom saamgevoeg is in die hande van net ʼn paar en die republiek vernietig is. Ek voel op hierdie oomblik meer vrees vir die veiligheid van my land as ooit tevore, selfs te midde van die oorlog.”[5]

Ander belangrike persone het ook die werklike gevolge van die Oorlog tussen die state verstaan. Een van hierdie was die groot historikus en kampvegter vir vryheid, Lord Acton, wat onmiddellik na die oorlog die volgende aan generaal Robert E. Lee geskryf het:

Ek het in staatsregte(die regte van die kleiner state) die enigste oorblywende teenwig op die absolutisme van die soewereine wil gesien, en sesessie het my met hoop gevul, nie as die vernietiging nie maar die verlosser van demokrasie… Daarom het ek die veldslae wat u vir vryheid geveg het geag as vir ons almal se vryheid te wees, asook vir ons beskawing en vooruitgang, en ek treur dieper vir dit wat by die veldslag van Richmond verlore gegaan het as vir dit wat by die veldslag van Waterloo gewen is.[6]

Lee se Visie

Met ʼn noukeurige analise van die resultate van die oorlog tussen die state het generaal Lee in sy brief gedateer 15 Desember 1866, Lord Acton geantwoord:

Ek kan net sê dat hoewel ek van mening is dat die behoud van die grondwetlike bevoegdheid van die algemene regering die fondasie van ons vrede en veiligheid tuis is en ek nog glo dat die instandhouding van die regte en gesag voorbehou aan die state en die mense, nie net noodsaaklik is vir die aanpassing en die balans van die algemene stelsel nie, maar die waarborg vir die voortbestaan van ʼn vrye regering. Ek beskou dit as die hoof bron van stabiliteit in ons politieke stelsel, terwyl die konsolidasie van die verskeie state in ʼn groot republiek ongetwyfeld internasionaal aggressief sal wees en despoties tuis, hierdie verskuiwing sal die voorloper wees na die ondergang self soos al die imperialistiese republieke wat dit voorafgegaan het.[7]

Generaal Lee het duidelik die Noorde se oorwinning gesien as die begin van ʼn groeiende Empaaier en die uiteindelike verlies aan vryheid wat daarmee gepaardgaan en die einde van die oorspronklike idee van die stigters. Hy het ook gesien dat die binnelandse ryk sou lei tot ʼn imperiale buitelandse beleid. Konsolidasie van mag in die sentrale staat is altyd die eerste uitgangspunt van kollektivisme, en dit is die basiese idee wat die grondwet probeer vermy het. Na die skepping van die binnelandse Amerikaanse Empaaier het dit net drie dekades geneem vir Amerika om haar 100-jarige buitelandse beleid te ignoreer en met Spanje in ʼn oorlog gewikkeld te raak om Kuba kwansuis van Spaanse oorheersing te bevry. Dit is egter wel bekend dat die oorspronklike en die uiteindelike doel van die oorlog wel was om die Filippynse Eilande van Spanje af weg te rokkel ten einde steenkoolstasies te voorsien vir die handel met China wat beskou was as noodsaaklik vir Amerikaanse uitbreiding.

McKinley het beveel dat die Amerikaanse oorlogskepe na die Filippyne gestuur word op ongeveer dieselfde tyd wat hy die oorlogskip Maine na Kuba gestuur het. Opdrag is ook aan die vloot gegee het om die Filippynse rebelle te steun teen Spaans oorheersing. McKinley het die kongres gevra vir ʼn oorlogsverklaring omdat die Spanjaarde die oorlogskip Maine gesink het, maar dit is vandag alom bekend dat die ontploffing binne in die skip plaasgevind het en die Spanjaarde nie daarvoor verantwoordelik was nie. In die Filippyne was die inheemse rebelle suksesvol daarin om die juk van hul Spaanse heersers af te gooi en was bygestaan in hul poging deur die Amerikaanse vloot, maar nadat die rebelle daarin geslaag het, het McKinley die Amerikaanse vloot opdrag gegee om die kanonne op die rebelle te draai, hulle is koudbloediglik in hul duisende afgemaai, en hul eiland is weereens van hulle af weggerokkel. Die eilande is daarna geregeer as ʼn militêre diktator sonder enige magtiging vanaf die Kongres. Andrew Carnegie het sarkasties aan een van die vooraanstaande ekspansioniste geskryf: “Veels geluk, dit lyk of jy jou werk voltooi het om die Filippyne beskaaf te maak. Sover verneem is ten minste agt duisend van hulle heeltemal beskaaf gemaak deur hulle hemel toe stuur. Ek hoop jy hou daarvan”. McKinley sou ook later en sonder enige opdrag vanaf die Kongres vyf duisend soldate China toe stuur om die Bokser-rebellie te help onderdruk, die rebellie was ʼn poging deur die Chinese om vreemde oorheersing te beëindig. In die tyd sou ʼn nuwe term ook in Amerika bekend word “Yellow Journalism” – ʼn term vir sensasionele joernalisme.

Volgende kom toe die grootste tragedie van die twintigste eeu, Amerika se laat toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog. Amerika se toetrede het die magsbalans ingrypend verander en uiteindelik bygedra tot die Versailles Vredesverdrag, wat die weg gebaan het vir die Tweede Wêreldoorlog.

Die Progressiewe Beweging

Amerika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog was ʼn direkte gevolg van die sogenaamde Progressiewe Beweging wat die idee van demokrasie so te sê aanbid het en dit wêreld wyd wou versprei, met geweld indien nodig. Dit was hierdie beweging wat in een jaar, 1913, monumentale veranderinge in Amerika te weeg sou bring, alles in die naam van hulp aan armes.

Die eerste verandering was die skepping van die Federale Reserwebank stelsel, na bewering om die banke te beheer, maar in stede daarvan het dit finansiële mag gekonsentreer in die hande van ʼn paar onverkose manipuleerders. Die tweede was die Sestiende Wysigingswet van die Amerikaanse grondwet wat toegelaat het dat die staat direkte belasting kon hef en dit sou na bewering slegs op ryk mense van toepassing wees. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was die belasting egter verhoog en uitgebrei na almal en is dit die mees onderdrukkendste kenmerk van Amerikaanse lewe in die laaste eeu. Teen hedendaagse koerse beteken dit dat middelklas Amerikaners vir ongeveer vyf maande uit elke jaar werk net vir die staat voordat hulle iets vir hulself verdien.

Die derde drastiese verandering was die Sewentiende Wysigingswet wat toegelaat het dat mense direk senators tot die federale senaat verkies eerder as wat hulle aangestel word deur staatswetgewers van die individuele state. Dit het Amerika omvorm tot ʼn massa demokrasie in stryd met die idees van die oorspronklike oprigting as republiek. Dit het die kleiner state van alle mag ontneem om die sentrale regering in toom te hou en sy magte te beperk.

Die Progressiewe Beweging was die verpersoonliking van Isabel Paterson se “Humanitarian with a Guillotine”, soos beskryf in haar boek, The God of the Machine” deur die verkiesing van president Woodrow Wilson. Hy was ʼn naïewe, idealisties ego-maniak, wat Amerika in die Eerste Wêreldoorlog ingesleep het.

Wilson het toegelaat dat die Huis van JP Morgan die eksklusiewe agent vir Britse aankope van oorlogsmateriaal in die VSA word en dat Morgan lenings aan die geallieerdes maak en dat die regering dan verantwoordelikheid aanvaar vir die skuld. Die staat het Liberty Bonds uitgereik sodat die belastingbetaler dit moet help betaal. Toe die geallieerde bondgenote geen vermoë toon om hulle skuld te kan delg nie, aangesien die geld meestal aangewend is om goedere in die V.S.A. aan te koop, het Amerika op die rand van ʼn ekonomiese resessie gestaan, wat ook ʼn bydraende faktor was in Wilson se besluit om tot die oorlog toe te tree.

Oorlogskoors

Soos die oorlogskoors loop en die oorlogsdromme slaan, het min mense aandag gegee aan ʼn redaksionele kommentaar wat verskyn het in die “Commercial and Financial Journal”, wat verklaar het:

As oorlog verklaar word is dit onnodig om te sê dat ons die regering sal steun, maar voor die noodlottige laaste woord gespreek word kan ons onsself en mekaar afvra – Transformeer ons nie deur hierdie daad die wonderlike republiek wat was na ʼn magtige nuwe republiek wat nog moet kom nie? Moet ons nie erken dat ons hierdeur ʼn nuwe republiek tot stand bring wat heeltemal verskil van die oue nie?[8]

Wilson, net soos Polk, Lincoln en McKinley voor hom, het dit bedrieglik laat blyk dat dit die beweerde vyand was, wat die oorlog begin het deur die eerste skoot af te vuur. Die Duitse ambassade het William Jennings Bryan as hoof van buitelandse sake(Secretary of State) vooraf gewaarsku dat die Britse passasier skip, die Lusitania, onwettig wapens en ammunisie vervoer, en was dit dus ʼn behoorlike en volkome wettige teiken vir duikbote tydens ʼn oorlog. Die Minister van buitelandse sake(Secretary of State) William Jennings Bryan het hiernaas probeer om Wilson te oorreed om Amerikaners te waarsku om nie op die skip te vaar nie maar hy het geweier om dit te doen, siende dat die geleentheid vir die verlies van Amerikaanse lewens hom ʼn oënskynlike rede vir toetrede tot die oorlog sou gee. Wilson het nooit die waarskuwing deurgegee nie, en Bryan het later bedank. Meer as 100 Amerikaners is dood toe ʼn Duitse duikboot die Lusitania gesink het en veel meer sou uiteindelik op die slagvelde sterf.

Interessant genoeg reageer Wilson nes Lincoln na die oorlog en maak hy die volgende aanmerking aangaande die Eerste Wêreldoorlog tydens ʼn toespraak in St Louis, Missouri op September 1919 :

My medeburgers is daar enige man of vrou – laat ek vra is daar enige kind hier, wat nie weet dat die saad van oorlog lê in industriële en kommersiële wedywering nie?…Hierdie oorlog was aanvanklik ʼn kommersiële en industriële oorlog, en nie ʼn politiese oorlog nie.[9]

Die Oorwinning oor Vryheid

Dit is net so hartseer om die verlies van vryheid te oorweeg wat veroorsaak word deur oorloë wat baklei en “gewen” word as die wat verloor word. Soveel oorloë in die geskiedenis was onnodig en altyd aangehits vir politieke of ekonomiese magsvergrype. In baie gevalle is die vermeende vyand uitgelok om die eerste skoot af te vuur, sodat dit voorkom asof die oorlog begin is deur die teenstander. Nie net het Polk, Lincoln, McKinley, en Wilson dit gedoen nie, maar ook sou Roosevelt dit later met Pearl Harbor doen en ook Johnson in die Golf van Tonkin en as verskoning vir die Viëtnamese oorlog gebruik.

Dit is seker nie ʼn werklike studie van die geskiedenis om te spekuleer oor wat sou gebeur het as Amerika nie in die Eerste Wêreldoorlog betrokke geraak het nie, maar hier is ʼn paar sinvolle, en dalk selfs waarskynlike gevolge indien ʼn nie- inmengingsbeleid strykdeur gevolg was:

  1. Verseker sou daar nie ʼn suksesvolle Bolsjewistiese Rewolusie in Rusland gewees het nie.
  2. ʼn Onderhandelde vredesooreenkoms tussen Duitsland, Frankryk en Groot-Brittanje, waarin hulle gewond maar onoorwonne uit die stryd moes tree sou die debakel wat die Verdrag van Versailles was vermy het. Sonder Amerikaanse toetrede sou daar ʼn onderhandelde verdrag as mede- en gelyke vennote moes plaasvind, soortgelyk aan die manier waarop die Kongres van Wene die Napoleontiese Oorloë in 1815-1816 beslis het, met ʼn verslaande Frankryk nog steeds verteenwoordig by die onderhandelingstafel deur Talleyrand, en waar ʼn opregte poging aangewend word om vrede te bevorder, eerder as gedikteerde vrede wat maklik ʼn toekomstige oorlog kan veroorsaak.

Die Verdrag van Versailles het Duitsland en Rusland uitgesluit van die onderhandelingsproses en Duitsland so te sê uitsluitlik skuldig verklaar vir die uitbreek van die oorlog. Dit was bowenal die groot bedrae skadevergoedings wat die nuwe regering vanuit die staanspoor verdoem het. Die Verdrag van Versailles het die weg gebaan vir iemand soos Hitler wie se steun demokraties van die Duitse mense gekom het, wat die verdrag as onregverdig beskou het. Maar sonder die opkoms van kommunisme in Rusland en Nazisme in Duitsland sou die Tweede Wêreldoorlog waarskynlik nie plaasgevind het nie.

Daar is baie belangrike lesse wat uit die eeu van oorlog en welsyn geleer kan word. Een van hierdie word opgesom deur Bruce Porter in sy uitstekende boek met die titel: War and the rise of the state waarin hy dit stel dat die New Deal: “die enigste tyd in die Amerikaanse geskiedenis was waarin die mag van die sentrale staat aansienlik gegroei het in die afwesigheid van oorlog.”[10] Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat:

Regdeur die geskiedenis van die V.S.A. is oorlog die primêre impuls agter die groei en ontwikkeling van die sentrale staat. Dit is die hefboom waarmee presidente en amptenare die mag van die staat vergroot het, selfs in die aangesig van hardnekkige en gewilde weerstand. Dit is ʼn fontein van Amerikaanse nasionalisme en ʼn aansporing vir politieke en sosiale verandering.[11]

Dieselfde waarskuwing is vervat in die woorde van Alexis de Tocqueville, wat gewaarsku het in die vroeë deel van die negentiende eeu, dat:

Geen uitgerekte oorlog kan misluk om vryheid en demokrasie in ʼn land in gevaar te stel nie. Oorlog gee nie altyd demokratiese gemeenskappe oor aan militêre regerings nie, maar dit moet altyd en onmeetbaar die mag van die burgerlike regering verhoog, hulle moet verpligtend die bestuur en rigting van al die mense en die bestuur van alle dinge in die hande van die staatsadministrasie konsentreer. As dit nie lei tot despotisme deur skielike geweld nie, berei dit manne voor om dit meer egalig deur hul gewoontes te aanvaar. Almal wat daarop uit is om vryheid in ʼn demokratiese nasie te vernietig moet weet dat oorlog die beste en sekerste manier is om dit te bereik.[12]

Beide Porter en Tocqueville het ons gewaarsku dat selfs “gewende” oorloë ʼn verlies van vryheid veroorsaak danksy die sentralisering van mag in die staat wat daarmee gepaardgaan en dat demokrasie alleen nie individuele regte of vryheid verseker nie. Soms vra my studente waarom die Grieke, wat demokrasie as idee uitgedink het, dan so krities daarteenoor gebly het? Die antwoord is natuurlik dat demokrasie, sonder behoorlike beperkings op mag net so tirannies kan wees as ʼn enkele despoot. FA Hayek het hierdie punt gemaak, toe hy verklaar het:

Daar kan geen twyfel wees dat daar in die geskiedenis dikwels meer kulturele en politieke vryheid onder outokratiese heerskappy was as onder sommige demokrasieë – en dit is ten minste denkbaar dat onder ʼn regering van ʼn baie homogene staatsideologiese leerstelling, meerderheidsregering net so onderdrukkend kan wees as die ergste diktatorskap.[13]

Beperk die staat

Ons moet uit die eeu van oorlog en welsyn leer dat die grootste ontdekking in die Westerse Beskawing was dat vryheid slegs bereik kan word deur middel van behoorlike en effektiewe beperking op die mag van die staat. Dit is hierdie beperking wat private eiendom beskerm, ʼn onbeperkte vryemark ekonomie moontlik maak en persoonlike vryheid en ʼn buitelandse beleid van nie-inmenging verseker. Dít, eerder as demokrasie, sal die welsyn van vrede en welvaart in plaas van oorlog verseker.

Te veel mense wat in demokrasieë woon dink dat hulle vry is net omdat hulle kan stem en verkiesings gereeld gehou word. Militêre diensplig dien as ʼn goeie voorbeeld, wanneer dit histories deur ʼn enkele monarg geproklameer was het mense dit of geïgnoreer of in opstand daarteen gekom. En tog word sulke absurde idees veels te maklik in ʼn demokrasie aanvaar en deur mense gehoorsaam asof hulle geen keuse het tot opstand nie.

Die val van die Berlynse Muur en die val van die Sowjet-Empaaier verseker geensins dat kollektivisme dood is nie.

Denkers van die toekoms

Dit is dan nou belangriker as ooit vir denkers van die toekoms om ʼn korrekte begrip van die filosofie van individuele vryheid en die vryemarkekonomie te ontwikkel ten einde die stryd teen kollektivisme in die nuwe millennium voort te sit. Die heel belangrikste is vir mense om te verstaan waarom Ludwig von Mises, in sy boek, “Omnipotent Government” gesê het:

Volhoubare vrede is slegs moontlik onder suiwer kapitalisme, tot nou toe nog nêrens, volledig probeer of bereik nie. In so ʼn wêreld van onbelemmerd vryemark ekonomie is die omvang van die staat se bedrywighede beperk tot slegs die beskerming van lewe en eiendom van individue teen geweld of bedrieglike aggressie.[14]

Al die voorstanders van regeringsalmag kan die feit dat daar maar net een stelsel is wat sorg vir volhoubare vrede nie nietig verklaar nie, en dit is vryemark kapitalisme. Staatsbeheer en inmenging lei altyd onafwendbaar tot ekonomiese nasionalisasie en konflik.[15]

Die definisie van ʼn vryemark soos wat von Mises aan ons beskryf het sal ons toelaat om vrede en welvaart te hê en is een waar die ekonomie nie net een is wat vry van regeringsbeheer is nie, maar ook een waar ekonomiese belangegroepe nie beheer oor regeringsbeleid, en veral buitelandse beleid sal kan verkry nie. Dit is die sentrale miskonsepsie onder soveel mense wat wel waarneem dat private ekonomiese belangegroepe te veel invloed oor die regering uitoefen en daarom ʼn regering verlang wat die privaatsektor in toom moet probeer hou, sonder om in te sien dat die inmenging self daartoe lei dat maatskappye ʼn houvas op regeringsbeleid kan kry. Wat ook die geval was dwarsdeur die twintigste eeu. Die grootste risiko vir vrede is waar verskeie ekonomiese belangegroepe in staat is om buitelandse beleid tot hul eie voordeel te bepleit eerder as ʼn gesonde samelewing met ʼn minimale staat waar dit nie moontlik is nie.

  • [1] The Collected Works of F.A. Hayek, vol. 10: Socialism and War: Essays, Documents, Reviews, Bruce Caldwell, ed. (Chicago: University of Chicago Press, 1997), p. 175.
  • [2] Benito Mussolini, “The Political and Social Doctrine of Fascism,” in Fascism: An Anthology, Nathanael Greene, ed. (New York: Thomas Y. Crowell, 1968), pp. 41, 43–44.
  • [3] The Collected Works of Abraham Lincoln, Roy P. Basler, ed. (New Brunswick, N.J.: Rutgers University Press, 1953–55), vol. 1, p. 109.
  • [4] Ibid.
  • [5] Francis Nielson, The Makers of War (New Orleans, La.: Flanders Hall, 1987), pp. 53–54; emphasis added.
  • [6] Essays in the History of Liberty: Selected Writings of Lord Acton, J. Rufus Fears, ed. (Indianapolis, Ind.: Liberty Classics, 1985), vol. 1, p. 277.
  • [7] Ibid., p. 364; emphasis added.
  • [8] Stuart D. Brandes, Wardogs: A History of War Profits in America (Lexington: University Press of Kentucky, 1997), p. 141.
  • [9] The Papers of Woodrow Wilson, Arthur S. Link, ed. (Princeton, N.J.: Princeton University Press, 1990), vol. 63, pp. 45–46.
  • [10] Bruce D. Porter, War and the Rise of the State: The Military Foundations of Modern Politics(New York: Free Press, 1994), p. 278.
  • [11] Ibid., p. 291.
  • [12] Alexis de Tocqueville, Democracy in America (New York: Alfred A. Knopf, 1980), vol. 2, pp. 268–69.
  • [13] The Collected Works of F.A. Hayek, Caldwell, ed., p. 209.
  • [14] Ludwig von Mises, Omnipotent Government: The Rise of the Total State and Total War (New Rochelle, N.Y.: Arlington House, 1969), p. 284.
  • [15] Ibid., p. 286.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.